Ilse Salzwedel het al vir al wat media is geskryf: koerante en tydskrif, radio en sosiale media, meestal as ‘n vryskut. Plus ‘n hele bondel boeke. Sy vertel haar storie tot hier toe aan JOHANNES FRONEMAN.
Ilse, jy het op Stellenbosch geswot, maar nie joernalistiek nie. BA Politiek?
Dis belangrik om te sê dat ek eers onder die wanindruk was dat ek ‘n prokureur wil word – dit na ‘n ‘n hele skoolloopbaan waarin ek eintlik altyd geskryf het. Opstelle, gedigte, debatstoesprake – altyd onder groot aanprysing van fantastiese onderwysers in albei tale. My eerste “artikel” was in St. 4 in my laerskool (Orban in Windhoek) se eerste skoolkoerantjie. Ek was ook sedert laerskool altyd in die span as daar ‘n vasvra-kompetisie was. Ek het drama geneem, eistedfodds gedoen, en alles gelees waarop ek my hande kon lê. Ook van kleins af elke dag die koerant, en alle tydskrifte wat my ma gekoop het of wat ek by haar vriendinne kon lees.
Die naam Ilse Salzwedel het deur die jare by talle artikels verskyn — veral in Rooi Rose.

So, ek kon praat en skryf en was ontsettend nuuskierig en kompeterend en uitgesproke oor reg en geregtigheid, en al die volwassenes in my lewe het saamgestem: prokureur moet sy word!
Maar ek en regte het glad nie gekliek nie. Politieke wetenskap het my kop oopgeblaas, en skielik het alles sin gemaak. Ek het in die destydse Suidwes-Afrika grootgeword in die tyd van die Grensoorlog, en met ‘n radio wat altyd aan was. Natuurlik vir die stories – daar was nog nie televisie nie – maar ook vir die nuus en programme soos Monitor. Elke oggend 06h45, met die klokkespel op Monitor, was ek aan tafel vir ontbyt. “Tossie Lochner uit Italië” het my kinderverbeelding aangegryp. Nuus het my gefassineer. Ek het alles oor die oorlog en die politiek gevolg. (O ja, en Tossie Lochner het my eerste ATKV Radioveertjie aan my oorhandig. Dit was onwerklik om daar op die verhoog te staan langs ‘n vrou wat vir my as klein dogtertjie ‘n onbereikbare droom verteenwoordig het.)
Een van my takies as ‘n laatlam was om elke dag my pa se skoene skoon te maak. Dis gedoen op ‘n ou koerant. Ek het permanent raas gekry omdat ek dan skoon verlore geraak het in die lees van die ou koerant …
Die politiek wat in Suidwes aan die uitspeel was, het my verstom. Ek was seker so sewe of agt toe ek reeds vir my pa gesê het die blankes in Suidwes kan maar vergeet om Swapo ooit te wen as daar ‘n verkiesing gehou word, want hulle kan nie eers saamstaan nie. (Dit was in die tyd waarin oom Dirk Mudge, soos ek hom geken het, die DTA gestig het, en Aktur van die NP weggebreek het. Die Republikein-koerant is ook gestig.)
Jy was dus vir die media en politiek bestem?
Met ‘n lied in my hart gaan swot ek toe regte, maar verander in my derde historiese jaar (maar my tweede jaar van privaatreg) van studierigting en behaal ‘n B.A. met politieke wetenskap en ontwikkelingsadministrasie. Die vak word deesdae “development economy” genoem, en gaan oor ontwikkelende ekonomieë, regeringstelsels, die rol van nie-regeringsorganisasies, hoe ontwikkelingsmodelle nooit van buite afgeforseer moet word nie, maar saam met die plaaslike gemeenskappe ontwikkel moet word, ensovoorts.
‘n Loopbaan as radiojoernalis en -aanbieder was kwalik in Ilse se gemoed as student. Hier is sy besig met ‘n onderhoud met die skrywer Etienne van Heerden.

Waarheen mik jy toe?
So, die kaart vir my lewe was daar, maar ek het met ‘n reuse-ompad eers beland waar ek nou is, en dit ook nog byna misgeloop (lag). Toe ek einde 1991 gradueer met politieke graad en ‘n droom in my hart om ‘n diplomaat te word, was dit presies op die verkeerde tyd van Suid-Afrika se politieke geskiedenis. Ek was nie eers Nusas-links op Stellenbosch nie, maar was op die primkomitee wat koshuise oopgestel het vir alle rasse, en het daarna ook vir die SR-gestaan.
