HENNIE VAN DEVENTER: ENERGIEKE KOERANTMAN MET VELE HOEDE

Johannes Froneman vertel die een en ander oor een van die mees energieke koerantmanne wat ons nog gehad het. Daarna volg enkele skryfstukke deur Hennie van Deventer.

As met reg van die meeste joernaliste gesê kan word dat hulle nie juis oor hul loopbane skryf nie, kan jy dit nie van Hennie van Deventer sê nie.

Sedert sy effe vroeë aftrede in 1998, het hy sy aftrede met soveel geesdrif aangepak as sy loopbaan as joernalis en bestuurder. Op die koop toe het hy ‘n hele gerf boeke geskryf, onder meer oor sy loopbaan.

Hy was inderdaad ‘n gerekende dagbladredakteur en koerantehoof, skrywer, meningsvormer en gemeenskapsleier. Hennie was twaalf jaar lank redakteur van Die Volksblad in Bloemfontein en, in ‘n goue era,  ses jaar koerantehoof van Naspers.

Dat hy hom nie laat verlei het om ander aanbiedinge te aanvaar nie, moet hom tot eer gereken word. Die SAUK wou hom as nuushoof lok en daar was ook ‘n aanbod om ‘n direkteur-generaal in die staatsdiens te word.

Hennie se kop het van jongs af joernalistiek toe gestaan. In 1957 was hy die eerste leerlingredakteur van die Hoër Volkskool, Potchefstroom, se jaarblad. In 1961 volg die redakteurskap van Die Perdeby, studenteweekblad van Tukkies. In 1980 word hy op 39 jaar redakteur van Die Volksblad nadat hy by Beeld as nuusredakteur en assistentredakteur gedien het.


Hennie van Deventer in sy studeerkamer op Melkbosstrand. Foto: Johannes Froneman

Hennie het dieselfde geesdrif as verslaggewer, nuusredakteur en redakteur na sy bestuurspos gebring. As kompulsiewe koerantman het hy nie laksheid of gebrek aan geesdrif geduld nie. Trouens, hy kon bra ongeduldig en kwaai wees met sy kritiek. Dit het hom soms die gramskap van kollegas op die hals gehaal. Maar ek dink hulle het hom vergewe as die produk baie goed was.

In die gedenkboek oor die Volksblad kry die gedeelte oor Hennie die opskrif ‘n Briljante bliksem. Voorbeelde van albei eienskappe is daar baie, hoewel ditdalk effe kras gestel is. Soos die skrywers dit stel: “Hy het elke dag al sy verstandelike vermoëns , talente, kwota adrenalien en emosies ingespan om te sorg dat die koerant lyk soos hy geglo het Die Volksblad behoort te lyk. Dit is hierdie kokende passie wat soms diegene om hom gebrand het.”

Desondanks die moeilike jare wat koerante reeds in die 1980’s beleef het (weens die hap wat TV van die advertensiekoek begin vat het) het Hennie in sy tyd as Naspers se uitvoerende hoof: koerante help sorg vir goeie winste. Daarna het koerante meestal agteruit geboer weens faktore wat grootliks buite joernaliste se beheer was.  

Maar vir Hennie het die meetsnoere in lieflike plekke geval. Of soos hy by sy afskeid opgemerk het: Hy het deur sy loopbaan danksy goeie tydsberekening telkens op die regte plek saam met die regte mense gewerk. En geloop (kan mens maar byvoeg) toe die Koos Bekker-era vlamvat, dasse waai en sekretaresses base op hul naam begin noem. Dit was nie heeltemal Hennie se styl nie.

Of hy het besef dis tyd vir ‘n nuwe geslag wat nuwe uitdagings moes trotseer, ‘n digitale era en een waar koerante se rol drasties minder sou word. Dit was dalk net goeie tydsberekening om jou baadjie te vat.

