IRMA GREEN — KONINGIN VAN GEMEENSKAPSKOERANTE

Irma Green is groepredakteur van Caxton Local Media (CLM). Hulle gee 115 koerante uit en het 51 CLM-webwerwe en sosialemediaplatforms. Voorheen was sy redakteur van die Laevelder, waar sy naam gemaak het as uitstaande joernalis. JOHANNES FRONEMAN het ‘n paar vrae aan haar gestel.

Vertel ons wat jou huidige pos behels.

Met my aanstelling in 2016 het ek hoofsaaklik op die koerante gefokus en, met die samewerking van redakteurs, veral gepoog om die gehalte van wat ons aan lesers bied, te verbeter.

In die eerste twee jaar het ek elke nuuskantoor in ons groep besoek en soms vir weke saam met redakteurs gewerk. Ons het ‘n stelsel ontwikkel waar ons eers ‘n oudit doen van die publikasie en dan op die inhoud fokus. As die inhoud verbeter, word aandag aan die uitleg gegee. Ons werk dan vir ses weke met Zoom of Skype saam met die spanne en elke blad word deur ons span afgeteken. Ek sal ook die dagboeke vir gedrukte publikasie met die redakteurs bespreek.

Wat ek nie voorsien het nie, was dat my pos oornag ook die “klagtekantoor” sou word. Dit het regsaksies, ombud- en lesersklagtes ingesluit. Ek het besef ek sal moet begin bou aan ‘n kernspan om met die praktiese uitvoering van my pligte te help. Ons het ‘n regsgeleerde en ‘n paar grafiese kunstenaars aangestel om te help. Later het ‘n sub bygekom.

Ons span doen deurlopende groepsprojekte soos advertensiefokusse en redaksionele opleiding wat ons dan opvolg met hulpmiddels, soos ‘n bloudruk vir brekende nuus wat ons na takke uitrol.

Julle is ook besig om jul aanlyn-teenwoordigheid uit te bou…

Ons het ook ‘n uitstekend webwerf, Caxton Classroom, gebou, waar ‘n volledige opleiding-sillabus gevolg kan word vir joernaliste en verkoopskonsultante.

In 2020 het die CLM-digitale portefeulje deel van my pakkie geword. Die digitale strategie, verweef met koerante, is vir my soos ‘n ‘huwelik’ waar beide mediums steeds relevant moet wees en finansieel moet kan oorleef.

Die Covid-pandemie het ‘n groot impak op die proses gehad. In Maart 2020 was die maatskappy se opdrag om ‘n Covid-span saam te stel wat deurgaans moes toesien dat elke handelsmerk/publikasie toepaslik bly deur volgehoue verslaggewing oor die pandemie en plaaslike nuus aan lesers te bied.

Hiervoor het ek 30 spanlede gekies wat uit redakteurs, senior joernaliste, subs en grafiese kunstenaars bestaan het. Ons het ‘n rooster saamgestel en was 24/7 aan diens. Die inhoudstrategie was om alle pandemienuus so eenvoudig moontlik aan die lesers oor te dra. Ons het veral na ons sosialemediagehore geluister en daarop gereageer.

As daar byvoorbeeld enige regulasies afgekondig is, het ons gevra: “Hoe raak dit die man op straat?” Ons het beriggewing hiervolgens aangebied. Onder elke berig het ons ‘n Caxton-riglyn verskaf sodat die publiek en owerhede regstreeks met ons kon skakel sou ons feitefoute gemaak het.

Binne dae is ek en Helene Viljoen, ons regspraktisyn, oorval met navrae oor kostekorte, vervoerprobleme, gestremdes wat permitte vir helpers wou hê en honderde meer. Ons kon die netwerk van Caxton plaaslike koerante gebruik om honderde mense by te staan met voedsel-, mediese hulp en ander verwante (meestal sosiale) probleme.

Ek dink iewers lê daar ‘n paar hoofstukke in ‘n boek oor hierdie tydperk. Daar is sulke mooi voorbeelde van die groot verskil wat ons spanne in gemeenskappe gemaak het.

Die Covid-span het die basis gelê vir ‘n sentrale digitale span wat vandag steeds al ons publikasies ondersteun. 

Opleiding lê jou na aan die hart…

Ons doen geweldig baie opleiding oor ‘n wye verskeidenheid van onderwerpe en meer as 1 000 registrasies is in 2024 genoteer van personeel wat opleiding bygewoon het. Tans is ons druk besig om vere reg te skud en huis skoon te maak op ons digitale platforms.

