JOHAN ALLERS — STORIEVERTELLER VAN FORMAAT IN DIE VREEMDE

Johan Allers het ‘n lang loopbaan as verslaggewer en programmaker agter die rug. Hy vertel hier aan Johannes Froneman hoe sy loopbaan van koerantfotograaf en -verslaggewer tot radioverslaggewer en TV-programmaker ontwikkel het — eers in Suid-Afrika, maar ook vir drie dekades in Europa.

Johan, jy woon reeds 30 jaar in Nederland. Hoe het dit gekom?

Die tydskrif De Kat het my baie jare terug as ‘n verlore seun beskryf. Ofskoon ek nie van die beskrywing gehou het nie, was De Kat reg. Dit was in die vroeë negentigerjare en ek was toe al bekend as ons man in die buiteland. Vandag, meer as dertig jaar later, kan ek dit aan myself en die wêreld beken. Ja, ek was ‘n wegholkind.

Ek het Suid-Afrika in die middel-tagtigerjare gedurende die tyd van die noodtoestand verlaat. Ek was toe al reeds vir ‘n paar jaar in diens van die SAUK as programmaker van die Engelse diens se aktualiteitsprogramme. Jy sou my destyds as ‘n leftie Afrikaner kon beskryf, maar ek was nog ‘n kind, politiek oningelig en uiters naïef.

Ten spyte van my jeugdigheid en my gebrek aan ervaring, en dit verbaas my tot vandag toe, het die SAUK my destyds (die tagtigerjare) met die maak van ernstige politieke programme toevertrou. Ek het onder die redakteurskap van Marie Bruyns saam met die aanbieders Christopher Dingle en John Bishop aan die aktualiteitsprogramme Midweek en Network gewerk. Die stuurmanne was die destydse base van die SAUK se nuusprogramme, Sakkie Burger en Christo Kritzinger.

‘n Jong Johan heel links saam met die Midweekspan by die SAUK. Hooffoto bo: Suzette Truter se artikel oor Johan, waarskynlik in Sarie.

My laaste opdrag vir die SAUK voor my vertrek na Europa was die vervaardiging van ‘n program waarin die fokus geplaas is op geweld as instrument tot politieke mag. Dit is ‘n swaar onderwerp vir ‘n outjie wat toe nog nat agter die ore was. Uiteraard was die toe nog verbanne ANC in die SAUK se visier. Die vervaardiging van die program het my toegang gegee tot verbode ANC-materiaal (onder toesig van die geheime polisie) en gemaskerde Askari’s met wie ek onderhoude kon voer. Die eindproduk is deur Sakkie Burger verwerp, wat my daarvan beskuldig het dat ek die ANC te sterk laat lyk.

Dit het my egter nie verbaas dat die program later, op die vooraand van ‘n Suid-Afrikaanse Weermag-aanval op ANC-kampe in Swaziland, uitgesaai is nie. Die besef het tot my deurgedring dat ek niks anders  as ‘n propagandis vir die SAUK is nie. Die besluit om weg te loop was nie moeilik nie.

Maar kom ons stap terug op jou spore… Hoe het jy in die mediawêreld beland?

Ek is ‘n mengelmoes van allerhande halwe talente. Ofskoon ek bekend geword het as ‘n nuusman, is en was ek nooit werklik ‘n joernalis nie. Ek verkies die beskrywing storieverteller. Ek hou van stories en prentjies en dit kom al uit my kinderdae. My loopbaan het as elfjarige kind begin toe my pa op ‘n dag ‘n ou Remington-tikmasjien en ‘n nog werkende Box Brownie- kamera by ‘n ashoop opgetel het. Stories en prentjies.

My professionele loopbaan het as ‘n fotograaf in die laat sewentigerjare vir die koerant Die Transvaler begin. Ek het later, al smekende, daarin geslaag om die koerant se nuusredakteur (Dave Viljoen) daarvan te oortuig dat ek ook kan en wil skryf. My hele loopbaan is te danke aan Dave se goedwilligheid en vertroue in my en ek is hom tot vandag toe dankbaar. Na Die Transvaler het ek vir ‘n kort tydjie by The Citizen gewerk en later by Rapport aangesluit waar ek onder die redaksie van dr. Wimpie de Klerk gewerk het.

Televisie het my egter gelok en dit was nie lank voordat ek met sukses aan die voordeur van die SAUK geklop het nie. Die Remington-tikmasjien en die Box Brownie het een geword (woord en beeld) en ek het my tuiste gevind. My opleidingskursus as televisie-vervaardiger het tot ‘n toekenning as Beste Belowende Regisseur gelei en ek het my gou in die kantoor van Robin Knox-Grant, hoof van Engelse televisie, bevind. Knox-Grant wou weet of die Afrikaanse outjie graag vir die Engelse departement se weeklikse aktualiteitsprogram, Midweek, wil werk. ‘n Jaar later het ek my eerste Artes-nominasie ontvang.

