Met die stelselmatige sluiting van papierkoerante, is navorsers tereg bekommerd oor waar hulle in die toekoms gaan aanklop wanneer hulle wil vasstel hoe koerante tien of vyftig jaar gelede oor ‘n saak berig het.
Twee tipes navorsers is ter sake: dié wat spesifiek in koerante belang stel, en dan diegene wat oor die politieke of sosiale geskiedenis navorsing doen.
Elk het besondere behoeftes. Die medianavorser is veral nie tevrede met elektroniese berigte nie – wel met dit wat beskikbaar is vir die meer kontemporêre berigte, maar nie noodwendig vir iets wat in 1931 verskyn het nie. As jy wil weet op watter bladsy, waar op die bladsy en met watter prominensie (dus grootte en gewig van opskrif) die berig of artikel geplaas is, wil jy die hele bladsy sien.
Die mikrofichmasjien by die Universiteit Stellenbosch word deur ‘n assistent gereed gemaak vir gebruik.
Van 1931 gepraat. Die Burger vir daardie jaar kan op mikrofilm in die bilioteek by die Universiteit Stellenbosch gelees word. Daar word jy vriendelik gehelp, maar die masjien (sien foto hiernaas) is oud. Hulle maak seker nie meer sulke masjiene nie en as dié een finaal die gees gee, is hierdie wyse van lees daarmee heen.
Waarom nie sommer die koerante self lees nie? Die biblioteek het ‘n goeie versameling van Die Burger, maar daar is gapings. Rapport staan op die oog af ook mooi en beskikbaar, maar kom jy by 2004 dan is daar ‘n yslike gaping.
By die Nasionale Biblioteek in die Tuine, Kaapstad, ervaar die navorser soortgelyke hindernisse. Koerante is nie almal beskikbaar nie. Of sommige jare is op papier en ander net of film. En dan is sommige net in Pretoria. Die diens is ook maar traag.
By die skryf hiervan het Media24 ‘n bibliotekaris wat toegang tot alle uitgawes van Beelden Rapport het, maar as jy teen R250 per dag wil kom navorsing doen, beteken dit jy moet Johannesburg toe reis. Die diens is nie aanlyn beskikbaar vir ‘n navorser van elders nie. En die toekoms van hierdie diens is onseker.
Die afgelope jare se berigte kan op Netwerk24 gesoek word, maar kontekslose los berigte is nie ideaal nie. In soverre PDF-weergawes beskikbaar is, is daar geen probleem nie.
Hier is dus telkens voorbehoude. Wat ons nodig het, is ‘n sentrale plek waar gedigitaliseerde koerante (volle blaaie) van al die koerante, tot by die jaar toet, aanlyn beskikbaar sal wees. Natuurlik kos dit geld en sal die gebruiker moet betaal, maar dit is net billik.
Die goeie nuus is dat daar roering in die water is en dat dit vorentoe wel kan gebeur. Maar vir eers is navorsing in koerante ‘n uitdaging. En dan het ons nog nie eens gepraat van die ou vraag wat historici hulself moet afvra nie: Hoe betroubaar is die feite in ‘n bepaalde berig? Want ons weet foute word gemaak en reggestel. Het die navorser egter die gekorrigeerde berig gesien?
Desondanks, koerante is wonderlike bronne vir historici. Vir mediahistorici is die koerante self natuurlik fassinerende voorwerpe.
Dat gewone lesers min erg het aan historici se probleme, is verstaanbaar. Maar die ontsluiting van ons verlede is ‘n saak wat ons verstaan van onsself raak. As koerante nie daar is nie, hoe lees ons joernaliste se perspektief op ons nuus? Wat is as nuus beskou en hoe prominent is dit geplaas?
Pakkies mikrofich wat elk ‘n aantal dae se koerante bevat. Die betrokke pakkies bevat uitgawes van Die Burger. Dié tegnologie is egter op sy laaste bene.
Op nuuswebwerwe is dit moeilik, indien nie onmoontlik nie, om te snap wat groot nuus is. Hoeveel te meer nie tien jaar later nie?
Wat redaksies vandag weet, is hoeveel keer op ‘n bepaalde berig geklik is. Sou dit nie iets wees wat navorsers in belang stel nie? Sal redaksies dit bekend maak?
Die oorgang van papier na elektroniese berigte gebeur dag vir dag. Ons sukkel soms om daarmee vrede te maak. Maar die moontlikhede is ook groot. Om iewers in die toekoms ‘n naam of gebeurtenis in te tik en binne sekondes al die tersaaklike berigte te kan lees, op volle koerantblaaie, is om van te droom. Maar dit lê hopelik vir ons voor.
— Johannes Froneman