HENNIE MAAS: ‘N OUSKOOL-OMROEPER WAT NUWE TEGNOLOGIE OMHELS

Johannes Froneman het per e-pos met die radioman Hennie Maas gesels oor sy lang loopbaan in die uitsaaiwese.

Hennie, jy is al ruim meer as vyftig jaar in die uitsaaiwese en saai nog weekliks uit met jou RSG-program Sterre en planete. Waar het alles begin?

Na my studie by Tukkies het ek in 1964 as ‘n klerk in die staatsdiens begin werk.  In daardie stadium het ek begin om troues op te neem en vetroud geraak met gesofiskeerde opnametoerusting. Die Nagra van Kudelski was daardie jare die vlagdraer van opnamemasjiene. Ek het ook begin leer om met die Neumann-mikrofone te werk. Opnames is nie op band gemaak nie, maar op ’n asetaat-“plaat” …

Met dié opname-agtergrond het ek toe aansoek gedoen by die SAUK in Minnaarstraat, Pretoria, om ‘n aanbiedingsassistent te word — iemand wat moes sorg vir die opnames en klankbeheer. Ek is aangestel en het in Commissionerstraat in Johannesburg by die radio begin werk.  Ek het wye ervaring opgedoen en talle bekendes leer ken – Vincent Hesse, Jan Spies, Danie Smuts, Pieter de Bruin, Gerhard Viviers en Hendrik du Bruyn, om met net ‘n paar te noem.

Ek is mettertyd oorgeplaas na Pretoria waar ek wye ondervinding opgedoen het met opnames, byklanke en buite-uitsendings.  Aangesien ek baie met die nuusafdeling in Pretoria geskakel het, het ek later my vlerke gesprei en ‘n verslaggewer by die streeknuuskantoor in Pretoria geword. 

Die immer bedrywige Hennie Maas agter die mikrofoon in sy tuisateljee. Hy vertel: “Ek het ook begin om oudiovisuele programme te maak waarin foto’s of enige grafika gebruik word. Die uitdaging is om die visuele materiaal te laat korreleer met musiek. Dis suiwer ‘n stokperdjie, maar tog baie bevredigend… “

In 1970 is jy Nederland toe om te werk vir Radio Nederland se Wêreldomroep. Hoe het dit gekom?

Ek het al begin om onderhoude op te neem vir die Afrikaanse radio se streeknuusuitsendings en het in dié hoedanigheid aansoek gedoen om ‘n omroeper by die Afrikaanse afdeling van Radio Nederland in Hilversum te word.  Radio Nederland het ‘n kortgolfdiens gehad wat na Suid-Afrika uitgesaai het. My verbasing was groot toe ek hoor dat ek die pos gekry het.  Ek is in Desember 1969 Nederland toe waar ek die eerste keer kennis gemaak het met ‘n tipiese Europese winter – sneeu en al!

Voor my vertrek na Holland, het ek al ‘n hele rukkie uitgegaan met Ingrid Raubenheimer. Ek het haar ontmoet tydens die dramaklasse van professor Anna Neethling-Pohl, wat sy by die SAUK se ateljees aangebied het. Ek onthou een van die raakvlakke tussen my en Ingrid was Beethoven. Natuurlik was dit nie baie lekker om die meisie wat ek liefhet in Suid-Afrika agter te laat nie. Ons het kort na my aankoms in Nederland sommer per pos verloof geraak nadat ons vier jaar lank uitgegaan het. Ek het in  Desember 1970, nog met Luxavia, teruggevlieg na Suid-Afrika en ons is toe op 12 Desember daardie jaar in die Ooskerk in Pretoria getroud.  Dis toe dat ons lang wittebrood begin het, want natuurlik is my vrou toe saam terug Nederland toe waar ons in Bussum naby Hilversum gewoon het.

Vertel meer oor die werk in Holland…

Die werk by die Wêreldomroep was interessant en soms selfs uitdagend.  Ek het gou agtergekom dat ‘n “omroeper” in Nederland nie dieselfde aansien as my eweknieë in Suid-Afrika gehad het nie. Vir die Hollanders was jy maar net nog ‘n  “reporter”.  Ek en Ingrid het soveel as moontlik in Europa gereis – meestal gekampeer.

Die werk as omroeper by die Wêreldomroep het gesentreer om onderhoude met Nederlanders, wat dan na Suid-Afrika uitgesaai is. Die Afrikaanse afdeling het ook weekliks ‘n transkripsieprogram, Uitspan op die Hollandse werf, Suid-Afrika toe gestuur wat dan op Saterdae oor die plaaslike senders uitgesaai is. Een van die interessante mense met wie ek gepraat het, was die bekende Nederlandse dirigent Bernard Haitink. Die onderhoud met die Duitse orkesleier James Last was ook een van die hoogtepunte, hoewel hy nie ‘n Nederlander was nie.

Riaan Cruywagen en sy bruid, Riana, het na 18 maande by ons aangesluit en ons het ‘n hele rukkie ‘n huis gedeel.  Die adres was Kerklaan 48, Hilversum.

Het jy by jou terugkeer weer uitgesaai?

Ons het in 1973 teruggekeer Suid-Afrika toe waar ek aangestel is as bulletinskrywer by die SAUK in Johannesburg.  Ná so ses maande het ek ‘n omroeperstoets by die Afrikaanse diens geslaag en by die span omroepers onder leiding van Morkel van Tonder aangesluit.  Dit was die dae van Gerhard Viviers, Daniël Kirstein, Frikkie Ooshuyzen, Hendrik du Bruyn, Pieter van Vuuren, Johannes van der Walt, Nic Swanepoel, Sarel Myburg, ens.