Vertel meer oor jou jare as radiojoernalis.

My werk as radiojoernalis het pas na my vertrek uit Suid-Afrika begin. Ek moet wel toevoeg dat ek as skoolkind al my buiging op radio gemaak het. Selfs meer as televisie was radio vanaf my kinderjare in my bloed. Ek het as jong seun van tyd tot tyd klein rolletjies in middagstories op die ou Springbokradio vertolk. Dit was ook my eerste en opwindende kontak met groot name uit die Suid Afrikaanse kuns- en vermaaklikheidsbedryf, soos Monica Breedt, Wena Naudé, Pieter Haupfleisch, Truida Louw, Katinka Heyns, Tobie Cronjé en Nic de Jager. Hierdie sterre was my inspirasie en het daartoe bygedra dat ek tot vandag toe nog graag agter die mikrofoon sit.

My radioloopbaan het in Keulen, Duitsland, as vryskutjoernalis vir die destydse Monitor en Spitstyd begin. Dit is waar ek my ná my vertrek uit Suid-Afrika gevestig het. Ek was eintlik maar net die regte ou op die regte plek en omdat ek al bekend was in SAUK-kringe ‘n maklike keuse vir die uitsaaier. Ek kan nie vandag meer onthou wie my genader het nie, behalwe dat ek kort na my aankoms in Duitsland (daarmee begin het) en vir baie jare lank byna op ‘n daaglikse basis radioverslaggewing gedoen het. Dit is ook die rede waarom soveel mense tot vandag toe  – twintig jaar later – my stem steeds onthou. Ek is nou op die gelukkige leeftyd waar baie jong mense my vertel dat hulle met my stem opgegroei het.  

Radioverslaggewing het die deure na Europa vir my oopgemaak. Die skryf van ‘n storie gebeur nie in ‘n vakuum nie. Elke storie, gebeurtenis, sosiale, kulturele en/of politieke ontwikkeling gebeur binne ‘n bepaalde maatskaplike en geskiedkundige konteks. Dit dwing jou dus om jou nuwe omgewing, die mense, hul geskiedenis en hul lewensbeskouings te ondersoek. Radioverslaggewing het nie alleen vir brood op die tafel gesorg nie, maar het nuwe wêrelde, nuwe idees, nuwe maniere waarop jy na die lewe en na ons maatskappy kyk vir my oopgemaak. Dit is in alle opsigte verrykend.

Die beginjare was uitdagend. Nie net moet jy ‘n nuwe taal aanleer nie, maar jy moes, soos hierbo genoem, ‘n diepte-ondersoek maak na alle aspekte van die nuwe maatskappy waarbinne jy jouself bevind.  

My koms in Europa was uiteraard ook ‘n konfrontasie met myself, my volk, my geskiedenis en die weersinwekkende werklikhede van apartheid.  Insiggewend en tegelykertyd ontnugterend was hoeveel meer die Europeërs — en veral my professionele kollegas — oor my land geweet het as ek. Wat dit betref het die ANC, ofskoon toe nog in ballingskap, ‘n uitmuntende openbare betrekkinge-masjien gehad wat apartheid se buitelandse verteenwoordigers sonder twyfel bloedneus geslaan het.

Nodeloos om te sê dat feitlik al my professionele kollegas in Europa die SAUK (en daarom ook myself) minagtend as propaganda-dwase bestempel het wat vir die apartheidsregime werk. Ek sou jare later ontdek dat die anti-apartheidsbeweging in Nederland my nie net met wantroue bejeën het nie maar selfs geglo het dat ek ‘n spioen van die apartheidregering was.

Jy was egter ‘n vryskut in Europa

Ek het in 1986 uit die SAUK bedank. Dit was my keuse om die uitsaaier te verlaat en om na Europa te verhuis. Ek is sedert 1986 ‘n vryskutjoernalis en programmaker. Van 1992 tot die jaar 2000 het ek op kontrakbasis vir die SAUK/SABC gewerk. In dié agt jaar het ek in 54 lande gewerk, minstens een of twee wêreldstede per week besoek en was ek, na jare van onophoudelik reis en werk liggaamlik uitgeput. Ek het ’n uitbranding ervaar en besluit om ter wille van my gesondheid my nuusaktiwiteite te staak.

