HOE DIT GAAN WANNEER KOERANT EN PARTY KOP IN EEN MUS IS

Deur André J. Brink, voormalige Volksblad-joernalis

Die artikel is saamgestel uit Facebook-inskrywings wat voorheen elders gepubliseer is. Dit word hier met die toestemming van die outeur geplaas.

Die Fauresmith-tussenverkiesing van 1980 was ’n stryd om lewe en dood. Dit was ’n reuse-kiesafdeling en het gestrek van net buite Bloemfontein in die noorde tot teen die Oranjerivier in die suide en van oos na wes van die N1 tot teen die grens met die destydse Kaapland; sowat  200 km van noord na suid en 150 km van oos na wes.

Op hierdie uitgestrekte stuk aarde het drie partye mekaar op plekke soos Springfontein, Lückhoff, Fauresmith, Koffiefontein, Jacobsdal, Dealesville, Boshof en Hertzogville aan die keel gegryp.

Die Nasionale Party (NP) se kandidaat was mnr. Flippie Olivier, ’n lang skraal man met gryserige hare en ’n baie aantreklike blonde vrou, Hilda, aan sy sy. Olivier het ’n ent buite Koffiefontein geboer, ’n paar km van Ja-Nee, die plaas van sy neef, die befaamde skrywer Etienne Leroux.

Vir die Herstigte Nasionale Party (HNP) was dit mnr. Charl Hertzog, ’n netjiese donkerkop, ryk en vooraanstaande perdeboer van die distrik Petrusburg.

Laastens was daar die Nasionale Konserwatiewe Party (NKP), gestig deur dr. Connie Mulder nadat hy weens die Inligtingskandaal uit die NP en kabinet geskop is. Sy kandidaat was ’n ingevoerde, langerige, skralerige kêrel van iewers uit die ou Transvaal met die naam Velskoen van Rensburg. Ek kan nie meer sy regte voornaam onthou nie, maar ek dink sy voorletters was P.E.

Vir mnr. P.W. Botha, leier van die NP en destyds premier van Suid-Afrika, was Fauresmith ’n  bitter belangrike verkiesing nadat die NP se meerderhede die vorige jaar in plattelandse tussenverkiesings in die ou Transvaal erg gekrimp het.

Die NP het dus sy A-span  ingestuur vir die stryd. Aan die hoof was dr. Willem Odendaal, adjunksekretaris van die NP in die Vrystaat. Hy het vir die duur van daardie veldtog in ’n huis op Fauresmith gebly.

Nege kabinetslede, drie adjunk-ministers en ’n twintigtal NP-parlementslede is ook afgevaardig om te sorg dat Flippie stof in die oë van sy teenstanders kan skop.

En les bes was daar ek, ene André Brink,  ’n jong (34) verslaggewer van Die Volksblad – soos destyds die gebruik by Nasionale Pers se koerante onlosmaaklik en onbeskaamd deel van die NP se span. Die Volksblad in Bloemfontein en Die Burger in Kaapstad was immers daardie tyd “amptelike mondstukke” van die Nasionale Party.

Dit was die destydse redakteur, die waardige gryskop dr. Stephanus Fortunatus Zaaiman (of Oom Bart, soos die meeste van ons hom geken het) wat my uit die subkantoor kom haal het vir die belangrike opdrag.

“Daar is ’n belangrike tussenverkiesing in Fauresmith. Jy gaan dit vir ons dek. Kry ’n motor en laat hulle vir jou plek bespreek in die hotel op Fauresmith. Jy gaan daar bly totdat die verkiesing verby is.” (Ek kon darem naweke huis toe kom na my vrou en jong kind, wat toe nog nie eens twee jaar oud was nie.)

Nou ja, toe klim ek in ’n splinternuwe wit VW Golf en vat die 130 km Fauresmith toe. Die hotel was net ’n klipgooi van die NP se verkiesingskantoor, wat ek as basis kon gebruik om sommer my berigte deur te stuur.

Vir die volgende paar weke het ek aand na aand die Golfie op die Vrystaatse stofpaaie gedaan gery agter vergaderings aan – NP- sowel as HNP- en NKP-byeenkomste. By vergaderings van die “vyand” het ek meestal naby Willem Odendaal gesit. Hy was ’n groot, sterk man en soms kon die gehoor (met goeie rede, moet ek erken) taamlik vyandig teenoor Die Volksblad se verteenwoordiger word. Ek het op Willem-hulle staatgemaak om my te beskerm.

