KEUR UIT VERGETE JOERNALISTE SE WERK

Dirk Kamfer was op sy dag ‘n bekende in Afrikaanse huise. Bykans soos ‘n Dana Snyman. Die bundel Die elfde uur bevat stukke uit Die Huisgenoot (1950’s en 1960’s) asook geleentheidstukke oor rugby (insluitende vyf toetsrugbyverslae). Om dit vandag te lees, is ‘n effens vreemde ervaring. Dit geld ook die keur uit Madelein van Biljon se Huisgenoot-rubrieke.

DIE ELFDE UUR

Dirk Kamfer

Tafelberg, Kaapstad

1963

In die voorwoord tot die boek, skryf die samesteller, Pieter W. Grobbelaar, dat Kamfer se kommentaarjoernalistiek asook sy toevallige joernalistiek dikwels so fyn was dat dit as letterkunde kan deurgaan — en daarom ook later herlees kan word.

Kamfer “veredel die gewone spreektaal, die volkstaal tot literêre medium; sy styl is sterk en aards, maar ook verfyn en gepoleer” skryf Grobbelaar. Maar bowenal is dit lig, in verskillende betekenisse van die woord.

Of die humor die afgelope ses dekades oorleef het, is te betwyfel, maar die rugbyverslae neem die leser op sigself op ‘n reis na ‘n ander wêreld.

KWELLINGS EN KWINKSLAE

Madelein van Biljon

Tafelberg, Kaapstad

1974

Van Biljon was ‘n uitgesproke joernalis in ‘n tyd wat stigtelikheid hoog aangeprys is. Die uitgewer, Berta Smit, skryf op die flapteks: “… Ná die lees van Kwellings en kwinkslae, voel jy ‘n bietjie vryer binne ons keurslyf-samelewing, ‘n bietjie ryker, ‘n bietjie treuriger en blyer, ‘n bietjie meer mens-in-eie-reg.”

Die stukke bied ‘n kykie in ‘n wêreld wat lank reeds verby is, maar dalk in sommige se herinneringe voortleef. In alle geval gee dit ‘n blik op ‘n bekende joernalis van weleer.