Tobie Wiese het sy joernalistieke loopbaan by Die Volksblad begin. Daarna is hy na Die Burger waar hy vir Nasionale Koerante oor kerksake verslag gedoen het. Hy was hierna nuusredakteur van Huisgenoot en adjunkredakteur van Insig voordat hy klas gegee het by die Departement Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch. Hy was as skrywer, samesteller en redigeerder by meer as ‘n dosyn boeke betrokke en het etlike pryse vir sy joernalistieke skryfwerk ontvang. Hier vertel hy van sy beginjare in ‘n buitekantoor (op ‘n stoel sonder rugleuning).
Deur Tobie Wiese
Waar ek die moed ‒ eerder voorbarigheid ‒ vandaan gekry het, weet ek nou nog nie. Boonop het niemand toe al gepraat van “Dink buite die boks” of “Daag jouself uit!” nie.
In die winter van 1975 het dié brokkie kantoornuus deurgesyfer: Die Volksblad kort ‘n man (ja, vroulike verslaggewers was dun gesaai) vir die Noord-Vrystaatse Kantoor in Kroonstad. Ek was skaars ses maande in diens, maar toe die kans hom voordoen om vertaalwerk in die subkantoor agter te laat, het ek my beskroomdheid oorkom en my dienste by die nuusredakteur, Chris Moolman, aangebied.
Die man met die priemende oë het my effens ongelowig aangekyk, want sulke poste in buitekantore (ook in Welkom, Bethlehem en Kimberley) was groentjies nie beskore nie. Jy moes eers jou spore by die hoofkantoor aan Voortrekkerweg in Bloemfontein verdien. Dit het sekerlik in my guns getel dat ek ‘n beurshouer was en gereeld vakansiewerk by Die Volksblad gedoen het. Teen R80 p.m. (losies: R40 p.m.).
Onder links: Naas die tikmasjien was dié kamera Tobie se “grootste bondgenoot en lekkerste speelding”. Regs: ‘n Heining by een of ander dam het in die pad van ‘n goeie foto gestaan.


Só word ek toegerus met daardie dae se wapens vir die waarheid: ‘n pak Croxley-draadrug-notaboeke en ‘n handvol Bic-penne, ‘n effens afgeleefde Volkswagen Kewer en ‘n splinternuwe Pentax SP1000-kamera. Om die Noord-Vrystaat te gaan verower; presies waarvoor was ek nie seker nie, maar wie vra op 21‒ oorweldig deur opwinding en onsekerheid ‒ sulke diepsinnige vrae!
Die lesse het vinnig en soms verwoed opgeduik. Die eerste was uit die mond van die SA Polisie se distrikspeurhoof, majoor A.S. du Preez. Die hoof van Die Volksblad se Goudveldse Kantoor, Naas du Preez, het spesiaal van Welkom gekom om my aan die majoor voor te stel. Dit verloop gemoedelik; ‘n goeie begin vir ‘n goeie verhouding, het ek gedink.
“Hoe de f*k moet ek weet jy is wie jy sê jy is?” bars die majoor los toe ek hom die volgende oggend bel. “As jy met my wil praat, kom sien my!” En boem! word die foon neergesmyt.
Kom sien my ‒ ‘n baie belangrike les. Jare later lees ek die navorser Albert Mehrabian het vasgestel dat tydens gesprekke van aangesig tot aangesig geskied 55 persent van die kommunikasie nieverbaal, 38 persent op grond van wat jy hoor en net 7 persent op grond van die woorde wat gewissel word.
Die majoor se “mock charge” was nie veel meer as ‘n poets nie, maar twee ander Kroonstadters het elke woord bedoel: die eerste was die skrywer Dot Serfontein, ma van Antjie Krog, wat my met die eerste ontmoeting die kop gewas het oor “al die taal- en tikfoute in die koerant” en op haar hakke met ongeveer dieselfde klagte Esther Geldenhuys, ma van die latere Noord-Transvaalse en Springbok-flank Burger Geldenhuys. Hy was besig met sy diensplig by die Genie-skool buite die dorp waar ek hom ontmoet het. Ons raak ligweg vriende en op dié manier gaan jag ek tarentale op hulle plaas met die indrukwekkende Afrikanerbees-stoetery.
Mev. Geldenhuys ontvang my eers hoflik, mettertyd al vriendeliker. Sy is ‘n groot gees in die Kroonstadse Blomme- en Kunsvereniging, ‘n betreklik eksklusiewe klub wat ver buite die Noord-Vrystaat die standaard stel vir goeie en duur smaak op verskeie gebiede. Sy is ‘n formidabele vrou en skrywer van ‘n gesaghebbende boek oor rose. Toe word ‘n boesemvriendin, Thea Swart, op die plaas vermoor en “tannie Esther” help my ‒ ondanks haar eie smart ‒ met toegang tot die bedroefde Swart-gesin.
Die les hier: Wees nie alte kleinserig oor kritiek nie. “Vyande” kan vriende word.
