HOE ‘BLOEMNUUS’ ONDER ‘VOLKSBLAD’ SE NEUS BEGIN IS

Media24 besit vandag verskeie gemeenskapskoerante, veral in die Wes-Kaap, Vrystaat en Noord-Kaap. Dit was nie altyd so nie, want die maatskappy (toe nog bloot Naspers) het dit dalk effe benede hulle beskou om in daardie mark aktief te wees. Intussen het Perskor in die noorde van die land talle sterk gemeenskapskoerante, veral op die platteland, gekoop. 

Dit is ‘n komplekse geskiedenis, want Media24 het later koerante soos die Paarl Post en Eikestadnuus gekoop en koerante soos Ooster-Beeld (in Pretoria) begin. Tyger-Burger is ook as gratis buurtkoerant tot stand gebring en onder leiding van mense soos Marita Meyer tot ‘n hoogs suksesvolle kettings van koerante uitgebou.

Media24 en Caxton (wat in die 1990’s  beheer oor Perskor se gemeenskapskoerante gekry het en by hul eie gevoeg het) het die mark tussen hulle verdeel en Media24 het padgegee uit die mark noord van die Vaal. In ruil het Caxton die Vrystaat aan Media24 oorgelaat. In die Vaaldriehoek en Potchefstroom is Mooimedia gestig met Media24 en Caxton mede-eienaars. In sommige ander gebiede waar hul dagblaaie sterk wortels het, het Independent Media met strooikoerante ‘n deel van die mark probeer inpalm.

Die spreekwoord sê die gras kry seer wanneer die olifante baklei, wat sekerlik soms in hierdie mark gebeur het. Groot maatskappye hou nie juis van mededinging nie en gebruik hul mag om die kleintjies uit te druk — of om met mekaar te stoei oor die “reg” om die bul in ‘n bepaalde kamp te wees. Die gevolg hiervan was dat onafhanklike kleiner uitgewers deur die jare omtrent verdwyn het. Die mark word daarom deur enkele grotes oorheers.

Die gevolge van die digitale revolusie en die Covid-17-pandemie het intussen ook eens trotse gemeenskapskoerante gereduseer tot ‘n skadu van hulle ou self. In ander gevalle is koerante saamgesmelt ter wille van volhoubaarheid.

Maar gemeenskapskoerante is steeds rolspelers en verdien aandag. So ook die stories uit hierdie sektor van die drukmedia — veral waar die onafhanklike “kleintjies” die grotes op hul neus laat kyk het. Een so ‘n geval was Bloemnuus, wat in 1982 as gratis gemeenskapskoerant in die Bloemfonteinse leeuhok deur ‘n paar gewese Volksblad-manne begin is. By navraag vertel een van hulle, die nou bekende skrywer Rudie van Rensburg, as volg:

“Ek, Emile Terblanche en Johan Coertzen het weggebreek by Die Volksblad om Bloemnuus in Oktober 1982 te begin (in daardie stadium het die koerant elke twee weke verskyn en is dit saam met die melk deur Dairy Belle by huise afgelewer).

“Ons gevoel was dat daar ‘n groot gaping vir ‘n gratis Bloemfonteinse koerant was, ook gegewe die feit dat baie plaaslike nuus soms in die slag by Die Volksblad gebly het.

“In daardie eerste jaar het ons die koerant uit my huis bedryf. Ons was vir alles verantwoordelik: redaksionele inhoud en uitleg (foto’s en die ontwikkeling daarvan inkluis) en advertensiewerwing. Die koerant is by Dreyer-drukkers gedruk. ‘n Jaar later het Perskor ons uit die bloute genader en ‘n 76%-aandeel in die koerant by ons gekoop. Dit het toe weekliks verskyn (en is toe in Kroonstad by Perskor se drukkery gedruk), met ‘n Bloemnuus-kantoor in die Bloemfonteinse middestad en ‘n span advertensiewerwers.

“Ek is kort daarna weg by Bloemnuus, maar my twee kollegas het nog ‘n geruime tyd daar gewerk. Met die sluiting van Perskor het Naspers die koerant bekom en bestaan dit vandag nog as ‘n weekkoerant voort.”

Tot sover Rudie se herinneringe aan hierdie episode..

Die stories van mediamense wat hul gemeenskappe (veral ook op die platteland) deur die dekades gedien het, sal toenemend ook hier op Mediamense.com neerslag vind. Dis die moeite werd om te onthou. — Johannes Froneman