HERINNERINGE AAN JOHANNES GROSSKOPF EN ARRIE JOUBERT

In sy boek Koerantkamerade (Naledi, 2021) skryf Hennie van Deventer oor ‘n vyftigtal mediamense met wie sy pad gekruis het. Dit sluit in Johannes Grosskopf en Arrie Joubert. Hennie se stukke oor dié twee koerantmanne word hier met sy toestemming geplaas.

Johannes Grosskopf: Sondebok van Syferfontein

Van egliede wat saam in die tuig was, kan jy by die Nasionale Pers in ’n japtrap tien, twaalf noem. Spanwerk “binne gemeenskap van goedere” gedy klaarblyklik in ’n joernalistieke omgewing. Van die bekendste was Hubert en Alba (Bouwer) Coetzee, Dirk en Johanna (van Graan) de Villiers, Danie en Anneke van Niekerk, Ton en Lorna Vosloo en Johannes en Santie Grosskopf.

Met die egpaar Grosskopf het ek in die 1960’s kennis gemaak op ’n vlugtige skof in Bloemfontein voordat Gross (toe nog mnr. Grosskopf vir my) met die stigting van die Sondagkoerant Die Beeld in 1965 as assistent-redakteur Rand toe is; ’n pos wat hy ook later by Rapport sou beklee. By dié het hy die vader geword van die hekelrubriek Pollux se Praatjies wat van die eerste dag af al amper 50 jaar elke Sondag spottenderwys op politieke tone trap.

In Bloemfontein het by ons almal heel gou ’n heilige respek vir sy skerp intellek posgevat. Sy woord “piffel” het ons woordeskat verryk. Met dié woord het hy, en later omtrent almal van ons jonger generasie, tjorrel, twak, bog of “bollie” beskryf. Aan die voete van hierdie Gamaliël uit die Kaap is ’n persoonlike neiging tot doelbewuste mooiskrywery ook vinnig afgeskud.

In 1963 is ’n epiese oorlogprent, Zulu, oor die Slag van Rorke’s Drift in Januarie 1879 tussen die Britse weermag en die Zoeloes in die Drakensberg verfilm. Ek en fotograaf Kas Dreyer was drie dae namens Die Volksblad op die filmstel. Een donker aand is ’n skouspelagtige brand geskiet. Die lekkende vlamme wat die kranse helder verlig, was indrukwekkend. Die Volksblad se “spesiale verteenwoordiger” was begeesterd. Hy stal sy beste “prosa” uit. Grosskopf se geredigeerde weergawe wag vir hom op sy tikmasjien toe hy ná ’n opdrag terugkeer. Dit lyk soos Bloedrivier soos byvoeglike naamwoorde gesneuwel het. Die vlamme is nie meer “bleekgeel reusevlamme” nie, net doodgewone “vlamme”. Die ergste van alles: ’n Studentemaat wat onverwags kom inloer het, staan die verrinneweerde berig aandagtig en lees. Berge bedek my.

Op verskeie rondreise agter dr. HF Verwoerd aan – van Vryburg tot Klerksdorp – het Grosskopf my politieke verslaggewing help slyp. Die deurlugtige premier is in Afrikaanse koerante in die 60’s amper woordeliks gerap-porteer. En om Verwoerd te rapporteer, was verwoede werk. Verslaggewers moes om die beurt skryf totdat hul arms lam is terwyl hy in sy hoë stem praat en praat. Sonder ’n nota, nota bene.

’n Verwoerd-vergadering wat my lank bly kwel het, was een op Vryburg. Die aand tevore is ’n ete aangebied. Grosskopf besluit om vroeg te gaan slaap en die jong kollega met die ete-toespraak te vertrou. Maar toe Verwoerd gaan sit, sit die uwe nog met ’n skoon notaboekie: ’n ronde niks om te rapporteer nie. Die senior man kon die volgende oggend op sy rug val. “Jy is ’n dapper jong man,” het hy sarkasties opgemerk. Dit was nie as ’n kompliment bedoel nie. Tot vandag toe weet ek nie: Was ek aan die slaap, arrogant, onnosel of dalk net ’n goeie joernalis wat ’n liggewig-toesprakie sonder werklike inhoud raak getakseer het?