In 2017 het ek onder die opskrif Vegters vir vryheid in Beeld geskryf: “Hennie van Deventer was by Die Volksblad ‘n verbete vegter soos (Schalk) Pienaar. Ja, ‘n Broederbonder en Nasionalis, maar nie sonder baie moed en deursettingsvermoë in sy stryd teen die verkramptes in die AWB en KP nie. Sy lewe (en die van lede van sy gesin) was soms op die spel, maar hy het met sy kenmerkende geesdrif vasgeskop en ‘n belangrike bydrae gelewer om 1994 in die Vrystaat moontlik te maak.” 

By nabaat meen ek steeds dit is geldige kommentaar. As redakteur het hy hom sterk ten gunste van onderhandelings, geregtigheid en ‘n vreedsame skikking met die ANC uitgespreek. Die Volksblad was nie in alle Nasionale kringe gewild nie.

In die Afrikaner-broedertwis tydens die onstuimige 1980’s het hy hom geskaar by die soeke na ‘n regverdige bedeling vir almal. Oor die netelige Asiërkwessie in die Vrystaat het hy ‘n kritiese stem laat hoor. (Suid-Afrikaners van Indiese afkoms mag deur die Vrystaat gery het, maar nie oorgeslaap het nie! Dit is hoe vreemd apartheid se weë soms was.)

In 1990 het hy op die voorblad vir PW Botha in ‘n ongewone ope brief gepak oor sy weerstand teen FW de Klerk se hervormings. Bygesê: PW was toe reeds van sy mag gestroop. 

Hennie was ‘n wegbereider wat reeds in 1988 ‘n een-tot-een-ontmoeting met die ANC se Thabo Mbeki in Londen gehad het, en was, volgens hom, die enigste Afrikaans-Nasionale redakteur wat in 1992 genooi is na die  laaste buitelandse konferensie van die leierskader van die ANC in Parys. 

Sy voorlegging aan die Waarheids-en-Versoeningskommissie oor die moeilike stryd om ‘n demokratiese bestel aan konserwatiewe Afrikaners te “verkoop”, was die enigste deur ‘n individuele Nasperser. Hy het aangevoer dat dit ‘n wanpersepsie is dat Afrikaanse koerante slaafse napraters van die NP was. As sleuteldrywers vir hervorming in uitdagende omstandighede het hulle meer as hul plig gedoen, het hy betoog.

Hierdie argumente het neerslag gevind in sy boek Kroniek van ‘n koerantman (Tarlehoet BK, 1998). Dit lees dalk te veel na selfregverdiging en verloor daarom trefkrag. Dit moet sekerlik saam gelees word met wat Ton Vosloo later oor Naspers toegegee het – en Tim du Plessis se argumente (gesteun deur ‘n jonger geslag as Van Deventer en Vosloo) oor waarom dit nodig was om voor die WVK jammer te sê. (Kyk Du Plessis en Vosloo se hoofstukke in ‘n Konstante revolusie: Naspers, Media24 en oorgange, saamgestel deur Lizette Rabie en uitgegee deur Tafelberg, 2015 asook Vosloo se boek Oor grense, uitgegee deur Jonathan Ball, 2018, hoofstuk 12).

Ander sou selfs skerper vrae vra aan redakteurs in die Nasionale dampkring vra oor hul alte versigtige hervormingsdenke en volgehoue skerp kritiek op mense soos dr. Van Zyl Slabbert, leier van die Progressiewe Federale Party. Maar elk het sy eie geveg in sy eie kryt gehad. Ook Hennie van Deventer van die Volksblad.

Sy latere, meer beleë, outobiografie, In kamera (Protea, 2003), bied ‘n goeie kyk op sy lewe. (Sy heelwat latere Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman, bied eweneens ‘n plesierige leeservaring. Hy skryf daarin onder andere oor verskeie oudkollegas.)

Hennie self beskou die verwerwing in 1976/77 van die Nieman Fellowship vir joernaliste vir ‘n sabbatsjaar aan die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts, VSA, as ‘n groot hoogtepunt. In sy blogs en boeke vertel hy meer daaroor.

