GERHARD BURGER: VOORSTE SPORTSKRYWER EN LAASTE REDAKTEUR VAN DIE ‘TRANSVALER’

Johannes Froneman gesels per e-pos met ‘n joernalis wat veral as rugbyskrywer naam gemaak het by die Vaderland. Gerhard Burger het ook die twyfelagtige eer gehad om die laaste redakteur van die Transvaler te wees.

Vertel ons asseblief eers iets oor jou agtergrond en hoe jy in die joernalistiek beland het.

As kind van ʼn SAS & H-laaimeester is ek in 1943 in Maitland in die Kaap gebore. Eerste skool op Goudiniweg, naby Rawsonville. Daarna, van st. 3 af, in Kootjeskolk- laerkool naby Calvinia. In st. 6 na Hoërskool Martin Oosthuizen op Kakamas, waar ek in 1961 in matriek was, nogal as hoofseun.

Die jaar daarna het ek by by ʼn siviele ingenieursmaatskappy in Johannesburg gaan werk met die hoop om ʼn beurs te kry. Gedurende dié jaar is ek teen my sin na Zeerust verplaas om as sandkoker in die padmakerslaboratorium te gaan werk – ʼn week voordat ek in die Transvaalse onder 20-rugbyproewe in Johannesburg sou speel. 

Een van my spanmaats, ʼn fotograaf, het voorgestel ek soek werk by ʼn koerant. Toe stel Nasionale Pers my aan, as ʼn verslaggewer by Die Oosterlig in Port Elizabeth, waar ek eers as algemene verslaggewer gewerk het, met inbegrip van hofsake, misdaad, munisipale sake en sport oor naweke.

Ek kon steeds klubrugby en -krieket speel en een van my spanmaats het my van sy oulike skoonsuster (Sandra) vertel, met wie ek in 1968 getroud is nadat ek in 1964 as sportverslaggewer aangestel is. Ek het oor klubrugby, krieket, amateurboks, beroepsokker, atletiek, fietsry en swem verslag gedoen. (Later, in Transvaal, ook oor judo, beroepsboks en die rolbal-wêreldkampioenskappe.)

Een van my spanmaats, ʼn fotograaf, het voorgestel ek soek werk by ʼn koerant. Toe stel Nasionale Pers my aan, as ʼn verslaggewer by Die Oosterlig in Port Elizabeth, waar ek eers as algemene verslaggewer gewerk het, met inbegrip van hofsake, misdaad, munisipale sake en sport oor naweke.

Ek kon steeds klubrugby en -krieket speel en een van my spanmaats het my van sy oulike skoonsuster (Sandra) vertel, met wie ek in 1968 getroud is nadat ek in 1964 as sportverslaggewer aangestel is. Ek het oor klubrugby, krieket, amateurboks, beroepsokker, atletiek, fietsry en swem verslag gedoen. (Later, in Transvaal, ook oor judo, beroepsboks en die rolbal-wêreldkampioenskappe.)

En toe is jy noorde toe…

In 1967 het ek ʼn pos as Die Vaderland se sportskrywer in Pretoria losgeslaan en die jaar daarna moes ek op 25 as sportredakteur in Johannesburg by Gert Kotzé oorneem. Die kantoorwerk het veroorsaak dat ek nie meer soveel tyd as voorheen aan rugby en krieket kon bestee nie. Omstreeks 1976 was ek ʼn rukkie sportskrywer by The Citizen voordat ek terug Vaderland toe is.

Jy het later toe ook ‘n draai in die Parlement gemaak…

In 1985 is ek teen heug en meug parlement toe. Ek was twee jaar in die parlement en het elke dag verpes. Ek het niks van die politiek geweet en gehou nie – veral nie ná die opwinding en meestal ontspanne sportatmosfeer nie. 

Daarna is ek as Harald Pakendorf se assistent-redakteur aangestel. Ná die samesmelting van Die Vaderland en Die Transvaler het ek in die vroeë jare 90 as Gerrit Velthuyzen se assistentredakteur gewerk en ʼn kort rukkie as Transvaler-redakteur voordat Perskor se laaste Afrikaanse dagblad gesluit is.

Gerhard skink ‘n glasie op dr. Gerrit Veldhuyzen by dié se aanstelling in 1988 as redakteur van die Transvaler. Hy het Veldhuyzen later opgevolg.

Dit was ʼn donker tydperk. Ek glo vas ek is aangestel omdat dit vir Gerrit Velthuyzen, ʼn vooraanstaande Broederbonder, asook vir die Perskor-bestuur (met etlike Broederbonders as lede) ʼn verleentheid sou wees as Transvaler onder sy redakteurskap sou sluit.

Dit was ʼn onsinnige besluit om iemand as redakteur aan te stel wat nooit ʼn dag op universiteit was nie en geen politieke statuur en belangstelling gehad het nie. Ek het die pos aanvaar omdat dit, onder meer, met  ʼn klompie Perskor-aandele en ʼn salarisverhoging gepaard gegaan het.       

