Die joernalis Herman le Roux was van 1959 tot 1981 sportredakteur van Die Volksblad en daarna (tot 1996) ook sportredakteur van Beeld. Hy beantwoord hier Johannes Froneman se vrae oor sy werk — en hoe dit in sy beroepsjare verander het.
Herman, sportjoernalistiek het vanweë die tegnologie sedert jou beginjare in die joernalistiek tot 1996 nogal heelwat verander. Hoe het jy dit ervaar?
Die sportjoernalis se taak het sedert die koms van televisie (1976 in Suid-Afrika) dramaties verander. Maar so ook is sy taak met die koms van die skootrekenaar, selfoon en ander tegnologiese hulpmiddels merkwaardig makliker gemaak.
Ek het in byna 41 jaar as sportjoernalis die oorgange belewe. In sekere opsigte sou ek graag die ou manier van beriggewing (en destydse rugby!) verkies, maar die snel ontwikkelende tegnologie maak dié werkplek soveel geriefliker: Spertye kan makliker gehaal word omdat kopie, en dit sluit foto’s in, vinniger van enige sportbyeenkoms kantoor toe en daarna rolpers toe gestuur kan word.
Hoe het dit spesifiek rugbyjoernalistiek verander?
Vroeër jare was dit vir ‘n rugbyskrywer belangrik om te skryf hoe die drieë gedruk is, en in watter stadium van die wedstryd. Selfs die toeskouers wat die wedstryd gesien het en die ondersteuners wat na die uitsending oor die radio geluister het, was nog tevrede om ook hierdie besonderhede te lees.
Maar televisie, met sy volledige dekking en sy kykweer en kykweer, het meegebring dat die rugbyskrywer dieper moet delf en feitlik die spreekwoordelike storie agter die storie soek.


Herman deur die jare. (Foto’s met erkenning uit sy boek Sportpourri, in 1998 uitgegee deur J.L. van Schaik.)
Deesdae wil die rugbybelangstellende ook lees: Waarom het die span gewen of verloor; wat sê die kenners en wat was die kommentaar van die spelers en veral die afrigter ná die wedstryd; hoe erg is die beserings van die spelers wat die veld verlaat het; wie kan hulle in die volgende wedstryd vervang; wie het uitgeblink en wie het teleurgestel; wie moet dalk vervang word; en meer oor omstrede beslissings en menings oor die skeidsregter, ens.
Moet egter vir geen oomblik dink rugbyskrywers van vroeër dae het nie van dié besonderhede verskaf of probeer verskaf nie. Maar deesdae val die klem daarop en wie in die hoeveelste minuut ‘n drie gedruk het nadat die bal so gehanteer is, maak nie juis meer saak nie.
Hoe het dit in die praktyk gelyk?
‘n Terugblik na my beginjare as verslaggewer laat my dadelik onthou hoe ek ná slegs twee weke by Die Volksblad in Bloemfontein in Januarie 1956 vir George Gerber, krieketskrywer in die sportredaksie, moes help om verslag te doen van die jaarlikse Nuffield-kriekettoernooi op verskillende velde in Bloemfontein. Ons moes met die middagpouse terughaas kantoor toe om vir die laat uitgawe van die middagkoerant oor die oggend se spel te skryf. Vir die Laat Nuus-kolom moes ons van die naaste telefoonhokkie, of die foon van ‘n vriendelike huisbewoner oorkant die straat, die jongste tellings deurbel.
Van bel gepraat. Ek het in die jare sestig verslag gedoen van die Vrystaat- en Noord-Kaaplandse gholftoernooi op Oppenheimerpark, Welkom. Ek moes van die bestuurder van die klub se telefoon gebruik maak om my berig deur te bel. Ek het die nodige reëlings met hom getref en Die Volksblad sou my op ‘n bepaalde tyd bel. Ek het werklik van die baan klubhuis toe gehardloop. Daar aangekom, was die betrokke kantoor gesluit en daar was niemand wat my kon help toe die foon begin lui en ek hulpeloos buite staan met die jongste tellings nie. En onthou: Daar was nog nie iets soos ‘n selfoon nie.
Die bestuurder het glo skielik besef sy drankvoorraad gaan nie hou nie en hy is inderhaas dorp toe. Skoon van my vergeet.
Herman in 2021 met sy boek Sportpourri — Ervarings van ‘n joernalis in sy studeerkamer. Hy was sportredakteur by twee koerante, Die Volksblad en Beeld, wat albei gepas van hom afskeid geneem het. Foto: Johannes Froneman

Met oorsese toere was dit seker selfs moeiliker?
Die probleme wat ‘n sportskrywer van daardie jare kon ervaar, kom weer sterk na vore wanneer ek dink aan my eerste oorsese toer saam met ‘n Springbok-rugbyspan – dié van Dawie de Villiers in 1965 in Australië en Nieu-Seeland.
