Die entrepreneur en sakemagnaat Anton Rupert was die vader van Tegniek, ‘n blad wat in 1949 tot stand gebring is om stukrag te gee aan die Afrikaner se toetrede tot die nywerheidswese ná die Tweede Wêreldoorlog. Die eerste redakteur was dr. L.C. van Oudehove. Afrikaners het destyds maar sowat een persent van die land se nywerhede beheer. Die boodskap is uitgedra dat daar plek is vir die Afrikaner in die nywerheid, handel en algemene sakewêreld. Later word die blad Finansies & Tegniek en nog later Finweek.
Die blad het ‘n beskeie begin gehad as maandelikse tydskrif in poniekoerantformaat. In 1980 het die blad so gelyk (links) en in 1981 is besluit om Tegniek voortaan in tydskrifformaat uit te gee. Die blad was toe onder die redakteurskap van Tielman de Villiers en die kantoor steeds op Stellenbosch, waar dr. Anton Rupert se groeiende sakeryk sy hoofkantoor gehad het.
Tegniek in die jaar 1958 toe dit nog uit en uit ‘n produk van dr. Anton Rupert se Rembrandt-groep was.




Nasionale Pers (nou Naspers met Media24 as filiaal) het Tegniek in 1984 oorgeneem. Die naam is na Finansies & Tegniek verander, die kantoor na Johannesburg geskuif en S.S. (Salie) de Swardt, vorige sakeredakteur van Beeld, as nuwe redakteur aangestel. Let op die aanvanklik prominente grootte van “Tegniek” in die nuwe titel – ‘n erkenning aan die blad se wortels.
Onder Salie de Swart se bekwame leiding (en met Naspers se volle steun) was die nuwe blad ‘n reuse-sukses. Advertensiesteun en sirkulasie het sodanig gegroei dat die blad in Mei 1985 ‘n weekblad geword het. Die volgende jaar is Volkshandel, blad van die Afrikaanse Handelsinstituut, by F&T ingelyf, wat die sirkulasie ‘n verdere hupstoot gegee het. De Swardt word daarna redakteur van Beeld en hoof van Naspers se tydskrifte en tree af as besturende direkteur van Media24.

Mashoofde van Volkshandel, wat in 1986 by Finansies & Tegniek ingelyf is.

inansies & Tegniek en Finance Week het in 2005 saamgesmelt en Fin24.co.za kom tot stand. Die blad is eers as tweelingpublikasie uitgegee – dus afsonderlik in Afrikaans en Engels. Met die opkoms van digitale media het die klem weg van papier verskuif en het die Afrikaanse uitgawe van Finweek net aanlyn verskyn. Teen einde 2021 het Finweek finaal gesluit.



Lees meer:
J.J. Spies se Tydskrifte in ‘n ander wêreld, ‘n hoofstuk in Oor grens heen (onder redaksie van W.D. Beukes).
Kyk ook Salie de Swardt se Die Afrikaanse sakejoernalistiek – Stygings en dalings oor vyftig jaar (in ‘n Konstante revolusie: Naspers, Media24 en oorgange, saamgestel deur Lizette Rabe, Tafelberg, 2015).