Aanvanklik het ek nie veel ag geslaan op die derde komponent van my wapenrusting nie; ek was immers ‘n verslaggewer wat met woorde werk, maar gelukkig het Die Volksblad ons verplig om ook nuus- en sogenaamde sosiale foto’s te neem. Gou was ek verbaas om agter te kom hoe graag selfs vername mense hul gesigte in die koerant wil sien. Selfs die deftige dames van die Blomme- en Kunsvereniging het hulle dit laat welgeval, al was dit net in swart-en-wit.
Die waarheid van die ou gesegde “‘n goeie foto sê meer as ‘n duisend woorde” het tot my deurgedring, asook die besef dat lesers heel eerste die foto (of opskrif) by ‘n berig opmerk voordat hulle ‘n woord van die so belangrike storie lees. Hoewel die meeste berigte nie met foto’s opgehelder is nie, het die bewustheid van “die oog van die leser” ‘n mens se blik op die storie ingrypend verander. Nie net het dit jou gedwing om die feite wat iemand oordra voor jou geestesoog te sien nie, in die proses het versluierde aspekte van die storie sigbaar geword.
Die resultaat is ‘n veelkantige en meer afgeronde storie – as die gehate subs dit nie versnipper nie! Subredakteurs, terloops, was verantwoordelik vir die taalkundige versorging en die tipografiese uitleg van berigte. Deel van hul ongewilde taak was dat berigte dikwels verkort moes word ‒ iets wat jong verslaggewers met dun velletjies koue rillings besorg het. Dít terwyl hulle vergeet: as die sub nie ‘n prikkelende opskrif vir ‘n valerige storie optower nie, sal niemand die berig lees nie.
Die fotonemery was ook lonend. Die uitstekende Pentax-kameras waarmee ons gewerk het ‒ myne skiet ná vyftig jaar nog perfek! ‒ was nie ‘n geskenk nie; jy moes dit maandeliks afbetaal. Maar as jy wakker was en jou werk flink gedoen het, het jy dié “tekort” op jou salaris redelik maklik in ‘n winsie omskep. Vir elke gepubliseerde foto is ons R1,50 betaal, vir voorbladfoto’s R3. (Die aanvangsalaris in 1975 was R345 per maand.)
Op die grondvloer van ‘n ou meule aan Murraystraat het ek, die ontvangsdame/sekretaresse en die sirkulasiebestuurder dieselfde ruimte gedeel. Daar was nadele, soos dat jy onmoontlik ‘n vertroulike gesprek oor die foon kon voer, maar ‘n onbedoelde voordeel was dat jy byna aan jou lyf gevoel het hoe jy deel van ‘n span en ‘n proses is.
Die Volksblad se kantoor was op die grondvloer van dié gebou wat vroeër ‘n
meule was. Die foto is geneem danksy die burgemeester, Wynand Breytenbach, wat Tobie oor die dorp en omgewing gevlieg het. Hy het later die Volksraadslid vir Kroonstad en Adjunkminister van Verdediging (1986-1994) geword.

Smiddae teen halfdrie het die koerantverkopertjies op die stoep begin saamtrek. Daar was luidrugtige mededinging oor wie eerste Die Volksblad se ligte lorrie om die draai sien aankom, gevolg deur ‘n geskarrel en gestoei onder die knapies om so gou moontlik sy bondel koerante te kry. In die kantoor was dit ook die hoogtepunt van die dag; ‘n bevestiging dat ons elke dag iets vermag.
Ek vermoed vir my as die verslaggewer was die opwinding die grootste: Is my storie(s) gebruik? En die foto’s? Het ek dalk ‘n by-line gekry? Laasgenoemde was, anders as vandag, so skaars soos reën op die regte tyd. Soms het ek gewonder: al die mense wat elke dag hier verbyslenter kantoor of werkplek toe, is daar ook in hulle dag ‘n hoogtepunt? Elke dag? So ‘n proefneming het ek nie oorweeg nie, ook nie in die 34 jaar daarna nie.
In so ‘n kantoor op die platteland leer ‘n mens gou: Jý is die koerant. Jy word amptelik en vernaam na die burgemeester se onthale genooi. Jy word ook uitgetrap deur ‘n inbeller wie se koerant nie afgelewer is nie. Jy kry ‘n pluimpie vir “die mooi foto van ons wat jy (sic) in die koerant gesit het” ‒ én die deur word in jou gesig toegeklap by ‘n watergat waar allerlei onheilighede vermoed word. En al dié uiterstes gebeur maklik op dieselfde dag!
Daarvan gepraat: In 1976 word dr. J.A. Stegmann die nuwe besturende direkteur van Sasol en omdat Sasolburg deel van my gebied is, ag die “Base in Bloem” dit gerade dat ek ‘n omvattende onderhoud met hom moet voer. ‘n Paar slapelose nagte volg. Van Sasolburg het ek iets geweet, van dr. Stegmann niks. Wat as dié vername man (later o.a. kanselier van die Vrystaatse Universiteit) stug en onvriendelik is?
