FRANS ESTERHUYSE: VERNUFTIGE SPOTPRENTTEKENAAR

Frans Esterhuyse was een van die heel beste spotprenttekenaars wat nog in Afrikaanse koerante te sien was. Hy was eers by Hoofstad en Oggendblad spotprenttekenaar en van 1998 tot 2006  by Beeld.

Sy styl het soms aan die briljante Jackson van die Argus herinner: ekonomies en sonder onnodige detail (kyk hooffoto bo); ander kere trek dit op Fred Mouton se gedetailleerde huislike realisme.

Tog eiesoortig. En as jy mooi kyk, was daar altyd ‘n bonus.

Regs: Frans Esterhuyse steek in 2013 in Beeld die draak met Jacob Zuma.

Hooffoto bo: Frans se spotprent op die voorblad van die laaste Oggendblad.

Frans het arm in die suide van Johannesburg grootgeword. In st.7 wou sy ouers hom uit die skool haal om ‘n bode by ’n prokureurskantoor te word. Met die hulp van ’n onderwyseres by wie hy naskoolse kunslesse ontvang het, het Frans die Harry Oppenheimer-kunsbeurs gekry wat hom op skool gehou het.

 In ‘n artikel in Beeld (7 Okt. 2006) vertel Frans: “Nou ja, ek en my maters het mos altyd skool toe gegaan vir die rugby en die lunch. En partykeer het ons selfs geleer … Ewe skielik moes ek leer dat dit bars. Ek is st. 8 met vlieënde vaandels deur en was eerste in die klas. Ek het my amper doodgeskrik!”
 Hy het later handelskuns (vandag grafiese ontwerp) by die Witwatersrandse Tegniese Kollege gaan studeer. Sy destydse Afrikaansonderwyser het gelag toe hy sê hy gaan ‘n handelskunstenaar word. Maar jare later ontmoet hy weer vir meneer Du Plessis — nou doktor Du Plessis, redakteur van Hoofstad, wat van sy tekeninge wil gebruik maak. Hy en PG het goeie vriende geword.

Toe adv. Hans Strijdom in 1953 eerste minister word, het Esterhuyse borde teen ’n halfkroon elk gekoop, Strijdom se gesig daarop geverf en vir twee pond elk verkoop. “Dit was só gewild alles het uitverkoop.”
 

Sosiale kommentator was hy wel, maar subtiel. So anders as spotprenttekenaars wat soms propagandiste was (en is). Maar die strepieskat, wat kenmerkend van sy spotprente geword het, het Frans se gevoelens op ‘n manier uitgedruk … So het die kat buite die raam gestaan as Frans nie saamgestem het nie. En op ‘n ander een sou hy skuur teen Nelson Mandela se bene. Instemmend.

Waar die kat vandaan kom? Harald Pakendorf, destyds redakteur van Oggendblad, wou op ‘n dag weet wat dan van die kat geword het wat die vorige dag by ‘n spotprent ingesluip het. Toe word die kat sy gereelde meeloper.
 

Ná sy opleiding het hy tien jaar lank by ’n rekenaarmaatskappy as illustreerder gewerk. Ná nog ’n draai of wat het hy spotprente begin teken vir die destydse Perskorkoerante.
 

“Die talent wat ek het om te teken, is nie myne nie. Dis bloot iets wat ek van God ontvang het om mee te werk en eendag moet ek dit aan Hom teruggee en verduidelik hoe ek daarmee gewerk het. Dís hoekom ’n mens goed en reg met jou talente moet werk,” het Frans aan Beeld gesê.


 Aftrede het sekerlik nie die einde van sy werk beteken nie. Korporatiewe werk en skilder (landskappe, portrette en stillewes) het nou sy dae gevul. “Want ek is ’n begenadigde.”

Sy bewonderaars het gemeen hy moet aanbly. Om op 65 te moet aftree was verregaande. So skryf dr. J.C. Kloppers-Louwrens:

“M.C.E. van Schoor was in die kol met sy volgende opmerking: ‘As politieke strydmiddel is die spotprent gelyk aan buskruit – sedert die uitvinding daarvan eeue gelede is dit nog nie vervang nie, alleen in aanwending verfyn en verbeter.’ En daarvoor het ’n mens ’n meester, soos Esterhuyse, nodig.” Sy het gepleit dat hy aanbly, selfs net deeltyds.

Dit blyk dat Frans inderdaad nog vir ‘n hele aantal jare deeltyds vir Beeld gewerk het. Voorbeelde op die internet dateer uit 2013, dus ses jaar ná sy amptelike aftrede.

Volgens Africartoons  (http://africartoons.com/cartoonist/f-esterhuyse) is Frans in 1941 gebore en woon hy nou in die Wes-Kaap. Enige nuwe inligting sal verwelkom word. — Johannes Froneman

Met erkenning aan Beeld en die anonieme artikelskrywer. Die verwysing is

http://152.111.1.251/argief/berigte/beeld/2006/10/07/B1/11/jffrans.html, maar dié webblad bestaan nie meer nie.

Erkenning aan Frans Esterhuyse vir gebruik van die spotprent.

Geplaas op 31 Maart 2023