MISDAADJOERNALISTIEK: TE VEEL BLOOTSTELLING OF GELEENTHEID TOT DIENS?

Deur Johannes Froneman

Menige jong joernalis het die afgelope dekades by koerante begin werk sonder dat hulle ooit met misdaad, veral geweldsmisdaad, in aanraking was. Dan kom die opwinding van die eerste misdaadstorie. En nog een. Soms ‘n plaasmoord of ‘n grusame ongeluk.

Gemeenskapskoerante het nogal ‘n obsessie met motorongelukke terwyl dagblaaie en nuuswebwerwe (soos Netwerk24) nog altyd ruim plek gemaak het vir moordstories.

Die trauma wat die betrokke joernaliste daardeur moet verduur, word egter selde in gedagte gehou. Joernaliste is mos taai. Redakteurs getuig van goeie verkoopsyfers wanneer daar bloed op die voorblaaie is.

Ek het as dosent jong voornemende joernaliste (of oudstudente met wie ek in aanraking gekom het) gemaan om na hulself om te sien — as die redakteur dit dan nie doen nie.

“Jy hoef nie na elke lyk te gaan kyk nie. Jy hoef jouself nie bloot te stel aan grusame tonele nie,” het ek gesê. Of hulle na my geluister het, is ‘n ander vraag.

Dit sit mos in joernaliste se DNS om te wil sien, al kan en mag die detail nie  álles gerapporteer word nie. En al moet foto’s soms geredigeer word voordat dit op die voorblad kan verskyn. 

Ek dink hieraan toe ek ‘n kort stukkie van ‘n oudstudent, Marli van Wyngaard, uit die Karabiese Eilande ontvang waar sy en haar man hul brood op seiljagte verdien.

Uit daardie idilliese omgewing skryf Marli:  

“Later sou ek besef dit was ‘n droom. In die oomblik was dit meer werklik as my asemhaling.

‘Het jy vir my sjampoe? Ek wil die bloed uit my hare was,’ het sy gevra. Besorg het ek stort toe gestap en my beste, duurste bottel gaan haal.

“Inge Lotz het destyds gereeld in my drome kom kuier. Vandag is haar wrede moord steeds onopgelos. Maar dié wat weet, wéét.

“Sy was presies so oud soos ek. Ons was selfs albei in dieselfde jaar by Hoër Landbouskool Oakdale se matriekafskeid as metgeselle van twee van hul matrikulante.

“Haar moord was my eerste harde nuusstorie (lees tragedie), my eerste moordtoneel. Uiteindelik sou dit steeds die grusaamste van almal bly.

“Nat agter die ore uit die PUK se 2004-joernalistiekklas moes ek eintlik net oor sport en kultuur vir Eikestadnuus skryf.

“Die dag wat Inge se oproep gekom het, was dié groentjie egter al joernalis op kantoor. Niemand anders was beskikbaar ten tye van die moord wat die héle Stellenbosch tot stilstand sou ruk nie.

“My reis saam met Inge, haar gebroke ouers en Fred (haar kêrel en destydse beskuldigde), asook die SAPD sou drie jaar duur. As ‘joernalis’ sou ek hopeloos te veel betrokke raak op ‘n persoonlike vlak, suiwer uit simpatie en meegevoel vir die onderskeie partye, maar steeds ‘n kardinale fout. 

“Dit sou my laat boet — veral in my drome. Dit sou my dryf, tot die uiterste beproef, slyp, onmeetbare lesse leer en uiteindelik vorm as voltydse misdaadverslaggewer.

“Eendag sal ek die hele tragedie neerpen. Maar daardie dag is nie vandag nie.”

‘n Mens moet ‘n hart van klip hê as hierdie onverwerkte trauma jou nie raak nie. Ek verwonder my wel aan ander joernaliste, soos Susan Cilliers, wat tog voortgaan en die stories skryf. Soos dié oor die Stellamoordsaak. En dan, boonop, ‘n boek daarvan maak.

Ek het haar gevra om haar perspektief hieroor self weer te gee. Susan skryf:

“Joernaliste is soos meeste mense in ander beroepsvelde: ‘n mens leer die beroep eers werklik ken en verstaan wanneer jy dit in die praktyk begin doen. Dis ‘n geleidelike proses. Soos wat ‘n mens se loopbaan vorder, word jy aan verskillende situasies blootgestel, onder meer misdaad op tonele of agterna in die hof.

“Die eerste kennismaking hiermee is dikwels onstellend, maar ook boeiend omdat jy dinge sien en hoor wat die gemiddelde mens op straat selde beleef. Dus twee kante van ‘n munt: die emosioneel ontstellende deel waarmee ‘n mens identifiseer omdat dit jou ma, pa, broer, suster, man, vrou of kind kon wees.