Ons het in daardie jare ons kopie per druktelegram versend en om koste te bespaar moes ons verkorte, telegramstyl skryf. Byvoorbeeld: “60 min. Brynard tweede drie, breekslag Roux kwartlyn NS.” ‘n Ervare joernalis wat goeie huiswerk oor die toer en die spelers gedoen het, sal dan op kantoor die storie volledig oortik, soos: “Gertjie Brynard (linkervleuel) het twintig minute ná rustyd die Springbokke se tweede drie gaan druk ná ‘n breekslag van die senter Mannetjies Roux op die All Blacks se kwartlyn.” Teen 14 sent ‘n woord (die destydse tarief via Salisbury na SA) is aansienlik met hierdie “cable lease” bespaar. Die kommentaar en indrukke is darem vollediger gedoen om die ware storie te vertel.
Die Suid-Afrikaanse persmanne moes dikwels (selfs by die toetse) uit die persbank klouter, baie trappe afdraf om ‘n getikte bladsy na die tydelike kantoor onder die paviljoen te neem vanwaar dit per druktelegraaf versend is.
Op Masterton in Nieu-Seeland is ‘n tydelike persbank in ‘n oop paviljoen oorkant die veld ingerig, maar ons was gelukkig om van bodes gebruik te maak wat ons kopie na die “telekskantoor” in die hoofpaviljoen geneem het. Die bode wat my laaste bladsy daarheen moes neem, het egter kortpad iewers heen geneem en my kopie het nooit by die teleksoperateurs uitgekom nie! Die joernalis op kantoor in Bloemfontein moes maar met behulp van die radiokommentaar en Sapa se kopie die situasie red.
In Nieu-Seeland en ook in Suid-Afrika was die vertrekke waar die teleksoperateurs gewerk het meestal moeilik bereikbaar. In Pretoria, byvoorbeeld, was die ingang na-ure die hek waardeur die vragmotors met posstukke heen en weer gery het. Dan loop ‘n mens ‘n hele ent verby ‘n vervoerband met posstukke na ‘n groot outydse hyser wat jou rukkerig ‘n paar verdieping na bo neem. In Port Elizabeth was die aflewering van kopie na-ure nie veel makliker nie.
‘n Mens moet jou hoed afhaal vir daardie Nieu-Seelandse teleksoperateurs wat na-ure stapels bladsye met Afrikaanse kopie moes versend. Toe ek en John du Toit, oud-kollega van my by Beeld, maar toe nog by Perskor, in 1981 ná die eerste toets teen die All Blacks in Christchurch vroeg die Sondagoggend saam ‘n taxi na die poskantoor haal om ons telekskopie te versend, het ons gemeen ons kopie is voor in die “tou”.
Groot was ons verbasing toe ‘n moedelose teleksman sê: “Ek het nou net Mr. Ven Royen se kopie teen 700 dollar na Suid-Afrika gestuur.”
Quintus van Rooyen, eertydse kollega van my, wat in 1998 oorlede is, kon werk soos min. Hy was goed ingelig en het met die een scoop ná die ander die voorblad van die koerant gehaal. Toe ‘n werknemer van ‘n motorsaak op Carltonville een Maandagoggend in die winter van 1981 die deure oopsluit, sien hy oomblikke later iets wat hom absoluut verstom: Toue papier hang van die teleksmasjien tot op die grond. En wat hy daarop lees, het niks met die motorhandel te doen nie, maar alles oor ‘n rugbytoets in Wellington, Nieu-Seeland. Dit gebeur wanneer telekskopie na ‘n verkeerde adres gestuur word. Gelukkig kon die kopie tog betyds Die Volksblad in Bloemfontein bereik.
Herman het ‘n stewige hoofstuk oor die Volksblad se sportjoernalistiek vir die koerant se eeufeesboek geskryf. Die boek, ‘n Lewe van sy eie, is geskryf deur Leo Barnard en Ja-Ad Stemmet en in 2004 deur Tafelberg uitgegee.

Watter aspekte van sportjoernalistiek het dieselfde gebly?
Al het die aanslag, benadering en werkwyse in die sportjoernalistiek hoe verander, bly die basiese beginsels: Billike kommentaar, regverdigheid, ‘n goeie balans en objektiwiteit, so goed as moontlik. Ek sê opsetlik “objektiwiteit so goed as moontlik”, want selfs die mees ervare sportskrywer sal erken dat dit eintlik nie moontlik is om met objektiwiteit al die koerantlesers/rugbygeesdriftiges tevrede te stel nie.
Die situasie is so: ‘n Rugbyskrywer in ‘n bepaalde streek, stad op dorp sien die spelers van daardie kontrei byna dag na dag, week na week en vir die grootste gedeelte van die jaar by oefeninge, in wedstryde en by die gesellighede ná wedsryde. Hy leer die spelers op die veld en in die omgang ken. Hy raak met van hulle goed bevriend. Noodwendig sal die rugbyskrywer die spel uit die oogpunt van daardie spelers (en hul ondersteuners) sien en dus vir die ondersteuners van die ander span nie objektief genoeg voorkom nie.
