HANNES SMITH — VERBETE VEGTER TEEN TOESMEERDERS

Deur Johannes Froneman

Een van die mees omstrede karakters wat ooit in die Suider-Afrikaanse media gewerk het, was sekerlik Hannes Smith — ook genoem Smittie of, afhangende van jou siening van hom, “Mal Smit” (‘n benaming wat hy uiteraard niks van gehou het nie, veral omdat sy van verkeerd gespel is!)  Hierdie onvoorspelbare, soms vriendelike, altyd vreeslose koerantman het ‘n onuitwisbare indruk op die Namibiese joernalistiek gelaat voordat hy in 2008 in die ouderdom van 75 oorlede is. 

Hannes was 30 jaar lank redakteur van die Windhoek Observer, maar hy het verkies om homself die “reporter-in-chief” te noem. Hoofverslaggewer. Want hy het altyd verslaggewer gebly — eers van die ontvouende Suidwes-Afrika-toneel met sy gruwelike grensoorlog en later van die onafhanklike Namibië.

Hannes Smith die joernalis … reg vir aksie.

Hy was ‘n muckraker in die klassieke sin van die woord: ‘n kompulsiewe identifiseerder van die skadukant van die samelewing wat hy oopgekrap en dan in tipiese geelpersstyl aangebied het. Oor sy etiek is baie vrae gevra, maar hy was nie een vir intellektuele gesprekke oor die joernalistiek nie. Hy was ‘n werkersklasjoernalis sonder fyn maniere of nuanses.

John Grobler skryf in 1998 in die Mail & Guardian as volg oor Smith:

“Unlike any other editor, he still covers most stories himself, with his dishevelled figure and wild hair, trailing several camera bags, stomping up and down the courthouse corridors, collecting copy to be dictated to a high-speed typist later …”

Sy fokus was op veel meer as die skynheilige private lewens van bekendes, hoewel hy dit met graagte oopgevlek het. Sy sosiale gewete en ‘n afkeer van establishments het hom voortgestu. In die ou Suidwes het hy knaend die vergrype van die Suid-Afrikaanse administrasie aan die kaak gestel, maar later ook die onbevoegdheid van die nuwe Swapo-regering.

President Sam Nujoma was bitter oor al die kritiek, asook die feit dat Smith daarop aangedring het dat Swapo-gewondes by ‘n bepaalde geleentheid in 1959 wél mediese behandeling van die regime ontvang het. Die president het Smith openlik gedreig.

Waarop die toe 70-jarige Hannes Smith as volg gereageer het: “The way you believe that you are indestructible and could never err, your haughtiness killed the last vestige of the tremendous warmth I had for you …

Hannes Smith die oorlogsverslaggewer. Hy het Namibië platgery en -gevlieg om eerstehands te sien wat in sy land aangaan. Hy het dit dan in detail aan sy lesers oorgedra.

“I shall fight you publicly to the last ditch and the last round”, het hy die staatshoof uitgedaag. “Do what you think you should do to me, Mr President. You have the powers to do so. And, you know that the nation trembles in front of you but one member of the nation, that is me, does not tremble in front of you”.

Smith het nooit voor die reg of gesag gebewe nie. “Hy het magtig gevoel as hy geweet het hy is reg. Dit het hom vreesloos gemaak,” aldus sy dogter Yanna Smith, self joernalis in Windhoek.

Hy is wel talle kere skuldig bevind aan allerlei oortredings van wette wat, volgens hom, die waarheid van die bevolking weerhou het. Waar die owerheid hom gesensor het, het sy koerant dan maar wit spasies geplaas. Alles het uitgeskreeu: “Julle verswyg die waarheid!”

Hannes het as 16-jarige seun van sy brandarm ouerhuis weggeloop en werk eers as onderdele-assistent op die spoorweë en as dieselwerktuigkundige. Op ‘n onderdele-houer sien hy ‘n spreuk, wat hy later aan ander oorgedra het: “Errors are costly.” Dit was sy joernalistieke motto.

Oor sy jeug het hy nie veel gesê nie. Hy het in ‘n stadium in stormwaterpype geslaap en het, volgens een vriend, gemeen Engels sal hom uit sy armoede lig. Hy was, sou mens kon sê, ‘n produk van armblankedom — ‘n kind van Dorslandtrekkers wat uit Angola teruggekeer het na Suidwes.

