Die tegnologie maak dit nie net moontlik vir joernaliste om hul werk vinniger te doen nie, maar het ook die ontwikkeling van die massamedia moontlik gemaak. Die drukpers en tikmasjien het in die 19de eeu drasties ontwikkel, waarna die telefoon sy verskyning gemaak het. In die 1920’s kom radiostasies op die lug, gevolg deur televisie (veral ná 1945 — eers 1976 in Suid-Afrika). Die selfoon vul in die 1990’s die telefoon aan en in daardie dekade kry Suid-Afrika ook satelliettelevisie (in die vorm van DStv). Die “persoonlike rekenaar” (PC) maak in die laat 1980’s sy verskyning en kort daarna begin die internet die wyse waarop ons kommunikeer verder verander. Hier wys ons van die tegnologie wat in Suid-Afrika gebruik is en steeds gebruik word.
Die vertrekpunt van alle massakommunikasie was die vermoë om letters afsonderlik te kan set en dus teks te set en in groot hoeveelhede te kan druk. In die 19e eeu volg die rolpers, eers stoomgedrewe, later met elektrisiteit.
Die tikmasjien was nog ‘n belangrike ontwikkeling van die 19e eeu. Hier is ‘n paar voorbeelde — en ‘n joernalis, Hugo Redelinghuys, voor sy werksrekenaar. Sonder die toetsbord (wat kern tot die tikmasjien is) is werk op ‘n rekenaar nie moontlik nie.



Bo: ‘n Tipiese kantoortikmasjien wat wyd gebruik is. IBM se sogenaamde elektriese gholfbalmasjien het in 1961 vir ‘n deurbraak gesorg, maar nie alle tikmasjiene vervang nie.
Regs: twee draagbare tikmasjiene.
Foto’s: Johannes Froneman






Hierdie mooi versameling is in 1981 in Reader’s Digest se South Africa’s Yesterdays gepubliseer.

Hugo Redelinghuys voor sy rekenaar by die Graaff-Reinet Advertiser.

Subredakteurs sit in 1992 voor hul rekenaarterminale in die subkantoor by Die Volksblad. Beeld en Die Burger het jare vroeër reeds na rekenaars oorgeskakel.

Die setmasjien is ‘n uitvloeisel van die tikmasjien en is tot diep in die 20ste eeu gebruik om koerante en tydskrifte mee te set.

Ou drukperse is deur groot elektriese rolperse vervang. Hier is die trotse Volksblad-mense by hul nuwe rolpers en onder die een wat deur Beeld in 1999 in gebruik geneem is is.



Tydskrifte het weens koste en die tyd wat kleurdrukwerk geverg het, vroeër as koerante in volkleur begin druk. Hier spog Die Huisgenoot in 1966 met sy kleurbuiteblad en nuwe drukkery. (Kleur is reeds vroeër op buiteblaaie gebruik, maar nuwe tegnologie van destyds het die gehalte merkbaar verhoog.)


Kameras het van groot, lomp toestelle na veel kleiner instrumente gevorder. Dikwels word foto’s vir koerante en nuuswebblaaie nou sommer met ‘n slimfoon geneem en per internet na die redaksiekantoor gestuur.




Teleksmasjiene het dit moontlik gemaak om berigte vinnig oor lang afstande te stuur. Wesenlik dieselfde tegnologie het telefone tot joernaliste se beskikking gestel. Nou kon nuus deurgebel word — as jy ‘n telefoon kon opspoor. In die 1990’s het selfone (en nog later slimfone) joernaliste se werk verder makliker gemaak.
Die toestelle waarop ons na die radio luister, het die afgelope bykans honderd jaar telkens verander. Daarbenewens het tegnologie (soos frekwensie-modulasie, ofte wel FM) die gehalte van die klank in die 1960’s dramaties verbeter. In hierdie tyd het klein transistorradio’s verder gesorg dat radio’s draagbaar word en dus oral saam met ons kon gaan. Motorradio’s was vir lank ‘n luukse wat eers met moeite geïnstalleer moes word, maar vandag is dit standaard in byna alle voertuie ingebou.
Hier wys ons van die toestelle wat deur die dekades die klankgolwe opgevang en vir ons hoorbaar gemaak het.

Advertensies het in die 1930’s nuwe luisteraars aangemoedig om radio’s te koop. Aanvanklik is afsonderlik vanuit Kaapstad, Durban en Johannesburg uitgesaai — hoofsaaklik in Engels. In 1936 het die SAUK tot stand gekom en in 1937 het Afrikaans afsonderlike stasies gekry nadat daar ‘n hewige openbare debat was oor die deel van senders met Engels (of andersom).

Voor die koms van FM in 1961 was alle uitsendings op kortgolf of mediumgolf. Die toestelle is dus net daarvoor gebou. Aanvanklik was radio’s groot en het dit ‘n ereplek in die voorhuis gekry. Mense het tipies voor die radio gesit en luister, soos later ook met TV gedoen is.
Later het kleiner toestelle gevolg en in die 1950’s die heel klein transistorradio wat rondgedra kon word.







Jan


Die skrywer-omroeper Jan Rabie stel in die 1950’s ‘n plaat op in ‘n ateljee in die destydse Kaapstadse ateljees van die SAUK.
Links onder: Jare later en plate is, voor die koms van die rekenaar, steeds met die hand opgestel.
Veteraan-omroeper André Walters in ‘n moderne ateljee.

Die uitsaaitegnologie het van taamlik primitiewe regstreekse uitsendings ontwikkel tot bandmasjiene en vandag se digitale toerusting. Hier is Hennie Maas, veteraan-radioman, in sy tuisateljee waar hy programme vir RSG opneem.

‘n Moderne radio-ateljee by die SAUK.

Televisiestelle het sedert 1976, toe dit die eerste keer op die Suid-Afrikaanse mark verskyn het, ook drasties verander — van swaar, lomp toestelle tot vandag se veel ligter plat skerms. Die kleinerige Sony, wat soos ‘n outydse radiostel gelyk het, was aanvanklik baie gewild en het tipies in die hoek van die sitkamer gestaan, want mense was bang hul oë word deur die TV verswak. Hulle het dan ook aanvanklik na ál die programme gekyk — tot Die Stem gesing en die landsvlag gewapper het. (Daar was aanvanklik net een kanaal.)

‘n Moderne TV-uitsaai-ateljee.

In Wynand Harmse se boek SAUK 1936-1995 word meer vertel oor die tegnologiese ontwikkelinge van radio in Suid-Afrika. Kyk ook Eric Rosenthal se U het geluister. Besonderhede by die afdeling Boeke.
Johannes Froneman se artikel Notas oor die veranderende joernalistiek en geleenthede by die afdeling By nabaat, ofte wel https://mediamense.com/notas-oor-die-veranderende-joernalistiek-en-geleenthede/ verwys ook na mediategnologie.
Hennie van Deventer se artikel onder die opskrif Totsien aan Sapa, troue nuusbron vir koerante is ook by die afdeling By nabaat te lees, of by https://mediamense.com/sapa-nuusbron-vir-koerante/
Die enkele voorbeelde waarvan hier foto’s is, is plaaslik afgeneem. Op die internet is daar uiteraard veel meer voorbeelde, maar ons beperk dit tot wat plaaslik gebruik is.