Die talle rade en liggame waarin hy gedien het, sluit in die uitvoerende rade van die Wêreldvereniging van Koerante (WAN), die Afrikaner-Broederbond, die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, die Technikon OVS en die Bond van Oudstudente van UP. Waar hy nog tyd daarvoor gekry het as besige koerantman, is ‘n misterie.

Hennie het sedert 1993 ‘n twintigtal boeke gepubliseer (met nog twee wat in 2021 kom): humorsketse, perspektiewe oor koerante, die pers en perspersoonlikhede, en toenemend oor sy hartswêreld, die bos, waar hy in ‘n boshuis in Sabiepark langs die Krugerwildtuin graag kuier. 

Op tagtig plus, het hy nog nie stoom verloor nie en plaas hy gereeld bydrae op die Facebookblad Nagkantoor. Oor die boek Seuns van Bird Island het hy agt koerantbriewe geskryf, wat moontlik bygedra het tot die apologie deur Rapport asook Tafelberg se onttrekking van die boek en die betaal van skadevergoeding. 

Hennie en sy vrou, Tokkie, woon sedert 1997 op Melkbosstrand – dis nou wanneer hulle nie in die Bosveld is of op ‘n bootvaart was nie. 

Naspers het in 1997 sy hoogste eerbewys, die Phil Weber-medalje, aan hom toegeken vir “die nalatenskap wat hy in elke fase van sy loopbaan van 35 jaar gelos het”. Hy was ook die ontvanger van verskillende ander eerbewyse:

Van Volkies se oudleerlingebond was hy die eerste ontvanger van ‘n erepenning vir ‘n oud-Volkie wat op nasionale vlak presteer het (1997); Tukkies se Alumnibond het Laureatus-kleure aan hom toegeken (1988); deur die stad Bloemfontein is hy vereer met ‘n oorkonde vir gemeenskapsbetrokkenheid (1988); en deur die Vrystaatse Universiteit met ‘n Eeufeesmedalje vir sy rol as raadslid en as redakteur van Die Volksblad (2004). Hy was as Tukkiestudent primarius van Kollege-tehuis in 1962. In 1961 het die universiteit dux-erekleure aan hom toegeken.

Kyk ook die inskrywing oor Hennie van Deventer op die Afrikaanse Wikipedia.

Amper Ge-Donner

Hierdie stuk deur Hennie van Deventer het in sy boek Koerant verskyn:


In die wêreld van die koerant leer ‘n mens allerlei fyn kunsies.
Een is vernuftige voetwerk. Só vernuftig dat die uwe ná 36
jaar met genoeg spanning, konfrontasie en stryd kan sê:
Hennie van Deventer het verdien om gedonner te word, maar
is nooit gedonner nie – hoekom nie is ’n raaisel. Nie dat daar
nie ’n paar “near misses” was nie!

’n Moerige setteryvoorman, Rod Preston, het ‘n moersleutel
teen ‘n veeleisende jong subredakteur by Die Volksblad gelig.
By Beeld moes wyle Johan Parreira, ’n bokser, weer een nag
vir ‘n verskrikte nagredakteur lyfwag speel: teen ‘n bladplakker
met ‘n skerp mes in sy hand en moord in sy hart.
Wat presies die kollegas met die gevaarlike wapens in die
hand se humeure so laat opvlam het, kan ek nie presies onthou
nie. In eersgenoemde geval wil ek my herinner aan ‘n
puntenerigheid oor iets wat vet (swart) geset moes gewees het
en nie was nie. In die tweede geval herinner ek my aan ‘n
irritasie oor wat die vakman as onnodige rondskuiwery van
berigte tussen die eerste en tweede uitgawes beskou is.

Kollegas het my ‘n kompulsiewe koerantman genoem.
Gewag is ook meermale gemaak van my entoesiasme. Die twee
kan ‘n giftige kombinasie maak. Helaas.

By my afskeid van Naspers in 1998 het ek die volgende
woorde kwytgeraak: “Ek kies die uitweg van die lafaard, met
een enkele kollektiewe apologie, hetsy vir ongevoeligheid,
onnadenkendheid, ongedurigheid of onreg wat gepleeg is. Daar
was ongelukkig te veel van elk hiervan.” Die boetvaardigheid
geld steeds.

