Johan Pretorius was in die 1980’s ‘n bekende gesig op TV. In die 1990’s verdwyn hy van die toneel, maar sit sy joernalistieke loopbaan as redakteur van gemeenskapskoerante voort. Hier vertel hy aan Johannes Froneman hoe hy in die joernalistiek begin het en wat in sy 26 jaar agter die skerms by die SAUK gebeur het. (Foto bo: Johan heel links; Pik Botha heel regs.)
Hoe het jy in die joernalistiek beland?
Ek het nie geweet wat ek met my lewe wou doen nie (hoewel ek steeds na die regte gehunker het). Ek het in die Spoorweë se rekeningekantoor gewerk en aan al wat ‘n maatskappy, selfs farmaseutiese maatskappye en die destydse Rembrandt-organisasie, aansoekbriewe gestuur. (Vir die aanloop hiertoe, kyk storie regs onder.)
‘n Familielid het gevra waarom ek nie by Die Transvaler probeer nie. Wat ek toe gedoen en sommer soortgelyke briewe aan Die Vaderland en van die Engelse koerante gestuur het. Ek het al begin moed opgee toe ek uit die bloute in Julie 1966 ‘n antwoord van Die Transvaler se redakteur, Jan van Rooyen, gekry het. Ek het hom gaan sien, en is van 1 Augustus af aangestel as papierskeurder (copyboy) en teleksmasjien- versorger teen ‘n salaris van R70 per maand.
Ek het dit ses maande lank gedoen, waarna ek subtafel toe is met die opdrag om “stoppers” (kort vertaalde beriggies) vir die koerant te skryf. Daarna is ek verslagkantoor toe waar ek sowat agtien maande lank saam met Willie Buys misdaadverslaggewer was. Hierna sowat ‘n jaar lank algemene verslaggewer.
Toe Johan by Die Transvaler begin het, het hy hom kwalik saam met die minister van buitelandse sake buite die Kremlin ingedink. Hier is hy (heel regs) saam met Pik Botha (tweede van links).
Saam met PW Botha (links) en Pik Botha.
Hierdie amper drie jaar saam met baie goeie joernaliste soos Willie, Das Herbst en Hennie Kotzé het die grondslag gelê vir my latere loopbaan. En my ook laat besef ek het, heel toevallig, die beroep gevind waarin ek graag wou wees.
Ek was in hierdie tyd bewus van die politieke woelinge in die land ná die groot verandering in 1966 (toe die eerste minister vermoor is). Die regse groepering van dr. Albert Hertzog, Jaap Marais en andere wat premier John Vorster (vir wie ek ‘n groot agting gehad het) geopponeer het, was deurentyd onder bespreking in ons redaksievergaderings. Ek het ‘n affiniteit vir politieke verslaggewing begin ontwikkel.
Omdat ek as jongeling vroeër wyd oor baie onderwerpe gelees het, veral oor die Suid-Afrikaanse politiek, was dit ‘n natuurlike ontwikkeling. Ek het ook in dié tyd begin kennis neem van die Broederbond. My pa was nooit ‘n lid nie, dus het ek nie veel van hulle geweet nie, behalwe dat hulle ‘n geheime organisasie was.
My pa was wel in ‘n stadium ‘n lid van die Ossewabrandwag, wat hy verlaat het toe hy agtergekom het waarmee hulle besig was. Dieselfde geld die Vrymesselaars, ‘n organisasie wat hy ook sy rug toegekeer het. Hy het op ‘n keer aan my gesê hy het ‘n weersin in geheime organisasies ontwikkel.
Dit het in my denke vasgehaak, en die politieke woelinge agter die skerms in die laat sestigerjare, en die rol van dr. Piet Meyer, wat ek as oordonderend beskou het, het my vermoede bevestig dat my pa dalk korrek was.
By Die Transvaler het ek kennis geneem van die koerantstryd tussen die “Noorde” en die “Suide”, wat stadig maar seker in intensiteit toegeneem het met die regse politieke groepering binne die Nasionale Party onder leiding van mense soos Jaap Marais en dr. Andries Treurnicht. Ek het besluit “hulle is nie vir my nie”.
Ek was in daardie stadium vas oortuig daarvan dat apartheid die oplossing vir die land was, maar sienings wat ek as ekstremisties beskou het, was onaanvaarbaar. Intussen het die lang en meesal nagtelike ure by die koerant sy tol begin eis op ‘n jong man. Ek het by my weduweema gebly, maar sowel haar as my meisie baie min gesien. Ek moes ook elke tweede Sondag werk.
Toe kom die SAUK?
Ek het aan die SAUK begin dink as alternatief, omdat ek in daardie tyd baie radio geluister het, veral in die dag by die huis, en geïnteresseerd geraak het in hul nuusbulletins, die onmiddellikheid daarvan en spesifiek die uurlikse bulletins van die streekstasies.
Ek het by hulle aansoek gedoen, is binne drie maande vir ‘n onderhoud laat kom deur die destydse nuushoof, Theo Greyling, en is as sub aangestel. Op 1 Augustus 1968 het ek daar begin. Die eerste ses maande was ek “op die lessenaar” met Cliff Saunders as nuusredakteur. Ek het onmiddellik van die radio-skryfstyl gehou. Dis baie verskillend van die gedrukte media. Jy skryf vir die oor.
Later is ek oorgeplaas na die aktualiteitsprogram Nuus om nege, waar ons daagliks blootgestel is aan politieke nuus en parlementêre verslae. Gedurende daardie nege maande het ek besluit ek sal baie graag in die politieke joernalistiek wil beland, en het dit aan my base oorgedra. Die antwoord was hulle sit my naam op die lys.
Daar was net vyf mense in die SAUK se politieke redaksie, en omdat dit so ‘n gesogte afdeling was, bly die mense daar solank as moontlik totdat die heen-en-weer-ryery tussen Kaapstad en Johannesburg of Pretoria sy tol op hul gesinslewe begin eis.
In die vroeë sewentigerjare was ek terug op die nuuslessenaar, twee dae aan, twee dae af, 10-uurlange skofte van 03h30 tot 13h30, vir die eerste twee dae, en dan na twee dae by die huis, 14h00 tot middernag vir die volgende twee dae, twee dae af voordat die siklus van vooraf begin het.