“Die ander kant is die objektiewe waarneming/aanhoor van die feite wat jy korrek moet weergee.  ‘n Balans tussen die twee is noodsaaklik, want ‘n mens moet nooit vergeet hierdie is werklike gebeure wat vir die betrokkenes ‘n intens persoonlike tragedie is nie.

“Ek het my eie balans hierin gevind deur te probeer om juis iets vir die betrokke families te beteken. Om vir hulle te help sin maak op ‘n meer feitelike vlak, wat weer kan help met die emosionele verwerking. Ek vind dit beteken dikwels vir families baie om afsluiting te kry en die gebeure te verwerk indien feitelik (maar ook sensitief) daaroor berig word. Veral wanneer hulle nie self by die die hof kan wees om ‘n saak te volg nie, of sukkel om die prosedures te volg en te verstaan.

“Natuurlik is daar gevalle waar die families geweldig negatief teenoor die media is. Dit moet ‘n mens verstaan, maar steeds volhard met objektiewe beriggewing.

“Met die skryf van die Stellaboek byvoorbeeld het ek juis gevoel ek wil reg laat geskied aan die meisies wat in hul fleur so wreed vermoor is. Ek wou dit doen deur die verhaal in een dokument volledig te vertel, en hopelik so ook die families te help om berusting te vind.

“Ek moes egter ook aanvaar dat van die familielede en mense naby aan die meisies dit as ongevoelig kan beleef, maar gelukkig is dit by verre ‘n minderheidsgevoel. En natuurlik is die skryf van so ‘n boek ook in ‘n mate selfverrykend: dit gee ‘n mens die geleentheid om jou vaardighede uit te brei na iets groters en meer lywigs as wat jy normaalweg doen.

“In ‘n neutedop dink ek dus ja, misdaad en moorde is traumaties – ook vir die joernalis wat dikwels van die eerstes is teenoor wie die families ontlaai. Ons moet gereeld die rol van berader en trooster vertolk. Elke joernalis verwerk dit anders. Vir party is dit dalk nodig om self berading te kry, ander voel hulle is glad nie daarvoor uitgeknip nie en volg ander paaie in hul loopbaan.

“Ander (soos ek) ontlaai deur met vriende, familie en kollegas te gesels. Eindelik voel ek egter dit bly ons taak om hierdie stories te vertel, want geregtigheid moet gesien en gehoor word.

“Die prentjie is baie groter as om dit bloot as sensasie af te maak. Ja, mense lees graag sulke berigte. Ons sien dit aan ons leessyfers op die webwerf. Maar dit beteken nie ons moet ophou om oor hierdie dinge te skryf nie. Feit is: die waarheid moet uit, al maak dit seer. Want dikwels genees dit ook.” Aldus Susan Cilliers, Netwerk24-joernalis en outeur.

Haar deurdagte refleksie maak sin. Elkeen moet seker self daaroor besluit. Maar ek kan nie anders as om te dink ons het joernaliste in die verlede soms in die steek gelaat deur nie sensitief genoeg te wees oor aanhoudende blootstelling aan traumatiese gebeure nie.

Nie alle joernaliste het die emosionele volwassenheid, intellektuele diepgang én ondersteuning tuis om dit sinvol te verwerk nie.

Ek vermoed ‘n paar harde manne en vroue gaan meen ek is ‘n softie.  Dalk. En dalk het koerante hul verslaggewers (soms) met berading gehelp. Ek herinner my dan weer aan die selfdood jare gelede van die befaamde fotograaf Kevin Carter, wat soveel treffende foto’s geneem het — juis ook van pyn en lyding. Was sy dood die gevolg van te veel blootstelling aan trauma? Hoe sal ons ooit  weet. En baie het nié daardie tragiese “uitweg” gekies nie.

Maar ons kan nie ontken dat joernaliste se werk sy tol eis nie. By te veel huwelike. By hul menswees. Hul kinders. En dan praat ek nie eens van die dosyne wat jaarliks iewers in die wêreld met hul lewens betaal nie. Soos die stryd om vryheid is die strewe na die groot storie nimmereindigend. En vol gevare.

Nee, die joernalistiek is beslis nie vir sissies nie. Maar ek dink ook nie die detail van elke bloedige gebeure hoef gesien of gepubliseer te word nie. Dit traumatiseer ons almal. Of dit desesiteer die betrokkenes. Of dit verwoes iets binne ons voordat ons gevoelloos raak. In alle gevalle, dis te erg vir woorde. 

Tog gee dit, soos Susan Cilliers hierbo verduidelik, die geleentheid om die waarheid en geregtigheid te dien. En om selfs as trooster op te tree. Hoeveel joernaliste het laasgenoemde rol vertolk? En met watter gevolge?