Sedertdien het ek teruggekeer na vryskutwerk, meestal vir Nederlandse televisiestasies sowel as vir die korporatiewe wêreld. Ek wou ook ander dinge doen en het (nadat ek die nuuswêreld verlaat het) ‘n aantal programme en reekse vir kykNET vervaardig, waaronder die reeks Trippe Trappe Trone saam met Amanda Strydom. Die nuusman en die diva! Ons het  saam deur agt Europese lande gereis om die reeks te verfilm.

Jy het dus ‘n mediamens van vele ambagte?

Radio. Televisie. Nuus. Stories. Kuns, kultuur, politiek. Soos al genoem, het ek in 54 land gewerk, honderde stede en plekke besoek, duisende onderhoude gevoer en miljoene prentjies gemaak en geplak. Duisende stories vertel. Mense dink aan my as ‘n nuusman, maar ek het honderde kuns-, kultuur- en ander programme vir televisie gemaak. My lewe is/was ‘n kaleidoskoop van kleure en prente, mense en dinge.

Dit klink dalk pretensieus, maar ek was byvoorbeeld een dag teenwoordig by ‘n middagete vir Nelson Mandela (waar ek die koningin van Denemarke ontmoet het) en het die volgende dag ‘n afspraak met die hoere van Duitsland op die Reeperbahn in Hamburg gehad, waar ek ‘n program oor die regte van prostitute gemaak het. Ek was in Los Angeles, waar ek Mohammed Ali ontmoet het, en ‘n dag of wat later in gesprek met Whoopi Goldberg op die Promenade de la Croisette in Cannes. Ek het hande geskud met die grootste leiers uit die tydperk, van Gorbatjof tot Bill en Hillary Clinton, Kofi Annan, Tony Blair, Wim Kok, Ruud Lubbers, Boutros Boutros-Ghali, Martti Ahtisaari, Arped Gonz, Václav Havel, noem maar op.

Saam met aktrise Whoopi Goldberg in Cannes, Frankryk.

Op 9 November 1989 was ek in Berlyn om die val van die Berlyn-muur te aanskou. Ek het saam met die Oos-Duitsers in hul Trabi’s op die Kurfürstendamm gery waar hulle vir die eerste keer in hul lewens piesangs geëet het en met onbeskryflike ekstase, laggend, huilend, hul vryheid gevier het.

Ek was ‘n paar keer in Moskou gedurende die glasnost en perestroika tydperk. Ek het op my knieë langs ‘n ou man in ‘n klein dorpie in die oorlog geteisterde Kosova gehurk en sy bewende hande vasgehou terwyl hy my vertel het hoe Serwiese soldate sy vrou vermoor het. Ek het saam met oorlogsvlugteling vanuit Sarajewo na Dresden gereis om programme te maak.  

Een oggend op ‘n verlate stukkie grond net agter ‘n treinstasie in Bucharest word ‘n klein groepie kindertjies langs ‘n uitgebrande vuurtjie wakker. Nie een van hulle is ouer as tien jaar nie. Ons maak ‘n program oor die straatkinders van Bucharest. Mense noem hulle Ceausescu se kinders. In die tagtigerjare het Nicolae Ceausescu wetgewing uitgebring wat vroue gedwing het om meer kinders te baar. Duisende van hierdie kinders lewe op straat, bedel ‘n paar sente om te oorlewe of verkoop hul liggaampies vir ‘n bord kos. Dit was moeilik om afskeid van die kinders te neem. 

Ek was in Klagenfurt in Oostenryk toe die eerste van honderde duisende Oos-Duitse vlugteling in Wes-Europa opgedaag het. Ek het verslag gedoen oor die vlug van Erich Honnecker en die ineenstorting van die Sowjet-Unie. Ek het honderde internasionale konferensies in Europa bygewoon en het onder andere ook verslag gedoen vanuit die Europese Unie in Brussel, die Internasionale Strafhof in Den Haag en die Europese Parlement in Strasbourg.  Ek het ook vir Joulupukki, die regte kersvader in sy sneeubedekte huisie in ‘n woud buite Rovaniemi ontmoet. Hy het na vodka geruik. Daar is te veel om te vertel.

Ek het in 14 lande agter Nelson Mandela aangeloop, sjokolade saam met hom in die Hilton Hotel in Genève geëet en hande geskud met Jasser Arafat. Ek het dosyne onderhoude gevoer met Thabo Mbeki, Jacob Zuma en ander ANC-grootmanne.