Ek het baie tyd vir myself gehad, en besluit om Kommunikasiekunde by my BA-hoofvakke te voeg. Ek het by Unisa ingeskryf en Kommunikasiekunde I tot III van 1972-1974 voltooi. In 1973 is ek oorgeplaas na die verslagkantoor waar ek oudioverslaggewing geleer is, en besef het ek het nogal ‘n aanleg daarvoor. Dit was baie lekker en ek het alles van die radio-opnamemeganismes geleer wat ek kon.
Einde 1973 is ek in kennis gestel dat ek as ‘n lid van die parlementêre redaksie aangestel is. Ek en my vrou, Rina, met wie ek in 1969 getroud is, is in Januarie 1974 Kaap toe. ‘n Vroeë verkiesing is uitgeroep en ons is in Maart terug Johannesburg toe.
Ná die verkiesing moes ons weer Kaap toe gaan, maar my vrou was toe reeds vyf maande verwagtend. Dit was ‘n moeilike swangerskap. Moes ek my base laat weet ek kon nie meer Kaap toe gaan nie? Ek sou Rina alleen by die huis moes los. Ek het terselfdertyd besef indien ek dit van die hand wys, sou ek ‘n groot loopbaangeleentheid mis en vir die res van my loopbaan basies lessenaarwerk doen, want in die algemene radio-verslagkantoor was dit meesal jong mense, en die werk was ontwrigtend.
Ons het besluit om Kaap toe gaan, en hoewel my vrou besef het waarom dit belangrik was, het dit nogtans spanning meegebring. Haar reeds bejaarde ouers sou haar moes bystaan.
Daardie vroeë ses weke van 1974 in die persgalery was vir my die spreekwoordelike “eye opener”. Die politieke toneel was destyds baie onstuimig en dit het in die debatte in die Volksraad en Senaat neerslag gevind. Ek het stadig maar seker besef daar is fout met die regering se beleid. Nie mooi geweet wat nie.
Die toesprake van die senior lede van die destydse VP, wat binnekort sou verdwyn, was indrukwekkend. Douglas Mitchell, die ou opposisie-strydros, het my laat besef mense soos hy en Marais Steyn, Div Graaff en Radcliffe Cadman was nie die “uitverkopers” wat die NP-propagandiste oor die jare ons wysgemaak het nie. Hulle het net anders, hoewel polities oneffektief, oor die saak gedink.
In Washington DC.
Nogtans het ek oortuig gebly apartheid was die antwoord. Tydens die tweede sitting van 1974 was daar ses nuwe lede van die Progressiewe Party, saam met Helen Suzman. Onder hulle was dr. Frederik Van Zyl Sabbert. Sy nuwelingstoespraak in die Volksraad oor ‘n logiese oplossing vir plakkerskampe, sg. “site and service”, het my mateloos beïndruk, hoewel sy voorstelle onder apartheid hoegenaamd nie moontlik was nie. Ek het hom in daardie stadium nog beskou as ‘n “verloopte Afrikaner”, maar sy redenasies het perfek sin gemaak.
Van die tweede sitting van daardie jaar af het die politieke atmosfeer in die Parlement radikaal verander. Van die vorige kameraderie onder die VP- en NP-lede was min tussen die NP en PP te sien. Albei kante het skuld daaraan gehad, want die nuwe PP-lede was aggressief gekant teen die NP-regering, wat op hulle beurt die nuwe lede beskou het as “handlangers van die Kommuniste”. Dit het op ontstuimige debatte uitgeloop.
Ten spyte van die invloed van dr. Slabbert se redenasies op my denke, het ek die PP-nuweling nog beskou as radikales wat nie die situasie van die blankes in SA verstaan nie.
Dit was in my persoonlike hoedanigheid. Wat ek hier moet beklemtoon, is dat die SAUK se parlementêre span, ook in latere jare, nie toegelaat het dat hul persoonlike politieke sienswyses enigsins ‘n invloed gehad het op hul verslaggewing uit die rade nie.
Ons was doelbewus ingestel op ‘n regverdige rapportering van die gebeure in die Parlement, en in my 16 jaar in die persbank het ons nie een klagte gekry van onregverdige of subjektiewe verslaggewing nie. Navrae oor die lengte van bydraes was daar, maar niks oor bevooroordeelde of swak verslaggewing uit die rade nie.
Die probleme wat ons wel gekry het, was buite die parlementêre opset. In die parlement self het ons met die oorgrote meerderheid lede van alle partye goed klaargekom, hoewel baie van hulle ons ongetwyfeld beskou het as deel van ‘n organisasie wat regeringsgesind is.
In die laaste maand van die 1975-sitting is ek meegedeel dat ek aangestel is as ‘n nuusredakteur op die nuutgestigte TV-lessenaar in Johannesburg. Dit was bevordering, maar ek is met ‘n swaar hart terug Johannesburg toe. Ek het die laaste deel van 1975, 1976 en ‘n groot deel van 1977 daar deurgebring, alles van TV-lessenaarproduksie geleer, wat redelik ingewikkeld was, veral in daardie dae van film en nie-digitale toerusting.
In 1976 was ek twee keer as lid van ‘n mediagroep saam met premier Vorster na Europa vir samesprekings met Amerika se dr. Henry Kissinger. Ek het my morsdood gewerk, maar ongelooflike ervaring opgedoen, en selfs ‘n toekenning vir my verslaggewing ontvang.
Hoewel ek stelselmatige bedenkinge oor die effektiwiteit van die apartheidsbeleid gekry het, was ek tot vroeg in die tweede helfte van die sewentigerjare ‘n oortuigde Nasionalis. Sonder twyfel. Maar ook heftig anti-HNP en -AWB. Ek het hulle as totaal onaanvaarbaar beskou, omdat doelbewuste rassisme nie deel van my DNS was nie.
Ek het apartheid, of toe reeds afsonderlike ontwikkeling, beskou as die enigste moontlike oplossing vir die land se komplekse situasie — tot in 1979, toe ek en ander persgalery-kollegas twee weke lank al die destydse tuislande saam met premier PW Botha besoek het. Daar het ek met ‘n skok besef die beleid is ‘n totale mislukking. Dit was net tot voordeel van die swart leiers en hul mense wat bereid was om met die regering saam te werk. Blink motors, mooi huise ens. en indrukwekkende parlementsgeboue, maar verder niks.
Ten spyte van die destydse Minister van Plurale Betrekkinge, dr. Piet Koornhof, se entoesiastiese pryssang oor die sg. ontwikkeling op plekke kon ons niks van die aard sien nie. In toesprake het verskeie tuislandleiers, veral dr. Mangosothu Buthelezi, probleme uitgewys sonder om hul woorde te tel.
