MARTIE RETIEF MEIRING — SY SKRYF SO LEKKER, WANT SY HOU SO BAIE VAN MENSE

Martie Retief Meiring is loshande een van die bekendste joernaliste in Afrikaans. Sy het oor vele dekades as veral rubriekskrywer bekend geword, maar haar joernalistieke arbeid het deur die dekades veel wyer gestrek.

As joernalis het sy een groot waarheid onthou (en verkondig): Mense stel belang in mense. Sy kon maar bygevoeg het: Mense lees graag rubrieke wat deur interessante mense geskryf word, want hulle het menings en kom met soveel interessante mense in aanraking. Dit geld vir Martie.

Martie se loopbaan strek oor sewe dekades en vind in 2022 nog uiting in rubrieke soos hierdie:

Martie Retief (haar nooiensvan) was in 1967 selfs verantwoordelik vir Die Beeld se “vroueblad”.

Na haar huwelik met die argitek Hannes Meiring het Martie onder haar getroude van geskryf — en later soms ook as Martie Retief Meiring.

Sy het hierdie hoofstuk in die boek Joernalistiek vandag (redakteur A.S. de Beer) in 1982 geskryf:

Martie Meiring was in 1989 ‘n kandidaat vir die Demokratiese Party. Dat sy nie parlement toe gegaan het nie, is nie haar skuld nie. Maar dan sou dit haar waarskynlik tot die dood toe verveel het.

‘n Verkiesingskoerant uit 1989:

Haar sterk politieke oortuigings het sy ook op ander wyses uitgeleef, soos om betrokke te wees by Vrye Weekblad. Martie Meiring se artikel in die laaste uitgawe van die gedrukte Vrye Weekblad is só aangebied:

Martie Retief Meiring is in 2018 met die Markus Viljoen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie en Kuns vereer. By die toekenning is ‘n pragtige motivering voorgehou (op voorstel van Ton Vosloo en Lizette Rabe) wat (volledig) as volg gelui het:

Commendatio vir die Markus Viljoen-medalje: Martie Retief Meiring

Martie Retief Meiring is een van daardie rubriekskrywers wie se werk gereeld in gesprekke opduik – inderdaad kan sy gereken word in dieselfde uitnemende liga as dié van Rykie van Reenen, ’n Afrikaanse rubriekskrywer uit ’n vorige geslag wie se werk ook die onderwerp van tafelgesprekke was. 

Om die waarheid te sê, dit was Retief Meiring self wat van Van Reenen gesê het dat sy oor “daardie noodsaaklike talent” beskik het om ’n eie styl te ontwikkel en dat sy “’n taalgebruik ingestel [het] wat die gewoonlike plegstatigheid van die  joernalistiek ’n bietjie op sy kop omgekeer het”. Meer nog: “haar stories en uitdrukkings het die onderwerp van tafelgesprekke geword.”

Presies dit kan ook van die “opvolger” van Van Reenen gesê word, die nimlike Martie Retief Meiring, naamlik dat laasgenoemde se werk óók die onderwerp van gesprekke geword het – hetsy dit haar snydende sosiale kommentaar is, of die ligvoetse gespot met Kaaps-Stellenbosse of landswye kwessies van die dag, of (nog) ’n kinkel in ’n kabel soos wat net ’n Retief Meiring oor die hedendaagse gekonkel in ons samelewing kan skryf.

Martie Retief is gebore op 26 Desember 1934 in Johannesburg. Sy het haar skoolloopbaan in 1951 aan die Hoërskool Port Natal in Durban voltooi en daarna, in 1954, ’n BA aan die Universiteit Stellenbosch.

Haar lang en luisterryke joernalistieke loopbaan het in 1955 by die Oos-Kaapse koerant Die Oosterlig (nou Die Burger Oos) begin. Sy het daarna van 1957 tot 1959 by Die Vaderland gewerk. Van 1960 tot 1961 was sy by NewsCheck,en nadat sy in 1962 na Londen is, het sy daar ook vryskutwerk gedoen. In 1964 is sy aangestel in die Londense kantoor van Nasionale Koerante en Tydskrifte.

