Ludwig Visser vertel

Baasvertaler Ludwig Visser van Die Burger vertel

AS ek so deur Mediamense.com kyk en ek sien die groot dinge wat oud-kollegas vandag nog uitrig – doktorsgrade behaal en boeke skryf, onder meer – voel, ek dat ek maar ‘n baie klein spikkeltjie in die joernalistieke heelal was.

Maar dan weer, besef ek, dat dit vir my persoonlik ‘n baie aangename en avontuurlike spikkeltjie-tyd was. Ek het miskien nie groot dinge gedoen nie, ek het nie aardskuddende hoofartikels geskryf nie, maar wat ek wel gedoen het, was vir my een groot en baie aangename avontuur. Ek kan eerlik sê my werk as koerantman was nooit vir my werk nie; dit was altyd net een groot aangenaamheid om elke oggend na uit te sien.

Foto: Ludwig met van die sowat 300 boeke wat hy uit Duits en Engels vertaal het.

Dankie aan die groteres bokant my wat onwetend en onbedoelend daardie avontuur moontlik gemaak het, want hulle het my die opdragte gegee en my op maniere gebruik wat later my avontuur geword het.

Die heel eerste een waaraan ek kan dink, het my in Januarie 1960 al “oorval” toe die meer senior manne in Die Burger se redaksiekantoor gesien het hierdie juniortjie wat  vandag hier ingeval het, kan nou van hul “joppies” oorneem. Hulle het toe die vertaling van die daaglikse strokiesprente aan my opgedra. Min het hulle seker in  daardie stadium besef dat ek dit vir die volgende vyftig jaar sou doen! Selfs tien jaar ná my aftrede nog steeds, en dat dit deurentyd vir my  ʼn aangename uitdaging was. Dikwels moes ek self  ʼn grappie uitdink om by die prentjies te pas, want dit was meestal Amerikaanse strokies, en die Yanks se grappies was nie altyd vir óns snaaks nie!

Die res van die avontuur het maar sy gebruiklike loop geneem: eers verslaggewer, toe later in die nagredaksie vertaal en geleer om te sub, nog later dosyne naweek-artikels vir Die Byvoegsel geskryf, later redakteur geword van plattelandse nuus, nog later rubriekskrywer, toe redakteur van Die Tyger-Burger, Die Burger se weeklikse gratis koerant in die noordelike voorstede, gevolg deur die pos van nuusredakteur, toe administratiewe redakteur en toe hoofredaksielid, waar ek ook afgetree het.

In elkeen van hierdie poste was daar een of ander gedenkwaardigheid, party spanningsvol, ander nogal lagwekkend. Terwyl ek sub was, het die outomatiese brandbestrydingstelsel in die gebou een nag skielik aan die werk gegaan en ons almal begin natspuit terwyl ons gewerk het. Toe ons probeer vasstel wat aangaan, gewaar ons brandweermanne wat na die boonste verdieping op pad was. Dit blyk toe dat daar  ʼn brand uitgebreek het toe skoonmakers blykbaar ʼn elektriese stofie aan gelos het. 

Die kopie op die subtafel was alles sopnat, ons was sopnat, alles was ʼn gemors, maar ons het deurgedruk en ek meen amper nog vyf minute vóór die gewone saktyd daardie nag klaargemaak! By ‘n ander geleentheid, in September 1969, het die gebou skielik begin skud toe ‘n aardbewing die Boland getref het. Ons het vervaard uit die gebou gestorm, en moes later weer terugsluip, want daar was  ʼn koerant om op straat te kry. 

Die konsternasie wat hierop gevolg het, was iets ysliks. Kortom, omdat ek die vinnigste in die nagkantoor kon tik, is alle kopie wat telefonies oor die aardbewing  ingesamel is, na my toe aangedra, en ek meen ek het daardie nag die hoofberig vier of vyf keer oorgeskryf vir die verskillende uitgawes wat ons uitgestuur het.

Toe ons die volgende oggend sewenuur huis toe ry, was ons die eerste koerant op straat met foto’s van Tulbagh af waar die aardbewing die ergste skade aangerig en lewensverlies  veroorsaak het.  Terwyl ek nuusredakteur was, was daar die Laingsburg-vloed. Dit was in die dae voor rekenaars en epos en sulke snelkommunikasiemiddele. Om die stories anderkant die vloedwater te gaan haal, het baie dinkwerk gekos. Om nie te praat van waagmoed nie, want die manne en meisies moes storms en  vloedwater trotseer om die nuus by die kantoor te kry. Opwindend was dit beslis, maar ek meen dit het almal van ons  binne enkele dae  ʼn jaar of vyf ouer laat word.

So tussen alles deur as daar ook nog my vertaalwerk wat saans tuis gewag het as ek by die huis kom. So algaande het ek meer as driehonderd boeke vertaal, hoofsaaklik uit Duits, maar ook uit Engels. Die Duitse boeke was almal die oorlogsromans van die baie gewilde Heinz Konsalik. Onder die Engelse titels was drie van Wilbur Smith. Dit het baie ure agter die tikmasjien, later ‘n rekenaar, gekos, en dikwels was vakansiedae daardeur in beslag geneem. Maar dit was alles deel van die taalavontuur wat ek as joernalis beleef het.

Ek noem dit  ʼn taalavontuur, omdat Afrikaans vir my so belangrik was.  Veral in my dae as rubriekskrywer het ek ‘n baie goeie verhouding met my lesers gehad, en ons het baie oor die taal gesels. Ek meen ek kan daarop aanspraak maak dat ek twee woorde in Afrikaans die “lig” laat sien het. Die eerste was “viertrekvoertuig,” vir die lomp vierwiel-aangedrewe voertuig, en “trekstrop” vir “cable ties” waarmee baie mense vandag nog sukkel.

Ek voel stilweg trots hierop, veral as ek dink aan hoe skrikkerig ons subs altyd was vir mnr. Louis Hiemstra van woordeboek-faam. Hy het elke Maandag se koerant geneem en dan daardeur gewerk, en elke taalblaps daarin het hy met ‘n rooi pen gemerk. Dis dan teruggestuur na ons toe, en vir ons subs was dit amper ʼn skande om te sien daar is ʼn rooi merk in  berigte wat jy ge-sub het. Maar dit het ons  aangemoedig om beter Afrikaans te skryf en die jong verslaggewers te help om dit te doen. Die gevolg was dat daar nooit ‘n Engelse woord of amper Engelse woord in Die Burger verskyn het soos wat ʼn mens ongelukkig vandag partykeer sien as mense aangehaal word nie.

Opsommend: Ek was een van die kleineres, soos in die begin gesê, maar my  werk het my laat voel dat ek een van die groteres is, want elke dag het ek gevoel ek skryf in goeie Afrikaans iets wat mense wil lees en wat hulle geniet. Die “geniet” het veral duidelik geword toe ek as rubriekskrywer eendag effens kort was met die kopie, en toe sommer ‘n grappie onder aangelas het met die tussenkoppie “Stertjie”. Die “Stertjie” het later ‘n gereelde aanlassie geword, sodat een of twee gereelde lesers my telefonies sommer “ou Stertjie Visser” genoem het.

Lekker was dit alles beslis, en ek sal Die Burger ewig dankbaar bly dat hy my destyds  ʼn beurs gegee het om Stellenbosch toe te gaan en daarna ook ‘n pos wat uiteindelik veertig jaar gehou het!

Vandag is ek ‘n Namakwalander, maar  ʼn Burger-man sal ek altyd bly.