GESIGTE VAN STEMME UIT DIE SAUK SE VERLEDE

Gustaf Pienaar vertel van ‘n foto van die deelnemers aan die Afrikaanse Radiodiens van die SAUK (RSG se voorloper) se jaarlikse programkonferensie rondom 1979 in Aucklandpark, Johannesburg.

Daar is minstens vier mense op die foto vir wie ek groot waardering gehad het. Die eerste is Gerhard Viviers wat organiseerder van sportprogramme was.  Sy hare het nooit grys geword nie (‘n waarneming wat misleidend kon gewees het, want hy was heelwat ouer as ek. Dalk dus uit ‘n botteltjie; wie sal weet?).  

Sy kantoor was twee deure van myne af,  waar ek belas was met die “organiseer” van die stasie se jeug- en tydskrifprogramme. (Tussenin was die kantoor van Roelf Jacobs — Renske se pa — wat organiseerder: drama was, voordat hy na ‘n bestuurspos by, meen ek, televisie bevorder is.) 

Gerhard kon stories vertél, hoor! Hy het my altyd “Gussie” genoem en het my selfs gedurende my Port Elizabeth-dae genooi om die “opsommings” te doen gedurende kommentaaruitsendings vanaf die destydse Boet Erasmus-stadion. 

By elke programkonferensie het Gerhard gekla oor die program “Meesters van die Orrel” wat Sondae net na die eenuurnuus uitgesaai is.  Ek moes saamstem: Dit was haas onluisterbaar in daardie tydsgleuf op ‘n Sondag — so lief as wat ek self vir die orrel is. Dit is oplaas afgeskaf.

Die tweede persoon is Alewyn Lee wat ‘n briljante taalkenner was en etlike “vreemde” tale magtig was. ‘n Rustige mens met so ‘n droë sin vir humor.  Hy het ons dikwels by vergaderings laat skater van die lag.  Toe ek opdrag gekry het om ‘n vraeprogram oor die natuur en die natuurwetenskap te begin, het ek Alewyn genader om te help met ‘n titel.

“Hoe gaan die program werk?”, het hy gevra.  Ek het verduidelik dat kenners in verskillende dissiplines luisteraars se vrae sou beantwoord en wetenskaplike verskynsels sou verklaar. “Noem dit ‘Hoe verklaar u dit?” was Alewyn se aanbeveling.  Ek het die vreugde gehad om die program te loods en vir ongeveer drie jaar aan te bied. Almal was regtig lief vir Alewyn; hy het géén vyande gehad nie.

Met Morkel van Tonder, die stasiehoof, het ek ‘n baie goeie verhouding gehad.  Hy was in sekere kringe nie gewild nie, omdat hy soms erg outokraties kon optree. Nietemin was hy ‘n uitnemende uitsaaier: Goeie stem; skerp intellek (nog die beste aanbieder van “Rekenskap” wat ek ooit teëgekom het); kreatiewe ontginner van nuwe, vars gedagtes.  

Sy groot “sonde” was dat hy nie juis ‘n musiekliefhebber was nie. Aktualiteit was sy kos.  Dus het hy vroeg in die 1970’s ‘n kwartier by Saterdagaande se “U eie keuse” loop steel vir “Portret van die Week” — ‘n program oor nuusmakers wat gedurende ‘n bepaalde week in die kollig was. 

Ek het self ‘n paar “Portrette” versorg — onder meer van Jamie Uys, S. le Roux Marais; die eks-ambassadeur in Londen dr. HG Luttig; oud-minister Paul Sauer, en dies meer. 

Morkel was ook daarvoor verantwoordelik dat hy tydens ‘n programkonferensie aangekondig het dat “U eie keuse” permanent plek sou maak vir die een of ander aktualiteitsprogram, as ek reg onthou — en dit nogal agtuur op ‘n Saterdagaand. 

Ons het hom gewaarsku: “Die volk” sou dít nie duld nie.  Ons was reg: Na wat kort duskant onluste voor die SAUK se kantoorkompleks in Aucklandpark geëindig, was “Keuse” (soos ons kortweg na dié gewilde program verwys het) terug op die lug. Slegs twee weke dus geen “Keuse” op Saterdagaande nie. En vanjaar word dié gewilde program 80 jaar oud — dalk ‘n wêreldrekord..

