K’RANT GEE BOEIENDE BLIK OP PERSKOR SE MENSE

Deur Johannes Froneman

K’rant, die webblad waar Perskor-mense se stories versamel word, het reeds ruim meer as ‘n duisend bydraes. Dit is ‘n ruimte vir mediamense wat by koerante en tydskrifte gewerk het wat onder die Perskorsambreel beland het, maar dit gee natuurlik aan almal ‘n insig in hoe joernalistiek daar bedryf is — die goeie en die minder goeie.

Hierdie inisiatief is die afgelope jare deur mense soos Peet Simonis en Piet Ebersöhn uitgebou, natuurlik met die insette van oudwerknemers van Perskor. By die skryf hiervan in 2021 is Philip Deetlefs die redakteur.

Die mees ywerige medewerker aan K’rant was seker Andries Botha, destydse assistent-redakteur by Die Transvaler en vader van vele planne. By sy dood in 2013 was daar meer as vyftig stukke op K’rant uit sy pen. Hy het onder meer ‘n insiggewende reeks oor dr. Willem de Klerk geskryf (aan die hand van De Klerk se ongepubliseerde memoires).

Joviaal en ruim van gees, was Andries op sy dag ‘n politieke verslaggewer op die voorpunt. ‘n Oudkollega, Frikkie van der Walt, skryf op K’rant:

“Lank voordat verligte Afrikaners gesprekke in die buiteland met die ANC aangeknoop het, het dr. Willem de Klerk en Andries Botha met aktiviste gesels. Andries was dr. De Klerk se voetsoldaat wat raakpunte met aktiviste in Soweto gekry het waarmee Wimpie hardkoppige politici kon bearbei.”

Andries het nie soseer oor homself geskryf nie, maar met mense soos Dot Kruger, destydse sekretaresse van Marius Jooste, gaan gesels. Uit dié gesprek kom hierdie staaltjie:

“Dot was nie die soort persoonlike assistent wat vir die base tee gemaak het nie. Jooste het sy eie teeman gehad. En sy eie kok.

“Sy eetlokaal, waar daar elke middag saam met — dikwels vername — gaste geëet is, was uiters luuks en net die beste wyne is daar voorgesit. Op ‘n dag toe hy saam met Duimpie Opperman geëet het, het Jooste ‘Juffie’ – soos hy Dot altyd genoem het – versoek om vir Opperman wyn te skink.

“ ‘Ek glo nie mnr. Opperman sal omgee om vir homself wyn te skink nie. Ek skink nie vir mans wyn nie,’ was haar kordaat antwoord.

“Jooste het haar nooit weer gevra om vir enigiemand wyn te skink nie.”

Dot het haar oor op die grond gehou en vertel aan Andries dat feitlik almal by Perskor  geweet het van die gekookte sirkulasiesyfers, “behalwe teemaker Abednego”.

Sy het vertel dat die skandaal (toe die gekook met Die Transvaler en ander publikasies se sirkulasiesyfers aan die lig gekom het) Jooste verslae gelaat het. 

“Hy moes seer seker daarvan geweet het, maar hy kon nie glo dat Perskor uitgevang is nie. In daardie tyd het die Audit Bureau of Circulation (ABC) Jooste ‘seker maklik ses keer per dag geskakel’, maar hy het eenvoudig geweier om met hulle te praat. Uiteindelik het hy sirkulasiebestuurder Frans Wessels opdrag gegee om met die ABC te praat,” aldus die artikel.

Die gekonkel het natuurlik daartoe gelei dat Die Transvaler middag toe moes skuif en aan Beeld die oggendmark afstaan as “vergoeding”. Dit het Die Transvaler se einde verseker.

‘n Groot gees waaroor ‘n hele paar bydraes gaan, was Hermie Hendriks.

Piet Ebersöhn beskryf hom as “ ʼn Israeliet sonder bedrog … ʼn Opperste heer sonder ʼn sweempie van hoogmoed, met sy ongekunstelde Swellendamse gebry, so ‘n plat op die aarde mens as wat kan kom.

“Op sy manier die stille krag agter menige redakteurstoel. Piet Meiring sê een van die bouers van ons koeranttradisie.

