FREDERIK ROMPEL — HOLLANDER WAT AFRIKAANSE JOERNALISTIEK VERRYK HET

Frederik Rompel het hom in 1921 by Die Burger in Kaapstad aangesluit en dadelik ‘n impak gemaak. Hy was toe reeds ‘n ervare joernalis en het as “tegniese redakteur” (iets tussen ‘n nuusredakteur en hoofsubredakteur) veranderinge aangebring en sy kollegas geïnspireer.

Boonop was hy as hoofartikelskrywer as ‘t ware die hoofredakteur, dr. D.F. Malan, se spookskrywer, want dié was selde op kantoor.

Die gevierde skrywer M.E.R., wat onder Rompel die “vroueblad” begin het, het hom as die voorste joernalis van die eerste vier dekades van die 20e eeu bestempel. Sy was nie alleen in haar enorme agting vir Rompel nie; C.F.J. Muller prys Rompel telkens in Sonop in die Suide aan as ‘n uitnemende joernalis: innemend en bekwaam, veelsydig, belese, kultureel hoogs ontwikkel en aangenaam. Hy het enorme werkkrag gehad en was vol lewensvreugde.

‘n Karaktuur van Frederik Rompel deur Die Burger se destydse spotprenttekenaar Boonzaier. In sy hand is ‘n stukkie kopie met die woorde “Buitelandse oorsig” op — die gereelde rubriek waarvoor Rompel bekend was.

Die beeld is oorgeneem uit Sonop in die Suide deur C.J.F. Muller (Nasionale Boekhandel, Kaapstad, 1990).

Hooffoto bo: Rompel vier 50 jaar in die joernalistiek saam met kollegas. Hy sit in die middel met gevoude hande op sy skoot.

Adv. Broekman skryf in soortgelyke terme in die gedenkboek Keeromstraat 30 as volg oor Rompel:

“Van al die mense met wie ek destyds saamgewerk het, was Frederik Rompel seker die een wat as koerantman die grootste indruk op my gemaak het … ‘n joernalis in murg en been wat vir ons, verslaggewers en aspirant-joernaliste, besiel het deur sy ywer, werklus, verbeeldingryke benadering van sake en veral sy ambisie om die uiterlike vertoon — die ‘opmaak’ — van Die Burger onbesproke te maak.”

Rompel was ‘n gebore Nederlander en ‘n Katoliek (wat destyds noemenswaardig was) wat sy loopbaan in Nederland begin het voordat hy hom by die Pretoriase koerant De Volksstem onder dr. Frans Engelenburg aangesluit het. Rompel was as joernalis by toe pres. Paul Kruger, vir wie hy groot respek gehad het, die proklamasie onderteken wat die begin van die Anglo-Boereoorlog beteken het.

Na ‘n veldslag het Rompel pres. Kruger oorreed dit was noodsaaklik om vals gerugte met die ware feite die nek in te slaan. Vir die stoere Calvinis Kruger moes dit nie maklik gewees het nie; Sondae is soos ‘n “Sabbatdag” gevier — dus sonder wêreldse dinge soos koerante. Maar die kalf was in die put en Rompel is terug Volksstem toe met die president se goedkeuring vir die uitgee van ‘n koerant op die Sondag. ‘n Paar uur later het Rompel persoonlik ‘n eksemplaar van die spesiale uitgawe by die president gaan aflewer.

Frederik Rompel het die Gedenkschriften van Paul Kruger (1902) saamgestel en Heroes of the Boer War (1903) geskryf. Hy het baie sterk daaroor gevoel dat die negatiewe propaganda wat in die buiteland teen die ZAR gemaak is, teengewerk moes word.

So was hy metterwyl betrokke by ‘n persburo in Nederland wat aan Holland-Afrikaanse koerante berigte verskaf het en aan Nederlandse koerante nuus oor Suid-Afrika. Hy keer in 1912 met sy gesin terug na Suid-Afrika en De Volkstem (nou met net een s gespel) en word in 1915 De Burger se Pretoriase medewerker.

Hierdie reëling het egter net twee maande geduur. Rompel se “nugtere, ietwat koue ontleding” van die Nasionaliste se kanse in die verkiesing van 1915, het nie goed afgegaan nie, aldus Muller. Lesers wou ‘n vuriger Nasionalis se stem hoor, wat hulle toe in die persoon van dr. J.F.W. Grosskopf gekry het.

Dié medewerker het in Afrikaans geskryf (in teenstelling met Rompel se Hollands) en was ideologies sterker Nasionaalgesind. Hy word dan ook die volgende jaar redakteur van Die Volksblad in Bloemfontein.

Tydens die Eerste Wêreldoorlog het Rompel wel sy “eie vertolking van die duistere verloop van die loopgraafoorlog aan die Europese wesfront” gegee — tot so ‘n mate dat sy redakteur deur die regering berispe is. Hou in gedagte dat De Volkstem regeringsgesind was en dat seker verwag is dat die blad die geallieerde magte in ‘n gunstiger lig moes stel.

Rompel was dus te lou vir Die Burger, maar ook nie regeringsgesind genoeg by De Volkstem nie. Dit is dalk ‘n goeie aanduiding van sy gebalanseerdheid as professionele joernalis.

Later sou Rompel, aldus Muller,  ‘n “ongeëwenaarde vertolking” van die naoorlogse Europa gee. Sy “simpatieke ontleding” van die verhouding tussen Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika het De Volkstem laat uittroon. Rompel was allermins ‘n vaal, “neutrale” joernalis.

