DR. VERWOERD VERMOOR

Een van die grootste Suid-Afrikaanse nuusstorie tot nou toe: Die eerste minister word in sy bank in die Parlement deur ‘n bode met ‘n dolk doodgesteek. Dr. H.F. Verwoerd is byna deur sy volgelinge aanbid en selfs deur van sy opponente hoog geag. Maar hy was as simbool van wit oorheersing (apartheid) ook ‘n gehate figuur.  

Verwoerd is net ná twee-uur die middag van 6 September 1966 vermoor, wat beteken die middagkoerante moes blitsvinnig hul voorblaaie oormaak en in hul laat uitgawes (of spesiale uitgawes) oor die nuus berig. Hierdie is van die sterkste voorblaaie.

Die hoofopskrifte van koerante was in sommige gevalle opmerklik besadig. Dit kan wees omdat hulle in ‘n tyd van loodsetwerk nie op kort kennisgewing oor sterker (groter) letters beskik het nie, of omdat ‘n koerant soos The Star hom geroem het op sy sober, “grys” styl.

Landstem volg die volgende dag op met “alle feite” terwyl Die Rand Daily Mail ook agter die gebeure probeer ontrafel en Die Transvaler die gemoed van die land (probeer) interpreteer. Dr. Verwoerd was nie net die premier nie, maar ook die koerant se eerste redakteur.

Selfs ‘n heftige anti-apartheidskoerant soos die Rand Daily Mail reflekteer die dag ná die moord eerbied en rou op sy voorblad. ‘n Latere redakteur skryf dat die redaksie gestoei het met die vraag hoe hul voorblad moet lyk omdat hulle geweet het van hul swart lesers sou bly wees oor Verwoerd se dood. Die Saterdaguitgawe van die koerant fokus op die begrafnis.

Verwoerd se dood het die voorblaaie van talle buitelandse koerante gehaal. Hierdie dowwe collage van Britse koerante is in Dagbreek en Landstem gepubliseer.

Die moord op en begrafnis van Verwoerd is uitvoerig in koerante gedek.

Selfs ‘n gemeenskapskoerant soos die Potchefstroom Herald  het sy voorblad aan dr. Verwoerd gewy. So ook die studentekoerant van die Universiteit van Pretoria en die sakeblad Tegniek.

Hulde uit alle oorde is gepubliseer, soos hierdie artikel deur Die Beeld.

Oggendkoerante het op 10 September 1966 geskryf oor dr. Verwoerd se staatsbegrafnis wat die land tot stilstand sou bring. Die begrafnis is volledig op radio gedek, maar daar was nog nie televisie in Suid-Afrika nie.

Die Sondagkoerante het uiteraard almal oor die begrafnis geskryf wat deur sowat 250 000 verslae mense bygewoon is. Die Beeld het opvallend ook plek afgestaan aan spekulasie oor wie dr. Verwoerd sou opvolg, terwyl Dagbreek en Sondagnuus  ‘n prominente plek gegee het aan ‘n berig oor swart mense (“bantoes”) wat by die begrafnis was en daarmee eer aan dr. Verwoerd gebring het.

John Vorster is inderdaad dae later tot nuwe premier verkies.

Tydskrifte het nog weke lank uitvoerige aandag aan dr. Verwoerd se begrafnis gewy. Huisgenoot se uitgawe van 14 Oktober 1966 bevat byvoorbeeld heelwat kleurfoto’s. Regs: Die tydskrif Scope het eweneens op die begrafnis gefokus, maar ook vrae oor die toekoms gevra.

Drie jaar ná sy dood is met groot hartseer terugekyk op die gebeure van 6 September 1966.

Lees meer…

Lees meer oor die gebeure in B.M. Schoeman se boek Die sluipmoord op dr. Verwoerd (Strydpers, 1975).

Oor Verwoerd is verskeie boeke geskryf en word gelys in Johannes Froneman se Op soek na ‘n gebalanseerde beeld van H.F. Verwoerd in Koers, 78(2), gepubliseer in 2013. Die artikel gee spesifiek aandag aan die mediadekking van Verwoerd se dood.