Dit alles gebeur nadat jy lank redakteur was van die Laevelder? Iets oor redakteurskap van ‘n plattelandse koerant? Of is die Laevelder nie plattelands nie?

Om redakteur van ‘n plaaslike koerant te wees, is ‘n groot eer en voorreg. Jy is in die hart van die gemeenskap en moet oor die lief en leed verslag doen. Dieselfde persoon wat vandag op jou voorblad pryk omdat hy iemand uit geld geswendel het, kry jou vanmiddag in die Spar. Jou onderhoud met ‘n ouerpaar wat hul kind verloor het, of die familie van iemand wat in ‘n plaasaanval dood is, is bekend aan jou. Beriggewing moet verantwoordelik en met meelewing gedoen word.

Caxton-redakteurs word aangemoedig om betrokke te wees by gemeenskapsprojekte en op dié manier ‘n blywende verskil te maak. Ek spot altyd en sê: “Jy moet aanvaar dat almal in jou gemeenskap twee werke het – hul eie en die ander as redakteur van die koerant.”

Jy word heeldag vertel waaroor jy moet berig, hoe goed (of swak) ‘n storie aangebied is en watter stories gemis is. Ek het dit nog altyd as ‘n kompliment beskou en as ek nou redakteurs oplei, benadruk ek dit as jou lesers nie meer omgee wat jy publiseer of ophou om jou te bel of uit te trap, het jy relevansie en die respek van jou gemeenskap verloor.

Ek dink terug aan my jare as groepredakteur by Laeveld Media met ‘n warmte in my hart. Daar was soveel wonderlike geleenthede wat op my pad gekom het en tot vandag bly ek diep gewortel in die gemeenskap met bronne wat my steeds skakel. Die huidige redakteur, Stefan de Villiers, en ek het ‘n uitstekende werkverhouding en Laevelder bly ‘n gerekende plaaslike koerant onder sy leierskap.

Maar waar het dit begin? Skool en toe studie by die destydse Technikon Pretoria?

O genade, toe ek vier jaar oud was! My pa en ma het my die Rapportjie genoem. Ek kon stories vertel en natuurlik nie geheime hou nie. (Ek het dit intussen aangeleer en beskou dit as een van die belangrikste vaardighede van ‘n redakteur.)

My opstelle het die onderwysers verbaas en was vol intriges wat ek in “grootmens-geselskap” opgetel het. Ek was nie eintlik seker wat om te gaan studeer nie, maar my pa het die stap geneem om my vir keuring te neem na die destydse Pretoriase Technikon, vandag Tshwane Universiteit van Tegnologie.

Irma en haar klasmaats by die Technikon Pretoria.

Vertel meer oor jou studies en dosente…

Ons het die beste dosente gehad! Ek was in 1987 ‘n eerstejaar en as ek terugdink, was ons geseënd om ons joernalistieke vaardighede onder die streng (dog vriendelike) hand van dr. Pedro Diederichs, dr. George Claassen, dr. Denys Rhoodie en so meer te leer.

Ek was baie erg oor Pedro (en is nog) en toe ek in my derde jaar die departement se tegniese assistent was, was hy soos ‘n tweede pa. George het bo-oor my kop gepraat. Dit het hierdie plattelandse meisie lank geneem om mediasosiologie baas te raak. Hoewel dr. Rhoodie ons met tye aan die slaap gepraat het, het hy die belangstelling wat ek van kleintyd in die politiek gehad het, geprikkel.

Ons was 30 studente wat gekeur is en as ek reg onthou, het 12 van ons klaar gemaak. Ons was een van die eerste fakulteite wat swart studente gehad het en vandag is een van my klasmaats, Dana Snyman, self ook hier in die Laeveld.

Toe jou eerste joernalistieke pos…

Aan die einde van my derde jaar, wou ek nog bly, maar Pedro het my behoorlik onder die gat geskop en gesê gaan werk in die grootmenswêreld. Ek het my toon in die joernalistieke waters gewaag en eers by die Kommissie vir Administrasie se media-afdeling gewerk. Ek het navorsingsartikels geskryf en die voorreg gehad om oor verskeie staatsinstellings, soos die lugmag, weermag en hospitale, te skryf en die land vol te vlieg.

Ek het wel besef dat die staatsdiens nie my toekoms is nie, ek het te veel keer die protokol oortree waarvoor ek oor die vingers getik is. Ek het in 1991 teruggetrek Laeveld toe en as junior joernalis by Laevelder begin werk.

Hoogtepunte in jou loopbaan?