Dit het spanning veroorsaak, maar dit was duidelik dat talle ministers, ook premier Botha, besef het iets is iewers radikaal verkeerd — soos sy latere mylpaal-toespraak op Upington begin toon het. My geloof in apartheid het begin vervaag en die besef het posgevat dat indien daar nie baie vinnig opgetree word nie, ons op pad na ‘n afgrond was. (Meer hieroor later.)
Jy was nooit ‘n Broederbonder nie?
Ek was vroeg reeds bewus van die invloed van die Broederbond by die SAUK — toe dr. Meyer nog voorsitter van die SAUK-raad was, en ook ná sy uittrede. Daar is in die vroeë sewentigerjare verskeie voelers na my uitgesteek om die lidmaatskaproete te volg, maar ek het nie belang gestel nie, om redes vroeër genoem.
Feitlik almal in senior posisies in die SAUK, ook sleutelmense in die nuusafdeling, was lede. Wat my die meeste omgekrap het, was hierdie lede se ontkenning dat hul lidmaatskap enige invloed op sekere aanstellings en beleidsdenke gehad het. Vir sommiges het dit dalk gegeld, maar ek het van beter geweet, want daar was maniere om uit te vind wat aangaan.
Ek het waardering vir die rol wat die Broederbond in latere jare gespeel het om hervorming teweeg te bring, maar dis ook ‘n feit dat nie alle lede ten gunste van hervorming was nie. Ekself en twee senior kollegas, Freek Robinson en Marius Kleynhans, het onsself die “Vryburgers” genoem, en openlik verklaar ons is nie bende-tipes nie.
Is julle nooit deur Aucklandpark voorgesê hoe julle die nuus in Kaapstad moes dek nie?
My nuusbase in die laat sestigerjare was Theo Greyling, Carel van der Merwe, Kobus Hamman en Jan van Zyl, wat toe al direkteur: nuus was, oftewel hoofredakteur. Van Zyl en Hamman was die twee top-manne, albei eks-Volksblad. In die sewentigerjare was dit Van Zyl, Hamman en Sakkie Burger. In die tagtigerjare Van Zyl tot aftrede, Hamman, Van der Merwe en Burger.
Ek was nooit deel van die “kommentaar-afdeling” nie. Hierdie afdeling was verantwoordelik vir die daaglikse en omstrede Sake van die dag (in Engels Current affairs). Hoewel hierdie kommentaar myns insiens somtyds in die kol was ( jy kan nie altyd verkeerd wees nie), was dit een van die hoofredes waarom die SAUK van partydigheid beskuldig is.
Van die kommentare was blatant pro-regering, en vir heelwat van ons in die nuusafdeling ‘n verleentheid. Hiermee blameer ek nie die afdelingshoof Kobus Hamman nie. Hy was ‘n prominente lid van die Broederbond, ‘n hoogs intelligente man en baie goeie joernalis. Hy het bloot gedoen wat van hom verwag is; ek is daarvan oortuig dat baie Broederbondbesluite en -gesprekke hul weg na Sake van die Dag gevind het.
Ons het egter op persoonlike vlak baie goed klaargekom. Hy was ‘n uitgesproke voorstander van verandering, en moes sy weg tussen al die politieke insette en kritiek vind.
Hierdie base het ons in die politieke redaksie, veral die parlementêre mense, nie voorgesê hoe om algemene politieke verslaggewing — en veral oudio- en beeldberigte — te doen nie. Maar die SAUK se redaksionele beleid was duidelik: pro-regering, en ek het nie ‘n probleem daarmee gehad nie.
Ek was toe reeds ‘n senior nuusamptenaar en het as politieke korrespondent met die nuusbestuur saamgestem dat die nasionale uitsaaier op so ’n manier moet verslag doen dat hervorming en verandering bevorder word. En om dit so te doen dat rewolusionêre/ondermynende beleidsrigtings en aksies nie bevoordeel word nie.
Dit het beteken dat die noodsaaklike en nuuswaardige aankondigings, gebeure en standpunte van regs gebruik is, maar op so ‘n wyse dat dit nie hervorming en die beweging na ‘n regverdiger bedeling skade berokken nie. Ek besef dis ‘n oorvereenvoudiging, maar dis hoe dit was.
Politieke standpunte van regs/verregs en van links/verlinks is baie omsigtig gebruik, of nie gebruik nie, afhangend van wat dit was. Daarbenewens was ons, as die openbare uitsaaier, veral in die tagtigerjare onderhewig aan noodtoestand- en ander wetgewing.
Ons grootste voorsê-probleem het van die politici self gekom, die SAUK-ministers (wat gereeld met ons in verbinding was), en dan die SAUK-raad. In laasgenoemde geval was die hele nuus-afdeling dan in die moeiilikheid, base en al. (Lees aparte artikel in die afdeling By nabaat, waar Pretorius meer hieroor vertel.)
Om op te som: die SAUK was pro-regering van die dag. Ons was immers die openbare uitsaaier, of soos na ons verwys is, die “state broadcaster”. Ons politieke redaksie het doodseker gemaak ons weet wat aangaan, en baie maal selfsensuur toegepas, na gelang van omstandighede en gegrond op die bevordering van ‘n behoorlike demokrasie.
Die werkwyse was dikwels gee drie treë terug en dan wanneer niemand kyk nie, gee vier treë vorentoe. Om ‘n ander rede het ons geen keuse gehad nie, want uit die veiligheidsgemeenskap, veral Militêre Intelligensie, is daar konstant redes gesoek om die SAUK, en veral die nuus-afdeling, ingevolge die noodregulasies onder hulle beheer te plaas — iets wat ons tot elke prys wou vermy.
Van die laat sewentigerjare af het die nuusbestuur in Johannesburg egter swaar gesteun op die politieke redaksie om leiding te gee oor die politieke toneel en realiteite, omdat ons feitlik in daaglikse kontak met sleutelfigure was. Die opposisiepartye, veral die KP, het gereeld met ons gestoei omdat hulle gevoel het hulle word te na gekom.
Jy skuif toe op in die hiërargie en word PW Botha se gunsteling-onderhoudvoerder. Of is dit ‘n mistasting?