Santie Grosskopf het op hul Bloemfonteinskof die rubriek Stop van Myne behartig – einste een wat later deur Johan van Wyk vleuels gegee is. Sy was die eerste vroulike skrywer. Dat dit nogal koddig is dat ’n vrou ’n rubriek skryf waarvan ’n pyp en twaksak die embleem is, is iets waaraan niemand voor die tyd gedink het nie. Te laat is daaroor gewonder. “Toemaar,” het Santie besorgdes droog gerusgestel, “die lesers sal dink ek stop kouse.”

In April 1974 het Grosskopf, redakteur, en ek, nuusredakteur, die voorhoede gevorm van die Beeld-intog in Johannesburg. Die hoofredakteur, Schalk Pienaar, die assistent-redakteurs, Ton Vosloo en Ebbe Dommisse, en die tegniese redakteur, Bob van Walsem, sou eers later opdaag. Ons tweemanspan het in die Old Arcadegebou in Markstraat, Johannesburg, ingetrek. Ons moes ’n redaksie kry, strategie uitwerk en ’n duisternis ander voorbereidsels tref vir die nuwe noordelike dagblad wat op 16 September tot die mark sou toetree. (Kyk eerste voorblad bo.)

Dit was ’n opwindende taak, wat ook naweke by die gesellige Grosskopf-huis in Linden oor ’n glasie rooiwyn voortgesit is. Hier het ek dié fyn gesin nog beter leer ken en op prys stel. Aan die openheid en hoë vlak van gesprekvoering tussen die ouers en hul kinders, Ernst, Annemarie, Riël en Hein, die jongste, het ek my verwonder. So iets het ek nie geken nie. ’n Hegte band is in die tyd gesmee. Mnr. Grosskopf het op sy aandrang Gross geword.

Net vier maande nadat Beeld begin het, moes Schalk Pienaar, een van die grotes in die Afrikaanse persgeskiedenis, die aftog blaas. Weens ’n aftakelende siekte was hy net ’n skaduwee van sy ou self. In Januarie 1975 is hy terug Kaap toe. Die kapteinsmantel het outomaties op Grosskopf geval. (Sien hoofstuk 27: “Passasier van statuur”.) Van Gross se redakteurskap is een beeld oorheersend: Hy plat op die vloer in sy kantoor in die hoek van die sogenaamde “Kremlin” (die hoofredaksievleuel), omring deur molshopies papiere met ’n duisternis syfertjies in talryke kolomme. Dit was sirkulasiesyfers. Die redakteur kon eenvoudig nie glo dat sy koerant wat met soveel drome en so ’n sterk redaksie gestig is, só hartverskeurend vasval nie.

Al was dit nie sy werk nie, het hy dag vir dag, Peter Stuyvesant in die hand en met ’n frons op die hoë voorkop gekeep, die verkoopsyfers gefynkam. Die skuld vir die gesukkel kon nie in redaksionele esprit de corps en inspanning gesoek word nie – dit het hy geweet. Ons redaksie was bitterlik lief vir ons koerant en het ons harte in elke uitgawe gestort. Iewers in daardie kolommetjies moes die geheim dus versteek wees. Daarvan was hy oortuig. Deels was hy op die regte spoor.

Beeld se eie bemarkingspoging was nie juis die toonbeeld van uitnemendheid nie, en die hele konsep is later volgens ’n Amerikaanse model ingrypend verander. Maar die kritieke faktor was nie ongefokusde bemarking nie. Aanvanklik het die naam Die Transvaler ’n sekere lojaliteitswaarde gehad. Onder dr. Wimpie de Klerk was dit nie ’n produk sonder verdienste nie. Later het die knoeiery met die sirkulasiesyfers ’n kritieke rol gespeel. Pakke Transvalers is middernagtelik reguit van die rolpers na verlate mynskagte aangery ten einde ’n spooksirkulasie in stand te hou en die skyn te wek dat hy steeds aan die wenkant is. Die sirkulasieskandaal is ’n naam gegee: “Syferfontein”.