Omgekraptheid oor my manier van doen was nie altyd net
huishoudelik nie. In die broederstryd tussen “verligtes” en
“verkramptes” in die jare 80 was haatbriewe en telefoniese
doodsdreigemente in die nag lank deel van my roetine.

‘n Ultra-regse wat homself ‘n “wit terroris” genoem het, het
‘n woonstel reg oorkant die koerant gehuur – “so naby dat ek
op die dak kan spoeg as ek kwaad is”. Sy raad aan my was:

“Lig slaap en rondkyk… Die Boere is op jou.” My nekhare het
omtrent orent gestaan as ek skemeroggende met my rug na sy
woonstel die straat oorsteek.


In ‘n brief, onderteken deur “Jou Laksman”, is ek gedreig:
“Ek wurg jou morsdood dat die honde jou kan vreet en uitspoeg
op die ashoop”. Nie ‘n aangename vooruitsig nie.
‘n Kollega, Willie Kühn, het ‘n naamlose kransie ontvang en
‘n boodskap dat hy sy “politieke doodvonnis” onderteken het.
‘n Fotograaf, Mario van de Wall, ‘n diabeet, is op Brandfort deur
vier fanatici met pikstele, knuppels en stokke toegetakel en tot
in die hospitaal se waakeenheid geslaan, geskop en gewurg. Sy
aanranders het net met boetes weggestap.

Dit was stormagtige tye. Geen wonder nie ‘n Engelse
koerantman het die periode beskryf as “a second Boer war –
with Boers on both sides!”

Selfs in eie geledere kon gemoedere ook soms maar hoog
loop. In 1989 – kort nadat ek in die destydse tydskrif Insig
geskryf het ‘n sterk suspisie leef voort, ook in die buiteland, dat
die Weermag ná die Verdrag van Nkomati met Renamo bly
konkel – daag Wynand Breytenbach, adjunk-minister van
verdediging, duidelik ongemaklik by my kantoor op.
Magnus Malan, sy minister, het hom gestuur om “Hennie
van Deventer op te donder”.

“En?”

“Ek het vir hom gesê ek donder nie my vriende op nie.”
Gerusstellend gewees om dit van my gereelde snoekermaat
by weermag-geleenthede te hoor!


Op Maandag 7 Mei 1990 het ek my eerste en laaste ope brief
op die voorblad van Die Volksblad aan PW Botha geskryf. Ek
het Botha gevra hoekom hy hom nou verset teen De Klerk se
hervormings terwyl dit eintlik maar net die “logiese uitvloeisels”
was van ‘n proses wat hy self begin het. Sy optrede “lyk na ‘n
doelbewuste strategie om sy opvolger so seer as moontlik te
maak”.

My ongewaardeerde raad aan hom was dat ‘n afgetredene sy
mond oor die politiek moet hou. Die “ope brief” het die verwagte
vertoornde reaksie uit die “Anker”, die gekweste Groot Krokodil
se skuilplek in Wildernis, uitgelok.

Ek glo dat Botha my ná ‘n verbale aanslag graag fisiek te lyf
sou wou gaan. Gelukkig het 800 km se telefoondraad ons
geskei.

Nou’s ek ‘n heelhuidse 80 en maar te dankbaar dat ek
skotvry van alles afgekom het. Ek hoop niemand kry die gier
om hier op Melkbos ou of nuwe griewe met geweld te kom
besleg nie. Gebeur dit, sal ek my maar moet teësit met my
kierie

Hennie se reaksie op PDBY

Die Burger berig op 5 Augustus 2022 oor ‘n Tukkie se streke en noem terloops dat die studentekoerant nou PDBY heet. Hier is Hennie van Deventer se reaksie:

Geluk uit Melkbos met die scoop oor die astrante eerstejaar wat soos ‘n wafferse regsdosent klasse aangebied het. As telegramme nog bestaan het, het ek vandag vir Tukkies se studentekoerant een gestuur. Of – as ek die e-pos-adres gehad het – sommer ‘n vonkpos. Sien, ek het ‘n verbintenis. Was in 1961 – maar net ses dekades gelede – redakteur van die veel gelese blad. Toe was sy naam Die Perdeby. Of sommer “Die By”. Later het hy net Perdeby geword. Nou heet hy PDBY, lees ek vandag in Die Burger. Wonder hoe spreek ‘n mens dit uit.