Later is ek oorgeplaas Pretoria toe waar Danie Erasmus die streekorganiseerder was. In daardie tyd is die oggendprogram Monitor gebore. Toe was die program nog onder die programdiens se vaandel (in plaas van die nuusdiens) en ek het talle insette gelewer. Later is ek bevorder tot streekorganiseerder in Pretoria.

Jy het toe ook as skakelbeampte gewerk…

Sentrachem het my ‘n aanbod gemaak om as skakelbeampte by dié chemiese maatskappy te werk. Ek sit toe letterlik aan die anderkant van die draad, want nou moes ek “stories” oor Sentrachem skryf en aan die media beskikbaar stel.  As skakelbeampte moes jy stories skryf, foto’s neem en funksies reël.

Maar jy is terug radio toe…

In 1983 het die Afrikaanse radio my gevra of ek nie wil terugkom SAUK toe nie.  Aangesien ek heimlik altyd terug verlang het na die radio, het ek die geleentheid met altwee hande aangegegryp. Ek is toe aangestel as streekorganiseerder in Pretoria, dié keer in Weavindpark. Later is ek bevorder en aangestel as bestuurder aktualiteit en sport in Johannesburg. 

Met die veranderinge in 1994 is die Afrikaanse radio veel kleiner gemaak. Van die streke is gesluit en ek moes toe as senior omroeper weer skofte in Johannesburg gaan werk. Die aanpassing was nie te moeilik nie en ek het gereeld die Dinsdagnagskof van middernag tot vyfuur die oggend behartig en dan die aandskof op Donderdae van ses tot middernag.

Uit Hennie se knipselboek: by die bekendstelling van André P. Brink se boek Sandkastele in die Kasteel, Kaapstad.

Iewers het jy die program Oorkant die Maas aangebied (as ek die titel reg onthou). Dit het luisteraars, soos ek, bekend gestel aan soveel mooi Hollandse musiek. Jy is lief vir musiek

Ek het, vandat ek kan onthou, altyd ‘n belangstelling in musiek en klank gehad.  My eerste kennismaking met musiek was die klavierlesse by die skryfster Hettie Smit.  Die lesse het nie baie lank gehou nie. Dit was eers toe ek in die blaasorkes van die Afrikaanse Hoër Seunskool begin speel het dat musiek al belangriker geword het.  Ek het trompet en eufonium (tenoortuba) gespeel.

Deur my omroepjare het ek talle musiekprogramme behartig.  Langs die Maasrvier, Koper, strykers en ander snare, musiekreekse en talle hoorbeelde. Ook Hulle het my pad gekruis saam met Mimi Coertse. 

Maar Sterre en planeteis vir jou nogal spesiaal. Waar kom die program vandaan?

Die program wat ek steeds behartig, Sterre en planete, is hier rondom die eeuwisseling gebore.  Ek het altyd ‘n gematigde belangstelling die hemelruim gehad. Op Donderdagaande, net voor die negeuurnuus was daar ‘n kwartier beskikbaar waartydens vullermusiek gespeel moes word. Ek het toe besluit om vyf minute daarvan te gebruik om vir die mense te vertel watter hemelligame daardie betrokke aand te sien is. Ek het toe die hulp van ‘n amateursterrekundige, Louis Barendse, ingeroep en die res is geskiedenis. Terloops, die Facebook-groep van Sterre en planete spog nou al met 20 000 lede!

Jou ander belangstellings?

Toe ek amptelik in 2005 by die SAUK afgetree het, het ek besluit om dadelik op te tree.  Afgesien van Sterre en planete het ek ook betrokke geraak by RSG Landbou.  Ek het ook begin om opnames van kore te doen. Ek het ook simfonie-orkeste opgeneem.  Dit spruit voort uit my belangstelling in klank. 

Die ervaring wat ek opgedoen het om hoorbeelde saam te stel het my gelei na die volgende logiese stap en dit was om video’s te begin maak. Ek het ‘n tuisateljee ingerig waar ek al my radioprogramme opneem en wat ook mettertyd begin dien het as ‘n video-ateljee. Ek het besef dat mens by die tegnologie moet bybly, want van daardie eerste jare af (toe mens ‘n band met die hand moes terugwen op ‘n bandmasjien) het die toneel heeltemal verander. Alles geskied nou op ‘n digitale platform. Die enigste belangrike skakels – jou ore, oë en mond — is nie digitaal nie.

Intussen gaan ek voort om hanteerbare moeilikheid te soek – met ander woorde uitdagings op die digitale platform, soos om nuwe sagteware aan te leer. Ek het ook nou begin om saam met ‘n vriend, Claude Möller, ‘n Youtube-kanaal te bedryf waarin ons met enigiemand oor enigiets praat. Die kanaal se naam is Henniemaas Claudemöller.

Jy is nog lank nie klaar nie, maar het reeds ‘n baie ryk loopbaan agter die rug…

Ek is baie dankbaar dat ek die medialoopbaan gekies het. Afgesien van al die tegnologiese ontwikkelings, het ek baie wonderlike mense leer ken. Mense wat jou eie lewe verryk. Soos wat mens ouer word, besef jy dat jy geword het wat die omgewing jou gemaak het. Ek en my vrou, Ingrid, kyk terug op ‘n wonderlike samesyn saam met Chris, ons enigste, wat baie talente van die Liewe Vader gekry het.

Geplaas: September 2021