My loopbaan is een groot hoogtepunt. Ek is al so baie keer gevra hoekom ek vir 34 jaar by Caxton gebly het en my antwoord is eenvoudig: Ek het altyd gesê die dag as ek verveeld raak, skuif ek. Die adrenalien bruis deur my are en hoewel my verantwoordelikheid verander het, kan enige dag steeds omvêr gegooi word as daar ‘n groot storie by ‘n publikasie breek en ek moet help.

My passie as joernalis is ondersoekende en hardenuusstories. Ek kan nie “fluff” skryf nie. Ek het my eerste pryse in die vroeë 90’s gewen met ‘n portefeulje wat gefokus het op ‘n ondersoek oor Sanlam se voorste makelaar in Suid-Afrika. Sanlam het die man vereer met ‘n bronsborsbeeld van homself wat hy as Goue Adelaar verwerf het. Dít is die hoogste toekenning wat die maatskappy aan ‘n bemarker gee. Maar, om daar te kom het hy hom gewend tot bedrog, vervalsing van handtekeninge en ander oortredings. As mens jonk is, is jy vreesloos.

Van Irma se berigte wat Sanlam geskud het. Dit het ook aan haar, ironies genoeg, die Sanlamprys besorg.

Die ondersoek het lank geduur, verskeie artikels is gepubliseer en toe Sanlam uit my navrae begin agterkom ek weet baie meer as wat aanvanklik vermoed is, het dit begin moeilik raak.

Die man het ‘n interdik teen publikasie gekry wat ons teëgestaan en gewen het. Toe ek uit die hof in Pretoria stap is ek dadelik per vliegtuig terug Nelspruit toe waar ek ‘n exposé  van vier bladsye saamgestel het. Ons het daardie nag na 02:00 begin druk en die storie was die volgende oggend op straat.

Die res van die Sanlam-stories was oor die  bestuurslede wat bewus was van sy metodes en niks gedoen het nie en sodoende is die streekbestuurder en ‘n paar seniors afgedank. Ek het daardie jaar die Sanlam-prys as beste joernalis gewen. Hulle was destyds die hoofborg van die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste se jaarlikse prysuitdeling.

Ek kan onreg nie verduur nie en as mense te na gekom word (veral bejaardes en kinders) sal ek aanhou krap tot ek die waarheid kan bloot lê. Dit maak ’n mens nie altyd die gewildste persoon in die gemeenskap nie. So, ek het my goeie porsie houe al gehad.

Ek is gedreig, my voertuig is met ‘n skerp voorwerp gekrap, my motorbande is gesny en toe ek op politieke vlak begin krap het, is ek met die dood gedreig.

‘n Tragedie wat uitstaan, was in September 1999 toe ‘n toerbus met Britse toeriste naby Lydenburg in ‘n ongeluk betrokke was. Minute na die gebeure het ‘n kontak my laat weet en ons is inderhaas na die toneel. Dit was ‘n verskriklike toneel met 27 bejaardes wat dood is. Die Britse pers het baie druk op ons geplaas om foto’s en inligting te kry.

Die Laevelder se beriggewing oor die Long Tom-ramp het internasionaal opslae gemaak.

Ons het daardie dae nog foto’s ontwikkel, dit moes geskandeer word en dan met die outydse ‘dial-up’ per e-pos gestuur word. Ons stelsel kon dit nie hanteer nie en ons het ‘n goeie kontak by Telkom gehad wat ons gehelp het om die foto’s teen ‘n vinniger spoed uit te kry. ‘n Redakteur het my die volgende oggend gebel en gesê: “You are the stars of Fleet Street today.”

Laevelder is op ‘n Dinsdag en Vrydag versprei, maar (met die ongeluk het ons ook ‘n Woensdagkoerant gehad. ‘n Mens doen nie stories met pryse in jou agterkop nie, en ek voel geëerd dat my werk erken is met die raps meer as 40 pryse.

Ek het in 2024 weer ‘n ondersoek begin na ‘n prokureur wat ‘n lang lys van kliënte klaarblyklik op verskeie maniere ingedoen  het. Die saak is deur die TV-program Carte Blanche opgevolg. (Hooffoto heel bo: Carte Blanche se Govan Whittels gesels met Irma Green oor haar beriggewing.) Kort voor hul uitsending in November laasjaar (2024) het sy die Saterdagmiddag ‘n interdik-aansoek teen Carte Blanche en Laevelder (waarvan ons nie eintlik deel moes wees nie) aangevra. Ons het die Sondagmiddag om 15:00 die saak in die Mpumalanga-Hooggeregshof gewen. Die insetsel kon om 19:00 uitgesaai word. My beriggewing duur voort en ek pas dit in tussen al my ander take. 

