Meer as een Afrikaanse redakteur is deur die jare kant toe geskuif of selfs afgedank — veral oor politiek — maar net Barend Venter is uit die kussings gelig weens onder meer ‘n kritiese artikel oor die Afrikaner-Broederbond. Hierdie storie kan nou vir die eerste keer aan die hand van oorspronklike dokumente vertel word. Deur JOHANNES FRONEMAN
Barend Venter het sy loopbaan in 1950 by die Kaapstadse dagblad Die Burger begin nadat hy ‘n BCom (Regte) op Stellenbosch behaal het. Einde 1956 sluit hy by Die Nataller, (’n Durbanse weekblad, aan om Theo Gerdener by te staan. Twee jaar later het Gerdener se politieke werk te veel geword en neem Venter oor as redakteur. (Gerdener is in 1961 as administrateur van Natal aangestel.)
Die Nataller het gesukkel. Die Afrikaanse lesers was te dun oor die provinsie versprei om dit ‘n kommersieel volhoubare projek te maak. So was dit ook in die verlede toe meer as een poging aangewend is om aan die Afrikaners van die provinsie ‘n eie stem te gee — veral ‘n Nasionale stem.

Later het Voortrekkerpers (uitgewer van Die Transvaler, Nasionale mondstuk in die destydse Transvaal) die beheer van Die Nataller oorgeneem en het Nasionale ministers uit Transvaal as voorsitter van Die Nataller se direksie opgetree. Vandaar hul betrokkenheid by Venter se afdanking in 1971.
Maar dit is seker nodig om op te merk dat Die Nataller onder Venter ‘n stoere ondersteuner van die Nasionale Party was. Tog het Venter reeds in Januarie 1969 die leiers omgekrap deur in ‘n hoofartikel te vra dat die beleid wat wit eienaarskap in swart tuislande verbied, verander word.
Die minister van swart sake, M.C. Botha, het hom per brief laat weet dat hy nie gelukkig was met die artikel nie. Daarna vra Venter nederig om verskoning oor die “toon” waarin dit geskryf is.
Maar in 1970 staan sy ou kollega en administrateur, Theo Gerdener, in ‘n parlementêre tussenverkiesing in die kiesafdeling Kliprivier. Venter voer in ‘n hoofartikel onder die opskrif Die Broederbond moet praat aan dat Gerdener se lidmaatskap van die Broederbond effektief teen hom gebruik word.
Daar sal kennis geneem moet word van bedenkinge oor die organisasie se vertroulike karakter, skryf Venter. Hy besluit:
“Solank toonaangewende Broederbondlede in die openbaar swyg oor hul organisasie, so lank sal die Bond by baie mense onder verdenking bly. Die tyd is verby dat sodanige bedenkinge maar geïgnoreer kon word. Dit is belangrik dat die nie-lede gerus gestel word oor die Broederbond se rol — belangrik vir die Bond self, belangrik vir die Nasionale Party, maar belangrik ook vir Suid-Afrika en vir die blanke Suid-Afrikaanse volk-in-wording.”

