Max du Preez was waarskynlik die uitstaande joernalis van sy tyd. In die 1970’s, 80’s en 90’s was hy by verskillende publikasies en die SAUK ‘n prominente joernalis. Daarna het hy aanhou skryf, tot vandag toe, maar sy gloriejare was toe hy apartheid met mag en mening blootgelê het.
Max was Max. Soos Naas op die rugbyveld. Gehaat en bewonder. ‘n Fenomeen. Iemand om hoog te ag, al het jy nie altyd van sy standpunte en reguit praat gehou nie.
Sy rol as aktivistiese joernalis vervaag effe in die mis van die tyd. Maar dat hy die uitstaande joernalis van sy geslag was, sal min betwis. Daarvoor het hy ‘n string toekennings gekry. Sy tydgenootlike kollegas het sy onverskrokke joernalistiek hoog geag. Sy profiel is vandag laer, maar sy bydrae tot die joernalistiek is deel van ons mediageskiedenis.
Wat hom bo ander knap joernaliste van sy tyd laat uitstaan, is dat Max nooit sy persoonlike voordeel hoër as sy werk as joernalis geag het nie. Hy het dit alles op die spel geplaas.
Wat ook vas staan, is dat hy ‘n talentvolle jong joernalis by Die Burger was. Hy was egter nie geneë om saam met sy parlementêre baas, Alf Ries, voor ministers te kruip nie. Max was nie ‘n konvensionele Naspers-joernalis met grys skoene nie.
By Beeld is hy Suidwes (Namibië) toe gestuur, waar hy taamlik vry kon werk as oorlogsverslaggewer. Sy vliegongelukke het die verskoning aan lojaliste gegee om te suggereer dat hy breinskade opgedoen het en “nie meer so lekker” was nie. Net soos vroeër met ‘n minister, Theo Gerdener, gedoen is. Beswadder dié wat jou standpunte uitdaag.
Hy is onvermydelik na Engelse koerante (Business Day en Sunday Times) asook die Financial Mail. Hul politiek was ten minste nader aan syne, maar hy het daar ook nie altyd gemaklik gevoel nie. Max is geneties ongemaklik in korporatiewe kontekste.
Max skryf as volg oor sy tyd by Financial Mail:
Toe kom die draaipunt in sy loopbaan. Hy stig in 1988 saam met ‘n paar geesgenote Vrye Weekblad (VWB) om in Afrikaans die apartheidbewind te midde van noodtoestande aan die kaak te stel. Wat ‘n hoofstuk in sy loopbaan is dit nie! (Daaroor het hy ‘n heerlike boek, Oranje, blanje, blou, geskryf.)
VWB was opsetlik en moedswillig. Heilige koeie van die Afrikanerdom is geslag terwyl Max self volgehou het hy is ‘n Afrikaner. Gebore en getoë in die Vrystaat. ‘n Boer. Maar nie ‘n Boer in die tradisionele sin van die woord nie. Hy het sy identiteit self gedefinieer.
Daarna was hy ‘n uitsaaier — op radio en TV by die SAUK, wat besig was om hom van Afrikanerdominansie los te maak. Hier het hy as anker opgetree en programme oor die Waarheid-en-versoeningskommissie en ander aktuele sake gemaak.
Sy onafhanklike gees was effe te veel vir die ANC-base. Hul wrewel het oorgekook en hy is afgedank. Natuurlik sou ‘n bietjie meer respek (of takt) gehelp het, maar dié is nie dinge waarmee Max goed bedeeld was nie — altans nie in daardie jare nie.
As rubriekskrywer vir Rapport en Independent het hy in die openbare oog gebly. Toe kom die tweede weergawe van Vrye Weekblad, aanlyn en as deel van ‘n groot mediamaatskappy. Toe dit nie uitwerk nie, het Max en vriende Vrye Weekblad as onafhanklike aanlynblad herlanseer.
Intussen het hy verskeie boeke geskryf, insluitende sy Engelse en Afrikaanse outobiografieë, asook die genoemde boek oor die oorspronklike Vrye Weekblad. Sy storie is dus goed opgeteken.
Wat hom die uitstaande joernalis van sy era maak? Saamgevat: sy veelsydigheid as verslaggewer en kommentator — in Afrikaans en Engels, in die drukmedia en in die uitsaaimedia; sy moed om hom teen burokrate en kruipers te verset. En sy eie pad met Vrye Weekblad I te loop. As toegif het hy en kollegas later nuwe digitale paaie met VWB geloop.
Geen ander van die uitstaande Afrikaanse joernaliste van die afgelope eeu kan dit alles op hul CV’s plaas nie. — Johannes Froneman
Lees ook inskrywing oor Vrye Weekblad by https://mediamense.com/vrye-weekblad/
Lees iets oor sy outobiografieë by https://mediamense.com/max-du-preez-se-dubbeldoor-boei/
Lees artikel oor Max en die gebruik van die woord Boer by https://mediamense.com/akademiese-artikels-oor-mediamense-en-die-media/
Max is ook een van die Afrikaanse joernaliste wat by die Engelstalige pers gewerk het. Meer daaroor by https://mediamense.com/afrikaanse-joernaliste-by-die-engelse-pers/