HERINNERINGE AAN ALF RIES EN DIE PERSGALERYSPAN

André J. Brink het ‘n paar stukke oor sy tyd as parlementêre verslaggewer vir Nagkantoor geskryf. Twee daarvan word hier as een artikel met sy toestemming herpubliseer.

Naspers se parlementêre span het uit nege lede bestaan – drie van Die Burger, twee elk van Beeld en Die Volksblad en een van Oosterlig. Die negende lid was die skrywer van die daaglikse rubriek Indrukke uit die Parlement. Baie keer, maar nie altyd nie, was dit ook iemand van Die Burger.

Ja, almal mans. In die sewe jaar wat ek daar was, was geen vrou lid van die parlêmentêre span nie. Van die ander koerantgroepe het wel vroue in hul spanne gehad – mense soos Anne-Marie Mischke, Marichen Waldner en Karin Brynard (nou een van ons voorste krimskrywers) van Perskor en Helen Zille van die Rand Daily Mail. Sapa het ook ’n vrouelid of twee gehad het. Maar by Naspers – eintlik moet ek praat van Nasionale Koerante, want dit was destyds die Naspers-filiaal waaronder die koerante geresorteer het – was dit net mans.

Alf – of George Alfred Friend Ries, om hom by sy volle name te noem – was die hoof van die koerante se politieke redaksie. Hy was ’n legendariese figuur. Korterige van postuur met donker hare, maar wat hy nie van die binnewerkinge van die politiek geweet het nie, was nie die moeite werd om te weet nie.

Hooffoto bo: Alf Ries skryf die hoofberig oor sy politieke vriend John Vorster se dood. Onder: Nog een van Ries se berigte wat heel moontlik te danke was aan sy noue bande met Vorster.

Hy het uitstekende kontakte op die heel hoogste vlak gehad. Hy was lid van die Broederbond en ’n vertroueling van PW Botha en nog meer van John Vorster. Dit het selfs by geleentheid gebeur dat Vorster vir Alf Pretoria toe ontbied het voordat hy ’n kabinetskommeling aangekondig het. Dan kon Alf natuurlik uiters akkuraat voor die tyd in Die Burger “bespiegel” hoe so ’n nuwe kabinet gaan lyk.

Maar sy kontakte het nie net die hoës ingesluit nie en ook nie net NP-mense nie. Hy het oor die hele politieke spektrum kontrakte opgebou om die baie eenvoudige rede dat Alf nooit die bron van iets wat in vertroue vir hom gesê is, sou verklap nie. Om dié rede het selfs ook opposisiepolitici hom vertrou en hoë agting vir hom gehad.

Alf was bowe alles ’n baie lojale Naspers-man – lojaal teenoor die pers en veral natuurlik teenoor Die Burger. Hy het graag gesê iets het nie gebeur voordat Die Burger nie daaroor berig het nie. En een keer toe ’n Vrystaatse LP (dit was Oom Gert, maar ek wil dit liewer nie noem nie) sy mening oor daardie dag se debat gevra het, het hy geantwoord: “Koop more Die Burger!”

Al was Alf  baie ernstig oor die politiek, beteken dit nie hy was ’n ou suurknol wat in niks anders belang gestel het nie en geen sin vir humor gehad het nie.  Hy kon ordentlik kuier ook.

Een van dalk die minder bekende dinge omtrent Alf, is dat hy versot was op dobbel – by name roulette. Dit het my totaal onkant gevang die eerste keer toe ek hom in aksie gesien het. Dit was by die casino van Estoril buite Lissabon tydens PW se 1984 Europese toer. Alf by die roulettetafel was ’n heel ander mens as die een wat ek in die parlement of by politieke vergadering leer ken het.

Ek sal ook nie die aand in Wene op daardie selfde toer vergeet toe ons na ’n deftige casino is nie. Nadat ek ’n paar Oostenrykse sjielings gewen het, het ek besluit om dadelik op te hou voordat ek dit weer verloor. Maar  Alf was nog nie reg om terug te gaan hotel toe nie.

“Ek het nie eintlik iets gewen nie en ook nie juis verloor nie,” het hy vir my gesê.  “Dis voel net nie reg nie,” het hy gesê en is terug tafels toe. ’n Ruk later nadat hy ’n klompie sjielings verloor het, was hy heel tevrede. “Nee, nou kan ons maar gaan,” het hy met ’n glimlag gesê.

Al was  hy baie ernstig oor sy werk en ook ’n streng hoof, het ek hom net een keer ooit regtig kwaad gesien. Dit was een aand op die Kaaplandse NP-kongres in Oos-Londen. Ná die aand se vergadering waar PW gepraat het, was ons saam met die politci op ’n onthaal in die Kenneway Hotel. Toe sien ek Alf keer vir Jack Viviers, PW se perswoordvoerder (en ‘n gewese kollega),  op die trappe  was.

“Jack,” het hy gesê terwyl sy oë geblits het van woede, “jy is aangestel om ons (die pers) te help.  Maar al wat jy doen, is om pampoene voor ons poepholle te rol!”

Uitverkies

Om gekies, nee uitverkies, te word om deel van Naspers se parlementêre span te wees, was ’n groot eer. Dit was die finale bewys die base dink jy het die potensiaal om “ver te gaan” en vir die meeste van ons was dit ’n belangrike trappie op pad boontoe.

Die span. Die skrywer staan in die middel, vyfde van links (met snor en bril). Alf Ries is voor links, met snor en ligte pak.