Dis beslis ‘n mistasting. As ek die vraag reg verstaan. PW Botha en ek het baie goed op persoonlike vlak klaargekom, basies omdat daar ‘n band van vertroue oor tien jaar tussen ons ontstaan het. Ons moes in 1978 feitlik op dieselfde tyd as pas aangestelde eerste minister en politieke korrespondent ons weg deur ‘n politieke en verslagmoeras vind. Hy was onseker en ek was onseker.
Maar ons het mekaar begin vertrou nadat hy met ons eerste onderhoud half-onvriendelik verklaar het: “Ek is nie ‘n showman soos Pik Botha nie, kom ons maak gou”. Ek het geantwoord: “Ek is ook nie ‘n showman nie. Wees net uself, ek sal dieselfde doen.” Gaandeweg het ons albei meer selfvertroue gekry.
Van die begin af het ek ook aan hom gesê hy moet nie van my verwag om sekere vrae te vermy nie, omdat dit albei van ons daaronder sal ly as die vrae wat in mense se harte leef nié deur die SAUK gevra word nie. Hoe hy antwoord, was sy saak.
In 1983 het ek hom byvoorbeeld in ‘n onderhoud in die tuin van Bryntirion, toe die regse en Prog-kritiek teen hom hewig was, gevra hoe dit voel om waarskynlik die ongewildste eerste minister te wees wat Suid-Afrika nog gehad het. Hy het die vraag onmiddellik en reguit geantwoord, en ná die onderhoud nie eens daarna verwys nie. Hy het geen probleem daarmee gehad nie.
Oor meer as tien jaar het hy my nooit voorgesê wat om te vra of nie te vra nie. Ek het hom nooit die vrae vooruit gegee nie. Wat hy wel verwag het, was ‘n aanduiding van watter onderwerpe gedek sou word, soos bv. SWA of die Grondwet, waarmee ek geen probleem gehad het nie. Ek het ook seker gemaak dat vertroulikheid gehandhaaf word.
Hy het soms, wanneer ek saam met hom in sy ampsvliegtuig gevlieg en ‘n dop of twee saam geniet het, hoogs vertroulike inligting meegedeel, wat hy waarskynlik ook met sy ander vertrouelinge, soos Alf Ries, gedeel het. Ek het seker gemaak dit bly tussen ons. Hy het dit geweet en ons verhouding het gesond gebly, ten spyte daarvan dat talle mense hom nie kon verdra nie, veral in die laat tagtigerjare.
Dit was ook die rede waarom die SAUK my in 1987 teruggestuur het persgalery toe ná die uitval tussen hom en Riaan Eksteen. Ek was toe basies die skokbreker tussen hom en die korporasie. Ook die laaste joernalis met wie hy in sy laaste maande as president gepraat het. Sy (vroeëre) vertrouelinge het uiteindelik ook verstrik geraak in die politieke binnegevegte sodat hy hulle nie meer vertrou het nie. Sy beroerte het ook ‘n merk gelaat en die PW daarna was nie die pre-beroerte-PW nie. Nie naastenby nie.
In hierdie stadium was my eie politieke denke uiters pro-hervorming, veral ná die Rubicon-debakel van 1985. Ek het nie in die 1987-verkiesing vir die NP gestem nie. Hoewel ek nie persoonlike probleme met president Botha gehad het nie, kon ek nie saamstem met sy vasskop-beleid nie. Hy het wel sy redes gehad — myns insiens deels weens verkeerde insette van sy raadgewers en die invloed van Militêre Intelligensie.
Ek het egter uit baie betroubare bronne verneem Suid-Afrika raak al hoe dieper in die moeilikheid en was oortuig daarvan die NP se beleid het rampspoedig gefaal. Die party het nie die antwoorde gehad nie. ‘n Groot bydraende faktor in daardie tyd was die druk van die partye regs van die NP. Toe die KP die amptelike opposisie word, was dit erg. Die SAUK het egter opnuut redaksioneel kant gekies teen die regse denkrigtings en ‘n spoedige beweging na ‘n grondwetlike oplossing gesteun.
Iewers het jy al geskryf oor die redes waarom jy hoofredakteur van nuus geword het…
In 1984 het die pos redakteur: TV-nuus vakant geword. Daar was basies drie kandidate, as ek reg onthou. Die een was Carl Leonhardt, baie jare my senior en hoogs gekwalifiseerd vir die pos. Hy het besluit hy stel nie belang nie, blykbaar weens die onstuimige politieke situasie in daardie tye, en die administratiewe pligte wat dit sou meegebring. Hy was tevrede met sy pos as streekredakteur.
Nog ‘n kandidaat was volgens my inligting destyds in aanmerking. Hy het homself as bekwaam genoeg beskou, onder meer vanweë sy lidmaatskap van die Broederbond. Of dit so was of nie, ek het die pos gekry.
In 1989 het die direkteur: nuus/hoofredakteurpos vakant geraak toe ek nog redakteur politiek/TV-nuus was. Die logiese kandidaat is oor die hoof gesien en ek is in die pos aangestel. Dalk omdat ek die eerste hoofredakteur sou wees wat nie ‘n lid van die Broederbond was nie —veral met die oog op die groot omwenteling wat op hande was met die aanstelling van president De Klerk.
Hoe het die oorgang na die nuwe bedeling jou loopbaan by die SAUK geraak?
Kwaai. Met die ontbanning van die ANC en die vrylating van Nelson Mandela (in 1990) was dit duidelik dat groot veranderings op die horison was. Ook by die SAUK, die sogenaamde staatsuitsaaier. Dit het ‘n tydperk van vier jaar ingelui wat uiters stresvol was.
Van oral oor was daar druk en kritiek op die SAUK, veral die nuus-afdeling. Belangegroepe het ons daarvan beskuldig dat ons hul saak en belange ignoreer. Ek kan talle voorbeelde gee, maar dit sal net onnodig tyd in beslag neem.
Ons het baie goed klaargekom met die individue van die ANC met wie ons op verskeie vlakke formele en soms informele kontak gehad het. Gereelde besoekers aan ons kantore vir onderhoude en inligtingsessies was mense soos Jill Marcus, Pallo Jordan, die Pahad-broers, Saki Makcozoma, Frank Chikane, en minder gereeld, maar wel, Mac Maharaj en Thabo Mbeki. Hul begrip vir ons situasie was merkwaardig realisties, en hoewel ons nie altyd oor alles saamgestem het nie, was daar geen groot wrywing nie.