Bitterheid oor “Syferfontein” het opnuut opgestu met die 86-jarige Grosskopf se dood op 12 Oktober 2014 op Stellenbosch, waar hy ná sy aftrede in 1984 aan die US (Universiteit van Stellenbosch) hoogleraar en hoof van die nagraadse departement van joernalistiek geword het. Elke liewe personeellid van Beeld was immers pynlik daardeur getref. Elkeen, ook ek, het hand in eie boesem gesteek. Was ons eie bydraes nie dalk gebrekkig nie?

Niemand is erger gewond as Johannes Grosskopf nie. Hy is die sondebok gemaak vir die vernedering en verliese wat die Nasionale Pers in Johannesburg op die lyf geloop het. In April 1977, ná 30 maande se inspanning, het hy, gestroop van sy redakteurskap, redakteur: Suider-Afrika geword, ’n ietwat esoteriese nuwe pos. In 1981 is hy na Washington gestuur om ’n nuwe buitelandse kantoor, naas die Londense eweknie, vir die koerante te vestig.

Toe die sak patats oor “Syferfontein” in 1980 uitgeskud is, was Die Transvaler se dae ge-“tel”. Hy moes stert tussen die bene uit die oggendmark padgee. In 1983 moes hy uitwyk na Pretoria om as middagblad ’n nuwe nis te probeer vind. By die Pers is gejubel. Gross moes die vreugdevure maar van ver dophou; die soet smaak van triomf was hom nie beskore nie, al was die sege inderdaad reeds in sy tyd beklink. (Wimpie de Klerk was met Die Transvaler se val nog redakteur. In alle billikheid kan geen vinger na hom gewys word nie.)

Gross se gebruik was om elke dag ’n beknopte oorsig oor die koerant vir die redaksie te gee: Welke berigte goed hanteer is, waar bykomende aspekte uitgelig kon word, waarmee mededingers ons geklop het en watter stories beter aangebied kon word. Vir die nuusredakteur was die daaglikse dosis pluimpies en kritiek waardevol. Sy resep is later deel van my eie redakteursarsenaal gemaak.

Selfs nadat hy akademie toe is, het (prof.) Gross ’n lewendige belangstelling in die praktyk behou. Oproepe en briefies uit Stellenbosch was stimulerend. Een van sy laaste kommunikasies voor my aftrede in Desember 1997 was toe die onweerswolke oor deelname aan die WVK (Waarheid-en-versoeningskommissie) begin opsteek het.

Op 7 April 1997 skryf hy hy dink “’n probleem is vir jou op pad”. Hy vertel van ’n oproep van “’n man wie se naam ek nie gesnap het nie”, wat ’n ondersoek doen vir voorlegging oor Afrikaanse koerante aan die WVK.

Met sy antwoord kon ek my vereenselwig: “Dat na my wete die kommissie moet aandag gee aan erge oortredings van menseregte, en ek weet van geen persoon wat deur ’n koerant vermoor, aangerand of afgedreig is nie. Dat die kommissie nou met die pers begin lol, lyk vir my na ’n heksejag, ‘and I want no part of it.’” Gross-er kon die boodskap nie.

Arrie Joubert: Tel sy sente en sy woorde

Atletiek, sokker, fietsry, rugby, gholf, krieket, tennis en rolbal. So lyk die lys van voorkeursportsoorte van Arrie Joubert, prins van sportskrywers vir dekades in die vorige eeu.