Sy het in 1967 na Die Beeld (die Sondagkoerant) in Johannesburg teruggekeer, waar sy ná ses maande na Huisgenoot is. In 1975 het sy by die dagblad Beeld begin werk.

Retief Meiring se sin vir en soeke na geregtigheid het haar ook sedert 1976 betrokke gemaak by die Women for Peace/Vroue vir Vrede-beweging, asook by Kontak. As voorvegter vir vrede (daardie oksimoron) het sy sterk en stewige brûe gebou tussen die verskillende kultuurgroepe tussen wie daar in daardie tyd sulke geweldige afgronde was. Sy was ook betrokke by die Business Women’s Association. Retief Meiring was die eerste redakteur van Bonanza, die eerste swart vrouetydskrif wat Naspers uitgegee het.

Hoewel dit kortstondig bestaan het, van 1978 tot 1981, het Retief Meiring dit reggekry om onder meer vir Leah Tutu, vrou van emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, as rubriekskrywer te kry. Ook die swaargewig-joernalis en later redakteur van The Sowetan, Aggrey Klaaste, asook dr Nhtato Motlana was danksy Retief Meiring medewerkers.

Sy het selfs klandestien illustrasies in kortverhale gebruik wat Mandela uitbeeld sonder dat die “owerhede” in die maatskappy òf die staat dit besef het in ’n tyd toe geen fotobeeld van hom in die openbaar gepubliseer mog geword het nie.

Retief Meiring was ook vryskut vir die Sunday Times, waar sy onder meer ’n politieke rubriek geskryf het, vir oorsese publikasies, en vir Nasionale Tydskrifte. Sy was ook vir enkele jare ’n redaksielid van Vrye Weekblad, die alternatiewe Afrikaanse koerant.

In 1989 was sy ’n politieke kandidaat vir die DP toe dié party nog as ’n links-liberale opposisie deur die gewone Afrikaner beskou is. Haar politieke belangstelling het ook meegebring dat sy in 1994, van Februarie tot April, Persbeampte: administrasie vir die eerste demokratiese Algemene Verkiesing was. Van 1995 tot 1998 was sy die administratiewe hoof van Pretoria-munisipaliteit se poging om die Parlement na Pretoria te verskuif.

 Benewens rubrieke wat sy onder meer vir Die Burger se “Van Alle Kante”, die oudste rubriek in Afrikaanse media, geskryf het, was sy ook intens betrokke by die stigting van verskeie feeste, onder meer Aardklop, waar sy lank direksielid was, die Suidoosterfees, en die e’Bosch Erfenisfees, asook eenmalige feeste, soos die Oesfees in Saldanha in 2000 en die Slawefees op Stellenbosch in 2008. As kuns en kultuur-aktivis was sy ook lid van SOST, die Stellenbosch Outdoor Sculpture Trust, en sy was ook lid van die advieskomitee vir die US se Woordfees.

En ja, tussendeur was sy eggenoot van kultuurleier-argitek Hannes Meiring (oorlede in 2010) en ma vir ’n nuwe generasie se leierdenkers (hoe anders), hul dogter Kabous (gedoop Karen-Christine). Retief Meiring was ook die skimskrywer van twee outobiografieë, dié van Elita de Klerk en Janie du Plessis.

Ná haar “aftrede” op Stellenbosch was sy ook op dié dorp ’n gemeenskapsleier en betrokke by talle projekte. En terwyl sy gedink het sy het dalk afgetree, is sy toe ook deur die Departement Joernalistiek van die Universiteit Stellenbosch genooi om te kom klasgee oor die kuns van rubriekskryf.

Maar wie is die joernalis agter die CV?

In haar eerste werk by Die Oosterlig in Port Elizabeth (nou Die Burger Oos) het sy Santie Pretorius (later Grosskopf) as “sogenaamde vroueredaktrise” opgevolg. Daar kon sy van ’n modeparade tot ’n moord op een dag dek, maar sy was ook “skeepsverslaggewer, musiekresensent, sosiale verslaggewer (met ’n hierjy-cocktail hoedjie) én hofverslaggewer”. En natuurlik: “Om nie te vergeet nie van my gewone werk as ‘vroueredaktrise’, wat onder meer op ouderdom twintig oor babasorg moes uitwei.”