Ek het een keer ‘n helse argument  met Eartha Kitt in ‘n teater in Edinburgh gehad en gat van myself gemaak toe ek die koningin van Swede tydens ‘n byeenkoms in Stockholm met die vrou van ‘n ambassadeur verwar het en haar sommer so, byna met ‘n klap op die skouer gegroet het … 

Vertel meer oor jou belangrikste onderhoude

Ek het die voorreg gehad om ‘n kort onderhoud met Maria Reiche in ‘n klein dorpie net buite die Nazca-woestyn in Peru oor die beroemde  Nazca-lyne te voer. Maria Reiche, ‘n Duits gebore Peruviaanse argeoloog het haar lewe toegewy aan die beskerming van die lyne. Sy was op sterwe en kon byna nie meer praat nie. Tog wou sy vir die laaste keer in haar lewe met iemand van die pers praat oor die belang daarvan om hierdie wêreldwonder vir die toekoms te behou. Die Nazca-lyne is ‘n groep geogliewe wat in die grond van die Nazca-woestyn in Suid-Peru tussen 500 v.C. en 500 n.C. deur mense gemaak is.

Ek het ook die voorreg gehad om ‘n onderhoud met die grote Casius Clay (Mohammed Ali) te voer. Ali wat aan Parkinsons gelei het, kon omtrent nie meer praat nie en ons kon nie die onderhoud uitsaai nie. Tog het die ontmoeting ‘n groot indruk op my gelaat.

Ek was in die Vatikaan tydens Nelson Mandela se besoek aan pous Johannes II. Na die besoek het die pous Christus-kruisies geseën en aan almal teenwoordig uitgedeel. Die kruise lê nog steeds êrens in ‘n laai in ‘n kas in my huis.

Ander mense wat ‘n groot indruk op my gemaak het? Heel bo aan die lys plaas ek mense soos Olara Otunnu, ‘n voormalige ondersekretaris-generaal van die Verenigde Nasies en spesiale verteenwoordiger vir kinders en gewapende konflik. Ook op hierdie lys hoort mense soos Boutros Boutros-Ghali en Kofi Annan. Ek het Kofi Annan vir die eerste keer ontmoet toe hy nog die VN se onder-sekretaris-generaal vir vredeshandhawing was. Annan was vriendelik genoeg om my vir ‘n besigtigingstoer deur die geboue van die VN in New York te neem. Ons het al geselsend deur die algemene vergadersaal  en die vergadersaal van die veiligheidsraad gewandel en in die loop van my loopbaan meermale ontmoet.

Die voormalige president van Finland en ontvanger van die Nobelvredesprys Martti Ahtisaari het ook ‘n groot indruk op my gemaak. Ek het die voorreg gehad om ‘n langerige onderhoud met Athisaari in sy ampswoning, Mäntyniemi, in Helsink te voer (foto onder).. Op ‘n vraag van my hoe die president na die toe nog voortslepende oorlog in die Kongo kyk, het die Finse president Afrika se post-koloniale ontwikkeling met Europa se geskiedenis vergelyk. Afrika staan nog in sy kinderskoene en doen, in vergelyking met die geskiedenis van Europa, verdomp goed.

Jy het ook in Nederlands gewerk

Ek het heelwat kommersiële werk in Nederland gedoen (korporatiewe video’s) en onder andere ‘n weeklikse jeugreeks vir die Nederlandse Moslem-omroep. Ek het die reeks saam met ‘n Nederlandse vervaardiger gedoen en dit was betreklik suksesvol. Die reeks het die fokus geplaas op suksesvolle jong immigrante in ‘n tyd toe daar nogal spanning was tussen Nederlandse burgers en die stroom van nuwelinge uit veral Noord-Afrika en Turkye. Daarnaas het ek o.a. ‘n baie suksesvolle dokumentêr oor die Suid-Afrikaanse blues diva Dolly Rathebe vervaardig.

‘n Hoogtepunt is my samewerking met prinses Laurentien, die beskermvrou  van die Nederlandse stigting Lezen & Schrijven, saam met wie ek ‘n program oor geletterdheid gemaak het. Ek is steeds betrokke by die ontwikkeling van dokumentêre programme en veral by programme met ‘n Suid-Afrikaanse strekking. So het ek die afgelope jaar meegewerk (as navorser) aan ‘n groot Nederlandse dokumentêr oor die lewe van Klaas de Jonge, die sogenaamde wit terroris wat in 1985 vir ‘n jaar lank in die Nederlandse ambassade in Pretoria geskuil het nadat hy die Suid- Afrikaanse polisie ontglip het.

Ofskoon ek nou afgetree is, werk ek steeds saam met die bekende Nederlandse filmmaker Saskia Vredeveld aan ‘n aantal Suid Afrikaanse projekte, waaronder ‘n dokumentêr oor geslagsgeweld en blanke armoede.