Nietemin: die berig oor die PDBY se kordaatstuk draai vandag die horlosie ver-ver terug – tot die dag vroeg in 1961 toe Daan van der Merwe, studenteraadsvoorsitter en latere LV van die Konserwatiewe Party, my. ‘n Kollegeman, na sy kamer in Sonop-tehuis ontbied het met die nuus oor my aanstelling (as nuwe redakteur).

Ek willig dadelik in, wetende dat ek vir my kursus BA. (Hons) in Sielkunde net Donderdagaande klas sou hê. Lekker baie tyd om koerantman te speel.

Wat ‘n jaar word dit toe nie! Suid-Afrika word ‘n Republiek — ‘n droom bewaarheid. Dr. H.F. Verwoerd verbreek bande met die Statebond. Kerkmense bots by Cottesloe oor die politiek. Oor al die gewigtige gebeure praat Die Perdeby saam.

Hoë besoekers stroom na die kampus. Dr. Verwoerd kom kuier twee keer — die Maandag voor die referendum oor ‘n Republiek en toe weer op 29 Mei om ‘n gedenkplaat te onthul. Pres. C.R. Swart woon die intervarsity by, wat Wits tot algemene verbystering daardie jaar wen, en kom ontvang die eerste uitgawe van die jaarblad, Trek, (op die foto ook ‘n jong Frits Gaum, later redakteur van Die Kerkbode).

Dr. Anton Rupert is die spreker op Lentedag. Hy bepleit ‘n “nuwe rassebenadering” en stel, in botsing met Verwoerd, nywerheidsvennootskap met onderontwikkelde Bantoegebiede voor. N.P. van Wyk Louw praat op gradedag oor wie en wat ‘n intellektueel is.

Elke keer is Die Perdeby op die toneel met ‘n verslaggewer — dikwels in die persoon van die redakteur self — en ‘n fotograaf, Dirk Cloete, ‘n fris ingenieurstudent met ‘n motorfiets.

In die uitgawe van 17 Maart verskyn ‘n voorblad-hoofartikel wat Tukkies oproep om op die lughawe Jan Smuts (nou O.R. Tambo) aan dr. Verwoerd “hulde te gaan betuig vir die onverbiddelike standpunt in belang van ons vaderland wat hy (oor die Statebondskwessie) op die Premierskonferensie in Londen ingeneem het.” Die Tukkies ruk drie dae later met tien munisipale busse na die lughawe op, en “Die Perdeby” van 24 Maart jubel dit uit: “Magtige skare verwelkom ons premier — grootste uittog in geskiedenis.”

Op die hoofartikelblad het ‘n gereelde rubriekie verskyn, waarby ‘n tekening was van ‘n vet Mexikaan met ‘n hangsnor en ‘n rokende pistool in die hand. Hy sê: “Ek skiet jou as nie saamstem nie …” In die uitgawe van 24 Maart moet daar eenstemmigheid wees “ dat ons nou almal Commonwealth Old Boys-kleurbaadjies kan dra!”

Die Perdeby was darem nie net politiek nie. Van een mooie Bloemfonteinse roos, Gerdia Neethling, wat later joolprinses geword het en by wie ‘n verliefde redakteur in ‘n stadium knaend flikkers gegooi het, tel ek nie minder nie as sewe foto’s in die jaar se 22 uitgawes. Dit is seker ‘n rekord in nepotisme, maar het ongetwyfeld die koerant versier. Sy het mev. Gerdia Pretorius geword en het tussen Klerksdorp en Lichtenburg verongeluk.