Toe hy in 1921 ‘n aanbod aanvaar om as eerste tegniese redakteur by Nasionale Pers (Die Burger) in te val, was hy ‘n baie ervare joernalis wat onder Engelenburg sy vak verder geslyp het en sy staal oor en oor bewys het. Wikipedia noem tereg dat De Volkstem se redakteur “ ‘n belangrike bydrae gelewer (het) tot die skoling van ‘n geslag joernaliste wat elders baanbrekers van die pers sou wees”. J.M.H. Viljoen, later redakteur van HuisgenootL.W. Hiemstra, later assistentredakteur van Die Volksblad en taalredakteur van die Nasionale Pers, asook E.A. Malga, later beroemde politieke beriggewer, word genoem.

Rompel het die rubriek Van alle kante begin en selfs vir jare lank behartig. ‘n Keur uit die rubrieke is later in boekvorm uitgegee.

Rompel het ‘n sleutelrol gespeel om hulle en ander gehaltejoernaliste na Die Burger te lok. Hy was, aldus Muller, ook verantwoordelik vir die werf van C.J. Langenhoven as rubriekskrywer. Sy Langs stille waters was van 1922 tot met die skrywer se dood in 1932 ‘n onlosmaaklike deel van Die Burger — ondanks talle uitvalle. Deur alles heen, het Langenhoven vir Rompel vertrou. Hy was “die één man in die redaksie wat selfs aan sy taal kon verander sonder dat hy aanstoot sou neem” (J.C. Kannemeyer).

Rompel het ook die rubriek Van alle kante begin en dit lank self behartig. Vir dekades sou hierdie ruimte aan van die beste skrywers, insluitende Rykie van Reenen, die geleentheid gee om lesers te trakteer.

Hy het Anna Rothmann (M.E.R), die Burger se eerste “vroueredaktrise” onder sy vlerk geneem. Dit was, by hoë uitsondering, ‘n ruimte waar nie politiek geskryf is nie. Dié blad had ‘n ander doel, in pas met Rompel se standpunt dat die koerant “die hele volkslewe” moet voed.

Maar, skryf M.E.R, Rompel was al Afrikaner genoeg “om te begryp dat die politieke stryd ‘n stryd om onse voortbestaan is”. Dat die “geïnspireerde” Rompel die blad se inhoud verbreed het, is wel so. Muller noem in hierdie verband dat Rompel geprobeer het om van die plattelandse Burger ‘n stedelike koerant te maak vir “meer ontwikkelde en gesofistikeerde lesers”.

Wat Johannesburgse nuus aanbetref, het Rompel in 1925 Die Burger se nuwe verteenwoordiger in die Goudstad, J.A. Smith, aangemoedig om die gebeure in die stad vanuit ‘n anti-kapitalistiese perspektief te beskou. Muller skryf dat van Smith verwag is om lesers van Die Burger op hoogte te hou nie net van die Kamer van Mynwese se standpunt oor dreigende stakings nie, maar ook van die Nasionalistiese standpunt daaroor. Nogmaals is Rompel se benadering duidelik: hy het volledige dekking verwag, maar gesnap dat sy lesers Nasionaliste was en ook — dalk verál — daardie perspektief wou lees.

Oor Smith se aansluiting by die Afrikaner-Broederbond (om dan glo makliker vertroulike nuus te bekom) was Rompel glad nie gelukkig nie. Hierdie AB-verbintenis “belemmer” die joernalis se uitsig; dit is onwenslik vir joernaliste om aan “derglike bewegings” deel te neem, het hy gemeen.

Rompel was uit die staanspoor ‘n invloedryke senior redaksielid. Hy neem binne maande van sy aankoms in Kaapstad waar as (hoof-)redakteur (vermoedelik toe Malan, wat tot 1924 redakteur sou wees, lank uitstedig was) en was ook by tye verantwoordelik vir die skryf van opskrifte en onderskrifte vir Boonzaier se belangrike propagandaspotprente.

Hy het die Nasionalistiese inslag van Die Burger dus heelhartig gesnap en bevorder, maar was nie ‘n “aktivistiese joernalis” nie (Muller). Hy het ‘n sleutelrol gespeel om van Die Burger ‘n nuusblad te maak in plaas van ‘n “views paper”.

Tog was sy pogings nie altyd suksesvol nie. Die blad se sirkulasie het in ‘n stadium selfs gedaal en Markus Viljoen is ingebring om dit om te swaai. Hy het daarom vir Rompel as nuusredakteur vervang. Muller wys daarop dat Rompel se idees deur die tyd ingehaal is en Viljoen pas terug was uit Amerika waar hy ‘n graad in joernalistiek behaal het. (Hy sou spoedig nuus op die voorblad van die koerant plaas, iets wat toe nog ongehoord was.)

Daar was steeds hoë waardering vir Rompel, wat assistentredakteur buiteland geword het. In 1935 kry hy ‘n gawe salarisverhoging ten einde hom vir die maatskappy te behou. En twee jaar later vier Frederik Rompel sy vyftig jaar in die joernalistiek. Op ‘n foto in Sonop in die Suide sit Rompel langs die stigterredakteur van Die Burger, dr. D.F. Malan, en omring deur kollegas. Hy was volledig tuis.

Rompel sterf in 1940 as gewaardeerde kollega en baanbreker van die Afrikaanse joernalistiek.

— Johannes Froneman