Ek moet hier noem dat baie van hierdie ontmoetings vir nuusdoeleindes deur my senior ondergeskiktes gehanteer is, weens my administratiewe verpligtinge as lid van die SAUK se bestuurskomitee, en vergaderings met politieke partye insake die dekking van die onderhandelingsproses en ander verpligtinge weg van die praktiese nuusveld.
Die twee mense sonder wie ek nie sou kon oorleef nie, en wat die praktiese dag-tot-dag-nuusdekking bestuur het, was Christo Kritzinger en André le Roux. Hulle was, saam met Rob Stevenson, ware steunpilare. Hulle het die TV-nuusskip skitterend bestuur, deur die stormagtige politieke tye, tot ná die verkiesing.
Intussen was die druk op my as persoon kwaai, ook van die kant van die SAUK-bestuur wat nie joernaliste was nie. Om daardie rede het ek deurentyd ook kontak behou met president FW de Klerk, en van sy ministers en NP-onderhandelaars om op die hoogte te bly van presies wat aan die gang was.
Hoewel daar ook by tye kritiek en ongelukkigheid was, was die verstandhouding met die top-echelons van die NP, met enkele uitsonderings, goed. Weens my persoonlike kontak met sleutelmense, het ek geweet dat ons in die omstandighede baie goed gevaar het.
Van die grootste druk wat ons ervaar het, het egter gekom van die party se ondersteuners wat ons gereeld daarvan beskuldig het dat ons die ANC bevoordeel. Dit was asof hulle nie kon verstaan dat ons bloot, na die beste van ons vermoë en in baie moeilike omstandighede, oor die gebeure van die dag verslag gedoen het nie.
Hoe nader ons aan die verkiesing gekom en die onderhandelings op Kempton Park gevorder het, het dit duidelik geword dat die SAUK ‘n groot teiken in die visier van die inkomende regering was. Dis ‘n lang storie, maar vir die doeleindes van hierdie inset: my waarnemings was destyds gegrond op talle gesprekke met van die teruggekeerde ANC-mense wie se “werkveld” die SAUK was — veral in die laaste jaar toe dr. Ivy Matsepe-Casaburri die voorsitter van die SAUK-raad geword het en ANC-raadslede aangestel is. Daar was nooit slegte persoonlike verhoudings nie, maar die tekens was daar. Radikale transformasie was voor die deur.
Dit was opmerklik dat die subkomitee van die Nasionale Party wat oor die SAUK se toekoms moes onderhandel, geen benul gehad het van die realiteite waarmee ons moes handel nie. Dit was duidelik dat die agenda deur die ander kant bepaal is en die NP-onderhandelaars, wat nie een uitsaaikundige of selfs joernalistieke kenner in hul geledere gehad het nie, uit hul diepte was en nie besef het wat aan die gebeur was nie.
Daar was geen aanduiding daarvan dat die senior mense, insluitend ekself, vir minstens ses maande of minstens ‘n realistiese tydperk, sou aanbly om die oorhandigingsproses so glad as moontlik te laat verloop nie. Wynand Harmse en ek het ‘n spesiale vergadering met die destydse minister, Louis Pienaar, in Kaapstad belê om ons kommer met hom te deel.
Hy het groot begrip getoon, maar niks het verander nie. Ander insette van myself by sommige sleutelministers het ook geen effek gehad nie. Nie dat ek hulle blameer nie, want daar was nie veel wat hulle aan die saak kon doen nie. Die SAUK-stryd is by die onderhandelingstafel verloor.
Om hierdie redes was daar van vroeg af reeds verskeie “raadgewers” oral in ons midde, onder wie mense soos David Niddrie, ‘n deurtrapte kommunis, Barry Gilder, ‘n groot struggle-gees, en John Mattison, ‘n bekende SA joernalis wat in die buiteland “konneksies” opgebou het.
‘n Paar maande voor die verkiesing het ‘n bekende en gerespekteerde Britse uitsaaikundige, wie se naam my ontgaan, en twee ander buitelanders by ons “ingetrek” en ons verkiesingsdekking gemonitor, ons interne vergaderings bygewoon en raad gegee en kritiek uitgespreek wanneer hulle gedink het dis nodig.
Ek moet eerlikwaar sê ons het goed klaargekom, ten spyte van sporadiese meningsverskille. Veral Christo Kritzinger en André le Roux het gereeld interaksie met hulle gehad, wat ‘n groot las van my skouers afgeneem het, want my aandag was by bestuurskomitee- en raadsvergaderings, asook beplanningsessies van die senior nuuspersoneel oor die oorgangprosedure.
‘n Groot positiewe faktor was die aanstelling van Zwelakhe Sisulu as Wynand Harmse se assistent/opvolger amper ‘n jaar voor die verkiesing, sodat die oorgang so glad as moontlik kon verloop. Hy was ‘n opgeleide joernalis, en het van die begin af begrip vir ons situasie getoon, sinvolle insette gelewer, en baie goed met ons senior bestuur oor die weg gekom. Ons het ook geen persoonlike probleme met mekaar gehad nie, basies omdat ons almal joernaliste was, en omdat sy nie-konfrontasiestyl spanning uitgeskakel het.
In die laaste maande voor die verkiesing is baie van my tyd in beslag geneem deur klagtes wat deur politieke partye by die spesiale verkiesingshof onder leiding van regter Ramon Leon teen ons gelê is oor ons dekking in die aanloop tot die verkiesing. Dit het baie voorbereiding saam met ons regsverteenwoordigers geverg, maar van sowat 12 klagtes (kan die getal nie meer mooi onthou nie) wat teen ons gelê is, was geeneen suksesvol nie.
‘n Groot terugslag het ons in hierdie tyd getref deurdat Christo Kritzinger, my steunpilaar wat ‘n ongelooflike administratiewe vermoë gehad en ‘n groot las gedra het, twee ernstige hartaanvalle gehad het. Dit het sy loopbaan by die SAUK beëindig en sy dood ‘n jaar daarna veroorsaak. Dit het ons ander senior nuusmense se las aansienlik moeiliker gemaak.
Jy is toe weg by die SAUK. Hoe oud was jy toe?
Die Britse uitsaaikundige wie se taak dit was om aanbevelings oor die nuusafdeling se “transformasie” te doen, het baie realistiese aanbevelings gedoen. Onder meer dat ekself en ander sleutel-nuusmense as konsultante kon aanbly totdat die nuwe bekleërs van die poste gemaklik op hul eie gevoel het.
