LOF EN KRITIEK BY DIE DOOD VAN BEKENDE MEDIAMENSE

Deur Johannes Froneman

Die dood van ’n paar bekendes, sommiges baie bekend, het reaksie en huldebetonings ontlok wat my weer eens laat wonder het oor die waarheidsgehalte van berigte — of dan liewer die menings en lofredes wat in berigte, blogs of boeke oor gestorwenes weerspieël word.

Mense se belewenis van ander (ook gebeure) is so verskillend. Alles hang seker af van jou agtergrond, spesifieke voorvalle, vooroordele en dies meer. En dan is daar die hoflikheid wat jy aan die dooies betoon om nie te eerlik te wees nie — al verdien hulle dit nie.

Om oor lewendes te skryf, is uiteraard gevaarliker; daarom dat Hennie van Deventer, daardie prolifieke oudredakteur en skrywer van vele boeke, hom in talle stukke (gepubliseer in boeke soos Laatoes, Byle in my bos en Koerantkamerade) hoofsaaklik op die dooies toegespits het. Dis veiliger. Hulle kan jou boonop nie bedank vir die vriendelike oordeel nie, want dan het jy jou loon weg …

Wanneer ek hier vanuit my perspektief enkele mediafigure herbesoek, impliseer dit geen kritiek op Van Deventer of enige ander grafskrifskrywer nie; dit gee trouens erkenning aan hul menings en belewings, maar probeer by nabaat ’n paar gedagtes, selfs vrae, byvoeg.

Ek tree eintlik in gesprek met ons mediageskiedenis, wat nog so onontgin lê – al is daar darem al heelwat om voor dankbaar te wees. So kry ons, hopelik, ’n meer volronde prentjie van die betrokke mense wat hul spore op die mediasand agtergelaat het.

Van Deventer opper self die kwessie van skewe perspektiewe in ’n stuk by die afsterwe van Johannes Grosskopf, voormalige redakteur van Beeld en professor in joernalistiek op Stellenbosch. Hy skryf: “Een van sy (Grosskopf se) gebruike as redakteur was om ’n beknopte oorsig oor die vorige dag se koerant vir die redaksie te gee: welke berigte goed hanteer is, waar bykomende aspekte uitgelig kon word, waarmee mededingers Beeld geklop het, welke stories beter aangebied kon word en waarom hy so dink.

“Vir my as nuusredakteur was daardie daaglikse dosis pluimpies en kritiek uit die redakteur se kantoor so waardevol dat ek sy resep later, sonder erkenning, ook deel van my eie arsenaal gemaak het.

“ ‘Sonder erkenning’ – hierdie woorde spook by my ná Gross se dood. ’n Kwelvraag is: het Gross ooit erkenning gekry vir sy aansienlike rol in Beeld se langsame vestigingstryd? Ek vrees nie. Ten minste nie voldoende nie, in my oë.

Johannes Grosskopf se aanstelling by Beeld is op die voorblad van Die Burger aangekondig.

“Grotendeels kan sy lot natuurlik op Perskor se brood gesmeer word. In die finale instansie was ‘Syferfontein’ (die gekonkel met sirkulasiesyfers deur enkele amptenare by Perskor, wat eers later aan die lig gekom het — JDF) Gross se doodsteek. Ongelukkig bestaan daar ook rede tot selfondersoek by kollegas (my inkluis). Skewe persepsies oor Beeld se aanvanklike gesukkel en die rol van sekere sleutelmense is toegelaat om deel van die geskiedenis te word. 

“Wat het ons wat in ons vorming as joernaliste, en mense, soveel uit die geniale mentor se hand ontvang het, gedoen om ons knap redakteur teen sy porsie van daardie skewe persepsies te beskerm?” vra Hennie van Deventer.

Goeie vraag. Een antwoord is dat Grosskopf ’n gawe professoraat vir vyf jaar op Stellenbosch gekry het, maar dat hy ongelukkig nie die geleentheid benut het om sy perspektiewe via ’n boek met ons te deel nie. Dis regtig jammer.

Grosskopf se voorganger op Stellenbosch en oudredakteur van Die Burger, prof. Piet Cillié, se posisie in Nasperskringe is onaantasbaar. Die intellektuele reus wat vir geen duiwel geskrik het nie, word geglo. Van Deventer belig wel ook die sagter kant van Cillié:

“Musiek beklee ’n amper ewe spesiale plek in daardie ruim Cillié-hart. Bettie het vir haar ‘Pieter’ (net sy het hom so genoem) vir sy verjaardag op 18 Januarie 1940 ’n klavier geskenk. Sy vertel: ‘Ek wens Pieter geluk en sê sy present staan agter die sitkamerdeur. Hy gaan kyk en daar raak hy toe heel bewoë van die pure plesier.’

