Harald Pakendorf was vir sestien jaar lank redakteur van agtereenvolgens die Financial Gazette in die ou Rhodesië (Zimbabwe)(1970-72), die Pretoriase Oggendblad (1972-79) en (Die) Vaderland (1979-86).
Hy was alom bekend as ʼn verligte of progressiewe denker wat sterk ten gunste van politieke hervorming was voordat dit gangbare politiek in Afrikanerkringe was. Dit het hom egter op betreklik jong leeftyd sy redakteurskap by die Vaderland gekos – tot nadeel van die Afrikaanse joernalistiek.
Pakendorf as kommentator op eNCA.

Hierna werk hy as politieke kommentator (onder meer vir 15 jaar lank op RSG se Kommentaar-program), as analis, vryskutjoernalis, aanbieder van ʼn TV-program en in die jongste jare as kommunikasieadviseur.
Hy het verskeie aanbiedinge van die hand gewys (onder meer van die Sunday Times) om terug te keer tot die voltydse joernalistiek.
Pakendorf is op Middelburg (Tvl) op ʼn sendingstasie gebore en studeer ʼn tyd lank aan die Universiteit van Witwatersrand in die politiek en voltooi sy BA aan Unisa. Hy begin sy joernalistieke loopbaan by die SAUK en sluit hom toe vir twee jaar aan by Otto Krause se nuustydskrif Newscheck. In 1964 skuif hy oor na die Afrikaanse Pers en word hy later politieke korrespondent van Die Vaderland.
‘n Jong Pakendorf (regs) saam met ‘n kollega, Dries van Heerden.

Na ʼn jaar in 1968 as Niemangenoot aan die Harvard-universiteit word hy voor sy dertigste verjaarsdag redakteur van die Financial Gazette, ʼn blad wat deur Marius Jooste gestig is om Ian Smith te ondersteun. Daaroor het Pakendorf egter voorbehoude gehad.
Jooste het Pakendorf teruggebring Suid-Afrika toe om nog ʼn nuwe blad, die Pretoriase Oggendblad, te begin. Die blad se politiek was, in die taal van die tyd, verlig. Volgens Pakendorf het Jooste (wat meer dikwels van sterk konserwatiewe denke beskuldig is) hom tog telkens teen kritiek uit NP-geledere verdedig. (Die konserwatiewe Thys Human is in Pakendorf se plek aangestel, maar die blad het in die stryd teen Naspers se Beeld in die slag gebly.)
Hierna word Pakendorf redakteur van die Vaderland, maar sy politieke standpunte, soos dat gelyke stemreg en gelykheid voor die reg noodsaaklik is, het uiteindelik gelei tot sy afdanking.
In sy boek Stroomop – Herinneringe van ‘n koerantman in die apartheidsera vertel hy meer oor sy lewe in die joernalistiek. Lees meer daaroor in die Boeke-afdeling: https://mediamense.com/herinneringe-van-n-ietwat-stroomop-redakteur/
Lees ook Gert van der Westhuizen se profiel oor Pakendorf op Netwerk24 asook Alita Steenkamp se onderhoud met Pakendorf op Afrikaans.com: https://afrikaans.com/2018/06/26/stroomop-koerantman-se-herinneringe-harald-pakendorf/