GUS CLUVER: VERTROUE WAS SY WAGWOORD

In die 1930’s het ‘n paar woelgeeste ‘n blad met die naam Pro Libertate uitgegee. Hulle wou bietjie vuurmaak onder die Stellenbosse studente. Die blad is in die geheim in die Paarl gedruk en het anoniem verskyn. Dit het inderdaad opslae gemaak.

Een van die studente agter Pro Libertate was Gus Cluver, wat later redakteur van die Stellenbosse Student (die destydse studentetydskrif) geword het en ook hoofdirigent was tydens ‘n intervarsity tussen die Maties en die Ikeys, aldus Wikipedia se inskrywing oor Cluver.

Iewers word genoem dat hy die eerste student op die kampus was met ‘n motor. Dit suggereer dat hy nie brandarm soos so baie van sy medestudente was nie. Sy familie was immers gevestigde Stellenbossers.

Maar toe die geleentheid opduik om in die noorde vir die Afrikanersaak iets te gaan doen en by ‘n nuwe koerant te gaan werk, was Cluver gereed. Die aanstellingstelegram van dr. H.F. Verwoerd was die “wonderlikste” wat hy ooit ontvang het, vertel hy in 1977 aan Matieland, oudstudenteblad van die Universiteit van Stellenbosch. Verwoerd was bes moontlik goed aan hom bekend; hy was tot kort tevore professor aan die universiteit.

Gus Cluver (regs) saam met Piet Meiring, sy nuusredakteur by Die Transvaler waar Cluver in 1937 sy loopbaan as koerantman begin het.

By die sluiting van die Transvaler 56 jaar later, kon oom Gus, soos hy later bekend geword het, getuig van 50 jaar as koerantman, waarvan 42 jaar by die Transvaler. Hy het ook in die redaksies van Die Vaderland en Die Burger gedien en uiteindelik as joernalis gewerk tot hy 77 jaar oud was.

Hy vertel in 1993 in die laaste uitgawe van die Transvaler dat hy die blad se eerste misdaadverslaggewer was: “Dit was ‘n stimulerende tyd en ons het ons werk met byna oordrewe ywer en durf aangepak … Die harde werklikhede wat die toekoms vir ons ingehou het, het ons eers later, baie later, ontdek.”

Die Stellenbosser moes skielik in die grootstad oor die skadukant van Johannesburg skryf. Daarvoor moes hy kontakte by die polisie, hospitale, brandweer en lykshuis opbou, wat hy nougeset gedoen het.

Oor werkure vertel hy: “Vaste werkure? Daar was nie so iets nie. Ek het tweeuur die middag van die woonstel (later huis) vertrek en die volgende oggend om tweeuur teruggekom.” Hierdie skof as misdaadverslaggewer het drie jaar geduur, voordat Cluver na ‘n ander deel van die redaksie verskuif is. Mettertyd het hy groot gebeure beleef en daaroor geskryf, skouers met belangrike politici geskuur en gesien hoe sy gewese redakteur eerste minister word …

Hy noem dat die geheim van joernalistiek vertroue tussen die joernalis en nuusbron is. As jy hierdie vertroue verbreek, kan jy “maar net sowel uit die joernalistiek bedank. Jy kry nooit ‘n tweede kans nie”.

Gelukkig hoef hy nooit om daardie rede te bedank het nie en hy het uiteindelik ‘n buitengewoon lang loopbaan as joernalis voltooi.

In 1987 verskyn Die Transvaler 50 jaar, ‘n gedenkboek met Piet Meiring as outeur, “bygestaan deur Gus Cluver” — dalk ‘n aanduiding van die rol wat hy oor dekades vervul het: nooit die redakteur nie, maar altyd naby aan die vuur, ondersteunend en deel van die span. Hy dien van 1955 vir 30 jaar as die hoof van die blad se Pretoriase kantoor, daar waar soveel besluite geneem, mag uitgeoefen en navorsing gedoen word én nuus van allerlei aard wag om geïdentifiseer te word. Hier het Cluver as nuusredakter sy staal as koerantman gewys.

Sy ou studentevriend John Vorster was by geleentheid juis ‘n nuttige kontak. Gus het snuf in die neus gekry van ‘n belangrike beraad tussen regeringsleiers by die Victoria-waterval en wou dit bevestig. Vorster het sy oproep persoonlik in die premierswoning beantwoord, maar wou nie die feite bevestig of ontken nie. Dit was genoeg vir Cluver. Sy storie was die volgende dag hoofberig in Die Transvaler. ‘n Dag of wat later is ‘n verklaring daaroor uitgereik wat Cluver se berig bevestig het.

Sy invloed as mentor van joernaliste kan ook nie onderskat word nie. In genoemde boek, haal Meiring ‘n destydse hoofredakteur, Hermie Hendriks se hulde aan Cluver aan. Hy vertel Cluver het hom met groot geduld touwys gemaak in misdaadverslaggewing. En nou weet joernaliste dat as mens dit eers onder die knie het, is die res maklik.

Hendriks vertel: “Sy tegniek was meesterlik. Ek moes saam met hom veld toe gaan en wanneer ons terugkom, het hy sy berig geskryf en moes ek ook ‘n proefhaal doen. Daarna het hy vergelyk en verduidelik — en die beginsels van wie-wat-waar-wanneer-waarom ingehamer. En wanneer die ander koerante verskyn het, is ek na die biblioteek geneem en is ons berig soos dit verskyn het, met dié van die ander vergelyk.”

As hoof van die Pretoriase kantoor kon Cluver seker nie hierdie tipe van indiensopleiding herhaal nie, maar sy leiding aan joernaliste was steeds daar. Onder Cluver het Die Transvaler ‘n Pretoriase bylae bygekry, Uit die Hoofstad. Dit het later ‘n suksesvolle agtbladsybylae geword met die naam Pretoria Eksklusief. Maar toe kla belangrike mense dat hulle nie in die “aangelapte broek” wil wees nie, wel in die hoofkoerant. (In 1968 het Pretoria toe wel ‘n volwaardige Afrikaanse dagblad gekry met die naam Hoofstad.)

Cluver het geleer dat Pretoria “die stad is wat die minste suiwer plaaslike nuus lewer”. Die nuus vir die bylae moes dus regtig baie plaaslik wees; die res is van wyer belang en het na die hoofkoerant gegaa.

So het Gus Cluver oor dekades heen op die mallemeule van die koerantwese gery. Daarvoor het die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns hom welverdiend in 1986 met ‘n merietemedalje vereer.  ‘n Bykans vergete mediamens wat sy lesers met integriteit gedien het.

— Johannes Froneman