Sosiale nuus was o.m. dat die naelloop-kampioen Sep Serfontein gekroon is tot 1961 se Mnr. Asterhof . Vir die eer moes hy daardie koshuis se ses verdiepings op en terug in minder as 46 sekondes.Op die sportblad duik ‘n speler sierlik oor die doellyn nadat hy uit ‘n lynstaan weggebars het in ‘n naelbyt-wedstryd teen Diggers van Johannesburg. Dis niemand minder nie as Hans Smith, later die grootbaas by Yskor, ‘n ratse slot wat ook vir Transvaal uitgedraf het. Tukkies het daardie ene gewen met 25 teen 20.

Van die akademie het in 1961 helaas maar min gekom. Maar lof vir Die Perdeby het uit verskillende oorde opgedaag. Jan Grobler, gewese Nasionale LV wat met dr. Andries Treurnicht in sy ministersdae oorhoops geraak het, het geskryf: “Namens vele Tukkies wil ek u geluk wens met die wyse waarop u gevlieg het: soms so hoog dat die President daar kon bykom, soms so laag dat selfs ‘n ienk dit kon verstaan.”

Waansinnige wette

In ‘n blog skryf Hennie van Deventer as volg oor die “Indiërkwessie” (en sy koerant se rol in die verwydering van hierdie stukkie vernederende apartheid).

Die winter van 1980 het vinnig toegeslaan. In die Oos-Vrystaatse bergwêreld het die skaduwees vroeg lank geword Toe hy die huiwerige kloppie hoor, het ‘n Zastronse boerseun in die verbygaan ‘n lamp gegryp op pad na die plaasopstal se voordeur.

Hy draai die koper-deurhandvatsel. In die ligkol sien hy ‘n vreemde wese soos hy tevore nooit gesien het nie: ‘n donker gelaat met ‘n lang, styl haredos, netjies ge-Brylcream en agteroor gekam. “Pa, pa,” skreeu hy in die gang af, “kom kyk hier.” Hy beskryf die kombinasie van kleur en haarstyl in woorde wat in die lig van heersende rassesensitiwiteite liefs aan die verbeelding oorgelaat moet word.

Die storie, ‘n ware verhaal, was in kort dat ‘n Indiër op sy pad deur die Vrystaat deur die haastige skemer ingehaal word. Uit vrees dat hy nie teen sononder oor die grens gaan kom nie, sit hy voet in die hoek by die laaste petrolpomp verby … en betaal die prys. Sy motor kom rukkerig tot stilstand, en hy moet, kannetjie in die hand, die langpad te voet aandurf om te gaan petrol soek by ‘n plaashuis wat hy in die verte gewaar.

Vrystaters was dalk konserwatief maar nie onwellewend nie. Ek glo dat die boer, ‘n Van Rensburg, wie se suster aan my bekend was, die man gehelp het. Hopelik was die besoeker dus nie te lank “onwettig” in die provinsie waar Indiërs nie juis welkom was nie. (Ingevolge ou wette van die 1890’s – waarin Indiërs pront nog “Koelies” genoem is – was hulle verbied om hulle in die Vrystaat te vestig, sake te doen of selfs net ná sononder permitloos rond te beweeg.)

Die rolprent Free State oor die verbode liefde tussen ‘n Indiërman en ‘n pragtige predikantsdogter het raakpunte met die penarie van die stomme Indiërman sonder petrol. ‘n Pap band en ‘n verlate grondpad speel in die rolprent ‘n sleutelrol. Net daar loop die twee stories egter uiteen. Waar die rolprent op die hartverskeurende liefde van die jong paartjie fokus, was die trefferreël van die storie oor die Zastron-insident die seun se verbaasde reaksie. Sy beskrywing van die besoeker se voorkoms was die rede dat dit oorvertel is en om vleisbraaivure lekker oor gelag is.

In sy resensie van Free State stel die outeur en rubriekskrywer Herman Lategan dit kort en kragtig: “Hierdie rolprent is een wat internasionaal gaan opspraak maak. Dit gaan ook vir ‘n nuwe geslag wys hoe waansinnig ons eintlik was.”