“Later word ’n huisorrel aangeskaf. Juis die nuus lei tot die uitnodiging om by Blouberg by eredienste as orrelis af te los. Hy doen dit met ’n fyn aanvoeling. Die dag toe die agterkleinkind van Oom Jim Fouché, staatspresident uit Rouxville se kontrei, gedoop word, speel hy byvoorbeeld die Vrystaatse volkslied…

“Ons jonger garde het dié veelkantige mens vanselfsprekend nie geken soos sy naastes nie. Hoe sou ons nou kon weet van sy vele verskuilde talente en voorliefdes? Ons het respek gehad vir sy ‘roekelose intelligensie’ (die skepping van Abraham de Vries) en na hom opgesien. Ons bewondering was gesetel in sy gedugtheid as redakteur; in sy reputasie dat hy vir g’n duiwel stuit nie, en in sy statuur as voorste kommentator van sy dag – veral in sy legendariese rubriek Dawie.

“Sy reputasie is gevoed deur vele stories wat in omloop was, party dalk apokrief. Wyle Piet (Weskus) Marais, jarelange LV vir Moorreesburg, het hierdie een vertel:

“ ‘Een jaar by die NP-kongres (kongres van die Nasionale Party) het ons laterig die aand in die kamer van PW Botha beland. Dit was om en by 2 vm. Piet Cillié – korterig van persoon – het met ’n laatnagdrankie in die een hand en ’n sigaret in die ander met ’n argument reg voor mnr. Botha te staan gekom. Hy tik die sigaret-as af. Neem vinnig ’n slukkie. Kom op sy tone. Kyk oor sy bril. Toe kom dit: “U se moer ook!” ’

Hennie vervolg: “As spreker – dikwels impromptu by konferensies en etes – en as storieverteller met ’n unieke styl, ’n monumentale humorsin en ’n pakhuis vol stories en kwinkslae, het prof. Piet nie sy gelyke gehad nie …”

Maar, maan Van Deventer sagkens: “Elke mens, ook die gedugstes, het foutjies. Yvonne Retief, sy jarelange sekretaresse, lig die sluier: ‘ ’n Verstrooide professor was hy ook. Stop een aand op Stellenbosch by ’n garage om sy motor vol diesel te maak en merk nie op dat die pompjoggie petrol ingooi nie. ’n Entjie van die garage het die motor kop tussen die bene vasgesteek. Hy moes nog na ’n vergadering en ’n ete daarná.

“ ‘Die einde van die storie was dat ek en ’n vriendin hom die aand om halftien by die Volkskombuis moet gaan haal en huis toe bring. Toe ons die restaurant binnestap en hy sien wie hom kom haal, leun hy agteroor, trek sy mond op sy kenmerkende manier op ’n plooi en sê: “Wys jou net, een telefoonoproep, en kyk hoe hardloop die meisies”.’

Nou klink hierdie stories meer soos ’n waarskuwing om die joggie by die pomp dop te hou — en dié van ’n selfversekerde professor wat met homself kon spot oor sy aantreklikheid vir vroue.

Tog: “ ’n Engeltjie … was prof. Piet nie in elke opsig nie. Toe iemand opmerk ‘Piet, ek het jou lanklaas in die kerk gesien,’ was hy klaar met ’n antwoord: ‘Ja, maar op my ouderdom moet jy nie die aandag van die Here te veel op jou vestig nie!’ Tant Vlokkie se Pieter kon op 20 Oktober 1999 nie die Here se aandag langer ontwyk nie.”

As iemand so mooi oor ’n ander skryf, wil jy nie onderbreek nie. Maar as ek mag hand opsteek en vra: Was Piet Cillié inderdaad die rots soos wat hy voorgehou is? Het hy hom dan nie teen ’n groter rots, Hendrik Verwoerd, vasgeloop nie?

Piet Cillié is reeds in lewe as ‘n mens van buitengewone gawes geëer.

Dit is geen nuwe vraag nie en word onder andere deur Lizette Rabe aan die orde gestel in ’n hoofstuk in Naspers se gedenkboek ’n Konstante revolusie: Naspers, Media24 en oorgange. Sy haal Cillié aan, wat na die “mitologie” oor die Verwoerd-Cillié-botsing(s) verwys het.