In daardie stadium het ek en die senior personeellede geweet niks kon die koerant staande hou nie. In ʼn brief aan dr. Koos Buitendag, wat gevra het wat ons gaan doen om Transvaler se agteruitgang te stuit, het ek ná heelwat navorsing gesê daar is, sover ek kon vasstel, geen middagkoerant ter wêreld waarvan die verkoopsyfers nié daal nie. Ek glo dié brief het die bestuur laat besluit om die handdoek in te gooi. (Dr. Buitendag se woorde aan my, nadat hy die brief gelees het, was: “Wil jy vir my sê ons moet die koerant toemaak?”)

Omdat ek besef het Afrikaanse middagkoerante sal mettertyd doodbloei, soos baie middagkoerante byna oral ter wêreld, was ek die sluiting van Transvaler te wagte. Die ergste was die kommer oor die redaksielede se toekoms; waar hulle sou werk kry.

Waarheen is jy toe?

Ek was vir ʼn paar jaar in Durban as redakteur van Keur, wat op my voorstel ʼn tydskrif vir vroue geword het en tot 2020 met ʼn skaflike sirkulasie as Vrouekeur bestaan het. Toe Republikeinse Pers sy tydskrifte verkoop het, het ek nie kans gesien om vir Caxton te gaan werk nie en gelukkig ‘n pos as mediaskakelbeampte by SuperSport gekry, waar ek omstreeks 2005 afgetree het en Port Elizabeth toe getrek het. Ek het nog deeltyds vir SuperSport gewerk totdat Sandra in 2014 oorlede is.

Vertel iets oor die redakteurs onder wie jy gewerk het.

Ek was vir twee kort tydperke by The Citizen, onder Johnny Johnson, dalk die beste en gewis die onbeskofste redakteur van my tyd in die joernalistiek. By Die Oosterlig het ek die meeste van die sportredakteur, Alex Kellermann, en die hoofsub, Flip Oosthuizen, geleer. Van die Perskor-mense was Harald Pakendorf die knapste en aangenaamste redakteur in die tyd toe ek daar gewerk het. Ek het ook ʼn rukkie as Gert Kotzé se adjunkredakteur by Die Vaderland gedien.

AM van Schoor en Dirk Richard van Die Vaderland was van die ander redakteurs in wie se spanne ek was. Ek was bevoorreg om kollegas soos die spotprenttekenaars Len Lindeque en Weyni Deysel, die hoofsub Hannes Cilliers en Jeanne Goosen en Koos du Plessis te hê.  

Wat was jou hoogtepunte … en laagtepunte?

Ek was twee keer Afrikaanse Sportskrywer van die Jaar en die rugbytoere (veral saam met die Suid-Amerikaners en Franse) was genotvol en verrykend. Laagtepunt: Parlement in 1985 en 1986.

Die bietjie aansien wat ek in die joernalistiek gehad het, was waarskynlik danksy  ʼn skryfstyl waarvan lesers (en redakteurs) gehou het; veral ʼn humoristiese aanslag wat aanleiding gegee het tot  ʼn hele aantal rubrieke, waaronder Voetap se Sportploeg.  Twee boekies met uittreksels daaruit is uitgegee en die rubriek het omtrent agt jaar voortbestaan. Daarby het ek ʼn liggewigboekie, Ma vat die Fluitjie, geskryf en was ek medeskrywer van boeke oor die rugbygeskiedenis van Transvaal, Noord-Transvaal en die Crusadersklub.

Ek het ook verskeie kortverhale geskryf (die eerste in Huisgenoot,toe ek nog by  Oosterlig was, en ander in Taalgenoot en in kortverhaalbundels.)

Sou jy dit alles weer doen?

Miskien tog, veral as ek dink aan besondere mense wat ek ontmoet en leer ken het.  Maar ek is nou jammer dat ek so dikwels weg van die huis af was toe ons kinders grootgeword het en Sandra alleen tuis moes bly.

Lees meer oor Gerhard Burger …

Lees by http://perskor.blogspot.com/2013/02/boesemvriende-oor-grense-heen.html#more wat skryf Gerhard se medesportskrywer Herman le Roux oor hom en hul wedervaringe in Nieu-Seeland.

Met tipiese humor skryf Gerhard by http://perskor.blogspot.com/2013/06/praat-van-vars-nuus.html#more hoe hy sy pad as vakleerling-joernalis moes vind … en amper Hendrik Schoeman se toespraak vooruit geloop het.

Die Springboktoer van 1971 in Australië was alles behalwe vakansie. Gerhard vertel meer by http://perskor.blogspot.com/2013/08/moet-tog-nie-vir-gerhard-vra-hoe-was-sy.html#more

Gerhard vertel by http://perskor.blogspot.com/2012/12/kiwis-ryg-my-derm-uit.html hoe ‘n blindederm hom in Nieu-Seeland platgetrek het.

Geplaas: September 2021