“ ʼn Baanbreker in dié sin dat hy nuus eerste gestel het in ʼn era waar politiek die alfa en die omega vir Afrikaanse koerante was. Ook taalskepper in ʼn tydvak toe Afrikaans as geskrewe taal nog jonk was.

“Hermie Hendriks het ʼn leeftyd aan die Afrikaanse joernalistiek gewy en ʼn bydrae van onskatbare waarde gelewer sonder om dit aan die groot klok te hang.”

Hanlie Vornberg het by sy dood geskryf dat syin 1970 die Afrikaanse Pers se eerste joernalistiekskool bygewoon het en die eer gehad het om by Hermie Hendriks opleiding te ontvang.

“Ons agt groentjies wat bevoorreg was om aan die kursus deel te neem, het groot respek vir hom gehad. Sy grondige kennis van die joernalistiek, sy ervaring en sy wysheid. Vir ons was hy MENEER Hendriks.”

Hendriks was inderdaad ‘n man van statuur. Gelukkig het Ebersöhn drie onderhoude met die geliefde oom Hermie gevoer, wat op K’rant gelees kan word. Daar vertel Hendriks onder meer hoe hy weg is by Die Transvaler:

“My voorkeur het by nuus gelê en ek het nie die minste in die politiek belang gestel nie. Ek het selfs ‘n versoek om politieke korrespondent te word van die hand gewys. By ‘n blad wat as ‘t ware in die politiek ontvang en gebore is, het dit nie juis inslag gevind nie. Ek het egter voet by stuk gehou dat ek in die eerste en die laaste plek ‘n nuusman is.

“Ek het sat vir die politiek geraak. Vir ‘n koerant wat eenvoudig politiek, politiek, politiek geskryf het, was ek regtig moeg.

“Dis oor dié onderwerp dat ek en die hoofsub woorde gekry het. Hy het vir my gesê dit lyk of ek nie gelukkig by Die Transvaler is nie en gevra waarom ek nie ‘n ander werk kry nie.

“Dit was vir my soos ‘n hou in die pens en ek het daar uitgestap, reguit na Die Vaderland toe om te hoor of hulle vir my werk het. Ek is dieselfde dag aangestel en is terug Die Transvaler toe om te vra dat hulle my bedanking met onmiddellike effek aanvaar. Dis gedoen en ek het die volgende dag my loopbaan by Die Vaderlandvoortgesit.”

Hy keer later terug na die Transvaler en word in 1982 as redakteur aangestel (indien Wikipedia se datum reg is) en later as Perskor se senior hoofbestuurder van koerante.

Wyle Hans Lombard is eweneens  ‘n legende in die Afrikaanse mediawêreld. In ‘n berig op K’rant word verwys na sy “kleurryke” joernalistieke loopbaan, onder meer by Die Vaderland en die SA Financial Gazette. Hy het ook in Fleetstraat (in Londen, die destydse spilpunt van Britse koerantwese) gewerk en was, met sy onblusbare energie, een van die baanbrekers in die Afrikaanse skakelwese.

Die berig lui verder: “Hy het `n leidende rol in die joernalistieke vereningslewe gespeel en `n onskatbare bydrae onder meer by die Johannesburgse Persklub, die Landbouskrywersvereniging en as voorsitter van die Perskorhane, die jaarlikse reünie van Perskor en sy voorgangers, gespeel.”

Hans het verskeie artikels vir K’rant geskryf, onder meer die een oor die kommissaris se dogter. Daar vertel hy:

“Dit gebeur nie aldag dat die hoofredakteur van ‘n koerant na die lessenaar van ‘n verslaggewer stap en hom na sy kantoor nooi in verband met ‘n opdrag om ‘n storie te gaan doen nie. Dit is gewoonlik die taak van die nuusredakteur.
 
 “Een oggend in 1957 terwyl die tikmasjiene in die redaksiekantoor van Die Vaderland in Aucklandpark kletter soos haelstene op ‘n sinkdak, staak hulle almal eensklaps. ’n Doodse stilte.
 