Dan is daar Steve de Villiers wat aan die einde van sy loopbaan direkteur-generaal sou word. Ek het terselfdertyd bestuurder: uitsaainavorsing geword.  Dié pos was een van dr. Jan Schutte se skeppings aan die einde van s‎‎y termyn as DG. Die gedagte was dat die bekleër van die pos die SAUK moes inlig en adviseer oor verwikkelings in die wêreldwye uitsaaiwese. 

Die pos was gekoppel aan die DG se kantoor, maar Steve de Villiers (wat nooit tuis was in sy pos as DG nie) het my as ‘n persoonlike assistent begin inspan — wat nie die bedoeling was nie. Ons het eindelose ontmoetings in sy kantoor gehad — soms tot laataand — om lastighede wat oor sy lessenaar gekom het te onrafel.

Ek dink hy was in daardie eerste maande as DG bitter eensaam. Dit was ‘n voorreg om dié groot uitsaaier beter te leer ken, maar vir my het dit tyd geword om aan te skuif: Ek het in daardie tyd die LLB-graad aan die destydse RAU verwerf, en toe ná ‘n loopbaan van elf jaar die SAUK vaarwel geroep en ‘n regspraktisyn geword.

Steve onthou ek graag as ‘n minsame mense met die beste, ouwêreldse, maniere en interpersoonlike verhoudinge. ‘n Interessantheid is dat hy ongeveer in 1940 SR-voorsitter van Tukkies was, dieselfs tyd dat my pa ‘n SR-lid was.

Gustaf vertel ook van ‘n onderhoud met die destydse premier van Rhodesië (Zimbabwe).

Ek het die onderhoud gebruik vir ‘n radioportret van dié interessante man wat vir omtrent 14 jaar die ganse wêreld se maghebbers getrotseer het met sy siening van hoe die politieke toekoms van Rhodesië (nou natuurlik Zimbawe) moes ontwikkel het. 

Ek het hom in sy nogal beskeie kantoor in Salisbury ontmoet en ‘n aangename gesprek gehad.  Sy privaat sekretaris het ‘n foto geneem en gesorg dat ek dit ‘n paar uur later saam kon bring huis toe. My onderhoud met Smith was natuurlik uitlsuitlik in Engels, maar — as ‘n gróót uitsondering, destyds — is dit wel een aand op die Afrikaanse Radiodiens uitgesaai.

Die foto heel bo van die deelnemers aan die programkonferensie in 1979 is geneem op die 27e verdieping van die destydse Dr. Piet Meyer-gebou (nou Radiopark). Dit was oorspronklik in swart-wit, maar is met KI ingekleur. Die deelnemers was (na wat Gustaf kan onthou): Voor (v.l.n.r.): Gerhard Viviers (organiseerder: sport); Alewyn Lee (taaladviseur);  Edwill van Aarde (organiseerder: dagblaaie en skofroosters); Morkel van Tonder (hoof van die stasie): Steve de Villiers (direkteur: Afrikaanse en Engelse radioprogramme; later ook direkteur-generaal van die SAUK); Hendrik du Bruyn (organiseerder: aktualiteit en later stasiehoof); Chris Swanepoel (hoof: musiek en ‘n latere adjunk-direkteur-generaal). 

Agter (v.l.n.r.): Robert Schmidt (organiseerder: godsiensprogramme); Morné Pretorius (Vrystaatse verteenwoordiger); Johan Stemmet (Kaapstadse programorganiseerder); Johannes van der Walt (senior omroeper); Robert Young (organiseerder: drama); Christo Olivier (programoganiseerder: Vrystaat); Theo Erasmus (bestuurder: ligte musiek); Danie Erasmus (organiseerder: aanbieding); Danie Fourie (bestuurder: klassieke musiek); Gustaf Pienaar (organiseerder: jeug- en tydskrifprogramme); en Jurg Myburgh (verteenwoordiger vir Pretoria-kantoor).

Die foto kan ongelukkig nie groter gebruik word nie.