Retief Meiring was nie net ’n joernalis wat waargeneem het nie, maar sy het ook ’n invloed uitgeoefen op dinge rondom haar. Met die Women’s Lib-beweging in die sestigerjare was sy aan die voorpunt van ’n nuwe generasie onafhanklike, vrydenkende Afrikaanse vroue. Soos sy self geskryf het: dit was ’n tyd van “totsiens aan verstoktheid”. In die dekade van die Beatles en die Pil was een van die simbole van die nuwe vryheid en gelykheid ’n sigaret spesiaal vir vroue ontwerp, met die naam Virginia Slims, en die leuse: You’ve come a long way, baby. Waarop, tipies Retief Meiring, sy ’n vir haar vanselfsprekend retoriese vraag vra: “O, nè?” Plus: “Was dit die einde of die begin van ’n gender-oorlog wat blykbaar steeds nie heeltemal gesmoor kan of sal word nie?”

Maar dit was en is Retief Meiring: vaandeldraer van ’n volgende groep bevryde, veral Afrikaanse, joernaliste, en die natuurlike “troonopvolger” van haar voorganger Van Reenen.

Terwyl Retief Meiring aktief joernalis oor nuus van die dag was, het sy ook haar eie unieke stem, styl en register geslyp as rubriekskrywer van formaat – só dat sy vandag sonder vrees van teëspraak die natuurlike opvolger van die unieke Rykie van Reenen genoem kan word.

Retief Meiring se ouevre van rubrieke is inderdaad in dieselfde liga as dié van Van Reenen met hul satire, die snykant-waarneming, en soms suiwer patos. Sy volg nie net in die voetspore van ’n Van Reenen nie, maar is ook die nageslag van die formidabele MER wat Die Burger se eerste “vroueredakteur” was, en, soos Retief Meiring later sou skryf, nie toegelaat het dat die manlike redaksie vir haar voorskryf waaroor sy mag skryf nie.

Wat Retief Meiring van háár voorgangers sou sê, is net so van toepassing op haar eie rol en inspirasie vir ’n jonger generasie joernaliste, naamlik om met “’n ondergrawende styl” die sake van die dag oop te kloof. En daarmee het sy, “slinks, slu, en stylvol”, sélf ikoniese status in die Afrikaanse media gekry.

Ook die beskrywing van “klassieke fluweelhandskoen-joernalistiek” is ’n perfekte pas op Retief Meiring se werk met haar aktivistiese agenda en advokaatskap, ook en veral vir die “underdogs” in die onderskeie gemeenskappe waar sy haar deur die dekades bevind het. 

Dis waarskynlik die natuurlike gevolg van ’n joie de vivre en ’n g’n-duiwel-kan-my-stuit-nie-persona wat, sedert sy haar eerste nuuskantore betree het, rimpelings veroorsaak het.

Soos byvoorbeeld toe sy in 1967 teruggekeer het nadat sy in 1964 as junior buitelandse korrespondent vir Naspers in Londen gewerk het, en sy haar in ’n “vriendelike nyet”, soos sy dit gestel het, van (Nas)persbeleid vasgeloop het. In Londen was sy immers ook en veral alreeds politieke skrywer met ’n Suid-Afrika wat voortdurend in die nuus was weens apartheid, die Wêreldhof se verhoor oor Suid-Afrika se mandaat oor Suidwes (nou Namibië), onafhanklikheid vir Rhodesië (nou Zimbabwe), en natuurlik, die sluipmoord op HF Verwoerd. Sy het ook uit die Britse parlement verslag gedoen oor internasionale debatte.

Met haar terugkeer het sy dus “vol vertroue” voorgestel sy meen sy is geskik vir Naspers se Persgalery-span. Maar daarop kry sy toe “heel vriendelik (ja!)” die afwysing van Piet Cillié, redakteur van toe. “Meisies,” moes sy hoor, “berig nie uit óns parlement nie.” (’n Vrou sou eers 25 jaar later, in 1992, tot Naspers se parlementêre span toegelaat word.) 