“Almal se oë is gevestig op die hoofredakteur, W.H. Wilcocks, wat deur die kantoor aangestap kom. Dis ‘n ongewone gesig. Hy stap reguit na my lessenaar en beleefd staan ek op. ‘Kom gou na my kantoor, ek wil jou spreek.’ Oorbluf. Uit die veld geslaan en met senuwees wat knaag stap ek agter hom aan …  In sy kantoor nooi mnr Wilcocks my om te sit. Ek is die ene bewerasie.
 
 “ ‘Hans, die kommissaris van polisie, generaal A.J. du Plooy, het so pas gebel en spesifiek jou naam genoem en gevra of jy hom moremiddag drie-uur op sy kantoor te Pretoria kan kom spreek. Hy het ‘n storie vir jou. Ek dink dis ‘n groot pluimpie vir jou en Die Vaderland. Sorg dat jy stiptelik daar is, op tyd. Dit kan ‘n groot voorbladstorie wees.’
 
 “Die volgende dag is ek betyds by die kommissaris se kantoor. Toe ek instap, sien ek ‘n dogtertjie eenkant in ‘n hoek sit met ‘n ‘hula hoop’ wat oor die stoel hang. Generaal Du Plooy groet vriendelik en bedank my dat ek oorgery het Pretoria toe.
 
 “Hy vertel my dat sy dogtertjie, en hy wys na haar, die eerste prys in haar klas vir die onder-13-“hula hoop”-wedstryd gewen het en hy is baie trots op haar. Kan ons haar foto in Die Vaderland plaas? Wel, ek neem toe ‘n foto van haar waar sy die ‘hula hoop’ in die rondte swaai.
 
 “Terug by Die Vaderland die volgende dag was die misnoeë en teleurstelling onbeskryflik. Die foto het nie die voorblad gehaal nie, maar is wel iewers op die binneblaaie gepubliseer.
 
 “Dit het egter in die toekoms dividende uitbetaal. Die deure van die kommissaris het oopgestaan vir Die Vaderland,” aldus Hans.
 

Hans het ook in Moskou gaan draai toe dit nog ongehoord was. Daaroor skryf hy onderhoudend.

Nog ‘n veteraan wie se gedagtes op K’rant raakgeloop kan word, is Amanda Botha. Sy was lank Perskor se Kaapse verteenwoordiger en het oor groot stories soos die eerste hartoorplanting (1967), die Boland-aardbewing (1969) en die Laingsburgvloed (1982) geskryf.

Sy het die voorreg gehad om as enigste verteenwoordiger in die Kaap al die groot stories te kon doen. (Dit het wel ook beteken dat sy soms drie plekke gelyk moes wees.) Intussen het sy ook ‘n kunskenner van formaat geword.

Haar noukeurige bewaring van aantekeninge, berigte, dokumente en foto’s het daartoe gelei dat sy kon help met verskeie boeke, onder meer J.C. Kannemeyer se biografieë oor Jan Rabie, Uys Krige, Etienne Leroux en JM Coetzee.

Sy vertel: “‘n Voordeel vir ‘n joernalis wat ‘n wye agtergrondkennis en gesonde nuuskierigheid het, maar wat ook darem spesialisgebiede het, is dat daar geen rakleeftyd is wat jou beperk nie. Wat die grootste voordeel inhou, is ‘n vinnige assosiasie met name en sekere feite wat ‘n mens dadelik by die kern van ‘n storie bring. Die voordeel is: jy luister anders na wat rondom jou gebeur. ”

Welma Odendaal, kortstondig by Hoofstad en later by die Cape Times, vertel weer hoe haar loopbaan begin het — nogal as as fotograaf:

“Ek was 24 jaar oud, skaam en verwonderd, en is sommer al vroeg by die diepkant ingegooi. Die nuusredakteur (Bossie Bosman) het my aanvanklik in die kloue van die klipharde verslaggewer Jeanne Goosen, gelos en ons is die wêreld ingestuur om te loop soek na interessante ‘features’; stories met ‘n kinkel, lekkerleesstories, met my as die fotograaf.
 

“Ek weet nie of Bossie heeltemal geweet het waarvoor hy hom ingelaat het nie, maar mens, kon daai Jeanne stories uitsnuffel! Van die tante wat die geselskap van haar hoenders verkies en in ‘n huis in Potgieterstraat met hulle saamgewoon het, tot yslike slange wat kwansuis op die waterlelies in Hartbeespoortdam en ‘n gevaar vir vissermense, ski-mense en swemmers inhou.