Dus, net te liberaal vir die NP-regering om sekuriteitsklaring te kry (ek was saam met ‘n klomp mense by studentepolitiek betrokke wat later by die WVK na vore getree het as spioene – een van hulle was Mark Behr). ‘n Jaar of drie later, met die aanbreek van die nuwe Suid-Afrika, was ek te wit en te konserwatief na die ANC-regering se smaak om een te word.
Toe word ek maar ‘n gefrustreerde kelner/ gastehuisbestuurder/restaurantbestuurder/girl Friday. Watter werk ek ook al kon vind. En trou en trek saam met my man Richardsbaai en later Christiana toe agter sy werk aan.
Al verder weg van ‘n medialoopbaan?
In Richardsbaai het die mediagode egter vir my begin glimlag – Rapport was op soek na streekskorrespondente wat nuusbrokkies uit die streke kon aanstuur. Na een gesprek met Buks Pietersen van Rapport, was ek Noord-Natal se korrespondent. My eerste wenke het Buks dadelik ‘n joernalis (Pieter Swart) en ‘n fotograaf laat stuur om die stories te kom skryf. Toe sê Pieter Swart vir Buks hy dink dis onnodig vir hulle om so ver te ry, want hy dink ek sal die artikels kan skryf. En so het dit begin!
In Christiana het ek ewe voor-op-die-wa ‘n artikel oor stiefma-wees (ek was een) aan rooi rose voorgelê. Maar hulle het toe pas van ‘n weeklikse tydskrif na ‘n tweeweeklikse tydskrif verander, en hulle vra of hulle dit maar vir Vrouekeur kan aanbied. Die destydse redakteur van Vrouekeur het daarvan gehou, my gebel en gevra of ek lus het om vir hulle te skryf. My eerste artikels was gesondheidsartikels – iets waarvan min mense glo gehou het. (Ek het later verder daarin gespesialiseer en ook ‘n prys of wat daarin gekry.)
Op die platteland het ek ook vir die plaaslike streekskoerantjie geskryf – teen 10c ‘n woord. Oor enige iets, van die aartappelfees tot nuusgebeure op die dorp.
Toe trek ons Johannesburg toe, en die mediawêreld gaan regtig vir my oop. Nou kon ek onderhoude doen met mense, en so begin ek vryskut vir almal wat van my werk hou.
Ek het aanhou skryf vir Buks by Rapport, en later ook vir Peet Bothma begin advertensiebylaes skryf. Ek was vir ‘n onderhoud vir nag-sub by Beeld kort nadat ons in 2002 hierheen getrek het, maar omdat my seun toe net 5 maande oud was, het ek besluit om nie die tradisionele mediaroete na te jaag nie, en eerder net aan te hou vryskut. Ek vermoed my lewe en loopbaan sou anders uitgedraai het as ek daar ‘n ander keuse gemaak het.
Na my egskeiding in 2006 moes ek skryf vir oorlewing, en ek het letterlik alle versoeke en opdragte van redakteurs aanvaar. Trouens, van enige iemand wat enige iets geskryf wou hê. Ek het ingestorm waar regdenkende engele nie eers sou vlieg nie, maar met elke opdrag geleer. En nuwe vaardighede ontwikkel. Ek glo ook daarin om bewustelik nuwe vaardighede aan te leer – om te keer dat ‘n vorige baas my nuusbriewe totaal opfoes met KI, het ek geleer om ChatGPT baie goed baas te raak. Vir almal wat bang is dat KI ons as joernaliste gaan vervang – vrees niet. Daar is nuanses en dinge wat professionele joernaliste kan bied wat KI nooit sal kan na-aap nie.
Vertel ons van die Albertonse koerant…
Dit was kort nadat ons Johannesburg toe getrek het. So rondom 2003, 2004. Die ure sou perfek wees vir ‘n ma met ‘n 4-jarige en ‘n 1-jarige. Maar ek was nie gewild nie – ek wou meer uit die joernaliste kry en die koerant meer maak as ‘n gratis nagedagte. Toe word ek afgedank, glo weens ‘n gebrek aan “people skills”. (Natuurlik was dit onregmatig, en ek het ‘n vergoedingsaak teen hulle gemaak en gewen). En jare later verskeie pryse by dieselfde groep se tydskrif-afdeling gewen. (Ironies, of hoe?)