Sy dryfkrag was gewoon om uit die put van armoede te kom. Toe sluit hy in 1957 by dieSuidwes-Afrikaner aan as leerlingverslaggewer en later by die Windhoek Advertiser, waar hy redakteur geword het. In 1978 stig hy die Windhoek Observer, waar hy soos‘n slaaf gewerk het — én ander gedryf het. Hy was ‘n perfeksionis, op sy manier en voorwaardes.

Sy onwaarskynlike meeloper by die Observer was die Suid-Afrikaner van geboorte Gwen Lister, wat as “comerade editor” bekend sou word en haar vak onder Smith geleer het. Nie dat Hannes ‘n vrou as politieke verslaggewer wou hê nie; Lister het Smith se aanvanklike seksistiese opmerkings geïgnoreer en tog vir hom kom werk.

Uiteindelik werk die gegradueerde Ikey-aktivis met ‘n kloosterskoolagtergrond en die soms kru en dronk boorling van Namibië jare lank saam in hul stryd teen die apartheidsbewind wat Suidwes vanuit Pretoria geregeer het.

Lister word later die stigter van The Namibian en die bekendste en mees bekroonde Namibiese joernalis. By Smith se dood merk sy op:

“Smittie … was of the ‘publish and be damned’ school of journalism … Love him or hate him (and many did in probably equal proportions) Smittie began to speak out against injustice at a time when it was not popular to do so, often coming into open conflict with the Afrikaner hierarchy in the apartheid years.”

Die Observer is meer dikwels gesensor, soms verbied weens die foto’s van kaal vroue. Hy is gedreig en toegesluit. Net om weer aan te gaan, te snuffel en te skryf. Meestal in Engels, waarin hy weinig onderrig gehad het, maar wat hy, aldus sy dogter Yanna, uitstekend beheers het — al was sy uitspraak soms koddig. Hy kon kopié uit sy kop dikteer om, tot kollegas se verbasing, ‘n bepaalde spasie presies te vul. Keer op keer.

Hy het in ‘n stadium ook Afrikaanse bladsye in die Observer gehad, maar die werklas was te veel. Hy was lank ‘n eenmanvertoning. Tuis was hy egter volledig Afrikaans, soos talle Afrikaanse joernaliste wat in Suid-Afrika by Engelstalige koerante hul brood verdien het.

In 1990 het hy beheer van die Windhoek Observer verloor, maar die koerant sluit na ‘n paar maande. Smith het die Windhoek Advertiser gekoop en as dagblad uitgegee totdat hy in 1994 die regte op die Observer-titel teruggekry het.  

Hannes Smith groet in 1990 op sy kenmerkend persoonlike manier.

Opspraakwekkende bewerings oor die moordenaars van die Swapo-aktivis Anton Lubowski het hom in 1998 in die hof laat beland. Nadat hy nie sekere dokumente kon oorhandig nie, is hy tot drie maande tronkstraf gevonnis.

Hy het dit as ‘n donker hoofstuk in sy lewe bestempel en die hoop uitgespreek dat hy in die gevangenis goed behandel sal word. Op die ou end het hy ‘n week op Swakopmund in die tronk deurgebring. Sapa het berig dat hy sy horlosie en sleutels plegtig aan twee vroue (waarskynlik sy vrou en dogter) oorhandig het en hulle herinner het om sy neusdruppels, tablette en boeke te bring.

Yanna Smith vertel dat haar ma gespot het dat dit ‘n goeie week vir die koerant was — almal het geadverteer. Hannes het eers kwaad geword vir dié storie — hy was immers die trekpleister — maar het later daaroor gelag.

In 2008 is hy met Alzheimers gediagnoseer en hy sterf enkele maande later. In sy testamente het hy spesifiek genoem dat hy geen herdenkingsdiens wil hê nie — spesifiek geen godsdienstige diens nie.

Sy gewese kollegas het hierdie enigma wel as onverskrokke kampvegter vir persvryheid geëer. Van sy liefde vir sy foksteriër en belangsteling in die Tweede Wêreldoorlog het hulle dalk geweet, maar wat deur sy kop gemaal het, kon hulle skaars raai.

Op sy versoek is sy as op Dik Willem naby die Sperrgebiet gestrooi — daar waar hy, lank gelede, op gemsbokstropers se spoor was, immer op soek na die groot storie.

Hierdie artikel het oorspronklik in Beeld en Die Burger en op Netwerk24 verskyn.

Geplaas: Januarie 2022.