Japie Basson was vir dekades ‘n politieke nuusmaker. In hierdie twee boeke deel hy van sy herinneringe — as jong joernalis en politikus.
POLITIEKE KAARTE OP DIE TAFEL
Japie Basson
Politika, Kaapstad
2006
Basson is vroeg in sy loopbaan nadergehark om as verslaggewer vir Die Suiderstem in Kaapstad te werk. Spoedig is hy as parlementêre verslaggewer aangestel, waar hy vanuit die persgalery die groot figure van sy vroeë loopbaan kon gade slaan: generaals J.B.M. Hertzog en Jan Smuts asook dr. D.F. Malan.
Die hoofstuk oor sy joernalistieke ervarings is egter baie kort, maar sy vertellings oor die politiek gee heelwat perspektief op dekades van politiek — van 1930’s tot die 1980’s. Komende uit die pen van ‘n Afrikaner van die Paarl wat lid van verskeie politieke partye was en veral lank in die opposisiebanke die Nasionale Party-regering geopponeer het, bied dit ‘n perspektief wat nie gereeld gehoor word nie.

“MENEER DIE SPEAKER!” — Uit die politieke plakboek van Japie Basson
Politika, Kaapstad
2012
Hierdie boek bevat ‘n paar juweeltjies. Basson het die Verenigde Party lank as Lid van die Volksraad vir Bezuidenhout verteenwoordig. Sy leier, sir De Villiers Graaf, was oninspirerend en die Sunday Times het Basson gevra of hy nie beskikbaar sal wees om as leier oor te neem nie.
Basson se antwoord was versigtig korrek: Geen lid gaan sir Div opponeer nie, ook nie hy wat Japie Basson is nie. Maar as daar ‘n vakature sou wees, sou hy, soos enige ander lid, beskikbaar wees.
Die Sunday Times se berig was feitelik korrek, maar die kop het gelui: JAPIE READY TO LEAD. Dit het die indruk gewek dat hy homself voorstoot as leier. Basson skryf dat Die Burger die fout vererger het met ‘n opskrif wat lui: Basson-bom: Ek sal die V.P. lei. Hy moes kwaai vure doodgooi. Dit was nie die enigste keer dat hy en Die Burger haaks was nie. Die koerant het Basson deur die jare genadeloos in die verleentheid probeer stel.
Tog is Piet Cillié genooi om ‘n heildronk op Japie en sy vrou in te stel by Basson se voorgenome uittrede ná dertig jaar ononderbroke diens as lid van die Volksraad. Die toespraak, wat dalk net soveel oor die onafhanklikdenkende Basson as oor Cillié self sê, is volledig afgedruk. Dit werp lig op Cillié se rol as binnespeler — dis “dônners moeilik” om binne (die party) te wees.
Nog ‘n brokkie met ‘n sterk joernalistieke inslag, handel oor ‘n meningstuk wat Fritz Potgieter in 1959 as parlementêre verslaggewer van Die Transvaler geskryf het. Basson was toe die verteenwoordiger vir Namib (as lid van die Nasionale Party) en het vasgeskop teen die verwydering van “naturelle”-verteenwoordigers uit die Parlement. Hy was dus in botsing met die eerste minister, dr. H.F. Verwoerd.
Verwoerd het gevra om die stuk te sien en het allerlei veranderinge daarin aangebring. Dat die artikel glad nie gepubliseer is nie was dalk deur Verwoerd se toedoen; dit weet Basson nie. Maar hy merk tereg op dat dit darem “wetenswaardig” is dat die eerste minister dit op hom geneem het om die artikel te redigeer — elf jaar nadat hy as redakteur van die koerant bedank het om senator te word. – JDF