Maar die waarheid is dat die afdanking my selfvertroue nogal geknou het. Ek het dit oorweeg om my kamera en rekenaar te verkoop – dit was duidelik dat ek nie bestem was om ‘n joernalis te wees nie.
Tog het iets in my bly voortbeur – ek vermoed dis my ewige nuuskierigheid oor mense en hul stories, en oor kwessies waarvan ons almal moet kennis neem. Ek het gevryskut vir Finesse, Maksiman, Soul, Joy, Rooi Rose, Beeld, Rapport, Baba en Kleuter, Dit (wat later Idees geword het), De Kat, Rapport se Sondagtydskrif, BY… Toe Media24 besluit om Leef bekend te stel, was ek saam met wyle Schalk Schoombie en Teresa Coetzee die vaste vryskutte vir die beginredaksie.
Vir lank was jy ‘n vryskutskrywer vir hoofsaaklik Rooi Rose. Gee ons ‘n idee van die onderhoude en stories.
Vyftien jaar, om presies te wees. Dit het ook “toevallig” gebeur – ek het ‘n artikel aan hulle voorgelê, en Martie Pansegrouw het so baie daarvan gehou dat sy my gevra het om redaksievergaderings te begin bywoon, artikelvoorstelle te maak en maandeliks vir hulle te skryf.
‘n Tipiese artikel met ‘n bekende. Ilse se gesprek met Max du Preez is mooi in Rooi Rose aangebied.

Ek het alles geskryf waarvoor niemand anders lus was nie. Later het ek vaste artikels gehad, soos Rooi Stoel (wat my idee was, want daarin kon ek soms ‘n paar ongemaklike vrae vra vir ‘n politikus of ander belangrike mens). Ek het ‘n troeteldier-artikel behartig, later die maandelikse Rooiwarm Man oorgeneem, en uiteindelik heelwat van die voorblad-artikels en “voorstories”. Die stories wat mense hopelik die tydskrif weer sal laat koop.
Daar was baie interesssante mense: van mense wat lesers destyds beïndruk het (soos Jacob Zuma, toe nog adjunkpresident en tog te vriendelik met Afrikaners), Tony Leon (regtig interessant!), Gayton McKenzie (oor sy tronkboek en werk om jongmense uit die tronke te hou, kort na sy vrylating en getuienis voor die Jali-kommissie na Grootvlei-korrupsie), Patricia de Lille (toe burgemeester van Kaapstad), Raymond Ackerman (wat ‘n gentleman en geniale sakeman!), tot radio-omroepers, rugbyhelde, sangers (ja, Steve ook!)…
Ek het tussen 2005 en 2020 oorkant feitlik al die sepiesterre gesit. En die twee baie uiteenlopende Riaans: Van Heerden en Cruywagen. Albei is heel anders as hul openbare personas. Toe word Rooi Rose oornag gesluit.
Maar dis nie die sepiesterre wat ek sal onthou nie. ‘n Paar van die bekendes wat ek hierbo genoem het, se stories sal my altyd bybly. Maar gewone mense se stories fassineer my nog altyd baie meer. Soos die van Aher Arop Bol, die Soedanese vlugteling wat as 3-jarige van sy ouers geskei is toe die oorlog in Soedan uitgebreek het. Hy het agter opvoeding aan van vlugtelingkamp tot kamp gevlug. As 17-jarige het hy uiteindelik in Sunnyside beland, waar sy pad gekruis het met dié van Sannie Meiring, ‘n afgetrede onderwys wat Engels gegee het vir immigrante by ‘n kerkie daar.
Sannie het verby sy velkleur gekyk en hierdie ongelooflike jongman wat letterlik op straat geslaap het, genooi om by haar in haar aftreewoonstel te kom bly. Sy het sy storie gehoor, vir hom ‘n ou rekenaar gekry waarop hy dit kon neerskryf, en via via via iemand die manuskrip by Antjie Krog uitgekry. En so is The Lost Boy, sy aangrypende biografie, uiteindelik gepubliseer. In Engels, maar ook in Spaans, Katalaans en Duits.
Ek het steeds kontak met Sannie, wat juis vandeesweek weer vir my ‘n brief aangestuur het wat Aher vir haar geskryf het. Hy het ‘n M in regte behaal deur Unisa, en is nou al ‘n pa van drie, terug in Soedan en herenig met sy familie, wat hy gedog het almal dood is in die oorlog.
