GROOT NUUS WANNEER BEKENDES STERF

Die dood van bekendes is dikwels skielik, soms gewelddadig, en daarom te meer groot nuus, soos hierdie voorbeelde getuig. Die hooffoto toon Beeld se voorblad ná die dood van die prinses van Wallis, lady Diana. Almal het teen Maandagoggend reeds van haar dood die Saterdagaand geweet; die voorblad het dus nie die nuus oorgedra nie, maar die emosie van die tyd probeer vasvang. Maar in 1936 sterf die Britse koning en was die Cape Times nog vasgevang in die gebruik om geen nuus op die voorblad te dra nie.

Wel word die koning se dood prominent op die binneblaaie gedek.

Die dood van die reus Jan Smuts is bedeesd (volgens vandag se standaarde) deur een van sy sterkste persondersteuners oorgedra.

In 1957 sterf Klasie Havenga, gewese minister van finansies en dr. D.F. Malan se keuse om hom as eerste minister op te volg.

Die eerste minister, adv. Hans Strijdom, sterf in 1958 weens ‘n hartkwaal.

Hoewel J.G. Strijdom se politieke basis in die noorde was, het Kapenaars in hul duisende hulde aan hom bewys, soos hierdie voorbladfoto getuig. Hy was immers eerste minister en leier van die Nasionale Party.

Winston Churchill, voormalige Britse premier, sterk in 1965. Hy was ‘n belangrike figuur in die Tweede Wêreldoorlog.

President John F. Kennedy van Amerika se moord in 1963 in Dallas is wêreldwyd met groot opskrifte aangekondig. Hoewel ondersoeke geen komplot blootgelê het nie, is daar steeds by baie mense ‘n gevoel dat dit nie die daad van ‘n enkeling was nie. Dat die moordenaar self vermoor is voordat hy in die hof kon verskyn, het die raaisel net verdiep. Talle boeke, rolprente en TV-programme is al oor die gebeure geskryf en gemaak.

Die moord op dr. H.F. Verwoerd in die Parlement in Kaapstad is só deur ‘n Afrikaanse en ‘n Engelstalige middagkoerant op 6 September 1966 aangebied. Dit was een van die mees dramatiese Suid-Afrikaanse nuusstories ooit omdat dit so onverwags gebeur het, die gevolge so ingrypend was en die vraag tot vandag gevra word wat sou gebeur het as Verwoerd nie vermoor is nie. Kyk ook aparte afdeling oor Verwoerd se dood.

In die jaar 1978 word ‘n prominente leier in Namibië (toe nog Suidwes-Afrika) vermoor. Omdat hy ‘n sterk voorstander van ‘n vreedsame skikking was en Suid-Afrika gesag oor die gebied uitgeoefen het ingevolge ‘n mandaat van die Verenigde Nasies, was dit groot nuus in Suid-Afrika. ‘n Grensoorlog waarin bloedjong Suid-Afrikaanse mans die grens teen insypeling deur Swapo-guerillas probeer beveilig het, was op daardie tydstip nog aan die gang.

Staatspresident Nic Diederichs, wat ook ‘n vorige minister van finansies was en ‘n lang openbare loopbaan gehad het, het in 1978 in die tuig gesterf.

Twee gewese staatspresidente kom in onderskeidelik 1982 en 1983 te sterwe: Eers oudpres. C.R. Swart, wat in die ouderdom van 87 oorlede is, en in 1983 oudpres. B.J. Vorster (67). Die Volksblad se voorblad is byna feestelik omdat “oom Blackie” so geliefd was en hy ‘n hoë ouderdom gehaal het; Beeld s’n getuig van ‘n ingetoë hartseer by die heengaan van ‘n leier wat eers as premier en toe as staatspresident moes bedank. Vorster wou geen staatsbegrafnis hê nie en is privaat op Kareedouw begrawe. Vroeër die dag is ‘n gedenkdiens vir hom in die Bosmanstraatkerk, Pretoria, gehou waar senior regeringslui teenwoordig was.

Een van die land se bekendste en mees omstrede politici, dr. Andries Treurnicht, sterf in 1993 aan natuurlike oorsake. Treurnicht was die leier van die Konserwatiewe Party, wat nie wou instem tot ‘n nierassige verkiesing nie omdat dit die einde van blanke selfbeskikking sou beteken. Hy was ook ‘n minister in die kabinette van John Vorster en P.W. Botha. Vroeër was Treurnicht ‘n predikant, redakteur van Die Kerkbode asook van Hoofstad.

Twee sluipmoorde het Suid-Afrika in 1993 en 1994 geruk. Eers is die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty-leier Chris Hani by sy huis in Boksburg doodgeskiet. Dit het soos ‘n skokgolf deur die land getrek omdat die moord deur ‘n wit man die politieke situasie kon laat ontplof. Hoewel dit tot geweld gelei het, het dit nie die delikate aanloop tot die eerste demokratiese verkiesing in April 1994 ontspoor nie.

