Die nuus dat Oscar Pistorius, ‘n wêreldbekende Paralimpiese atleet, sy vriendin, Reeva Steenkamp, doodgeskiet het, was internasionaal nuus – en het vir langer as drie jaar in die nuus gebly terwyl sy hofsaak en verskeie appèlle aangehoor is.
Nadat sy appèl deur die Konstitusionele Hof verwerp is, het hy tronkstraf begin uitdien. Maar selfs in die tronk is hy van tyd tot tyd in die nuus.
Beeld se voorblad die dag ná die nuus van Reeva Steenkamp se dood. Wat die hantering van die gebeurtenis anders gemaak het, was dat Beeld die storie op Twitter gebreek het omdat die redaksie gedink het dit sou buitendien uitlek.
Pistorius het die volgende dag in die hof verskyn. Oor hierdie hofsitting en die daaropvolgendes het verslaggewers uit die hofsaal getwiet. Die borgtogaansoek is regstreeks op die radio uitgesaai. Later is ‘n spesiale kanaal op DStv daaraan afgesonder en het verslaggewers ook op Beeld se eie (tydelike) kanaal verslag gedoen. Dit het getoon hoe joernaliste nou op verskillende platforms kon werk met die papierkoerant agter in die ry.
Die “raaisel” van ‘n “bebloede kolf” is dae ná die voorval deur Rapport geopper. In die hofsaak self het dit nie opgeduik nie.
Pistorius is aanvanklik vrygespreek van moord en lig gestraf.
Die Pistoriussaak het aanleiding gegee tot uitvoerige berigte en agtergrondartikels.
Die hele land het oornag menings gehad oor regskwessies soos dolus eventualis en antwoorde gesoek op die vraag waarom Pistorius van moord vrygespreek is. Die staat het egter suksesvol teen die uitspraak geappelleer.
Die verhoorregter moes in die lig van die Appèlhof se uitspraak (dat dit wél moord was) Pistorius opnuut vonnis. Sy het versagtende omstandighede gevind en hom tot net ses jaar gevangenisstraf gevonnis. Die straf is deur regskenners en leke as te lig beskou.
Die staat het nogmaals suksesvol geappelleer – dié keer teen die vonnis. Die Appèlhof het Pistorius vervolgens tot 13 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Hierna het het Pistorius hom tot die Konstitusionele Hof gewend, wat nie die appèl wou aanhoor nie. Hy het hierna sy tronkstraf begin uitdien.
In 2024 is Pistorius op parool vrygelaat.