Hoofstad en Oggendblad was Pretoriase susterkoerante wat onderskeidelik die middag- en oggendmark bedien het. Sedert 1974 was hulle in ‘n heftige stryd met Beeld gewikkel en sluit albei in 1983 nadat Beeld die sirkulasiestryd gewen het en Perskor sy bedrywighede moes inkort.
Hoofstad verskyn in 1968 in Pretoria as middagkoerant met dr. A.P. (Andries) Treurnicht as redakteur. Treurnicht was tot in daardie stadium ‘n predikant van die NG Kerk en redakteur van Die Kerkbode. Sy aanstelling het heelwat belangstelling gaande gemaak en het vir hom die deur na die politiek oopgemaak.
Hoofstad was ‘n gesamentlike poging deur Afrikaanse Pers (1962) Bpk en Voortrekkerpers. (Hulle het later saamgesmelt en Perskor gevorm.) Die koms van Hoofstad na Pretoria in 1968 was ‘n groot mylpaal. Vir dekades was daar die ideaal van ‘n Afrikaanse dagblad in die stad.
‘n Bekendstellingsblad is pas voor die verskyning van die eerste uitgawe in Dagbreek en Die Vaderland geplaas. Daarin het die hoofredakteur hul ideale verduidelik.


Eerste minister John Vorster kyk na die eerste uitgawe van Hoofstad. Die blad is besit deur Afrikaanse Pers (1962) Bpk. en Voortrekkerpers (wat in 1971 onder die vaandel van Perskor deel van Marius Jooste se persgroep geword het).
Die eerste hoofredaksie en bestuurspan by Hoofstad. Voor, tweede van lanks, sit dr. Andries Treurnicht, die eerste hoofredakteur. Skuins agter hom (met bril) staan Beaumont Schoeman, aanvanklik assistent tot die redakteur, later assistentredakteur. (Foto bo en onder: Erkenning aan L.J. Erasmus se boek ‘n Volk staan op uit sy as. Uitgegee deur Afrikaanse Pers, geen datum.)

Hoofstad het ná dr. A.P. Treurnicht redakteurs gehad soos At de Beer, A.S. Lake en dr. P.G. du Plessis. Een van Treurnicht se assistente was Beaumont Schoeman, wat later redakteur van Die Afrikaner, mondstuk van die HNP, geword het. Hoofstad se laaste uitgawe was op 19 Februarie 1983, dieselfde dag dat Oggendblad publikasie gestaak het.
Onder: Die aanvanklike hoofredaksie: Beaumont Schoeman (assistent tot die redakteur), At de Beer (assistent-redakteur belas met nuus), dr. Andries Treurnicht (hoofredakteur), Jan van Vreden (assistent-nuusredakteur en later redakteur van Die Transvaler) en Felix Calitz (hoofverslaggewer).

Hoofstad het met mening weggespring en selfs ‘n spesiale uitgawe kort na ‘n rugbytoets op Loftus uitgegee.

Hoofstad se eerste redaksielede het mense ingesluit wat later ook by ander publikasies naam gemaak het. Dit sluit in hul eerste hoofsubredakteur, Bakkies Rossouw, wat redakteur van Sarie sou word (links onder). Regs onder verskyn drie van sy subredaksiespan, Pieter van der Merwe, Hermien Oberholzer en Eddie Strydom.

Regs: Hoofstad se eerste span sportverslaggewers. Heel links staan die sportredakteur, Ben Louw, en by hom Sys Meyer, Leon Gouws en Bertus Dreyer.


‘n Voorblad uit 1981.

Oggendblad
Die relatiewe sukses van Hoofstad en dalk die vermoede dat Naspers ‘n oggendblad in die noorde gaan begin, het Marius Jooste en die direksie van Perskor oorreed om met Oggendblad te begin. Dit is uit dieselfde gebou as Hoofstad uitgegee, op dieselfde rolpers gedruk en berigte is met Die Transvaler gedeel — dus ‘n betreklik goedkoop inisiatief.
Oggendblad verskyn met hierdie voorblad op 1 November 1972 vir die eerste keer in Pretoria. Die redakteur was ‘n jong Harald Pakendorf, wat uit Rhodesië (nou Zimbabwe) teruggebring is waar hy redakteur was van ‘n finansiële blad. Omdat Hoofstad reeds in Pretoria was, het Oggendblad nooit ‘n groot sirkulasie gehaal nie – veral ook weens Beeld se verskyning in 1974.

Oggendblad se eerste uitgawe.
Nadat die relatief verligte (of “liberale”) Harald Pakendorf na Die Vaderland geskuif het, het die konserwatiewe Thys Human die redakteurskap oorgeneem. Dit het diversiteit van stemme na die Afrikaanse koerantmark gebring, maar in 1983 is die koerantmark tussen Nasionale Pers en Perskor verdeel en verskyn Oggendblad vir oulaas op 19 Februarie 1983. Die blad het dus langer as tien jaar bestaan.
Oggendblad se laaste uitgawe.