Met sy aftrede in 1978 ná ’n roemryke loopbaan van 30 jaar het ek hierdie bloubloedlid van die joernalistieke adel vir my weeklikse rubriek Onder vier oë in Beeld uitgevra: hoogtepunte, voorliefdes, top-uitblinkers? Van die antwoorde was verrassend, en werp lig op hierdie fyn en geskakeerde mens wat deur vriend en vyand geëer en gerespekteer is. Wat Arrie in daardie onderhoud verklap het, is onder meer:

  1. dat hy sokker as Suid-Afrika se nasionale sport sou verkies het, omdat dit soveel wetenskapliker en eenvoudiger is;
  2. dat krieket se uitgerekte aard en vervelige onbesliste uitslae vir hom bra sleg afsteek by die opwinding van ’n 100 meter;
  3. dat hy, wat tien wêreldtitelgevegte bygewoon het, nooit vrywillig na ’n boksgeveg sou gaan kyk nie, omdat ’n “killer instinct” by hom ontbreek. Sy simpatie is altyd by die verloorder;
  4. dat geld ’n te groot rol in gholf speel en te swaar op spelers se gemoed druk – daarom dat jy nooit ’n glimlag by ’n groot toernooi sien nie; en
  5. dat hy fietsry hoog ag omdat die soort mens wat daaraan deelneem, meer as die gewone kwota mannemoed nodig het.

Atletiek was Arrie se eerste liefde. Hy het vier Olimpiese Speles, 27 SA kampioenskapsbyeenkomste en die Spartakiade in 1963 in Moskou bygewoon. Van sy hoogtepunte was Gert Potgieter se wêreldrekord van 49,3 sek. oor die 440-tree-hekkies in 1960 in Bloemfontein (nog op die ou baan) en Malcolm Spence se bronsmedalje in die 400 meter op die Spele in Rome in 1960 nadat hy nege inspuitings in sy hakskeen ontvang het.

Die enkele sportgebeurtenis wat vir hom bo alles uitgetroon het, tegelyk die land se grootste sportramp, was die hekkieskampioen Potgieter se tragiese motorongeluk 12 dae voor die Olimpiese Spele in Rome. Die jong polisieman is ernstig beseer toe hy net buite die atletedorp teen ’n boom vasgery het. ’n Moontlike goue medalje was daarmee heen. “Dit het gevat aan ’n man.”

Wie was ons beste atleet? “Volgens sekere maatstawwe is Paul Nash (die naelloper) voor. Ek sal Nash, Potgieter en Spence in dieselfde asem noem.” En die grootste SA sportman van sy tyd? “Ongetwyfeld Gary Player.” Vir Player het hy in 1956 in Melbourne ontmoet toe hy as 21-jarige sy tweede internasionale titel gewen het. Die volgende dag was Gary in die bed met asma. “Van hom sal ons nie veel sien nie,” het Arrie by homself gedink. Nou toe nou!

’n Rugby-entoesias het Arrie nooit geword nie. Toe gebeur dit ongelukkig dat die Springbokke op sy enigste rugbytoer, in 1965 in Skotland en Ierland, in vyf uit vyf wedstryde streepsuiker kry. Om sout in die wonde te vryf, kom ’n beroemde Springbok-agterspeler en vra Arrie moet die individualistiese skrumskakel Dirk de Vos uit die span skryf. Arrie was geskok oor die onbehoorlike voor-op-die-wa-versoek. Gesteurd het hy teruggekap: “As jy gewoond is om sulke versoeke tot rugbyskrywers te rig, moet jy my asseblief nie as rugbyskrywer beskou nie.”

So het ons, sy kollegas, Arrie geken: reguit, eerlik en onberispelik. ’n Man wat die hoogste waardes in die joernalistiek sy eie gemaak, en nooit geskroom het om droogmakers en kansvatters voor stok te kry nie. Hy was nou maar net ’n besonderse mens wat in absoluut alles die hoogste standaarde nagestreef het. Onkreukbaarheid duik saam met eienskappe soos bedagsaamheid, billikheid, integriteit, inbors, lojaliteit, menslikheid, nederigheid, oorwoënheid en werksetiek in elke gesprek met tydgenote op.