Tereg vra Rabe: “Het Cillié sy ‘lojale verset’ onderdruk ter wille van die geheel? Het hy te ver vooruit verken en raakpunte met die massa verloor, hoewel hy die steun van intellektuele Afrikaners gehad het? En wat as Naspers kon stand hou teen Verwoerd, nie die beleidskoers aanvaar het nie, en sy ‘reg op volwasse denke’ meer onafhanklik kon uitoefen.”

Rabe besluit (saam met ander waarnemers) dat Cillié “oorversigtig” geraak het; hy het geretireer. Die liberaler “Suidelike” Nasionalisme het verloor, al is dit nooit in die openbaar toegegee nie. Jy stig liewers ’n koerant of twee in die Noorde en foeter die interne opposisie in hul agterplaas op.

Tog is Cillié, die “grootste Nasperser”, as ’n demi-god beskou. Naspers was telkens in die geskiedenis vernuftig in hul skepping van ikone en die bou van mites rondom die maatskappy en sy leiers. Dit geld ook die politieke joernalis Alf Ries.

Oor hom skryf Van Deventer:

“Ek eer Alf nie net as ’n persoonlike mentor nie; ook as doyen van die persgalery en as prins van politieke beriggewers. Hy was ’n lewende legende onder politici en koerantmense; ’n scoop-fabriek wie se stroom trefferberigte mededingers telkens radeloos gelaat het.

“Sy vier dekades in die persgalery weerspieël ’n lang-lang pad in die Suid-Afrikaanse politiek. Die omwenteling in die land het hy van binne die politieke enjinkamer waargeneem en daaroor verslag gedoen. Met dr. Verwoerd se ’nuwe Visie’ in 1959 – onafhanklike swart state – was hy ’n grootoog-groentjie in die persgalery. Toe apartheid in die jare negentig deur FW de Klerk finaal op die ashoop gegooi is, was hy ’n gesoute veteraan.

“Met sy integriteit, respek vir feite, lojaliteit en geloofwaardige beriggewing het hy generasies politieke leiers oor die hele spektrum se agting gewen. Vir John Vorster was hy ’n vertroueling. Staatsgeheime is met hom gedeel. Vir kollegas was hy die koerantman se koerantman: nooit flambojant nie, maar bo alles standvastig, gesaghebbend en betroubaar …

“Met die vliegongeluk van Samora Machel was dit weer die nimlike Ries wat sy mededingers getroef het; weer was Die Volksblad dieselfde dag los voor met ’n scoop. Hy en Pik Botha was maats wat saam in ’n tent was op hul militêre diens. Goeie kontak om te hê!”

Inderdaad, kan ’n mens byvoeg. Hoe klop jy daardie tipe kontakte? Ingebedde joernalistiek by uitstek.

Wat ek, by nabaat, egter wil vra, is: Was Ries werklik so ’n goeie joernalis? Of was hy net ’n nuttige propagandis? Sy skryfstyl het nie-Nasionaliste hul oë laat rol: die breedsprakige inleiparagrawe vol gelaaide byvoeglike naamwoorde was nie uitsonderings nie. Geen wonder nie dat die satiriese publikasie Die Buiger (waarskynlik uit PFP-kringe op Stellenbosch) genadeloos (en heel akkuraat) Die Burger (en Alf Ries) se (soms) uitasem styl nageboots het.

Ries is by sy dood groot lof toegeswaai.

Sy aanvalle op Van Zyl Slabbert en verdagmakery was uiteindelik suksesvol; Slabbert het die wit politiek (natuurlik veel meer as Die Burger se aanvalle) so nutteloos gevind en uit die Parlement geloop — tot Helen Suzman se ontsteltenis. Later erken Tim du Plessis dat Slabbert nie deur die Nasperskoerante billik behandel is nie. En word Slabbert by sy dood met ’n groot Beeld-voorbladberig vereer: SA groet ’n kolos. Sou Ries daarmee saamgestem het?

Die kamtige scoops oor Vorster was niks minder nie as korsies wat die baas van die tafel na hom gegooi het, sou mens kon redeneer. As kommentator wat vooruit gedink en geloop het, kwalifiseer Ries tog nie; wel was hy die politieke beriggewer wat kon voorspel wie more in die kabinet sou wees en wie nie. Wel, dit getuig miskien van goeie binne-kennis, maar met welke nut? Watter bydrae het dit gelewer, behalwe om ’n paar ekstra koerante te verkoop?