En die laagtepunte?

‘n Baie groot oordeelsfout wat ek gemaak het. Daar was ‘n verdrinking van ‘n kind in ‘n plaasdam en die fotograaf het ‘n uitstekende foto geneem van die duikers wat die liggaam uithaal. Die kind was nie herkenbaar nie. Ek was onseker en het selfs in ons gebou rondgegaan en vir die personeel soos ons administratiewe dames gevra hoe hulle oor die foto voel. Dit was ‘n 50/50 en ek het die foto gepubliseer. Die gemeenskap het baie negatief en fel gereageer.  Ek was erg ontsteld en het ‘n publieke verskoning geskryf.

Ek was hard getref deur die feit dat ek mense so ontstel het. Ek word (weer) erg bewoë terwyl ek dit net weer op skrif stel vir doeleindes van hierdie artikel. Die damwal in my het gebreek toe die ouers by ons kantoor opdaag en vir my kom sê hulle vergewe my en dat ek ook net ‘n mens is.

Ek dink my uitkyk op die dood en die impak daarvan op familielede het daardie dag verander. Ek is tot vandag oorversigtig wanneer grafiese beelde van rampe, ongelukke en dood gepubliseer word. Die instel van die streng perskode wat etiese joernalistiek bevorder is een van die beste wendings wat in die bedryf plaasgevind het.

Vertel ons iets oor jou kollegas.

As redakteur het ek daarvan gehou om ‘n verskeidenheid van persoonlikhede aan te stel. Daar moes altyd die kreatiewe hippie wees, iemand wat van omgewingsake hou, want ons was immers op die wildtuin se drumpel, die sosiale vlinder en dan die geharde joernaliste wat van bloed en ondersoekwerk hou.

In elke werksonderhoud het ek ‘n kandidaat gevra: “As jy kon kies om net sekere stories te doen, wat sou dit wees?” Hierdie antwoord het my baie keer gelei om die besluit te maak oor wie sou inpas. My standaard-verwelkoming was dat hul 80% gaan doen waarvan hul hou, maar dan moet hul 20% kakkies doen. Al wat ek vra, is dat laasgenoemde met dieselfde ywer aangepak word.

Ek het kantoor-politiek vinnig uitgestryk. Die feit dat soveel oud-kollegas tot vandag boesemvriende is, wys hoe belangrik dit is om ‘n goeie werkomgewing te skep en te handhaaf. Dit was vir my lekker om die span met verrassingsuitstappies te bederf en sekere tradisies, soos dat jy vir die kantoor slap chips moet koop met jou eerste voorbladstorie, word steeds gehandhaaf.

Kollegas soos Sunette Visser, wat nou groepredakteur by Rekord in Pretoria is, het haar eerste joernalistieke treë in ons kantoor gegee. My kreatiewe sielskollega, Mirelle Jacobs, en ek werk al meer as 15 jaar sy aan sy. Ek wil eintlik vermy om mense by die naam uit te sonder, want ek het iets uit elke werkverhouding geleer.

Wat is die sake in die joernalistiek wat jou bekommer?

Die toekoms van goeie joernalistiek. Elke mediahuis het dieselfde uitdagings. Daar is min hulpbronne en ons maak al hoe meer staat op jong, onervare joernaliste om die moeiliker werk te doen. Die media se rol as waghond was nog nooit so belangrik soos nou nie, maar dis moeilik om by al die sake uit te kom.

Die veiligheid binne die beroep en joernaliste wat openlik gedreig word, is beslis kommerwekkend. Ons moes al ‘n paar keer van ons kollegas hervestig, van stories verwyder en ons is nou gewikkel in ‘n stryd teen ‘n stadsraad wat ons joernalis hardhandig uit ‘n raadsvergadering verwyder het. 

Jy bring geesdrif en energie na jou beroep. Maar kan ’n mens dit alles uitleef en ‘n normale gesins- of vriendskapslewe hê? Jy werk tog nie net 8 uur per dag nie?

Hoe ouer ’n mens word, hoe meer besef jy alles kan nie net ‘n gejaag wees nie. Dis steeds moeilik om balans te handhaaf en ongelukkig in ons beroep wag stories nie om te breek nie – dit kom op ongeleë tye. My kinders is uit die huis en ek is jaloers op my tyd. My vriendekring is vol interessante mense en ‘n heerlike om-die-tafel-kuier, propvol debat en uiteenlopende menings hou die lewe interessant.