Aan die ander kant van die politieke spektrum sal ek ook nie my onderhoud met Eugene Terre’blanche vergeet nie – drie dae na sy ontslag uit Rooigrond-tronk. Ons het oor sy tyd in die tronk gepraat, maar veral oor sy tronkgedigte, want my artikel het gefokus op ander poësie wat in aanhouding geskryf is – soos dié van Pablo Neruda, Breyten Breytenbach en ook Alan Boesak. Hy het openhartig en eerlik gepraat, en ek het was verstom oor hoe anders hy was as die mens wat die media voor sy tronkstraf geskets het.
O ja, en vir iemand sonder “people skills” het ek verbasend intieme dinge gehoor tydens onderhoude – as ek oor alles geskryf het wat bekendes vir my vertel het, was ek sekerlik ‘n TV-skinderprogramgasvrou op Saterdagaande.
Een weduwee van ‘n bekende het na ‘n baie emosionele onderhoud vir my gesê sy was vreeslik bang vir die onderhoud, maar toe is dit om met die tannie langsaan te kuier, en sy ontspan en praat haar hart uit. So, dis seker my tannie-langsaan-vibe, my opregte belangstelling in mense, en die menslike kondisie, wat mense laat ontspan en praat. Ek het ook nog altyd geweier om iemand direk na ‘n tragedie of ‘n skandaal te bel en te vra vir ‘n onderhoud. Ek is gewoon nie daardie soort mens wat op iemand se graf kan dans nie – en tog het daardie onderhoude wel ook na my kant toe gekom.
Maar my benadering is doodeenvoudig: vir my is dit ‘n scoop, vir daardie bekende is dit sy of haar lewe. En is vandag se koerant nie tog maar die papier waarin oormore se vis-en-chips toegedraai word nie?
Ek het baie respek vir wat mense in die openbare oog moet verduur – dit kan beslis nie maklik wees nie. Ek het ‘n klein, klein ervaring daarvan gekry toe ek by RSG begin werk en onder luisteraars se snedigheid begin deurloop het. En hulle nuuskierigheid oor ‘n mens se privaatsake, hulle kritiek op jou stem, jou aanbiedingstyl, selfs jou voorkoms.
Wie is jou gunstelingpersoon met wie jy ‘n onderhoud gevoer het?
Daar is beslis meer as een, vir verskillende redes. Riaan Manser (ek moet bieg ek sou hom probeer date het as ek jonger was – omdat hy so entoesiasties LEEF, in hoofletters, en sulke fassinerende dinge gedoen het waaroor hy so lekker gesels. En dis sy gedrag met elke onderhoud, so dis nie aangeplak nie. O ja, en hy weet van die date ding.)
Riaan Cruywagen – hy is regtig, regtig snaaks. Riaan van Heerden – hy het ‘n baie deernisvolle, filosofiese kant wat hy nie vir die publiek wys nie. My heel eerste onderhoud met ‘n baie jong, pas getroude Karen Zoïd, Tony Leon, Mmusi Maimane, pas na sy Nkandla-toespraak in die parlement, die vurige Phumzille van Damme, Lindiwe Mazibuko, Patricia de Lille toe sy nog DA-burgemeester was, … definitief Van Zyl Slabbert – ek sou die hele dag met hom kon gesels. Dit was soos om aan die spreekwoordelike voete van Gamaliël te sit en ‘n persoonlike les oor ons politieke geskiedenis te kry. Gayton McKenzie is ‘n karakter en ‘n half. My onderhoud met dr. Imtiaz Sooliman was nog ‘n besliste hoogtepunt.
My gesprek met prof. Willem Landman van DignitySA het my gevoel bevestig dat ons moet begin praat oor genadedood. Dan was daar mense soos Ruda Landman, Amore Bekker, Marieta Kruger… ek wou hulle wees, maar hulle was ook so wonderlik natuurlik en nederig en gewoon menslik.
Jy het reeds na die einde van Rooi Rose verwys (wat intussen herleef het). Vertel ons hoe jy dit beleef het.
‘n Aaklige dag. Ons het letterlik nog die Maandagmiddag aan die finale beplanning van daardie maand se uitgawe gewerk, en die volgende oggend het Martie Pansegrouw gebel en gesê ons sluit. Ek het eers gedog sy bedoel tydelik, vir die streng inperking. Toe sê sy: nee, Caxton sluit ons. Vir altyd. (Terloops, die Albertonkoerant wat my afgedank het oor ek kastig nie “people’s skills” gehad het nie, behoort ook aan Caxton – ironies, né?)
Dit was ongelooflik traumaties, hoewel ek dit nie toe al besef het nie. Ek was gelukkig, want ek het nog ander vryskutwerk gehad. So, ter wille van kollegas wat na jare eintlik ook maar soos sleg honde weggejaag is deur mediabase vir wie hulle hulle beste jare gegee het, het ek positief gebly. Hulle bemoedig. Myself bemoedig. En ‘n boek oor veerkragtigheid (resilience) geskryf terwyl ek dan nou tyd gehad het. Letterlik, ‘n boek, met die titel Floreer.
Maar dit bly verskriklik wat hulle aan ons gedoen het – nou weet ek dat ek geregtig was op afleggingsvergoeding aangesien ek vir 15 maande spertye nagekom het, aan iemand gerapporteer het, opdragte ontvang het. Destyds wou ek net met waardigheid wegstap. Die woede oor alles het my eers verlede jaar getref. Ek het al met kollegas gepraat, wat maar presies dieselfde “uitgestelde trauma” ervaar het. Joernaliste leef vir hulle werk – ons doen dit nie net nie.
Doen jy steeds vryskutwerk vir tydskrifte? Brei asb uit.
Ongelukkig nie. Toe die (nuwe) Rooi Rose ‘n paar maande na die sluiting deur ‘n ander groep oorgeneem is, is ek nie weer gevra om vir hulle te skryf nie. En na die slagting in die gedrukte media, is daar eenvoudig nie genoeg publikasies vir almal wat kan skryf nie.
Jy was ook ‘n ruk by die ATKV en OUTA … Dit sluit ook heelwat werk in sosiale media in? Hoe verskil die werk van gewone tydskrifwerk?
Ek was die ATKV se mediabeampte vir hulle 75e feesjaar. Dit was ‘n heerlike ervaring – baie meer as persverklarings skryf en publisiteit koördineer. Ek het wonderlike mense regoor die land ontmoet, media-kontakte gemaak wat ek steeds het, en deur die jare baie werk vir die ATKV gedoen op verskillende projekte.
OUTA het ook per ongeluk oor my pad gekom. Toe gebruik ek vir die eerste keer my politieke graad, en kon ek my politieke belangstelling werklik uitleef. Ek het OUTA se Twitter-rekening vir 9 jaar hanteer (tot met my aflegging twee maande gelede). Persverklarings geskryf, nuusbriewe geskryf, verslae oor ondersoeke geredigeer, ook ‘n kollega gehelp met die ondersoek na NSFAS. (Ek het die stemopnames help transkribeer, op sosiale media rondgesnuffel vir leidrade, ensovoorts.)

O ja, en ‘n boek geskryf oor staatskaping (Permitted Plundering: How Parliament Failed South Africa, gegrond op OUTA se voorleggings oor staatskaping aan die Zondo-kommissie. Ek het aan betogings deelgeneem, vlae geswaai op brûe oor die snelweg, gehelp om die nasionale narratief te fokus op staatskaping en die belangrikheid daarvan om ons demokrasie te beskerm op elke manier waarop ons kan. En by Kovsies en Stellenbosch gaslesings gaan gee oor die boek saam met Rudie Heyneke, sonder wie ek nie die boek sou kon skryf nie. Hy is die land se voorste staatskapingskenner.
Die belangrikste is dat mens as joernalis objektief moet bly – as jy vir ‘n organisasie werk, werk dit natuurlik nie so nie. Dan skryf en tweet jy daardie standpunt, wat gelukkig ooreengekom het met my persoonlike waardes en sentiment.
Intussen het jy radio-aanbieder geword en versorg weekliks Skrywers en boeke op RSG. Jy is ook nou nuusbulletinskrywer, somtyds nuusleser, en sedert middel-Junie ook deel van die Monitor- en Spektrum-span. Vertel meer daaroor…
Om deel te hê aan die beplanning van iets soos Monitor, en te help skep aan die inhoud , is ‘n kinderdroom wat waar geword het. Die toppunt van my loopbaan, dalk?
Uitsaai is ongelooflik. Dis regtig ‘n ding wat jy nie kan ophou doen as die gogga eers gebyt het nie. Ek het ook al ander reekse aangebied (Floreer of krepeer, en Van boek na silwerdoek). Dis weer my nuuskierige geaardheid! En om betaal te word om te praat en te lees en nuus te volg, is iets waaroor ek nooit blasé sal wees nie. Dis ‘n voorreg. Ook om in mense se lewens ingenooi te word via die radio.

Ilse het die program Skrywers en boeke haar eie gemaak. Inussen werk sy nou ook by RSG se aktualiteitspan as vryskut. En vryskut beteken nooit permanensie nie.
Ek besef nou dis hoekom dit vir mense maklik is om te dink hulle ken jou persoonlik. Vir baie eensames is ons die enigste stemme wat hulle hoor. Vir baie die enigste kanaal en bron van inligting. Bevoorregte mense wat skree dat die openbare uitsaaier moet sluit, want hulle het betaaltelevisie, vergeet die reuserol van radio. Weens die agteruitgang van staatsinstellings, werk baie TV-senders nie meer nie. En is die radio al wat miljoene mense het. Ek probeer om dit nooit te vergeet nie.
By die Woordfees het dieselfde omie al twee keer na my toe gekom om dankie te sê vir hoe ons by RSG sy lewe sin gee en verryk. Hy was ‘n skrynwerker by die universiteit, en wil nooit sy naam gee nie. “Nee, juffrou, dis nie belangrik nie. Ek is hier om vir juffrou-hulle te sê julle is my geselskap vandat ek in die middel van die nag wakker word totdat ek vanaand weer gaan slaap. My vrou is dood, en al bly ek by my kinders in die huis, is dit juffrou-hulle wie se stemme altyd maar daar is.”
En dit is hoekom ek glo ons wat kan, moet aanhou veg vir die miljoene Suid-Afrikaners wat deur hierdie regering verarm en verneder word. Ek kan dit nie meer met my OUTA-hoed op doen nie, maar ek kan dit op sosiale media doen, ek kan sorg dat belangrike boeke bespreek word op my program, dat nuus nie gesensor word omdat ek nie lus is vir nog ‘n depressing storie oor staatskaping nie. My rol as joernalis is om nuus te “curate” sodat dit by die mense kan uitkom wat dit moet hoor.
Jy is een van die min Afrikaanse joernaliste wat oor ‘n lang tyd as vryskutjoernalis die pot aan die kook kon hou. Dit kan nie maklik wees nie. Hoe lyk jou dag (as mens so iets kan vra)? Is jy ‘n nagwerker?
Ek was ‘n enkelma vandat my kinders 5 en 8 jaar oud was. Dit was vir my belangrik om hulle dinge by te woon. So, ek het soms by die balletklas of langs die krieketveld gesit, laptop op die skoot, besig om ‘n spertyd te jaag. Soggens as die kinders in die skool was, het ek my onderhoude gaan voer en vergaderings gaan bywoon. Saans en snags het ek geskryf. Maar dit het ‘n tol geëis, en ek het in 2017 uitgebrand. Nie dat ek kon ophou werk nie – maar ek moes slimmer werk. En gelukkig het ek toe al ‘n vaste inkomste by OUTA gehad, wat gegroei het namate ek meer werk vir hulle gedoen het.
Die laatskof vir die nuusredaksie eindig so rondom middernag. Dis vir my dan die lekkerste werktyd daar – die hele nuuskantoor is leeg, want die Engelse nuusredaksies loop vroeër, en dan is dit net ek daar. En baie sekuriteit in die gebou. Dan besef ek maar weer dat ek eintlik ‘n nagwerker is – dit was ook so op universiteit. Dan kom ek haaswakker by die huis aan, en sukkel om te slaap – maar ek sal weer die roetine regkry.
Ons werk verskillende skofte – ander begin weer 5 uur in die oggend. Dis vir my (tot my verbasing) ook baie lekker om halfvier op te staan sodat ek 5 uur agter my lessenaar kan sit en 6 uur kan nuus lees. Ek leer daagliks dat ‘n mens inderdaad die spreekwoordelike ou hond kan wees wat nuwe trieks leer. Hier “pivot” ek al weer op 56. Ek het ook by Monitor en Spektrum ingeval as vryskut-vervaardiger en -aanbieder. (Die nuuspos is ook net vryskut – meeste poste by die SAUK is steeds gevries, en die meeste van ons vryskut.)