Vir selfverdediging het ek nog ‘n wapen saamgeneem: my yslike bandopnamemasjien, van ongeveer A4-grootte. Uiteraard het dr. Stegmann, slim man wat hy is, redelik goed geweet wat ‘n koerant wil weet. Ek kon die meeste van die tyd net luister. Oor meer persoonlike sake ‒ waarin lesers gewoonlik die meeste belang stel ‒ moes hy aangepor word.
Van ‘n Engelssprekende eweknie het ek nog ‘n belangrike les geleer. In daardie dae besluit die stadsraad van Parys om ereburgerskap toe te ken aan mnr. Henning Klopper, gewese L.V. vir Parys en oud-Speaker van die Volksraad. Dis ‘n groot en grênd okkasie, dermate dat ek diplomaties meegedeel word dat ek nie vandag op die gastelys vir die noenmaal is nie.
Mnr. Klopper lewer ‘n diepdankbare toespraak, uit die vuis as ek reg onthou. Niks daarvan val my op as besonder nuuswaardig nie, altans nie vir die oorkoepelende indrukberig wat ek deurstuur nie. Die volgende oggend vroeg bel die nuusredakteur en ek word kwaai aangespreek. Die Rand Daily Mail – van alle “vyandiggesinde koerante” – het my ge-scoop.
Met wat? Mnr Klopper het naamlik ‘n groot geheim verklap. Hy het in sy toespraak vertel hoedat hy nadat hy die Speaker geword het, die reuse-skildery van koningin Elizabeth van haar prominente plek in ‘n wandelgang van die Parlement laat verwyder het, en dat geen haan daarna gekraai het nie. En dit staan vanoggend op die Mail se voorblad.
Berge val op my, heuwels bedek my! Want ek het hom dit hoor vertel, maar nie gedink dis juis nuuswaardig nie. Die les: Alles hoef nie altyd Groot Nuus te wees nie; ‘n interessante anekdote is ook nuus.
Steeds 1976: Soweto! Agterna gesien was ek skandelik oningelig oor wat anderkant die spoor gebeur. Op ‘n persoonlike vlak: my geweer het onder die bed gelê, ‘n kluis was nog nie wet of noodsaaklik nie; die swart huishulp het vrye toegang tot die woonstel gehad. Op ‘n (on)professionele vlak, en ter versagting: die Polisie het nie ‘n woord gerep oor enige onrus nie, die base in Bloemfontein het geen opdragte in dié verband gegee nie en in my kring van kennisse is nie daaroor gepraat nie. Nogtans herinner ek my dat daar soms rookwolke uit die swart township verrys het. En dit was dit. Mea culpa.
Ook in ironiese trant: soos die meeste Vrystaatse plaasseuns was ek lief vir skiet en jag; ek het dus ook ‘n rewolwer aangeskaf. Reg agter my stoel op kantoor was ‘n kas en ‘n tree agter die kas ‘n lae deur. Wanneer jy dié stram deur oopgestoot het, was jy in ‘n soort halfdonker kelder met ‘n lae plafon, die vloer van stowwerige grond, houtbalke in verskillende rigtings en ligte rommel hier en daar. Ek het dadelik die potensiaal raakgesien. Die eerste Saterdagmiddag ná dié ontdekking is ek met rewolwer, patrone en skywe na my eie binnenshuise skietbaan – net ‘n blok weg van Kroonstad se hoofstraat! Ek het laat waai. Die gebou het weergalm, rotte het weggeskarrel, maar verder het geen haan daarna gekraai nie.
Onverhoeds het ek deel van tragi-komiese tonele geword. Die Volksblad het, waarskynlik op voetspoor van Die Burger, besluit om ‘n Ekstra-uitgawe vir “Kleurlinge” uit te gee. Ter bemarking daarvan is ‘n Ma-en-Baba-kompetisie met aanloklike pryse uitgeskryf. Gevolglik stap ek oor naweke kamera-om-die-nek deur Brentpark en verkondig die aankoms van ‘n eie koerant wat mense se lewe kan verander.
Kom nader, liewe ma’s! En bring julle babas!
Spoedig is ek oorval – nie deur ‘n horde woedende swart mense nie, maar deur hoopvolle bruin ma’s met snotneusbabas. Die toelatingsvereistes was uiters toegeeflik: twee persone, ‘n ma en ‘n baba, albei opsigtelik bruin. Dis al. Die deurslaggewende faktor, skoonheid, is nie genoem nie. En dit was lonend; vir elke gepubliseerde foto is ek betaal, terwyl niemand van Brentpark iets gewen het nie. Indertyd het die ironie ‒ “onreg” sou nie vergesog wees nie ‒ van sulke situasies aan my verbygegaan.
Mettertyd het groter dinge in my loopbaan op my gewag, maar die opwindende pioniersdae in die Noord-Vrystaat was eenmalig en in verskeie opsigte onoortreflik. Ook die lesse bly my steeds by.
O ja! Daar was ook die ontmoeting met Kroonstad se Moeder Theresa, tannie Bessie Wiesner, en haar pragtige dogter Elsa. ‘n Storie vir ‘n ander dag.
***