Ek het sedert die vroeë negentigs besef my dae by die SAUK was verby, maar het gehoop dit sou so geskied dat ek nie vir die wolwe gegooi sou word nie. Hierdie verslag het dit moontlik gemaak, maar dinge het anders verloop. Faktore van belang was dat Wynand Harmse se tweede en laaste termyn as hoof- uitvoerende beampte aan die einde van Augustus sou verstryk, en dat ek op 3 Augustus 50 jaar oud sou word. Die SAUK se personeelregulasies het daarvoor voorsiening gemaak dat senior mense enige tyd van vyftig jaar oud af met pensioen kon aftree.
Voordat ek in Junie 1994 saam met ‘n swart kollega buiteland toe vertrek het vir kontrak-onderhandeling met ons nuusmateriaal-verskaffers in Brittanje, naamlik die BBC, Sky News en die agentskappe ITN en Visnews, het Zwelakhe gevra dat ons ná my terugkeer vergader om die toekoms te bespreek.
Op hierdie vergadering het hulle my meegedeel dat ek in die nuwe bedeling as nuushoof vervang sou moes word, maar dat hulle nie wou hê ek moes die SAUK verlaat nie. Die voorstel was dat ek na ‘n ander departement verskuif word, met die opdrag om ‘n streeknuus-TV-opset vir die provinsies op die been te bring, met dieselfde voordele en salaris.
Ek het besluit om liewer af te tree. Eerstens, ek het geweet die opdrag was onuitvoerbaar weens verskeie praktiese en tegniese realiteite, soos later bewys is toe ander dit probeer het en moes tou opgooi. Tweedens het ek nie kans gesien om in ‘n SAUK te bly waar die nuwe bestuurshoof niks van die uitsaaiwese geweet het nie, hoewel hy ‘n puik joernalis was.
Derdens het ek besef ek het toe “bargaining power” gehad wat ek nie later sou hê indien hulle dan van my ontslae wou raak of die opdrag misluk het nie. Ek het hom meegedeel: “I would rather be part of the solution than of the problem.” Hy het sonder welslae probeer om my om te praat, en ek het die SAUK verlaat na ‘n dienstyd van 26 jaar.
My vermoedens is bewaarheid dat Zwelakhe nie lank in sy pos sou kon uithou nie omdat hy gans te objektief as joernalis was, en daar in verskeie poste reeds ambisieuse kaders was wat ANC-beleid tot die letter wou toepas. Nadat hy die SAUK in 1997/98 verlaat het, het apparatchiks soos Snuki Zikalala oorgeneem.
Hierna het die SAUK deur verskeie episodes beweeg waartydens stelselmatig van die “ou bedeling” ontslae geraak is en die afdraande pad begin het.
Watter aspekte van jou loopbaan staan vir jou uit? Jy het die wêreld gesien…
Was baie bevoorreg aan die een kant, maar moes ongelukkig aan die ander kant groot opofferings maak. Wat my loopbaan betref, het ek met feitlik elke moontlike vertakking van die joernalistiek in al die mediums, behalwe tydskrifte, te doen gekry. Ek het van ‘n papierskeurder (copy boy) by ‘n koerant begin en geëindig as hoofredakteur van die SAUK met baie geluk en die wind van agter.
Omdat ek baie jare, selfs toe ek reeds baie senior was, in die verslagveld, veral TV en radio deurgebring het, moes ek baie reis. Soms weke van die huis af weg toe die twee seuns nog jonk was. Dit het ‘n groot las op my vrou geplaas…
Om jou ‘n idee te gee, ek het 14 parlementsopenings oor die jare bygewoon. Daar was natuurlik soms drie sittings per jaar, maar dis nogtans baie. In 1989 het ek 102 retoervlugte na en van Johannesburg onderneem vir die parlementsittings. Dit sluit nie buitelandse reise in nie. Oor die jare van 1976 was daar talle verslagreise en ook besoeke aan buitelandse nuusagentskappe en -kanale vir kontraktuele onderhandelings. Gemiddeld drie per jaar.
In 1988 was ek twee maande lank op ‘n strategiese kommunikasiekursus by die militêre kollege Fu Hsing Kang in Taipei, Taiwan. Daar is ons deur Chiang Kai Shek se oorlewende generaals onder meer geleer hoe om kommunistiese propaganda te herken en te beveg.
Dit was interessant, maar uiters verleentheidskeppend, want vier van die Suid-Afrikaanse groep van vyf was van die veiligheidsdienste. Ook dié uit ander wêrelddele, selfs Saudi-Arabië, Indonesië en Fidji. Ek was die enigste joernalis. Die SAUK het in daardie stadium etlike jare lank reeds senior joernaliste op die kursus gestuur, waarvan ek net gehoor het.
Baie leersaam, maar die laaste plek waar ‘n joernalis, veral van die SAUK, moes wees. Ek het dit eers besef nadat ek daar aangeland het. Nodeloos om te sê, dit was die laaste keer dat die korporasie ‘n joernalis soontoe gestuur het. Die positiewe kant was dat ek ‘n hele paar “war games” gewen het en diplomas en medaljes ontvang het.
Lees ook oor Johan se ander herinneringe in twee kort artikels in die afdeling BY NABAAT.
Gepubliseer Februarie 2020.
Grootwordjare in Florida
Ek is een van die twee kinders van oud-Vrystaters, pa Andries Lodewicus, gebore op Philippolis, later verhuis na Bloemtontein, en ma Beatrix Meyer, gebore in Bloemfontein, getroud in Bloemfontein. Ma matrikuleer op Eunice, en pa op Grey Kollege.
My oupa was reeds in die sestig toe my pa gebore is as die jongste van drie kinders by sy derde vrou, en my oupa se agtiende kind. My oupa is oorlede toe my pa 13 jaar oud was, en my ouma het gesukkel om finansieël te oorleef.
Om my pa deur matriek te kry het my ouma en tante klere gemaak en naweke op boeremarkte verkoop. Weens die Groot Depressie kon my pa nêrens werk kry nie, behalwe by die Spoorweë as ‘n skoonmaker van stoomenjins teen 50 pennies per dag. Na drie jaar is hy oorgeplaas na die administrasiekantore, en in die vroeë oorlogsjare na Johannesburg verplaas, waar my ouers hulle in Florida gevestig het.