As ‘n Vrystater van daardie era kan ek nie juis van Herman Lategan se insigte verskil nie. Laat ons maar ruiterlik erken: Dit was uitermate waansinnig om beskaafde mense so argeloos minagtend te behandel, en dan boonop humor in die pynlike gevolge te sien.

Een troos darem: Die skille is uiteindelik nie deur buitestaanders van ons Vrystaters se oë verwyder nie. Ná ‘n amperse eeu van gemaklike saamleef met die ontmenslikende beperkinge is daardie anachronistiese ou Vrystaatse wet van 1980 af toenemend uit eie geledere bevraagteken.

Op die voorpunt van ‘n ontwakende nuwe geregtigheidsgevoel in die provinsie was sy dagblad (Die) Volksblad, oudste Afrikaanse koerant in die land.

 Indiërs en Chinese kan in die 80’s darem verreweg nie meer met dieselfde juk opgesaal word as in ‘n vergange era toe hul voorsate – ook in (Die) Volksblad) se voorganger, Het Westen – brutaal as die “gele pest” gebrandmerk is nie, het die koerant konsekwent betoog.

Wat dalk eers net ‘n verleentheid en ongemak in beperkte kringe soos  (Die) Volksblad was, het spontaan tot ‘n breër weerstand ontwikkel. Ná stelselmatige bearbeiding in hoofartikels, en heelwat druk agter die skerms, soos destyds in die politiek nogal algemeen was, het Vrystaatse NP-leiers soos dr. Nak van der Merwe en mnr. Kobie Coetsee se oë ook oopgegaan vir die pyn, leed en vernedering waaraan die wetsgehoorsame Asiërbevolking in hul provinsie onderwerp was.

Onthullende berigte oor die haglike omstandighede waarin Indiërs moet leef terwyl burokrate kibbel oor waar hulle moet tuisgaan, het veel bygedra om die ou barrikades in 1985 te laat tuimel.

Dit was nogal ‘n bevrydende gevoel om in die fliek vir my vrou te kon fluister: Nog een van Die Volksblad se monumente is die herroeping van daardie simpel wette.

Die blog het op 6 Mei 2016 by http://hennievandeventer.co.za/tag/indiers/ verskyn en word hier met die vriendelike toestemming van die outeur geplaas.

Ererol van SAUK-uitsaaiers

’n Ererol met name van voortreflike uitsaaiers op die Afrikaanse radio het voor Hennie van Deventer se geestesoog verbygeflits op Afrikaanse radio se 75 ste verjaardag in 2012.

Ek is drie jaar en ‘n stukkie jonger as die Afrikaanse radiodiens, maar het as klein pikkie al met kortgolf kennis gemaak. Die piep-piep-piep-piep van flitsberigte, die sportkommentaar – ook boks en rofstoei! – later wonderlike musiekprogramme soos U eie keuse, nuus en nuuskommentaar, radiodrama’s (ai, Soetmelksvlei!), joernaalprogramme, boekerubrieke en wat nog het deur die jare my lewe geweldig verryk.

Die bydrae tot die Afrikaanse kultuur is ‘n blywende monument vir radio. Die rol in die vorming van individue is miskien moeiliker definieerbaar, maar sekerlik in honderde duisende gevalle – meer! – van ewe onskatbare waarde.

My vroegste helder radio-herinneringe is van die 1948-verkiesing waar die NP die VP-regering uitgeknikker het. Saam met Oupa Visser het ek in ons voorhuisie in die gehuurde skakelhuis in Kimberley die uitslae opgeslurp. Met elke NP-sege het Oupa se kierie tik-tik-tik ‘n riel op die houtvloer gedans. In my kindergemoed het ek besef: iets groot is aan die gang.

Sportkommentators was van die eerste radiomense wat vir my huishoudelike name geword het: Paul Bothma, Awie Labuschagne, Johan de Bruyn (hoop ek onthou reg), Dana Niehaus, Morkel van Tonder en andere het my voor die radio vasgenael laat sit met hul opwindende uitsendings. Later het die era van die onvergeetlike Gerhard Viviers gekom.