Hoe sal jy die Nederlandse mediaopset aan Suid-Afrikaners probeer verduidelik?

Nederlandse televisie streef daarna om ‘n spieëlbeeld van die gehele Nederlandse samelewing en sy verskillende onderdele te wees — maatskaplik (sosiaal), kultureel en godsdienstig. Om dit te verduidelik sou ‘n mens kon sê dat die sisteem op ‘n aantal pilare rus, waarvan elke pilaar ‘n bepaalde sosiale, kulturele of godsdienstige doelgroep dien. In die ou dae was daar nog sprake van ‘n konserwatiewe, liberale. Protestantse, Katolieke en/of selfs kommunistiese omroep. Terwyl hierdie klemme nie meer so sigbaar of genuanseerd vir die gewone kyker is nie (en ten spyte van die opmars van kommersiële televisie) het dié sisteem deur die jare ongeskonde gebly. Sogenaamde liberaal-denkende mense kyk dus graag na die VPRO (Vrijzinnig Protestantse Omroep) terwyl konserwatiewe mense geneig is om na die EO (Evangelische Omroep) te kyk.  Die EO het byvoorbeeld as missie om mense met Jesus Christus in aanraking te bring en sy programme is ‘n vorm van evangelisasie. In Nederland bestaan daar twaalf lid-gebaseerde uitsaaiverenigings wat deel is van die Nederlandse Openbare Uitsaaistelsel.

Naas hierdie stelsel bestaan daar uiteraard ook plaaslike (regionale) uitsaaiers sowel as stedelike uitsaaiers en ‘n aantal spesiale belange en minderheidskanale.

In die jongste jare werk jy weer heelwat in Afrikaans. Vertel asb.

My hart is Afrikaans. My siel is Afrikaans. Wat meer kan ek sê? Ek is nou afgetree. Ek kan uiteindelik die dinge doen wat ek graag wil doen. Ek het ‘n groot passie vir Afrikaans. Mense sê dat ons nou wêreldburgers word. Dit is ‘n woord sonder betekenis. Jou identiteit word gevorm daar waar jy gebore is en waar jy opgroei. Dit lyk my na ‘n logiese wet van die natuur. Jy stam tog van êrens. Jy stam tog nie van nêrens nie. Natuurlik kan die mens homself aanpas, maar jy kan jouself nooit onterf nie. Of ontstam nie.

Om weer in Afrikaans te werk, is uiteindelik (vir my) om weer terug te keer na myself. Om weer asem te skep. Ek het die wêreld bereis en baie gesien en baie ervaar. Ek dink dit is die pad wat ons almal loop. Hoogtepunte en laagtepunte, die mooi en die lelik. Afrikaans is die naelstring wat my aan my land, my mense, my kultuur en die essensie van myself verbind.

Die terugkeer na die mikrofoon het eintlik toevallig begin. In 2021 is ek deur die oprigter van Cordis Trust, dr. Fanie Marais, gevra om hul nuutste digbundel, Gelykmaker, in te spreek. Die voorlees/inspreek van die gedigte het al gou uitgegroei tot die skep van hoorbeelde van Afrikaanse kortverhale. Dit alles het weer uitgegroei tot my samewerking met die skrywer en uitgewer van Ns.Skrywershuis, Nico Schamrel. Die samewerking tussen Nico en myself het uiteindelik gelei tot die skep van ons radioprogram AllesAfrikaans, wat nou weekliks op ‘n aantal plaaslike radiostasies uitgesaai word. AllesAfrikaans het pas Kaapstad Radio se 2022 toekenning vir Beste Potgooi ontvang.

Jy het ook in 2022 ‘n eerbewys ontvang…

Ja, ek het Cordis Trust se Orde van die Goue Pen ontvang. Dit is ‘n besondere eerbewys en beteken baie vir my. So beskryf Cordis Trust die toekenning:

Dit is deur sy lojaliteit, harde werk, opofferings en veral vir sy liefde vir Afrikaans dat Cordis Trust hom vereer met die Orde van die Goue Pen – vir uitmuntende aktuele joernalistiek en die uitbou en verryking van Afrikaans, deur die skep van blootstelling en mediadekking vir bydraes van talentvolle woordkunstenaars, m.b.t. prosa, poësie, sang en drama.

’n Welverdiende eer, maar ook ’n beëdiging van ’n suksesvolle visie waarin ’n droom, groter as hyself, tot gestalte gekom het.

Ons het almal skouerkloppies nodig. Die toekenning is ‘n onverwagse juweel. Dit is heerlik om weer tuis te wees.

Die onderhoud is per e-pos gevoer.

Geplaas 16 Desember 2022