Dr. A.P. Treurnicht en Hoofstad
Dr. Andries Treurnicht het in 1967 sy loopbaan as leraar in die NG Kerk laat vaar om hoofredakteur van Hoofstad te word, ‘n nuwe middagblad in Pretoria. Sy aanstelling het nogal wenkbroue laat lig, want hy was redakteur van Die Kerkbode en daarom in ‘n invloedryke posisie.
Destyds was die NG Kerk ‘n belangrike rolspeler en sy amptelike blad, Die Kerkbode, een waarvan weekliks kennis geneem is.
Maar Treurnicht se kop het politiek toe gestaan en die Hoofstad-pos was ‘n gerieflike tussenstap. Vir die uitgewer van die blad, ‘n maatskappy waarin Voortrekkerpers en Afrikaanse Pers (1962) Bpk die aandeelhouers was, was Treurnicht se aanstelling ‘n vangs. Dit het goeie publisiteit vir die nuwe blad beteken en onmiddellik daaraan ‘n bepaalde status besorg.
Sy aanstelling was die eerste van verskeie soortgelyke aanstellings deur die sakebrein agter Hoofstad en uiteindelik Perskor: Marius Jooste: hy sou later die dramaturg PG du Plessis by die einste Hoofstad aanstel asook die akademikus dr. Willem de Klerk en dr. Gerrit Veldthuizen by Die Transvaler. Hulle was albei vroeër predikante in onderskeidelik die Gereformeerde Kerke en die Hervormde Kerk.
Maar terug by Treurnicht, ‘n bewese kerkleier en uitgesproke ondersteuner van die beleid van apartheid, wat hy gegrond het in ‘n volksteologie. Daarvan getuig sy artikels in Die Kerkbode.
Hoe sou hy sy taak by ‘n gewone nuusblad sien? In ‘n bekendstellingsbrosjure pas voor die verskyning van Hoofstad, skryf Treurnicht onder meer dat die blad ‘n mondstuk van die regering, dus die Nasionale Party, sou wees. “Maar hierbenewens sal ons ook diensbaar wees aan ander kultuurbelange van ons volk.” Verder sal die blad “die eise van die Christelike bevolking op alle terreine probeer deurdink en vertolk”.
Elders sê hy dat die blad (dus hy as hoofredakteur) hom ten doel stel om “die Christelike eise vir die hele koerantwese te deurdink en na die beste van ons vermoë na te kom”. Later, in 1975, sou hy sy standpunte in die bundel Credo van ‘n Afrikaner uitspel. Maar toe was hy reeds weg by Hoofstad en voluit in die politiek. Hy het in 1982 wegbreek van die Nasionale Party en eerste leier van die Konserwatiewe Party geword, wat uiteindelik deel van die Vryheidsfront Plus sou word. Dr. Treurnicht is in 1993 oorlede.
Soos sy Nederlandse mentor, dr. Abraham Kuyper, sou hy wel predikant en koerantredakteur word, maar nie ook premier nie. Ongelukkig het hy, na my beste wete, nie uitgespel wat dit beteken om Christen in die joernalistiek te wees nie. Sy hoofredakteurskap by Hoofstad wag nog om nagevors te word.
Die blad het in 1983 saam met Oggendblad gesluit — die gevolg van ‘n sirkulasiegeknoei by Perskor, Beeld se aandrang op ‘n monopolie op die Afrikaanse oggendmark noord van die Vaal, en Perskor se besluit om eerder die Transvaler na die Pretoriase middagmark te skuif ten koste van Hoofstad.
Die koerantmark was kompleks en reeds in die 1980’s te klein vir ‘n veelheid van stemme.
— Johannes Froneman
Lees meer:
Lees meer oor Hoofstad en dr. Andries Treurnicht in Dirk Richard se Moedswillig die uwe (Perskor, 1985), waarin hierdie foto verskyn het. Lees ook die inskrywing oor Hoofstad op die Afrikaanse Wikipedia.
Pakendorf skryf in Stroomop (Penguin, 2018) oor hoe Oggendblad op kort kennisgewing geloods is en hoe hy met onder andere die eerste minister, John Vorster, gebots het. Kyk ook die inskrywing oor Oggendblad op die Afrikaanse Wikipedia.
Chris Louw vertel in sy Boetman en die swanesang van die verligtes (Human & Rousseau, 2001) die een en ander oor sy tyd by Oggendblad.
In die afdeling Truspieël verskyn ‘n biografiese skets van Thys Human, laaste redakteur van Oggendblad.