Heinrich Marnitz is ná byna 50 jare agter die mikrofoon nog daagliks lewendig op die lug met ‘n insetsel oor wêreldnuus op Klankkoerant, Pretoria FM se oggendaktualiteitsprogram wat ook op ander gemeenskapsradiostasies gehoor kan word.
Hy bied verder met groot geesdrif ‘n paar gewilde musiekprogramme op Pretoria FM aan. Al hierdie programme getuig van deeglike voorbereiding en ervaring.
As radiolegende het hy verskeie toekennings vir sy werk as uitsaaier ontvang en sal altyd bekend wees as die eerste omroeper wat Afrikaans gepraat het toe televisie in Januarie 1976 amptelik met uitsendings begin het.
Hooffoto bo: Debuut op TV in 1976. Onder: ‘n Onlangse foto van Heinrich agter Pretoria FM se mikrofoon in een van hul moderne ateljees.

Tereg het die FAK die volgende oor Heinrich gesê toe hulle hom vereer het: “Sy afronding, professionaliteit en innemende aanslag dra veel meer as net die inligting wat hy meedeel, dit strek ’n hele kultuur tot eer; dit verteenwoordig waardigheid, entoesiasme, akkuraatheid.”
Heinrich se loopbaan het in Nederland begin (vanwaar Afrikaans destyds ook uitgesaai is). Hy vertel dat hy die SAUK se destydse streng toets gedop het en toe maar eers Nederland toe is.
In 1968 sluit hy toe wel by die SAUK aan en werk daar vir 29 jaar. Maar in 1997 besluit hy om sy eie potjie as bemarker en vryskut te krap. Dit maak toe die deur oop vir sy lang verbintenis met Pretoria FM.
Só was hy aanbieder van die destydse vroegoggendprogram op Radio Pretoria, waar ek hom jare gelede in ‘n beknopte ateljee besoek het. Hy staan steeds douvoordag op om sy insetsel oor internasionale nuus saam te stel en skuins voor agt regstreeks van die huis af op Klankkoerant aan te bied.
Sy musiekprogramme fokus meestal op ouer treffers en is baie gewild. Dit spreek ook van Heinrich se wye musieksmaak. Hy stel sy programme saam uit sy eie plateversameling, rakke vol plate en CD’s.

In sy tyd by die SAUK het hy allerlei programme aangebied (selfs op die ou Springbokradio), maar hy sal seker by uitstek as sportkommentator onthou word — van rugbytoetse tot tennis en groot, groot boksgevegte … In 2016 het hy sy 160ste toets op radio uitgesaai, maar weens kopieregbeperkinge word rugby nie meer op die radio gehoor nie.
Heinrich vertel dat hy toe altesame 163 toetse uitgesaai het — op die Afrikaanse Diens (RSG) en Pretoria FM. Ander rugbywegstryde tel in die hoë honderde. Op Wimbledon was hy dertien keer as kommentator. Dis ‘n lang lys sportgebeure waar hy ons oë en ore was.
As talentvolle, aantreklike mediamens is dit nie vreemd dat Heinrich in sy jonger dae in ‘n paar rolprente gespeel het nie. Dit sluit in Jamie Uys se Dirkie en Franz Marx se En dit was aand en dit was môre.
Hoewel nou goed grys, het Heinrich ‘n jonkheid wat (tesame met sy innemendheid), van hom ‘n aangename stem op die radio maak. Waar ouderdom omroepers se stemme later “dof” maak, is syne nog merkwaardig jonk.
Dis van al die rugbywedstryde, sê Heinrich met ‘n knipoog. Sy sober gewoontes het seker ook bygedra: hy het nooit enige drank of tabak gebruik nie. En hy doen steeds gepaste oefening. Verder sorg sy vrou, Isabel, “mooi” vir hom.
Dalk sit alles in die gene. Heinrich kom juis uit ‘n joernalistieke huis. Sy pa, H.P. Marnitz, het in die laat 1950’s redakteur van Die Vaderland in Johannesburg geword en was bekend vir sy “onfeilbare hoflikheid” en noukeurige taalgebruik.
Die appel het inderdaad nie vêr van die boom geval nie.
`- Johannes Froneman