Maande ná die verkiesing is word prof. Johan Heyns in sy huis in Pretoria deur ‘n sluipskutter vermoor. Terwyl Hani se moordenaar lewenslank tronk toe gestuur is, is Heyns se moordenaar nooit opgespoor nie. Heyns was ‘n uitgesproke teoloog en kerkleier wat vroeër in sy lewe apartheid ondersteun het, maar later leiding gegee het in die NG Kerk se wegbeweeg van apartheid. Die vermoede is dat ‘n regsgesinde fanatikus hom geskiet het.

Wêreldwyd is die dood van lady Diana, prinses van Wallis, met skok begroet. Sy was vir omtrent 18 jaar pal in die nuus en een van die wêreld se bekendste glanspersoonlikhede. Die nuus van haar dood in ‘n motorbotsing in Parys, Frankryk, was reeds die Sondagoggend wyd bekend, wat Maandagkoerante met die vraag gelaat het hoe hulle dit moet aanbied. Beeld se keuse was ‘n enkele woord wat die oomblik vasgevang het: Stomgeslaan (1 September 1997).

Die dood van die Afrikaanse sanger Bles Bridges in ‘n motorongeluk in 2000 was ‘n groot skok vir sy duisende bewonderaars gekom. Rapport het dan ook sy dood met die maksimum prominensie aangebied – plus ‘n rooi roos, wat nou met Bridges verbind is aangesien hy rose aan bewonderaars uitgedeel het.

In 2001 sterf die mediese pionier prof. Christiaan Barnard en word Marike de Klerk, gewese vrou van oudpresident F.W. de Klerk, in haar woonstel in Kaapstad vermoor.

Hansie Cronjé was meermale in die nuus as Protea-krieketkaptein. Sy loopbaan het egter tot ‘n einde gekom toe sy kullery aan die lig gekom het. En in 2002 sterf hy in ‘n vliegtuigongeluk naby George.

Nelson Mandela se groetwoord aan die Afrikanerreus dr. Anton Rupert het op 20 Januarie 2006 ‘n persoonlike inslag gegee aan Die Burger se voorblad. Rupert was nie net een van die land se grootste nyweraars nie, maar het ook ‘n enorme bydrae tot die kunste en bewaring gelewer én gewys hoe deur vennootskap in vrede geleef kan word.

Lees meer oor Anton Rupert en sy veelkantige lewe in Ebbe Dommisse en Willie Esterhuyse se boek, Anton Rupert – ‘n Lewensverhaal (Tafelberg, 2005).

Twee bekende politici sterf in 2010 – dr. Frederick Van Zyl Slabbert en Eugène Terre’Blanche. Slabbert was leier van die Progressiewe Federale Party en leier van die amptelike opposisie in die Volksraad. Hy was vroeër ook ‘n akademikus en later ‘n sakeman. Beeld se opskrif is veelseggend omdat Slabbert geen ondersteuning van Beeld en sy susterkoerante (Die Burger, Oosterlig en Volksblad) gekry het toe hy ‘n nierassige demokrasie bepleit het nie. Sy intellek en menslikheid kry hier paslike erkenning.

Rapport verwys bloot na “ET”, koerante se afkorting vir Eugène Terre’Blanche, leier van die verregse Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB), wat die koms van ‘n nierassige demokrasie met mag en mening probeer verhinder het. Terre’Blanche is op sy plaas naby Ventersdorp vermoor.

Nelson Mandela se dood was groot nuus, al was dit te wagte gewees. Kyk ook aparte afdeling oor Mandela.

In 2017 sterf die dramaturg en skrywer P.G. du Plessis. Die opskrif sinspeel op een van sy bekendste dramas, Seder val in Waterkloof. Du Plessis was ook redakteur van die Pretoriase middagkoerant Hoofstad, dus in ‘n stadium Beeld se konkurrent.

Oudpresident F.W. de Klerk het in 2021 in die ouderdom van 85 gesterf. Hy was reeds lank uit die kollig, maar sy rol in die oorgang van apartheid na ‘n inklusiewe demokrasie is met sy dood in herinnering geroep. Daar was ook diegene wat opnuut vrae gevra het oor sy “uitverkoop” van die Afrikaner en sy beweerde kennis van moorde op anti-apartheidaktiviste. Uiteindelik sal hy waarskynlik onthou word vir sy moed om te breek met ‘n stelsel wat moreel verkeerd was.

Die selfdood van dalk die grootste swendelaar in ons geskiedenis het ander groot nuus uitgestoot. Markus Jooste het van ons grootste sakemanne en die hele beleggingsgemeenskap vir jare aan die neus gelei met sy Steinhoff-gekonkel.