Martie Swanepoel was voor die Covid-19-pandemie ‘n bekende vryskut-tydskrifjoernalis. Dit na jare in die koerantjoernalistiek. Sy vertel hier die een en ander oor haar wydlopende loopbaan — toe en nou.
Vandag het ek die eerste walvisse van die seisoen gesien! Dit is my tweede jaar aan die Natalse verre Suidkus. Ons woon net duskant die Transkei. Dis ‘n heel ander lewe as ons lewe op Hephzibah, ‘n natuurbewaringsplaas in Mpumalanga. Maar ‘n stuk van my hart woon steeds in die bos.
Ons almal droom van ‘n huisie by die see, maar helaas kan ek nie net vir die see sit en kyk nie. Ek is blykbaar nie die aftree-tipe nie. Ek het met Covid echo printing ontgin en die mooiste tekstielkuns beoefen.
Op 66 beoefen ek nou ‘n nuwe loopbaan as opvoedkundige terapeut. Ek werk met leergestremdheid. Ek het hierdie studies reeds in die 1990’s as stokperdjie begin en het dit die afgelope twee jaar aangevul. Dis ongelooflik vervullend.
Ek skryf die afgelope vier jaar vir Idees en Joernaal (laasgenoemde het ongelukkig nou gesneuwel). My skryfwerk vir Idees is joernaal-gedrewe, maar verg baie navorsing. Ek skryf oor leefstyl-, kreatiewe en handwerkneigings.
Ek het sedert 1983 ‘n vervullende joernalistiek- loopbaan agter die blad. Ek het by Beeld afgeskop en dit was ‘n goeie fondasie en leerskool. Ek was daarna in die stigtersredaksie van Insig. Daarna het ek na Sarie verhuis, en van daar weer na Beeld as laaste vroueredakteur.
Ek en Michelle van Breda het hard gewerk om Beeld se leefstyl-publikasies te vestig. Ons het gevoel ‘n koerant het nie noodewendig net ‘n klein afdeling vir vroue nodig nie. Die vroue-leser is ook ‘n ma en beroepsvrou. Leefstylblaaie spreek tot mans en vroue en het baie deure vir advertensie-inkomste geskep. Dit was ‘n opwindende, innoverende tyd van my loopbaan.
Martie in vele gedaantes, soos sy op die internet verskyn.
Ek het daarna na Sarie teruggekeer waar ek onder meer artikelredakteur en kantoorhoof was. Weens my koerantagtergrond het ek nog altyd n voorliefde vir nuusgedrewe artikels gehad. Ek beskou die Leigh Matthews-moord en die Advokaat Barbie-sage as hoogtepunte.
Die joernalistiek was goed vir my. Ek het oor alles van misdaad tot leefstyl geskryf. Ek het in townships vir koeëls gekoes en saam met Marike en later Elita koffie gedrink. Ek het Oscar as skoolseun leer ken en as kosredakteur saam met Valentina Harris pasta gekook.
In die tagtigs en negentigs het ek Apfelstrudel in Oostenryk gaan kook, in die Indiese woestyn op kamele gery en Afrika oorkruis. It was the best of times. Ek sal dit vir niks verruil nie.
Ek het my loopbaan op ‘n tikmasjien begin en kon dit met die wondere van die internet en selfone afsluit. Ek weet hoe dit voel om tydens ‘n groot ramp soos die Helderberg met Sapa en Reuters te moet afskop.
Ek weet hoe om ‘n storie van ‘n kafee se foon af in te bel. Ek het saam met groot geeste gewerk by wie ek soveel geleer het. Ek het my tone van tyd tot tyd in fiksie se waters gesteek en is al met ‘n tweede plek in Sanlam en RSG se dramawedstryd bekroon. Ek was twee jaar gelede ‘n finalis in dieselfde wedstryd.
Ek het sewe aanlyn chicklit-boeke vir Rooi Rose geskryf. Die laaste vyf jaar voor aftrede het ek Engelse taal en letterkunde by Midrand Graduate Institute en Pearson gedoseer. Ek weet nog nie hoe voel aftrede nie. Miskien sal ek dit nooit voel nie. Daar broei steeds allerlei stories in my kop uit!