Elsabe Smit vertel

Laevelder was by met groot stories

Elsabe Smit (later Steyn) was in die 1980’s nuusredakteur by Die Laevelder, later Laevelder. Hierna is sy na Pretoria waar sy by die SAUK ‘n bestuurder was. Sy het op versoek van die Laevelder van haar herinneringe neergeskryf wat ons hier met graagte deel.

Ek is in 1977 by Die Laevelder aangestel en in 1981 bevorder tot nuusredakteur. My tydperk as nuusredakteur is gekenmerk deur die uitbreiding van medewerkers in dorpe soos Barberton, Komatipoort, Malalane, Sabie, Graskop, Lydenburg, Pilgrim’s Rest, Skukuza asook rubriekskrywers.

Dit het daartoe bygedra dat nuusdekking verteenwoordigend was van die Laeveld wat tot menige puik voorbladstories gelei het – meestal stories wat die eerste keer in Laevelder “gebreek” is.

Opleiding was belangrik om die gehalte van die bydraes te verseker en in Junie 1986 bied Die Laevelder in samewerking met die Instituut vir die Plaaslike Pers aan die destydse Potchefstroom se Universiteit van Christelike Hoër Onderwys (nou Noordwes-Universiteit) ‘n redaksionele kursus vir medewerkers aan. Junior joernaliste het ook die instituut se somerskole bygewoon.

Van die rubrieke was Kontreinuus van omliggende dorpe en veral die weeklikse MOTH-dagboek wat baie gewild was. Ek dink steeds met groot deernis aan die MOTH-korrespondent, wyle Bernie Friedlander wat altyd spertye streng nagekom het. Dit was ‘n emosionele dag toe ek saam met wyle Clyde Johnson van The Star se Laeveldburo Bureau ‘n kopie van Die Laevelder se honderdste bestaansjaarbylae aan Bernie op sy sterfbed oorhandig het. Die verhaal van sy heldedaad tydens die Tweede Wêreldoorlog is in die bylae vir die eerste keer bekendgemaak.

Bernie het die lewens van honderde gevange soldate op ‘n vragskip, die San Sebastian, gered. Die skip is deur ‘n torpedo van ‘n Britse duikboot sowat 8km van die Griekse kus getref. Bernie het deur die ontstuimige see in naglig met ‘n tou na die kus geswem en met behulp van ‘n jong Griek die tou aan ‘n rots geanker. Die soldate kon toe met behulp van die tou die kus bereik. Bernie is met ‘n goue medalje deur Koning George VI vir sy heldedaad vereer.

Hy het die Vrydag gesterf toe die eeufeeskoerant op straat verskyn het. Maar dit was wonderlik dat hy sy storie die Woensdag self kon lees want die bylae was reeds gedruk.

Van die belangrikste nuusgebeure in my tydperk was die Nkomati-Vredesverdrag wat op 16 Maart 1984 deur pres. PW Botha en pres. Samora Machel van Mosambiek onderteken is. Die byeenkoms is deur talle internasionale en Suid-Afrikaanse hooggeplaastes bygewoon, wat per trein by die “onafhanklike” terrein tussen Suid-Afrika en Mosambiek opgedaag het.

Kenmerkend van Suid-Afrikaners was dit ‘n geleentheid van prag en praal met rooi tapyt en pragtige blom- en struikversierings. Mev. Elize Botha het by elke gas se bord ‘n pienk angelier geplaas, terwyl die Mosambiekers garnale en kasjoeneute bygedra het vir die uithangete wat deur die Suid-Afrikaners aangebied is.

Botha het gesê die geskiedkundige verdrag het ‘n nuwe rigting aan die geskiedenis van Suider-Afrika gegee en dit is ‘n bewys aan die wêreld dat lande met verskillende ekonomiese en politieke stelsels in vrede kan saamleef en saamwerk. Die Laevelder het ook geskiedenis gemaak toe ons die eerste koerant was wat oor die vredesverdrag berig het, met ‘n middernagtelike uitgawe.

Schalk van Schalkwyk, ek en fotograaf Isobel van der Spuy, was onder die honderde geakkrediteerde joernaliste by die geleentheid. Met filmkameras en tikmasjiene terug op kantoor moes ons saam met die res van die personeel in uiterste omstandighede werk om die koerant laatnag te publiseer.

Nog ‘n eerste vir Die Laevelder was ‘n spesiale uitgawe op Dinsdag 21 Oktober 1986 na ‘n vliegramp op Sondag 19 Oktober 1986 toe ‘n Mosambiekse vliegtuig by Mbuzini naby die grens van Suid-Afrika en Mosambiek neergestort het. Machel en 34 ander het in die ramp gesterf. Tien passasiers het oorleef en is na die Rob Ferreira-Hospitaal geneem vir behandeling. Van der Spuy was een van die eerste fotograwe op die toneel. Een van die foto’s is later met ‘n KWV-Wynlandtoekenning vereer.

Beriggewing oor omgewingsake was deur die jare hoë prioriteit by Die Laevelder. Gouddelwers by die Lisbon-waterval naby Graskop het na bewering die stroom van die Lisbonrivier afgekeer om goud in die rivierbed te delf. Die waterval was maande lank kurkdroog.

Nadat dit deur Die Laevelder onthul is, is ondersoek deur die owerhede gedoen en die delwery is gestaak. Kort daarna het die waterval weer sterk geloop. Die skending van boesmantekeninge en die ontworteling van inheemse plante en bome tydens ‘n bou-ontwikkelingsprojek by Sonpark was nog ‘n omgewingstorie wat tot groot omstredenheid gelei het.

Dié drie stories het aan my KWV-Wynlandtoekennings besorg. Dit was te danke aan goeie kontakte.Dank aan die onbekende redaksielid wat die storie reeds jare gelede vir die destydse Mediamense.co.za ingestuur het.