Met byvoeglike naamwoorde was hy suinig. Vir party sportskrywers is ’n sportmens maklik ’n grote, ’n legende of ikoon. Nie vir Arrie nie. Die woord “briljant” het hy in sy loopbaan hoogstens een, miskien twee keer, gebruik om ’n uitsonderlike sportprestasie te beskryf, het hy met Friedel Hansen van die SAUK gedeel. Want, het hy geredeneer, “wat is beter as briljant?”

Arrie was primêr ’n sportskrywer, en het ’n meriete-sportprys van die staatspresident, PW Botha, vir sy prestasies op die terrein ontvang. Maar sport was lank nie sy enigste forté nie. In die Randse en Londense kantore was hy lank ’n uitmuntende algemene man met verbluffende veelsydigheid. Op sy kerfstok is groot sportstories soos die slagting in München en Potgieter se ongeluk. Aan die ander kant van die nuusspektrum: die Coalbrook-mynramp by Sasolburg waarin 435 mynwerkers in 1960 gedood is, David Pratt se aanslag op die lewe van HF Verwoerd by die Randse Paasskou in 1960, die opspraakwekkende Cottesloe-kerkberaad in 1961 en die Johannesburg-stasiebom (deur bomplanter John Harris) in 1964.

Waar was Arrie nie oral nie? In 1963 met pous Paulus se eerste openbare oudiënsie in Rome was hy daar; by die helde-ontvangs vir die Russiese ruimtevrou Nina Teresjkowa in Praag ná haar epiese solo-ruimtevlug met die Vostok 6 in 1963 was hy daar; toe koningin Elizabeth in 1967 in Buckingham-paleis ere-ordes toeken, was hy daar – net enkele treë van haar majesteit af. Beroemdes met wie hy diepte-onderhoude gevoer het, sluit in sir Ernest Oppenheimer, koning Konstantyn, Cassius Clay, Avery Brundage, Albert Luthuli, Ian Smith en John Vorster.

In elke opsig was Arrie ’n man vir orde en metodiek. Elke brief het hy in ’n boek aangeteken. Wanneer dit beantwoord is, is dit met ’n regmerkie afgemerk. Ook ’n man vir absolute korrektheid: toe die Springbok-naelloper Judge Jefferys (sic) se naam byvoorbeeld op drie, vier verskillende wyses geskryf is, het Arrie vir Herman le Roux versoek om hom in Durban te bel en doodseker te maak.

Met geld was hy, indien moontlik, nog konserwatiewer as in sy taalgebruik. Terwyl hy Londense verteenwoordiger was, het hy kantoorrekeninge te voet gaan betaal. Goeie oefening – maar dit het vir die maatskappy ook seëlgeld gespaar! Met sy terugkeer na Suid-Afrika ná drie jaar het hy op die skip sy plakboeke uitgehaal en elke berig opgemeet. Toe maak hy ’n sommetjie: volume teenoor totale uitgawes. Tuis gekom, het hy die bestuur laat weet: die Londense kantoor het in sy tyd soveel sent per woord gekos. Was dit die uitgawe werd?

Sy merkwaardige loopbaan het hy heel rustig as Beeld se deeltydse boekeredakteur afgesluit terwyl hy hom in sy vrye tyd op sy stokperdjie, filatelie, toespits. Sy rugbyseëls het hom, ironies, die naaste aan die hart gelê. Hy het ook voortgegaan om uitgebreide atletiekstatistieke te hou. As statistikus was hy van internasionale statuur.

Nadat hy in Julie 1986 op 67 jaar ná ’n grusame motorongeluk naby Middelburg, Transvaal, gesterf het, het Herman le Roux in ’n huldeblyk geskryf: “Al is niemand onmisbaar nie, sal die Nasionale Pers ooit weer ’n Arrie Joubert kry?”

Goeie vraag, Herman, het alle kollegas wat bevoorreg was om Arrie te ken, in ’n koor beaam.

Koerantkamerade deur Hennie van Deventer is by boekwinkels te kry. Of by www.naledi.co.za