Met Gerhard het ek ‘n uitvoerige onderhoud gevoer vir my rubriek “Onder vier oë” by Beeld in die laat jare 70. Hy was ‘n legende, hierdie man wat, ironies, aan keelkanker sonder ‘n woord oor sy lippe sou sterf. Ook die onblusbare Cobus Robinson – hy wat Madeleine van Biljon, Koningin van die Lag, se uitbundige lag vir luisteraars ontsluit het – het in “Onder vier oë” sy beurt gekry.

Maar jy was dan ‘n koerantman en hulle radiomanne, hoor ek iemand vraend opmerk. Was hulle dan nie opposisie nie? In sekere opsigte was die radio en koerante natuurlik in stryd – veral op die gebied van nuus en advertensies. Maar hulle was ook media-bondgenote vir Afrikaans. En dat die radio fyn mense op sy personeel gehad het, kan niemand betwyfel nié.

Almal wat ek leer ken het, was Mensekwaliteit met ‘n hoofletter M. Ek is skrikkerig dat ek nou gaan name uitlos, maar ek dink aan mense soos Nic Swanepoel en Daniel Hugo met wie ek oor boeke gesels het, Retief Uys (ook sportkommentator en in ‘n stadium aanbieder van U eie keuse) wat in Bloemfontein ‘n goeie vriend geword het, Fanus Rautenbach (rakker wat hy was), joernaliste soos Daan Eksteen en Neville Krige, albei Londense verteenwoordigers en politieke beriggewers van die SAUK, en sovele ander. (Ook Mornay Pretorius, Carel Leonhardt en Christo Olivier het ek in Bloemfontein leer ken en waardeer. Mornay was hoofsaaklik Engelse omroeper, Carel was toe al ‘n bestuurder en Christo is van ‘n latere generasie – saai nou nog uit!)

Met sekeres het ek stelle afgetrap, soos met Chris Louw in ‘n berugte Monitor-onderhoud oor die WVK. Laat ek nie op ‘n feesdag ou koeie hier uit die sloot grawe nie.

Ek, Daan en Neville was in ‘n stadium spanmaats in die Parlementêre krieketspan, wat aangevoer is deur Ossie Newton-Thompson, LV vir Pinelands, wat later in ‘n vliegongeluk omgekom het. Van ons spanmaats was sir De Villiers Graaff en die latere minister John Wiley. Groot tye daar onder die akkerbome van Fernwoord beleef, en een middag – as aanvangskolwer (ek het vir die skool op nommer 10 ingestap) – iets soos 30 n.u.n. aangeteken. Was selfs genoem in die uitslaekolom van die Late Argus.

Dit net terloops. Deur Daan en Neville het ek ander radiomanne leer ken, soos Stoffel Prinsloo en Johan Stemmet, Daan se bure in ‘n halfmaan-huisies hoog op in Seepunt. Van Johan Stemmet het Daan altyd gese: “As ek so ‘n stem-het, het ek ook ‘n omroeper geword.”

Mooi stemme. Dit het al die uitsaaiers natuurlik gemeen gehad. Die fluweelkwaliteit van die ikoniese stem van Daniel Kirstein – seker aanbieder numero uno in my tyd – sal nie maklik geëwenaar word nie.

Die stemme van nuusmense wat uit die Parlement en uit Londen gereelde stembydraes gelewer het, was dalk net so bekend of bekender as dié van die gewildste omroepers. Neville had so ‘n lekker brei. Sy lakonieke styl kon ‘n mens laat vermoed hy loop altyd met ‘n glimlag, wat nie ver van die waarheid was nie. Sy glimlag het sy glans verloor toe John Vorster hom as woordvoerder werf, maar kort daarna as Eerste Minister bedank. Neville is aan ‘n vroeë hartaanval dood in die kantore van Joe Slovo, by wie hy mettertyd beland het.

Hierdie blog het op 27 Oktober 2012 verskyn en word met vergunning van die outeur hier gebruik.