Uiteindelik was hy dalk eerder ’n lojale joernalis wat lojaliteitsjoernalistiek bedryf het — en gesorg het dat die nuwelinge in die parlementêre span vinnig leer wat goed is vir hul loopbane. Soos dat die minister ’n sê het in hoe ’n berig geskryf word. Vra maar vir Max du Preez. Of jy kan André Brink se vertellings elders op Mediamense.com gaan lees.

Van die talentvolle, belowende jongelinge het dit oorleef en later, veel later, gelukkig hul eie vlerke gekry.

Tog sê Ton Vosloo by Ries se dood dat hy een van die “heel grotes” was. En Ebbe Dommisse, wat ’n paar boeke saam met Ries geskryf het, huldig hom as iemand wat agting afgedwing het met sy feitelike beriggewing en insig. Kan mens hierteen stry? Ja — as jy ’n tree of twee wegstaan en vra watter rol Ries (en sy kollegas) in die ontplooiing van Afrikanerdenke gespeel het.

Indien jy glo dat Naspers ’n perfekte wegbereider was vir PW Botha se hervormings en FW de Klerk se radikale ommeswaai op 2 Februarie 1990, was Ries sekerlik die ideale politieke beriggewer. Maar dit verg ’n bepaalde selektiewe geheue om daardie narratief kritiekloos te aanvaar.

Terug by Hennie van Deventer. Hy skryf ook oor iemand wat buite die Nasperskring beweeg het, maar as redakteur van Rapport (waarin Naspers destyds net 50% besit het) ’n belangrike redakteur was – dr. Willem de Klerk.

Dit is ’n goeie skets en leun op meer as persoonlike kennis. De Klerk het immers self oor sy weggaan by Die Transvaler én Rapport geskryf. Van Deventer gee veel lof vir die “charismatiese hoogleraar met ’n skerp brein en goue pen … ’n uiters begaafde man …” wat in die politieke diskoers “dapper” sy kant bly bring het.

Maar PW Botha se tirades teen De Klerk was op die ou end te veel vir Naspers én Perskor, skryf Van Deventer. De Klerk is, so lyk dit, nie teenoor Botha verdedig soos wat Naspersredakteurs in die verlede steun van hul direksies ontvang het nie. Was hy meer gematig sou hy oorleef het, suggereer Van Deventer.

Nou sal daar meningsverskille wees oor De Klerk se eie rol in sy afdanking by Rapport. Hy was nie sonder skuld nie. Maar ’n Griekse tragedie, soos die opskrif van die stuk oor De Klerk lui? Sy rebellie teen verstokte denke moet dalk liewer as ’n hoogtepunt in die Afrikaanse joernalistiek aangeteken word. 

Willem de Klerk is by sy dood op sy ou konkurrent, Beeld, se blaaie as voorloper vereer.

In sy slotboodskap by sy aftree-ete sê Van Deventer: “Wanneer ’n mens uitspan, rangskik jy egter onwillekeurig in jou eie gemoed die goeie, wat jy wens jy meer was, en die slegte, wat jy wens minder was. Wat laasgenoemde betref, kies ek die uitweg van die lafaard, met een enkele kollektiewe apologie, hetsy vir ongevoeligheid, onnadenkendheid, ongedurigheid of onreg wat gepleeg is. Daar was ongelukkig te veel van elk hiervan.”

Vir hierdie eerlikheid lig ek die hoed. Ook vir Ton Vosloo se erkenning van foute wat hy gemaak het (soos elders op hierdie webblad in ’n artikel oor hom aangetoon word). Maar ons kort ook meer eerlikheid en beter perspektiewe oor belangrike mediamense van die verlede — nie om hulle by nabaat te minag nie, maar om die oordrewe lofbetuigings én harde oordele te temper en getrouer, meer gebalanseerde weergawes van die institusionele en persoonlike geskiedenisse op die tafel te plaas. Op die lang duur is dit tog meer geloofwaardig.

In hierdie voortgaande projek wil Mediamense.com ’n beskeie rol speel. Dit klop met die kritiese, oop gesprek wat deur baanbrekers soos Schalk Pienaar en Willem de Klerk gevoer is en waardeur die Afrikaanse joernalistiek uiteindelik tot volwassenheid gebring is.

Bronne: Hennie van Deventer se Byl in die bos (Griffel, 2009), Laatoes (Naledi, 2017) en Koerantkamerade (Naledi, 2021).