KOERANTREUS PIET CILLIé — DIE FOKUS VAN VERSKEIE BOEKE EN HOOFSTUKKE

Piet Cillié was redakteur van Die Burger, later voorsitter van Nasionale Pers (nou Naspers) en professor in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Eersgenoemde boek is ‘n buitengewone eerbewys aan hom; die tweede ‘n deeglike biografie deur die befaamde J.C. (Jaap) Steyn. Daarna volg nota’s oor twee boeke met skryfsels deur Cillié asook twee hoofstukke waarin hy bespreek word.

‘N BOEKIE VIR PIET

Verskeie medewerkers

Tafelberg/Human & Rousseau, Kaapstad

1985

Hierdie boekie was nooit in die handel beskikbaar nie en is dus nie wyd gelees nie. Maar dit bevat ‘n hele aantal kort hoofstukke deur destydse kollegas, medewerkers en vriende wat lig werp op ‘n enigmatiese koerantman. Dit is dus belangrike leesstof vir enigeen wat iets van hierdie koerantreus en sy tyd wil verstaan.

Een van die skrywers, Izak de Villiers, skryf later in sy memoirs hoe hy en Cillié soms gebots het; J.C. Steyn vul die prentjie in in sy biografie oor Cillié; en Cillié se eie publikasies gee eerstehandse insig in sy denke. Daar is ook ander geskrifte wat lig werp op Cillié, maar hierdie “boekie” bied belangrike, persoonlike insae in die mens Piet Cillié. Dus die moeite werd om in die hande te kry — as jy meer oor Cillié wil weet.

‘n Volledige biografie is min mediamense beskore. Maar Cillié het een verdien:

PENVEGTER — Piet Cillié van Die Burger

J.C. Steyn

Tafelberg, Kaapstad

2002

Jaap Steyn se biografie oor een van die grootste Afrikaanse koerantmanne is besonders  — in die sin dat daar geen vergelykbare werk oor ‘n Afrikaanse mediamens bestaan nie. Weliswaar het Alex Mouton twee werke oor Afrikaanse koerantmense (F.S. Malan en Schalk Pienaar) geskryf, maar ‘n volbloed-biografie soos dié is enig in sy soort.

Dit is ‘n hoogs leesbare boek, met insig en heelwat deernis geskryf. Anders gestel: ‘n ander biograaf mag Cillié verwyt dat hy nie sy botsing met die destydse eerste minister, dr. H.F. Verwoerd, op die spits gedryf het nie. Of die verligte koers in die Nasionale Party sterker gesteun het.

Hierdie is dus geen laaste woord oor Cillié of Nasionale redakteurs se bydrae tot die sukses van die Nasionale Party by die stembus nie. Die leser moet selfs ook opweeg hoe redakteurs soos Dirk Richard, Willem de Klerk en Harald Pakendorf (wat al drie hul poste verloor het omdat hulle vinniger wou beweeg as wat hul direksies kans voor gesien het) teen Cillié se benadering opweeg.

Maar dié bly ‘n belangrike, hoogs leesbare kyk op wat Hermann Giliomee genoem het “een van die mees merkwaardige en komplekse figure van sy tyd”.

Enkele uittreksels

Oor Cillié as jong redakteur:

Oor die populistiese Kaapse Landstem:

Oor wins:

TYDGENOTE

P.J. Cillié

Tafelberg, Kaapstad

1980

Hierin is ‘n aantal artikels en toesprake gebundel oor politieke leiers, maar belangriker, vir die doeleindes van hierdie webblad: enkele stukke oor koerantleiers en ander mediamense met wie hy nou saamgewerk het.

Hulle sluit in: dr. A.L. Geyer (‘n voorganger van Cillié by Die Burger), dr. Phil Weber (Cillié se onmiddellike voorganger), Hubert Coetzee (destydse besturende direkteur van Nasionale Pers), dr. W.E.G. Louw (kunsredakteur van Die Burger en professor in Afrikaans voor én na sy tyd by die koerant), en T.O. Honiball (lank spotprenttekenaar by Die Burger).

Hierdie kort huldeblyke is juwele wat iets vasvang van enkele groot geeste wat die Afrikaanse joernalistiek verryk het.

BAANBEKERS VIR VRYHEID

P.J. Cillié

Tafelberg, Kaapstad

1990

Hierdie boekie bevat toesprake en artikels waarin Piet Cillié besin oor die Afrikaner se rol in Suid-Afrika. Sy eie worsteling met die Afrikaner se strewe na vryheid en die poging(s) om dit te versoen met ander Suid-Afrikaners se ewe geldige aansprake op vryheid kom hierin na vore.

Dit kan saamgelees word met ‘n bundel Dawie-rubrieke:

DAWIE — 1946-1964

Tafelberg, Kaapstad

1965

Politieke kommentaar deur Dawie, skuilnaam van Die Burger se weeklikse rubriekskrywer, is hier gebundel. Piet Cillié was van 1945 assistentredakteur van die blad en word in 1954 redakteur, wat beteken hy was waarskynlik verantwoordelik vir ‘n groot aantal van die rubrieke — sekerlik nádat hy redakteur geword het. Dié van 1945 tot met Cillié se opneem van die redakteurskap by Phil Weber sluit waarskynlik ook rubrieke in wat Cillié geskryf het of wat tot ‘n groot mate sy denke verteenwoordig het.

In die volgende bundel verskyn twee hoofstukke oor Cillié:

‘N KONSTANTE REVOLUSIE — Naspers, Media24 en oorgange

Saamgestel deur Lizette Rabe

Tafelberg, Kaapstad

2015

Die historikus Hermann Giliomee skryf in die hoofstuk “Piet Cillié se invloed en denke” verhelderend oor Cillié se politieke denke.

Hy lig die groot kwessies uit waarmee Cillié geworstel het en vra, as bewonderaar van Cillié se rol as meningsvormer, tog die sleutelvraag: “Hoe was dit moontlik dat Afrikanernasionaliste so lank met ‘n harde en wrede beleid kon volhard?

Tog meen hy:

In nog ‘n hoofstuk waarin Cillié ‘n hoofrol vertolk, skryf Lizette Rabe oor die botsing in 1960 tussen Cillié en die eerste minister, dr. H.F. Verwoerd. Sy vra skerp vrae oor Cillié se uiteindelike retirering voor die dominante premier. Soos: Wat as Cillié dit nie gedoen het nie?

Verder: