HUISGENOOT

Die tydskrif Huisgenoot is in 1916 gestig en het dus reeds sy honderdste jaar van (meestal) suksesvolle publikasie beleef. Dit is die grootste Afrikaanse tydskrif en was ook die enigste wat vir ‘n wyle die magiese 500 000-sirkulasiekerf kon haal. Huisgenoot het altyd opvoeding, vermaak en wins ten doel gehad, waarin dit oor meer as ‘n eeu heen in verskillende mates suksesvol was. Dit is, kortom, die bekendste, gewildste en finansieel suksesvolste tydskrif tot nou toe in Afrikaans.

Die buiteblad van die eerste uitgawe van De Huisgenoot, Mei 1916.

Die tydskrif se eerste binnebladsye het só gelyk:

In April 1932 het die blad sy mashoof verander. Die voorblaaie van 13 en 20 Mei het so gelyk:

In 1938 is ‘n simboliese ossewatrek van Kaapstad en ander plekke na Pretoria gehou om die Voortrekkers se trek ‘n eeu vantevore te herdenk. Dit lei tot ‘n ongekende opwelling in Afrikanernasionalisme en talle gedenkuitgawes deur verskillende Afrikaanse publikasies, soos hierdie een van Die Huisgenoot.

Die Huisgenoot se voorblaaie is lank gekenmerk deur landelike of huislike tonele soos dié.

Links onder: Jan van Riebeeck se aankoms aan die Kaap is met groot feeste en spesiale uitgawes herdenk. Hierdie voorblad is geborg deur die sigaretvervaardiger Rembrandt en koppel die sigaretnaam met dié van Van Riebeeck, wat op banknote verskyn het. Regs onder: Suid-Afrika tree na vore as ‘n nywerheidsland.

Die voormalige eerste minister dr. D. F. Malan was in 1957 op die voorblad, drie jaar ná sy aftrede. In 1960 vier Huisgenoot 50 jaar van die Unie van Suid-Afrika.

Suid-Afrika word in 1961 ‘n republiek, dus heeltemal vry van die Britse kroon. Verskeie buiteblaaie van Die Huisgenoot het die land en sy simbole as tema gehad, soos dié een.

Ná die republiekwording het die blad nogmaals heelwat ruimte daaraan gegee.

Die Huisgenoot was in 1966 vyftig jaar oud. Hierdie buiteblad deur die kunstenaar Flip (skuilnaam van Horace Coaton) beeld die kontras uit tussen die geïdealiseerde huisgesin van die 1960’s en vyftig jaar vantevore.

Walter die Wonderman was in die 1960’s ‘n gunsteling strokieskarakter. Uit eie bodem het die strokiesprent regs voortgekom.

Rocco Naudé was ‘n Boere-James Bond wat die land se vyande in Londen moes teëgaan. Hierdie vervolgverhaal deur Louwrens de Kock (een van F.A. Venter se skuilname) was ‘n treffer in 1966.

Hierdie tipe voorblad het in die 1960’s algemeen voorgekom.

Op 6 September 1966 word die eerste minister, dr. H.F. Verwoerd, in die Parlement vermoor. Dit was die aanleiding tot verskeie buiteblaaie.

Op 1 Maart 1968 verskyn die nuwe staatspresident en sy vrou, Jim en Lettie Fouché, op Die Huisgenoot se voorblad. Later in die jaar doen Panorama dieselfde. Die verskil was dat Die Huisgenoot ‘n gesinstydskrif was wat gemik was op die breë publiek; Panorama was ‘n inligtingsblad, uitgegee deur die Departement van Inligting en plaaslik en oorsee versprei om die land se beeld te bevorder.

Huisgenoot het kort na sy statige voorblad met die nuwe staatspresidentspaar sommige lesers erg met hierdie voorblad geskok. Die verskuiwing van ‘n konserwatiewe, opvoedkundige blad na ‘n meer riskante, populistiese blad was dus reeds aan die gang. Lesers se sin vir wat aanvaarbaar was, was ook reeds aan die verander. Die verwysing na “beeldradio”, dus televisie, was veel belangriker as wat lesers of die redaksie sou kon raai. Die koms van televisie in 1976 sou Huisgenoot se voorblaaie en inhoud verder verander.

Die filmster Sophia Loren was in 1970 op die buiteblad.

Voordat koerante kleurdrukwerk kon doen, was foto’s van die Springbokrugbyspan die domein van tydskrifte. Hierdie foto verskyn in 1970.

Die republiek was in 1971 tien jaar oud.

Reeds in 1973 publiseer die blad hierdie foto-artikel. Die bisare en ongewone het later stapelkos geword, maar hierdie voorbeeld wys dat dit reeds jare voor Tobie Boshoff en Niel Hammann deel van die agenda was.

Teen 1974 hink die blad duidelik op twee gedagtes: ‘n Anonieme “heuningblondine uit Brittanje” is byvoorbeeld as voorbladmodel gebruik plus ‘n prikkel wat na ‘n nuwe rolprent verwys.

Die blad publiseer egter steeds ‘n “spesiale gedenk-album” oor die Voortrekker-monument.

Die inwyding van die Taalmonument word met ‘n dubbelbladfoto vereer.

Hierdie sterk aanbieding van die nou beroemde geveg tussen Mohammed Ali en George Foreman dui aan waarheen Die Huisgenoot op pad was en kontrasteer sterk met die kultuurgerigte monumentbylae en die Taalmonumentfoto.

‘n Koninklike troue … en voorspel tot die aandag wat prinses Diane later sou kry. Kultuur haal in 1975 nog die buiteblad.

Die druk op die blad om meer ligte leesstof te bied, het groter geword. Onder die redakteurskap van Tobie Boshoff het Huisgenoot laat in die 1970’s egter begin verander, maar nuusgerigte voorblaaie soos dié was nie suksesvol nie. Die vraag was na populistiese stof.

Die Prof. Erika waarna verwys word is prof. Erika Theron, voorsitter van die kommissie van ondersoek na die bruin mense. Die foto beeld plakkershuise uit die lug uit.

Vervolgverhale was altyd deel van Huisgenoot. In 1977 skuif Tobie Boshoff die grense deur vir Adam Small te vra om ‘n verhaal te skryf met bruin mense as vernaamste karakters. In die volgende jare het Huisgenoot algaande ook ‘n vriendelike ruimte vir bruin Afrikaanssprekendes geword.

Onder Neil Hammann neem Huisgenoot die groot stap om ‘n ten volle populistiese glanstydskrif te word met ‘n fokus op glanspersoonlikhede (sogenaamde celebrities) uit die TV- en vermaakwêreld, kort artikels en ‘n toewyding aan “honderdpersenters”, dus stories en foto’s wat alle lesers sou boei.

Diana, die prinses van Wallis, of informeel genoem Lady Di, het reeds voor haar huwelik met prins Charles, maar veral daarna, op die voorblad van Huisgenoot verskyn. Haar en ander bekendes se gesigte het in die 1980’s gewaarborg dat die tydskrif verkoop, soos wat hierdie artikel die blad se eeufeesuitgawe van 26 Mei 2016 vertel.

Huisgenoot se sukses het in 1987 uitgeloop op die lansering  van ‘n Engelse tweelingtydskrif, YOU, met prinses Diana op die voorblad.

Voor haar skielike dood in 1997 was prinses Diana minder prominent, maar hierdie uitgawe ná haar dood was nogmaals ‘n groot verkoper.

In Februarie 1998 het hierdie twee uitgawes verskyn met bekende politici se liefdeslewens op die voorblad. Die mengsel van plaaslike skades en skandes vermeng met binne- en buitelandse glanspersone was steeds gewild.

Plaaslike misdaad is toenemend op die voorblad gebruik terwyl onthullings oor die rugbyspeler Joost van der Westhuizen die fokus op seks en sensasie weerspieël. Hierdie voorblaaie kom uit 2002 en 2009.

2013 se grootste skokverhale was die bewerings teen ds. Solly Ozrovech en Oscar Pistorius se moordsaak. Pistorius se aanvanklike hofsaak, onskuldig- en skuldigbevinding asook uiteindelike vonnis, het vir nog vele voorblaaie gesorg.

 Huisgenoot se eeufeesuitgawe.

Huisgenoot het in 2020, soos alle ander publikasies ‘n stryd om oorlewing gevoer terwyl lesers hul al hoe meer tot die digitale media gewend het en die ekonomie weens die Covid-19-krisis verder verswak het. Maar die gedrukte media was lankal onder druk: Waar Huisgenoot op ‘n hoogtepunt 500 000 eksemplare per week verkoop het, het die syfer teen 2019 tot sowat 160 000 gesak.

Huisgenoot het met sy 90ste en 100ste verjaarsdae pragtige gedenkuitgawes uitgegee.

In 2021 stoom Huisgenoot voort. Hier gebruik hulle die nou 65-jarige Anneline Kriel vir die 33ste keer as voorbladmodel.

Lees meer in…

Amanda van Eeden se D.Litt et Phil-proefskrif, Die Huisgenoot as gesinstydskrif van 1916 tot 1978 (Unisa, 1981);

C.F.J Muller se Sonop in die suide (Nasionale Boekhandel, 1990); J.J. Spies se Tydskrifte in ‘n ander wêreld (in Oor grense heen [redakteur W.D. Beukes, Nasionale Boekhandel, 1992]).

Johannes Froneman se ‘Dominante motiewe in die transformasie van Huisgenoot, 1916-2003’(Ecquid Novi: African Journalism Studies, 2010).

Lizette Rabe se ‘Huisgenoot as tydgenoot: ’n mediageskiedkundige kroniek van ’n tydskrif as ‘skrif’ van sy tyd’ (Litnet, 2016).

E. J. Labuchagne. 1949. Die kultuurhistoriese betekenis van Die Huisgenoot. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Pretoria: Universiteit van Pretoria.

E. Schoombee. 1931. ’n Beoordeling van Die Huisgenoot as tydskrif gedurende sy bestaan as maandblad (Mei 1916 – Oktober 1923). Ongepubliseerde MA-verhandeling. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.

Johannes Froneman, Alexa Swart en Cornia Pretorius se Van Diana tot misdaad as ‘n vorm van vermaak in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 2018).