Met soveel mense wat nou vryskut, is die pad na publikasie seker eerder moeiliker as makliker. Jou ervaring en bewese rekord tel seker in jou guns?
Dit hang af. Ja, dit help as dit mense is wat jou reputasie en werk ken. Maar as dit ‘n jong redakteur/afdelingsredakteur/uitgewer is, tel my baie ervaring en kennis niks. Dan moet ek myself ook maar weer bewys. Dit was nou so by die nuus-afdeling. Dis ‘n heel nuwe ervaring waar my vorige ondervinding wel in ‘n mate help, maar ek moes vinnig besef ek is die onervare een wat baie het om te leer.
Jy het ook ‘n paar boeke geskryf. As uitvloeisel van jou joernalistieke werk? Vertel asb meer daaroor.
Dit klink geyk, maar dit het ook per ongeluk gebeur. (Ek is gelowig, en as ek terugkyk, sien ek regtig ‘n klomp “toevallighede” wat uiteindelik gelei het tot ‘n ryklik geskakeerde en baie interessante, onvoorspelbare loopbaan.)
Ek het by die ATKV gewerk, en LAPA se bemarkingspersoon daar ontmoet. Later het sy ‘n uitgewer by LAPA geword, en my genader met ‘n idee vir ‘n nie-fiksie boek. Toe word dit ‘n ander boek. My eerste boek was pas op die rakke toe sy my vra of ek kans sien om ‘n boek oor twee susters wat misdaadtonele skoonmaak, binne ses weke te skryf, want anders moet sy haar publikasieprogram verander. En so het Bloedsusters gebeur, wat ek daarna ook in Engels vertaal het. En so het die een boek tot die volgende gelei. Ek het nou agt boeke geskryf en drie vertaal. En hier en daar gehelp met redigering en proeflees.

Hierdie is een van die boeke waar Ilse haar joernalistieke vaardigheid gebruik om met mense te gesels wat oorleef het … en selfs later weer floreer. Soos sy self by herhaling al gedoen het.
Ek het nou begin dink oor ‘n nuwe projek en boek, waarvoor ek navorsingsbefondsing probeer kry. Ek wil die paroolwet help verander, want die toepassing daarvan sorg dat geweldslagoffers eintlik nooit van die trauma ontsnap nie. Ek werk saam met drie regsgeleerdes wat sulke slagoffers verteenwoordig, en het al baie navorsing gedoen vir twee artikels en ‘n dokumentêre program daaroor. Ek wil die navorsing doen, ‘n baie toeganklike boek daaroor skryf sodat die publiek hierdie stories kan hoor maar ook hul regte as slagoffers kan ken, en uiteindelik ‘n voorlegging help maak aan die Portefeuljekomitee vir Korrektiewe Dienste. Hulle moet eenvoudig hoor hoe die wet in praktyk mense se lewens affekteer.
Ek sien jy beskryf jouself iewers as aktivis. Vertel asb meer.
Dit kom maar terug na alles wat my lewe lank gebeur het. Ek het gedink ek moet ‘n prokureur word om teen onreg op te staan. Inderwaarheid is die pen regtig magtiger as die sward. So, ek het nog altyd as joernalis probeer om kwessies te takel en sake in openbare belang oop te skryf.
By OUTA kon ek dit op ‘n ander manier doen. En ek hoop om dit nog in die toekoms te kan doen – ek dink bv. ons het ‘n groot veldtog nodig om mense te herinner aan die belangrikheid van stem in volgende jaar se plaaslike verkiesings. Dis nie net ‘n voorreg nie, maar jou plig as ‘n burger. Die eerste stap as ons hierdie land wil omdraai – want as ons vir die regering en politici wag om dit te doen, gaan ons vir die res van ons lewens wag. Ek gaan met ‘n paar mense gesels en kyk of dit nie wel moontlik is om so iets befonds en uitgevoer te kry nie. Ek ken mense wat weet hoe, en kan baie van die aanlynwerk doen.
Ek glo die media het ‘n groot rol te speel hier, en ek gaan nie hier weg nie – die verste wat ek moontlik van Suid-Afrika af sal gaan, is Windhoek, waar ek die eerste 12 jaar van my lewe deurgebring het. Ek is ‘n kind van Afrika.