INGO CAPRARO PRAAT OOR ‘SON’ EN ‘SONDAG’

In antwoord op ons vrae rakende die ontstaan van Son as weekblad (genaamd Kaapse Son), die verskillende streekuitgawes daarvan en hoe dit gemorfeer het in ‘n dagblad gemik op bruin mense, asook die mislukte Sondagblad genaamd Sondag, het die stigterredakteur van Son, Ingo Capraro, insiggewend gereageer oor sy rol.

Kaapse Son is wel as weekblad begin. Met behalwe ek net vier ander redaksielede. Nadat ek twee dummy-koerante  laat opmaak, met die meeste stories wat ek self uitgesoek en geskryf het, het ons dit twee keer met fokusgroepe laat toets .  

Omdat ek besef het dat ‘n Burger-light glad nie sou werk nie, het ek besluit dat die taalgebruik – en uiteraard  inhoud – aansienlik van die DB s’n moes verskil. Ons sou skryf soos mense praat. Dit het van my nogals ‘n kopskuif geverg, na dekades se suiwer geskrewe Afrikaans.

Ingo Capraro, stigterredakteur van Son, in 2020 by die laaste Beeld-kuier op Salie de Swardt se plaas buite Stellenbosch.

Die fokus was op “soomloos Afrikaans”. M.a.w bruin en wit Afrikaanstaliges. Dis so deur die direksie goedgekeur. Ons het gou agtergekom dat veral die taal, soos die bruinmense Afrikaans praat, ‘n wenner was. Ons het egter ook ‘n aansienlike aantal wit lesers gehad.

Ons het sonder ‘n bladopmaker weggespring. ‘n Stelselmonitor, sonder enige ervaring daarvan, het ons genadiglik daarmee gehelp. Dit was ook ‘n lang gesukkel om ‘n sekretaresse te kry, terwyl die sirkulasie groei, en al hoe meer mense ons met nuuswenke gebel het. 

Son se gewildheid het veral onder bruin mense byna soos ‘n veldbrand versprei.

Bestuur se verweer was dat ons ons by die sakeplan, insluitende weeklikse verkope, moes hou. Wat nie rekening gehou het met die spoedig aansienlik meer as 35 000 weeklikse teikenverkope.

Bestuurders, boontjietellers, het ek gou agtergekom, hou hulle beursies styf toe….

Intussen het die weeklikse Son ‘n dagblad geword.

Toe ek eendag van vakansie terugkom, moes ek verneem dat ‘n senior bestuurder in my afwesigheid aan my nommer twee opdrag gegee het dat hy “nooit weer ‘n wit gesig in die koerant wil sien nie”.

Met hom stry, het nie gewerk nie. Hy was erg baasspelerig. Dit was lynreg teen Naspers se baie lang tradisie dat bestuur nie by redaksionele sake inmeng nie.

Die Noordelike, Oos-Kaapse en Vrystaatse weeklikse uitgawes is begin toe die weeklikse Kaapse Son sukses begin behaal het. Die bestuurder het ook in my afwesigheid Son Oos se uitstekende wit redaktrise, sonder om my te raadpleeg, met ‘n bruin redaktrise vervang. Wat later oorlede is. Daar bly toe net een redaksielid daar oor. Dit het uiteraard die doodsklok vir Son Oos ingelui.

Nog voordat Noord en Oos gesluit is, het bestuur my ‘n Engelse uitgawe van Son laat loods. Cape Sun. Ek het baie gesukkel om ervare Engelstalige joernaliste te vind. As ’t ware “skraping the bottom of the barrel”.

Dit het vir my aansienlike energie en baie lang werksure gekos, om nou ook nog Cape Sun te moet hanteer. Al die uitgawes, ook Son Noord en Son Oos het nog bestaan, is in Kaapstad gesub en opgemaak.

Heel voorspelbaar het Cape Sun misluk.