Dit was dus terug na die “vroueblaaie”, onder die vroulike redaksielede die “vrouedele” genoem. En natuurlik, die sosiale blaaie. Engelse kollegas het dié sosiale blaaie “slosh’’ genoem: “Sag, sappig, skinderig.” Retief Meiring en haar kollegas het selfs “wit handskoene in ons laaie gehou vir daardie uitnodigings na hoogwaardigheidsbekleërs (dit was die amptelike woord vir die groot kanonne) se onthale, of na die eindelose hoeddraende vroueorganisasies”.

Dat Retief Meiring steeds vaandeldraer vir vroue in die nuuskantoor is, blyk uit die feit hoe sy ná ’n vleisbraaiery met oud-kollegas in 2014 reageer op iemand wat sê “ons” koerant (“dis nou Die Burger”) is darem so vol “meisie-bylines”. Sy het summier bylines op een dag gaan tel: daar was sewe vroulikesen tien manlikes – “maar vyf van laasgenoemde was op die sportblaaie”.

Maar dit is veral as rubriekskywer dat Retief Meiring ’n blywende nalatenskap het. Soos sy aan Stellenbosch se joernalistiekstudente oor die “lekkerste werk” in die joernalistiek – natuurlik rubriekskryf – gesê het: jy “flankeer met woorde”.

Sy het haar ervaring en ekspertise mildelik gedeel – elke lesing ’n meesterklas – terwyl sy hulle ook krities laat nadink het oor die feit of jy nou eintlik rubriekskrywer of essayis is:

“Die kanse dat jy albei is, is wel moontlik. Tradisie wil hê dat ’n essayis ’n deurdagte stukkie werk doen. Die grens is baie dun tussen die twee soorte. Rubiekskrywers is maar ’n joernalistieke beskrywing, terwyl essayiste deur die eeue wel as denkers beskou is, en langer stukke en dikwels swaarwigtiger as rubriekskrywers skryf. Montaigne, uit die sestiende eeu, en algemeen beskou as die vader van die moderne essay (en ook die rubriek), het egter in ligte trant geskryf. Samuel Johnson, weer, ook beskou as ’n ‘groot’ essayis, was veel swaarder in sy aanslag.”

En op die vraag of die goeie rubriekskrywer ander rubriekskrywers lees:

“Wat dink jy dan!

“Rubriekskrywers behoort wel die pappa van die goeie sportrubiek, Ernest Hemingway, te lees, net vir gemaklike en verbeeldingryke taalgebruik. Voor hom was daar die onweerstaanbare galgehumor van HL Mencken wat niks of niemand (veral nie sy mede-Amerikaners) ontsien het in sy oordeel nie. George Orwell was ’n uitstekende rubriekskrywer, maar die hedendaagse skrywer sal nog altyd vir James Thurber wil uitsonder as die uitstaande rubriekskrywer. Ek glo hy was een van one eie beste essayiste, Audrey Blignault, se gunsteling ook. Geen selfrespekterende rubriekskrywer sal NIE vir PJ O’Rourke lees nie, of Tom Wolfe, of Bill Bryson, of William Safire nie.”

Die waarskuwing oor satire aan die jong hoopvolles was reguit en duidelik:

“Satire ruk baie gou handuit tot gewoon nydigheid.”

En die raad om rubrieke te léés:

“Dit is verpligte leesstof vir alle rubriekskrywers om ander rubriekskrywers se werk te lees. En oordeel hulle! En moenie bang wees nie! En aap hulle na – maar wees baie bang híérvoor! Onlangs is een van die meer gewilde rubriekskrywers in ons land van plagiaat beskuldig. Hy sou o.m. vir PJ O’Rourke en Bill Bryson woord vir woord, of eintlik gedagte vir gedagte, gekierang het.”

Daarmee tesame:

“Daar is ’n algehele verbod op om iemand anders se styl te probeer na-aap. Amper so erg soos plagiaat pleeg. Maar dit beteken nie dat jy nie ander rubriekskrywers se werk moet lees nie.”

En raad vir ’n generasie wat naeltjie-starend selfbehep is:

“Vermy soos die pes selfvoldaanheid. Dit skemer deur in jou werk. Niks vervreem die leser so van ’n skrywer as hy/sy arrogant, selfingenome, selfbehep en selfverheerlik voorkom.

“Hoe gebeur dit?