Ek het as een van duisende kinders van Suid-Afrikaanse Spoorwegmense grootgeword toe dit een van die grootste werkgewers vir Afrikaners in Suid-Afrika en Ben Schoeman een van die groot helde in die Nasionale Party-kabinet was. Dit het uiteraard ‘n groot invloed in my vroeë politieke bewuswording gespeel.
Hoewel my ouers nie heethoofde of erg-konserwatief was nie, is my suster en ek grootgemaak met die filosofie dat ons blankes en die swartmense apart moes leef en grootword, dat die Verenigde Party se beleid sou lei tot rassevermenging, en dat enige “liberale” denke infra dig is.
Ons is egter nooit geleer om anderskleurige te ‘haat’ nie, hulle altyd goed en met respek behandel, en daar was geen ultra-konserwatiewe standpunte nie. Sowel my ma as pa het Engels vlot gepraat weens hul skoolgeskiedenis, en een dag per week het ons gesin sover moontlik net Engels gepraat.
As ‘n spoorwegman het my pa ‘n redelike salaris verdien, maar my ma het eers laat in haar lewe self ‘n inkomste begin kry deur as sekretaresse by ‘n laerskool te werk. Hoewel my ouers nie ‘n motor besit het nie, het hulle hul huisverband getrou betaal, en het ons altyd kos op die tafel gehad. Sommige maande was die laaste week maar vaal wat die verskeidenheid eetgoed in die huis betref, maar ons het oorleef.
Een van die groot negatiewes in my jong jare was die feit dat ek ‘n jaar te jonk vir my grade was. Ek het rugby (tot st. 8) en krieket ( eerste span) gespeel, bietjie atletiek gedoen, en deurentyd in die ouderdomsgroep van die leerlinge in ‘n laer standerd, nooit saam met klasmaats nie. My akademiese prestasies was goed genoeg om te slaag, maar niks fantasties nie. Ek was ook nie altyd die mees pligsgetroue leerder nie.
My groot begeerte was om ‘n advokaat te word, en ek het van standerd ses af, as een van 40 oorspronklike leerlinge Latyn geneem, en daarmee deurgeswoeg tot een van sewe in matriek. Ek was skaars 17 jaar oud ( 3 Aug) toe ek my matriekeksamen begin het.
My matriek-uitslae was so-so, my beste vakke Engels en Geskiedenis, maar dit was goed genoeg om universiteit toe te kon gaan. Daar was egter nie geld vir universiteit nie, en ek het, soos talle ander spoorwegkinders, aansoek om ‘n onderwysbeurs gedoen, hoewel dit nooit my voorneme was om onderwys te gee nie.
Ek het ‘n rentevrye lening gekry, is ingeskryf by die Goudstadse Onderwyskollege vir ‘n BA-graad met Engels, Sielkunde en Geskiedenis as hoofvakke deur middel van Unisa. Ek het vier jaar lank twee keer per jaar proefonderwys by verskillende skole gedoen — in Februarie 1962, ses maande voor my agtiende verjaardag, reeds voor ‘n standerdvierklas in Albertskroon…
Ek het die vier jaar tydens vakansies en weeksdae in die Roodepoort-Maraisburgse biblioteek en as ‘n arbeider by die Spoorweg-werkswinkels op Langlaagte gewerk om aan die lewe te bly, veral nadat my pa skielik op 56-jarige leeftyd oorlede is.
Ek was twee jaar lank in my derde jaar, het nie die vierde diplomajaar voltooi nie, kontrakbreuk gepleeg, wat genoodsaak het dat ek R810 oor 81 maande teen R10 per maand terugbetaal het.
Pryse
In my loopbaan het ek deurentyd in sowel Engels as Afrikaans gewerk, en was bevoorreg om ‘n kategorieprys van die Stellenbosch Farmers’ Winery se kompetisie vir ondernemende joernalistiek in 1976 te ontvang. Dit was vir my wedervaringe in Duitsland en Switserland met die besoeke van premier John Vorster vir samesprekings met dr. Henry Kissinger van die VSA oor SWA (Namibië).
Dit was ‘n nagmerrie, en die eerste keer dat die SAUK satelliete gebruik het om filmverslae huis toe te stuur. Ek moes improviseer soos nog nooit tevore, ook daarna, in my lewe nie.
‘n Jongerige Johan as parlementêre verslaggewer.
In 1983 ‘n Artestoekenning gekry vir verslae oor die skeuring in die NP in 1982, en in 1987 nog ‘n Artes, hierdie keer ‘n bestuurstoekenning vir die vestiging van ‘n ontbyt-televisieprogram binne drie weke van konsepsie tot op die lug.
Die eerste Artes meen ek was welverdiend, maar die tweede een beslis nie. Mense soos Christo Kritzinger, Ina Joubert, André le Roux en ander kollegas was grootliks vir Good Morning/GoeieMôre SA se konsep en organisasie verantwoordelik. Dit was ‘n reuse-poging. Die bestuur moes die toekenning aan iemand in die nuus-afdeling gee, toe kry ek dit namens hulle as die hoof van die TV-nuusafdeling. Ek voel steeds verleë daaroor.
By die South Coast Fever het ek ook twee toekennings in die Sanlam-kompetisie vir Gemeenskapskoerante ontvang vir rubrieke en redaksionele kommentaar.
Voor die WVK
Die SAUK is, dikwels tereg, daarvan beskuldig dat ons ‘n politieke party of individu te na gekom het. Die oorgrote meerderheid van hierdie gevalle was bloot menslike foute, nalatigheid of ‘n gebrek aan ervaring by die betrokke personeellede.
Van die kritici het ons verdink van goed uitgewerkte planne en strategieë om hulle te na te kom. Dit was feitlik onmoontlik om hulle van sienswyse te laat verander. Kritiek van veral organisasies soos die Media Monitoring Project, onder die leiding van ene Bronwyn Keene-Young, het in die laat tagtiger- en veral die vroeë negentigerjare met die mees bisarre aantygings ons bloeddruk opgejaag.
Sy was baie jonk en onervare met net ‘n teoretiese/akademiese kennis van die media, maar het met propaganda-aantygings gekom wat Josef Goebbels sou laat kwyl. Daar was ook ander kritici, meesal in die Engelstalige koerante, en die enkeling wat my persoonlik die meeste geïrriteer het, was John van Zyl, ‘n akademikus van Wits.