Sondag

Media24 het onder die redakteurskap van Mike Vink van Beeld in ‘n stadium ‘n landwye Sondagkoerant – Sondag — geloods. Met ‘n groot redaksie. Mike se doelwit was om ‘n “gehalte-poniekoerant” uit te gee.

As hulle my sou gevra het, sou ek vir hulle vertel het dis “pie-in-the sky”.

Ek vermoed Media24 het vooraf swak of geen navorsing oor die lewensvatbaarheid van so ‘n Sondag gedoen nie. Hoe op dees aarde wou hulle met Rapport meeding?

Die meeste van Son Noord se redaksie het na Sondag  oorgestap. Koebaai, Son NoordSondag het later net nog in die noorde verskyn, aangesien hy landwyd al swakker gevaar het.

Eendag bel Koos Bekker my – ek was lankal afgetree – en vra vir my of ek dink ek sou Sondag kon red. Hy moes teen die volgende dag weet, want die direksie wou hom toemaak.

Ek het hom in sy kantoor gaan spreek en gesê ek was destyds hoogs die moer in toe die grootste deel van my noordelike redaksie Sondag toe is. Koos het sulke goed as “kannibalisme” beskou. En hy’t al ‘n hele aantal besighede moes toemaak en eenvoudig “aanbeweeg”, het hy vir my vertel.

In my onnoselheid het ek ingestem, en ironies genoeg in Mike Vink se losieshuis in Melville gaan bly. Ek het net elke tweede week huis toe gekom.

Mike Vink is in ‘n stadium as redakteur met Willem Pretorius vervang. Met my aankoms by Sondag het hulle vir my vertel Willem het hulle meegedeel hy wil van Sondag iets soos ‘n tweede Vrye Weekblad maak.

Wat?! Hahaha…

Toe ek Sondag (se redaksie) vra wie hulle teikenlesers is, het niemand geweet nie.

Ek sê toe vir hulle ons lesers is voortaan mynwerkers, loodgieters en ander ambagsmane. Basies werkersklas.

Ek het ook besef daar was te veel rubrieke, en nie naastenby genoeg nuus nie. Van die rubriekskrywers het toe verslaggewers geword. (Als behalwe ‘n gewilde besluit.)

Dit het betreklik gou begin werk en ons het Sondag begin omdraai, wat sirkulasie betref. Daar het ook, weliswaar baie stadig, advertensies begin verskyn.

Ek was uiteindelik moeg om my gesin net elke twee weke te sien, en het bedank.

Peet Bothma van Beeld het die nuwe redakteur geword. Dit het ongelukkig nie gewerk nie en Sondag is helaas nek omgedraai.

Om en by drie jaar gelede het Media24 my genader en gevra of ek bereid sou wees om as konsultant by Son te werk. Sirkulasie het aansienlik gedaal. Wat ek gedoen het. Drie maande lank.

Ek het ‘n lywige verslag met aanbevelings en kritiek opgestel. Die redakteur het daaroor gekla. Hoekom sê ek nie ook wat hulle reg doen nie? Asof dit my werk was. Ek  het tussen die subs gesit, hulle bearbei en daagliks e-posse vir die hele redaksie uitgestuur met wenke, en kritiek oor swak skryfstyl, ens. Ens.

Een van die eerste dinge wat ek gedoen het, was om die koerant se lesersprofiel in die hande te kry. Tot my verbasing was 18 persent nog wit. Toe ek vir die redakteur aanbeveel om ook weer op wit lesers te begin fokus, het hy nogals nors gesê hy sal nie “uit sy pad uitgaan” om wit stories te laat soek nie.

‘n Verspeelde geleentheid  om die sirkulasie te laat groei.

Son het teen daardie tyd  te veel op misdaad gefokus en heeltemal te min sagte, snaakse, stuitige, en “weird and wonderful”  stories gedra. Wat voorheen sy suksesresep was. M.a.w., die “pace” het nie gewerk soos dit moes nie.

Ook hierdie aanbeveling het die redakteur verwerp.  “Ons gaan nie weer soontoe nie.”

Nou ja, dis min of meer die storie.

Aldus Ingo Capraro.