Berigte is destyds op ’n tikmasjien geskryf en dan per kollekteeroproep deurgebel, gewoonlik na Beeld in Johannesburg waar die legendariese Ansie van der Merwe jou berigte afgeneem het. Onthou, Beeld en Die Burger was oggendkoerante en Die Volksblad toe nog ’n middagkoerant. Ansie kon vinniger tik as wat jy kon lees en het jou vinnig aangepraat as jy haar wou voorsê hoe om dorpe of persone se name te spel. Sy weet hoe om te spel, dankie!

Amper 40 jaar later is dit egter die komiese gebeure en oomblikke eerder as die harde werk en middernagtelike ritte terug hotel toe wat my bybly. Soos die aand op Boshof waar ek vir die eerste keer vir wyle Hendrik Schoeman, toe Minster van Landbou, ontmoet het.

Dit was op die geselligheid ná die vergadering waarheen “Die Volksblad se man” soos met alle NP-byeenkomste, ’n staande uitnodiging gehad het. Toe hulle my aan hom voorstel, vat Hendrik my hand en sê: “André Brink! Man, ek is bly om jou te sien. Julle is die enigste koerant in die land wat nog nie ’n rol doringdraad deur my gat getrek het nie!”

Kleiner vergaderings was daar talle. Ek onthou veral een huisvergadering saam met Flippie en Hilda. Daar was seker so 25 mense en talle vrae is gevra, onder meer oor die regering se sportbeleid, destyds nogal ’n groot kwessie.

En wat doen Flippie?

“Hier by ons vanaand,” sê hy, “is mnr. André Brink van Die Volksblad. Hy was voorheen ’n sportverslaggewer. Ek vra sommer vir hom om vir ons die beleid te verduidelik.”

Ek was totaal onkant gevang want Flippie het nie vooraf vir my gesê hy gaan my op dié manier inspan nie, maar ek verduidelik toe maar die beleid. Wat nogal moeilik was, want dr. Piet Koornhof, toe Minister van Sport, se aand- en mȏre-uitsprake oor sport het nie altyd ooreengestem nie. Hendrik Schoeman het by geleentheid toe hy die vraag gevra is, gesê hy kan dit nie antwoord nie, “want ek het nog nie vandag met Piet Koornhof gepraat nie!”

Natuurlik sou ek nooit waag om te berig (of selfs te kla) oor hoe ekself deur die NP-kandidaat ingespan is om vrae te beantwoord nie.

Nog iets waaroor eerder geswyg is, is die wyse waarop die ou verkiesingslagspreuk van “stem reg, stem vroeg, stem dikwels” heel letterlik waar was.

Daar is inderdaad “dikwels” gestem.

Destyds kon enige kieser wat iewers buite die grense was van die kiesafdeling waar hy geregistreer was, aansoek doen om per pos te stuur. Dit was ’n stelsel wat hom wawyd oopgelaat het vir misbruik.

Op Dealesville het ’n helper in die NP-kantoor ’n paar manne ver weg op die grens “gehelp” om te stem.

Die oom het ’n lys in sy laai gehad van al die knape uit die gebied wat in die Bosoorlog geveg het, volledig met al hul besonderhede, ID-nommers inkluis. Dan het hy namens hulle aansoek vir ’n posstem gedoen.

Elke aansoek moes natuurlik onderteken word, maar daarvoor had die oom ’n plan. Hy het daardie aansoek self onderteken en noukeurig boek gehou van watter handtekening hy gebruik het, sodat wanneer die stembrief kom, hy weer dieselfde handtekening kon namaak.

Toe van die NP-organiseerders hiervan uitvind, was hulle erg ontsteld, want dis verkiesingsbedrog. Maar die oom het net gesê: “Bly stil! Hulle het almal reg gestem!”

Flippie Olivier het die verkiesing loshande gewen en hy kon sy plek in die Volksraad inneem as die agbare lid vir Fauresmith. Willem Odendaal is die volgende jaar beloon vir sy goeie werk deurdat hy as ’n benoemde LV Kaap toe is.

En ek? Wel die NP het my en Die Volksblad hartlik bedank vir ons “goeie werk”.

Die volgende jaar is ek ook bevorder – tot Nasionale Koerante se politieke span in die parlement en twee jaar later tot Die Volksblad se politieke beriggewer. Fauresmith was net die hupstootjie wat my loopbaan as joernalis nodig gehad het.