Hooffoto heel bo: ‘n Jong Barend Venter aan die werk, vermoedelik by Die Burger.
Links: Barend Venter (sittend) kyk na die skade wat ‘n bom by Die Nataller se gebou in Durban aangerig het.
In ‘n tyd waar koerante soos die Sunday Times die een onthulling ná die ander oor die Broederbond gemaak het, het Die Nataller se versigtige kritiek soos ‘n bom gebars.
Danie Malan, hoofbestuurder by Voortrekkerpers, verwys in ‘n brief aan (dr. Carel de Wet) die voorsitter van Drakensbergpers, eienaar van Die Nataller, na die “onverkwiklikheid wat die redakteur van Die Nataller aangevang het”. Kritiek op die Broederbond was ondenkbaar vir die redakteur van ‘n Nasionale koerant — al was dit die kleine Nataller.
Toe die bestuurder van Die Nataller, Pierre Cronjé, aandring op ‘n verandering aan ‘n hoofartikel, skryf Venter op 11 September 1970 aan minister M.C. Botha en noem dat hy beoog om te bedank.
Hy volg dit op met ‘n brief aan De Wet waarin hy aanvoer dat daar wedersydse vertroue tussen direksie en redakteur moet wees en dat hy as redakteur vertrou moet word om te besluit wat hy skryf — behalwe waar daar ‘n formele besluit deur die direksie oor ‘n saak ingeneem is.
Venter dryf die saak op die spits en sê: “Ek sou … ontrou wees aan die tradisie waarin ek as joernalis grootgeword het om oor hierdie punt toe te gee.”
‘n Paar maande verloop voordat hy weer in die nuus was oor ‘n hoofartikel waarin hy vra dat die SAUK wegdoen met die verbod op enige sportnuus op Sondae. Dalk was dit die strooi wat die kameel se rug gebreek het. Tog het die Broederbondartikel waarskynlik reeds die vertroue onherstelbaar geskend.
Die aanbod aan Venter van ‘n pos as by Die Transvaler is verduidelik as ‘n poging om koste by Die Nataller te bespaar, hoewel die bestuurder, Pierre Cronjé, pas as senator aangestel is en daar dus reeds ‘n wesenlike besparing was.
Die Sunday Times se interpretasie was egter dat Venter effektief as redakteur afgedank is. Die opskrif het gelui: Carel de Wet axes verligte editor”. Was dit wel ‘n afdanking? Of is Venter bloot kant toe geskuif? Venter het darem sy salaris en loopbaan behou.
Maar Venter het nie lank by Die Transvaler gebly nie. ‘n Jaar later is hy na die Laevelder as redakteur en toe na die Distrikspos op Somerset-Wes, waarna hy terug is na Die Burger. Hier was hy redakteur van Die Burger-Ekstra, voordat hy assistentredakteur van Oosterlig in Port Elizabeth geword het.
In 1985 geskied geregtigheid in ‘n mate toe Barend Venter redakteur word van Oosterlig. Dié blad sluit egter in 1993 en Venter is terug na Die Burger waar hy voor sy aftrede verantwoordelik was vir die TygerBurger, waar sy koerant die Cronwright-trofee in 1992/93 gewen het as tipografies bes versorgde gemeenskapskoerant.
Hy het dus ‘n veelkantige, by tye ontstuimige loopbaan gehad wat hom en sy gesin soms erg verontrief het. Maar nie meer so as die veertien jaar wat hy ‘n moedige stryd in Durban by Die Nataller gevoer het nie.
Ná sy uittrede by Die Nataller het ‘n gewese kollega, At van Wyk, in ‘n brief hulde aan Venter gebring. Hy skryf: “Mnr. Venter het baie opgeoffer — hom meermale afgesloof — vir Die Nataller en die Afrikaners … Hy het sy mense na sy beste vermoë gedien deur aan hulle, met karige middele, ‘n koerant in hul eie taal te gee …”
Hierdie werk het meer as joernalistiek beteken, want as besturende direkteur moes hy meermale pleitbriewe skryf om finansiële hulp te verkry.
Van Wyk verwys ook na die bomontploffing een aand in 1963 by Die Nataller se gebou in Durban. Vanuit alle oorde — ook die Engelstalige koerante — is skok uitgespreek. Die redakteur van die Natal Mercury het selfs aangebied om te help om die blad gedruk te kry — al noem hy in ‘n brief aan Venter dat hy met min saamstem wat in Die Nataller verskyn.

Venter self het te midde van die glasstukke en chaos uitgeroep: “Kom ons gee ‘n koerant uit!” Wat toe ook gebeur het. Die volgende oggend het ‘n spesiale uitgawe van Die Nataller verskyn.
Ná Venter se aftrede, skryf Ton Vosloo, destyds voorsitter van Naspers, aan hom: “Jy is ‘n deugsame offisier en in die verskeie posisies wat jy by ons beklee het, het jy altyd hard en eerlik jou kant gebring … Nogmaals baie dankie vir ‘n waardevolle bydrae oor ‘n loopbaan.”
Lees ook die artikel oor Natalse koerante by https://mediamense.com/afrikaanse-koerante-se-stryd-om-n-plek-in-die-natalse-son/