“Deur van jouself te skryf. En dan nog só te skryf dat dit lyk of jy ’n uitverkorene is. Lesers is nie verskriklik geïnteresseerd in jou nie, of in jou huis, of jou diensmaagd, of  jou  dienskneg, of… ensovoorts nie. Paul Johnson, nog ’n groot gunsteling van my, is ’n striemende skrywer wat aanraai dat ’n rubriekskrywer tweekeer ’n jaar oor sy hond sal skryf, eenkeer ’n jaar oor sy kinders, en nooit oor sy vrou nie.”

Maar oor wat dan om te skryf?

“O Muse, gee my net ’n onderwerp, dis al wat ek vra!

“Die spertyd is op jou. Jou kop is so leeg soos gisteraand se glas rooiwyn. Maar idees het voete en kan alleen ontwikkel as die voornemende skrywer sy (leë) kop gebruik. Die slim rubriekskrywer is ’n leser – alles, van die voorskrifte op ’n medisynebottel tot die inhoud op die krakiespapdoos. Die slimmer rubriekskrywer lees al wat koerant is, tydskrif, internet, en as hy/sy regtig slim is, lees hy/sy ook geskiedenis/biografieë, outobiografiëe en skinderkolomme. En, hy/sy hou nooit ophou dink aan onderwerpe nie.”

En as toegif ’n hele handvol wenke, waarmee sy nie suinig was nie: haar “skelmwenke” aan die jong joernaliste:

“Gesoute rubriekskrywers het gewoonlik een groot ideaal: dit is om die onvergeetlike sin te skryf. Dus, dink in sinne. Dink soms sommer aan die inleiding vir ’n storie wat jy nog nie eens uitgewerk het nie. Dink veral daaraan dat jy in die bedryf van flankeerdery is. Jy moet jou lesers verlei. Jou grootste sonde gaan wees om die leser te verveel. Jou grootste uitdaging is om binne die kort bestek van ’n rubriek ’n briljante stukkie prosa te geskryf het. Daarom moet jy die dissipline van begin, middel en einde toepas. En nakom. Jou leser wil eintlik weet wat jy wil , en soek nie ingewikkelde esoteriese gedagtes nie.”

En ten slotte aan die Stellenbosse joernalistiekstudente:

“Dunvelliges sal rubriekskryf vermy. Want as jy jou vir ’n toffie uitgee…

“(NB! Moenie afgesaagde ou gesegdetjies soos die toffie-ene gebruik nie!)”

Die joernalis en rubriekskrywer Martie Retief Meiring kan beskryf word as ’n veelsydige en talentvolle joernalis en mens wat haar deur harde werk en toewyding op verskeie terreine onderskei het. As joernalis, rubriekskrywer en denkleier het sy ’n beduidende invloed op die ontwikkeling van denke oor dekades onder Suid-Afrikaners gehad,

Inderdaad is Retief Meiring die essensie van die joernalis as waarnemer, daar waar sy in ’n sypaadjiekafee onder die skaduryke eike op Stellenbosch sit, waar jy wat jy is mooi moet kyk of die joernalistieke flaneur wat so flankeer met woorde nie dalkies reg agter jou op een van daardie shabby-sjiek bistro-stoeltjies van eikehout-wynvate langs ’n ewe shabby-sjiek bistro-tafeltjie sit nie. En dalk, net dalk, toevallig hoor wat by die buurtafeltjie te praat is op die dorp waar daar áltyd ’n storie is…

Die Suid-Afrikaanse joernalistiek sal nie sommer weer ’n Martie Retief Meiring oplewer nie. Haar geslypte en gepoleerde, superskerp, prikkelende rubriek-prosa is die waarmerk van ’n joernalis wat oor dekades waargeneem en weergegee het, en dit onvergelyklik kon doen danksy ’n groot en breë belangstelling in van die kunste tot die plaaslike politiek, maar ook en veral die gewone vrou en man se lewe, daar waar die lewe gebeur – die verpersoonliking van die joernalistiek as barometer van ons tyd.

Hierdie uitnemende meester van die joernalistieke professie, en veral as burger van die ryk van woorde as rubriekskrywer, verdien by uitstek die Akademie se Markus Viljoen-medalje.

Dank aan prof. Lizette Rabe vir die beskikbaarstelling van hierdie commendatio.