Hy het oor jare die mees bisarre aantygings gemaak oor hoe ons apartheid bevorder en in die proses duistere dade gepleeg het. In die laat sewentigerjare het hy na my verwys as die Clockwork Jellybaby. Plus talle ander ad hominem-aanvalle oor die jare daarna.
Ek was deeglik bewus daarvan dat ek by verre nie die beste kameraverslaggewer in die land was nie, en by tye weens gebrek aan opleiding en ervaring erg gesukkel het. Dis waar. Maar het nietemin besluit die dag van afrekening kom.
Op ‘n dag iewers in 1996 kry ek ‘n oproep van een van die senior amptenare van die Waarheid- en Versoeningskommissie wat my nooi om voor hulle te kom getuig. Vrywilliglik. Hy deel my mee ander SAUK-amptenare is ook genooi.
Ek was nie baie lus nie, en het navraag gedoen of iemand anders van die SAUK ook gaan getuig. Die terugvoer was dat ander vorige senior nuusmense nie gaan getuig nie. Ek het twee dae lank oor die saak getob, en uiteindelik besluit, what the hell, ek gaan probeer verseker die nuusafdeling se kant van die saak word gehoor. (Minstens soos dit was toe ek daar was.)
Wat my egter finaal oortuig het, was die besef dat ek in die proses die onregverdige en kwaadwillige kritici kon aanvat. Ek het laat weet ek sal kom.
Op die dag was dit net ek en Louis Raubenheimer, ‘n ander senior nuuspersoneellid van die nuusafdeling, wat ná 1994 aangebly het en dalk in daardie stadium nog by die korporasie was. Ek kan nie onthou nie. Geen teken van enige vorige nuushoofde of ander senior SAUK-mense nie.
Ek was redelik senuagtig, maar het besluit om te sê wat in my hart is, en be damned. Ek het erken dat ons wel skuldig kon gewees het aan menseregteskendings, en om verskoning gevra indien dit wel gebeur het weens die verslagwerk of optrede van ons joernaliste. Ek het egter om begrip gevra vir die historiese konteks en die talle harde werklikhede soos wetsvoorskrifte en lisensievoorwaardes waarbinne ons moes funksioneer.
Die SAUK mag byvoorbeeld niks uitsaai wat die openbare orde kon versteur, openbare mening opsweep of die veiligheid van die staat bedreig nie. Dit het beteken ons kon geen nuus oor byvoorbeeld verbode of verbanne organisasies uitsaai nie.
Ek het genoem dat veral Militêre Inligting in ‘n stadium daaraan gedink het om ons ingevolge die noodtoestand-regulasies onder hulle beheer te plaas om te verseker ons “help nie die rewolusie bevorder nie”.
Ons moes binne streng grense werk, en daar sou geen sin daaraan wees om die staat aan te vat in ‘n stryd wat ons nie kon wen nie. Nogtans het ons binne al hierdie beperkinge ons werk so billik en regverdig as wat moontlik was, gedoen.
Ek het gevra dat die SAUK erkenning kry vir sy bydrae om die weg voor te berei vir ‘n nuwe bedeling deur die regering en staat se hand by die onderhandelingstafel te versterk, en veral die blanke gemeenskap van verandering te oortuig — iets wat die nuusafdeling doelbewus sedert l989 gedoen het om die land vir 1994 voor te berei. Ons is daarvoor uit regse kringe kwaai verguis, maar dit was ons deurdagte redaksionele standpunt en ons verdien WVK-krediet daarvoor.
Dit was my basiese voorlegging. Ek het egter, soos beplan, die geleentheid gebruik (misbruik?) om ons kritici by te kom en goed sleg te sê. Nie oor hul kritiek nie, maar die ondeurdagtheid en venynigheid daarvan. Ek het John van Zyl goed sleggesê met gemotiveerde argumente, en verwag die voorsitter sou my onderbreek. Hy het nie, en ek het met alles losgetrek. Van Zyl se ore tuit seker vandag nog.
‘n SAUK-raadslid en mediakundige, dr. Ruth Teer-Thomaselli, het daarna vir my gesê sy meen ek het dit oordoen. My antwoord was: Heel moontlik, ja. Ek het vir haar gesê ek het nie verwys na goed gemotiveerde, geldige besware nie, maar na jare se misplaasde, ongegronde en venynige kritiek en beledigings. Dit was ‘n bevrydende emosionele ontlading, en ek is vandag nog bly ek het dit gedoen.
Ter inligting: Ek het in 1995 saam met programvervaardigers Carl Theunissen en André van den Heever gewerk aan ‘n reeks programme oor die onderhandelingsproses sedert die middel tagtigerjare wat in die geheim begin het en op 1994 se oorgang uitgeloop het. Vandaar foto’s met mense soos Thabo Mbeki en Eugene Terre’Blanche. Ons het met feitlik al die destydse belangrike leiers gepraat, behalwe president Mandela en adjunkpresident De Klerk. Die SAUK het die reeks uitgesaai.
Ook ter inligting. Iets wat my mateloos omgekrap het, was ‘n programreeks wat deur kykNET vervaardig is, Op die kassie, en hul insetsels oor die SAUK se nuusafdeling. Ongegronde kritiek op die nuusafdeling is mildelik uitgespreek deur onder meer van ons nuuslesers, programmmense, wat geen idee gehad het van die omstandighede waaronder ons moes werk nie.
Van ons afgetrede vorige senior nuusmense het wel deelgeneem, ook die voormalige uitvoerende hoof, Wynand Harmse, waarmee ek geen probleem gehad het nie. Die vraag is egter hoe so ‘n program vervaardig kon gewees het sonder die deelname van ‘n politieke korrespondent van baie jare en die nuushoof in die kritieke tagtiger- en negentigerjare?
Ek het ‘n navraag uit Johannesburg gehad oor deelname, my bereidwilligheid verklaar, maar het niks weer daarvan gehoor nie, waarskynlik omdat ek op Shelly Beach gewoon en die vervaardigers nie die reiskoste wou betaal nie.
My beswaar het niks met my as persoon te doen nie, maar oor die beginsel, al was die betrokke noodsaaklike deelnemer iemand anders. Die gevolg was onkundige kritiek van nie-nuusmense binne die SAUK op die nuusafdeling, en ‘n gebrek aan insette van iemand wat byna 20 jaar lank namens die SAUK baie na aan politici van alle partye geleef en gewerk het.
Hierdie stukkie oor die WVK is ná publikasie van die res van hierdie bladsy later bygevoeg.