Dit is hier waar die goeie balans ter sprake kom. Dié sportskrywer durf nie oorboord gaan met sy lof vir ‘n speler se spel nie, maar durf ook nie wegskram van kritiek uitdeel nie.
Omdat die sportskrywer goed vertroud raak met die vaardighede en tekortkominge van die spelers in sy kontrei, is dit heel menslik dat hy meer oor hulle sal skryf. En onthou hy skryf vir ‘n koerant wat daardie streek of provinsie bedien; vir rugbygeesdriftiges wat soveel moontlik oor hul spelers wil lees. Hier is die billike kommentaar ‘n voorvereiste. Wanneer ‘n Gysie Pienaar van die Vrystaat ‘n Pierre Edwards van Noord-Transvaal as heelagter oorskadu, word van die rugbyskrywer van Pretoria verwag dat hy dit sal skryf. En wanneer ‘n Morné du Plessis van die WP in ‘n wedstyd teen die Vrystaat die beste voorspeler op die veld is, moet die Bloemfonteinse rugbyskrywer dit skryf. En al hou die Transvalers nie van ‘n Naas Botha nie, is dit billik dat sy vermoë om ‘n wedstryd feitlik eiehandig te wen, ook erken word deur die rugbyskrywers wat Ellispark se persbank warm sit.
Hoe kan mens weet of ‘n sportskrywer billik is?
Wanneer ‘n senter op die rugbyveld ‘n keer of wat die bal aanslaan ná ‘n swak aangee, of wanneer hy die bal ontvang met ‘n verdediger op hom, is dit onbillik om te skryf sy hanteerwerk het hom in die steek gelaat. So ook is dit onbillik wanneer ‘n stelskopper ‘n paar keer die bal net-net buite die regoppaal verbystuur en hy lees in die koerant hy het die skoppe verbrou. Misluk met die skoppe, ja, maar nie opsetlik verbrou nie. Dieselfde geld wanneer ‘n gholfspeler met ‘n maklike sethou misluk, is dit onbillik om te skryf hy het die sethou verbrou. Ek het self vir baie jare gholf gespeel en met elke sethou my bes probeer, maar dikwels misluk. Misluk ja, maar verbrou, nee!
So ook hou sportlui nie daarvan om te lees dat hulle “pateties” vertoon het nie. Die woord pateties verskyn gelukkig nie in my woordeskat nie.

Kan mens krities wees én jou goeie verhoudinge behou?
Ek het genadiglik ‘n goeie verhouding met sportlui gehad. Wanneer ‘n sportjoernalis oor baie jare billik en eerlik verslag gedoen het, wen jy die vertroue van die sportlui oor wie jy skryf. Wanneer jy dus soms krities rapporteer sal die betrokke sportman of -vrou (of die hele span) dit in ‘n goeie gesindheid aanvaar. Dan weeg die betrokkenes die kritiek op teen al die mooi, goeie dinge wat al oor hulle geskryf is.
Ek het in lang loopbaan as sportjoernalis nooit sag opgetree omdat ek bang was om hom of haar die volgende in die oë te kyk nie. Selfs my grootste sportvriende sal hiervan kan getuig.
Gunstelingsportlui?
My gunstelingsportlui is te veel om op te noem, maar ek sal ‘n paar sportlui noem met wie ek verskriklik goed oor die weg gekom het en oor wie ek baie geskryf het: Peter Vorster (Springbok-gholfspeler), Gert Potgieter (atletiek), Sandra (Reynolds) Price (tennis), dr. Danie Craven (rugby), Steve Strydom (rugby), Ewie Cronjé (krieket), Johnny Ralph (boks) … Daar was wedersydse respek en vertroue in mekaar.
Jy het deur die jare noukeurige aantekeninge gemaak?
Ek was nie so ‘n groot statistikus soos Quintus of Frikkie van Rensburg nie, maar ek het uit die staanspoor baie besonderhede aangeteken. Soos byvoorbeeld nuwe Springbokke in al die sportsoorte, Springbok-rugbyspanne en Vrystaatse spanne (wat later baie gehelp het met die skryf van die eeufeesboek). Ek was een van die eerste rugbyskrywers wat geskryf het oor rugbyspelers wat die meeste punte, meeste drieë, gedruk het. Ek het kriekettelkaarte en finale tellings in gholftoernooie in ‘n boek geplak.
Jy het oor dekades jou entoesiasme vir sportjoernalistiek behou…
Vir my was dit uiters belangrik om die taak met geesdrif aan te pak. Dit moet behoorlik jou stokperdjie wees. ‘n Goeie joernalis-vriend van my, Steyn Lureman, het altyd gesê: “Die betaling is nie goed nie, maar dit is darem beter as om te werk!”
Geplaas September 2021