Om in aanmerking vir daardie status te kom, moes jy al taamlik ervare gewees het en ook bewys het dat jy die politiek “verstaan” en die regte ingesteldheid het. In my dienskontrak – wat ek op 18 Augustus 1970 onderteken het – is daar ’n paragraaf wat lui: “Daar word aangeneem dat u die Nasionale beleid van ons Maatskappy goedgesind is.” En daar waar ek geteken het ek aanvaar my benoeming as lid van die vaste kantoorpersoneel, moes ek “die versekering (gee) dat ek die Nasionale beleid van ons Maatskappy goedgesind is.”

Ek het dus geweet waarvoor ek my inlaat.

Toe ek in 1981 gekies is om Kaap toe te gaan, het ek al meer as 10 jaar se joernalistieke ervaring gehad. Nog belangriker, ek het die vorige jaar die tussenverkiesing in Fauresmith vir Die Volksblad gedek – waartydens ek maande lank op Fauresmith gebly en net naweke huistoe gegaan het – en toe gewys het ek is beslis die Nasionale beleid goedgesind. (Sien André se storie hieroor elders op hierdie webblad.)

Met my aankoms in Kaapstad is ek en die ander twee nuwe lede van die span daardie jaar, Carl Meyer van die Oosterlig en Tim du Plessis van Beeld, deur Alf toegspreek. Ons moet onhou, het hy gesê, ons werk nou nie net meer vir ons eie koerant nie, maar vir die groep. Ons het egter gou uitgevind Die Burger se belange tel meer as die ander drie koerante s’n.

Tydens daardie jaar se Wantrouedebat – waarin enige spreker oor enigiets onder die son kon praat – het die nuwe LV vir Caledon, Lampie Fick, in ’n aandsitting in sy nooienstoespraak gepraat oor hoe belangrik die verbouing van hops in sy kiesafdeling was.

Die verslaggewer – ek gaan nie sy naam noem nie – wat daardie toespraak aangehoor het, was nie van Die Burger nie en het net so ’n paragraaf of twee oor hierdie obskure landbouproduk geskryf. Die volgende dag was Alf briesend. Ons vyf galeryverslaggewers is behoorlik die leviete voorgelees. Hoe kon ons so ’n belangrike toespraak so afskeep? In die vervolg moet ons seker maak geen Kaaplandse NP-LV se toespraak word ooit weer so afgeskeep nie.

Die Burger se twee galeryverslaggewers het opdrag gekry om ’n behoorlike verslag oor die toespraak te skryf wat hulle toe ook met behulp van Hansard gedoen het. Feitlik ’n woordelikse weergawe van daardie toespraak het dan ook die volgende dag as hoofberig op Die Burger se parlementêre blad verskyn!

Daar was darem pret ook met toesprake van Kaaplandse NP-LV’s, soos toe oom Hans Rabie van Worcester een aand sy nooienstoespraak aan witblits gewy het. Die parlementslede het behoorlik gelê soos hulle vir Oom Hans gelag het. Veral toe hy sê: “En mnr. Die Voorsitter, hierdie produk is baie goed vir die oumansklier ook. Jy kan maar net aansmeer, dan is jou kop losdeur!”

Oom Hans het baie goeie publisiteit gekry, want Willie Kühn, die indrukskrywer, het sy hele rubriek aan die toespraak afgestaan.  Toe stuur Oom Hans vir hom ’n geskenk – ’n bottel witblits.

Daar is besluit ons moet daardie puik produk op die proef stel. Doppie op doppie is geskink en gedrink. Daai goed het my skoon laat hik so sterk was dit. En ons het besluit die manne wat in die galery sit, moet ook deel in die pret. Toe is die bottel in die persgalery ingesmokkel en reg bo die Speaker se stoel het ons nog ’n paar doppies geskink en gedrink.

Daar was ’n goeie gees en kameraderie onder die lede van die span. Ons het oor en weer gekuier en gebraai en het ook ’n keer of wat tydens elke sitting saam gaan uiteet of ’n naweek iewers gaan uitspan. Een aand het ons almal – met die uitsondering van Alf, vir wie ons nie genooi het nie – ’n fliek gekyk – Debbie Does Dallas wat destyds nog hoogs verbode kykstof was. Toe Alf daarvan uitvind, was hy nogal omgekrap. “Hoekom was ek nie genooi nie?” wou hy weet.

Daar was ook gereeld een keer per sitting ’n naweekkuier op Franskraal in Alf Ries en Wiets Beukes se strandhuis. Dan is vleis gebraai, perlemoen in bamboes gaargemaak, pannekoek gebak en pap en wors voorberei. En natuurlik behoorlik gekuier. Ek kan nie onthou dat op enige van hierdie naweke politiek gepraat is nie!

Ons het ook ’n tradisie gehad dat elke “groot geleentheid” gevier moes word. En groot geleentheid kon beteken ’n verjaarsdag, jou vrou se verjaarsdag, huweliksherdenking, verhoging of selfs as jy net die dag gevoel het iets moet gevier word. Dan het ons ’n bestelling geplaas by die persgalerybodes – Cuba libre! Rum en coke.  Aan die begin het ek gewurg om die drankie afgesluk te kry, maar met die jare het dit al lekkerder geraak!

Een laaste gedagte: Ons is nooit, nie deur Alf of iemand anders nie, voorgeskryf oor hoe en wat ons moes skryf nie. Ons het GEWEET!