“Laasgenoemde was ‘n totale fabrikasie. Jeanne was maats met die slangvanger by die slangpark by die dam. Hy het yslike slange op die lelieblare geposeer, dan moet ek onder Jeanne se leiding, halflyf die water inbeur en die blerrie goed afneem.

“Natuurlik, terug by die koerant en na die slangfoto’s ontwikkel is, was die resultaat maar vaal en uit fokus soos ek bewerig probeer het om die slange met die Pentax vas te vang terwyl Jeanne van die wal af beveel, ‘Dieper, jong, dieper! Jy moet die goed se tanne kan sien!’

“Nietemin, my vaal foto met ‘n verklarende onderskrif het die voorblad gehaal, Eric het geduldig gebly, en mettertyd het my fokus en beligting ook verbeter. Maar as fotograaf het ek nooit werklik daai ‘killer instinct’ wat Jeanne só aangemoedig het, ontwikkel nie, en ek is bitter gou aangestuur redaksie toe.”

Daar is nog talle soortgelyke stories op K’rant. Ek volstaan met hierdie een deur Jasper Schellingerhout. Hy vertel dat hy en sy vrou hulle uit Port Elizabeth na die Rand laat lok het om by Die Vaderland in te val.

Die droom om ‘n eie huis te bou, was sterk. Daarom het Jasper ingewillig om allerlei ekstra werk te aanvaar. Die eerste hiervan was die een of ander blad wat hy moes versorg. 

“Ander ekstras het bygekom. Ek verklaar myself gewillig om nog meer te doen sodat ek aan die bou kan kom. Die omvang van my werkslewe, benewens my voltydse werk by Die Vaderland (06:30 tot 14:30), ontwikkel later tot ‘n vol-vol lewe en was soos volg: Vanaf 15:00 tot 17:00 advertensies vertaal by Die Transvaler. Dan gou huis toe en 18:00 terug om subwerk vir Die Transvaler te doen (tot 22:00). ‘n Tyd lank het DV my gebruik om al hul spesiale kleurbylaes te sub en die uitleg daarvan te versorg. Dit het soms spesiale sportbylaes behels …

“Sommige Vrydagmiddae en elke Saterdag het ek by Rapport se sportafdeling gaan subwerk doen en blaaie uitlê, op versoek van Phil Zaayman, saam met wie ek jare tevore in Port Elizabeth gewerk het.

“In die bofbalseisoen was ek ook nog bofbalskrywer vir DV. Ek het die spel goed geken omdat ek self ‘n tyd lank ligabofbal gespeel het. Was tussen alles deur selfs ‘n keer Lesotho toe vir ‘n toernooi.

“Soms het ek met werk aan bylaes gedurend die week net so drie uur per nag slaap kon inkry. Dis ook toe ek op ‘n Sondagoggend kantoor toe is vir so ‘n bylae (ná ek halfeen die Sondagoggend eers van Rapport af by die huis aangekom het) dat ek my swanger Christel moes saamvat kantoor toe omdat sy pyne beginne kry het vroeër die oggend en ek eers ekstra sportblaaie MOES gaan doen. Ons had geen telefoon nie en selfone was nog nie eens in Kammaland en Utopia uitgedink nie en om plaasvervanger te bel, was buite die kwessie

“Terwyl ek daarmee besig was, het sy grootoog gesê nou raak dinge benoud en ons moet nou maar by die Queen Vic-Hospitaal uitkom. Daar is ons rooikop Jasper enkele ure later gebore, laat daardie Sondagmiddag!

“Maar nie voordat ek later die oggend ‘n keer gou weggeglip het om te kyk of alles wel is met die sportbylae nie! Ook maar goed die kraamstorie was op ‘n Sondag, want as dit in die week was, het die geboorte van ons eersteling dalk lelik ingemeng met al my werkery!”

Jasper het later predikant in die Evangelies-Gereformeerde Kerk geword. Sy Sondae het maar besig gebly.

K’rant se adres is: https://perskor.blogspot.com/

Geplaas Augustus 2021