Fotoboekies het in die 1950’s, 1960’s en 1970’s ligte lees-en-kykstof aan die massas gebied. Die “vader van die (Afrikaanse) fotoboekie”, Hint Hyman, het dié behoefte uitgebuit en titels soos Mark Condor, Ruiter in swart en Tessa het so deel van die populêre kultuur geword dat koerante en tydskrifte nie die gewildheid daarvan kon ignoreer nie. Tog was hul fotoverhale makker en soms bloot weergawes van rolprente en/of radioverhale.
Soos Afrifiksie sê, het fotoboekies meestal ‘n romantiese strekking gehad, ” ‘n tipe sepie op papier”, maar aksiehelde was net so gewild en het “onskuldiges gered … uit die kloue van booswigte”. (Kyk https://afrifiksie-nova.com/fotoverhale/)
Die grensoorlog in Suidwes-Afrika (vandag Namibië) het waarskynlik ook tot sommige fotoboekietemas gelei met helde wat die onmoontlike verrig het teen vyande wat die land wou vernietig — of so is geglo.
Die konserwatiewe openbare moraal rakende seksualiteit (soos afgedwing deur die regering en kerke) het dalk ‘n rol gespeel in die temas van sommige die boekies — maar dan as teenreaksie. Vandaar die kritiek wat die boekies ontlok het.
Amanda Botha skryf: “In die 1960’s het hy na Durban verhuis en Republikeinse Pers (RP) gestig. Benewens die reeks fotoboekstories het RP 29 tydskriftitels gehad en teen 1979 het hy 61% van Suid-Afrika se advertensiebegroting getrek. Een van sy tydskrifte, Bona , is in verskeie tale gepubliseer en het die grootste tydskrifsirkulasie op sy dag gehad. Die fotoboekies se suksesverkope teen 1970 is as ongekend in die uitgewersbedryf bestempel. Daar kon skaars voorgebly word met die skryf en vervaardiging van die boekies. Sommige skrywers het ingetrek in woonwaens, wat permanent in die Hymans se tuin gestaan het, om maande lank ononderbroke aandag aan die skryf van die stories te gee.”
Van die gewilde fotoboekies het die volgende ingesluit:



Die Beau Brummell- en van die ander boekies is later in kleur gedruk en het ook in Engels verskyn. (Erkenning aan The Heritage Portal. Sien adres onder.)

Kyk is in geheel aan fotoverhale gewy, maar het nie soos bogenoemde boekies een deurlopende hoofkarakter gehad nie. Die verhale is ook nie noodwendig plaaslik geskiet nie, maar bloot van Afrikaanse dialoog voorsien. (Hierdie inligting is oop vir regstelling.)

Die fotoverhale (ook genoem fotoromans) in koerante en tydskrifte was effe anders en meer dikwels ‘n weergawe van rolprente en radioverhale. So het Die Beeld die fotoverhaal Kavaliers (teen die agtergrond van die Anglo-Boere-oorlog) geplaas.

Hierdie fotoverhaal in Die Huisgenoot het in 1965 verskyn en was waarskynlik ‘n ingevoerde produk.

Die Beeld het by die sluiting in 1967 van Sondagstem ‘n groot slag geslaan deur die regte vir Dr. Marius Hugo (‘n gewilde verhaal op Springbokradio, geskryf deur Willie van Rensburg) te bekom . Dirk C. de Villiers verwys na die destydse belangrikheid van strokies en fotoverhale vir ‘n massakoerant en koppel dit aan Die Beeld se sirkulasiestyging — van 200 000 tot 290 00 in die eerste ses maande van 1968. Hoeveel die Dr. Marius Hugo-fotoverhaal daartoe bygedra het, is egter onmoontlik om te bepaal. Daar was ook ander faktore, maar die fotoverhale was sekerlik deel van Die Beeld se strategie.


Die Beeld het ook die gewilde Die geheim van Nantes as fotoverhaal geplaas — gelyklopend met Dr. Marius Hugo. Onder: Willie van Rensburg het ook as akteur opgetree.

Willie van Rensburg het ook die verhaal Man met die ystervuis vir Sondagstem geskryf.

Selfs ‘n konserwatiewe dagblad soos Die Transvaler het hom tot hierdie sirkulasiebouer gewend en die fotoverhaal Noodsaal 5 gepubliseer.

Die Huisgenoot het Seuns van die wolke, ‘n “aksierolprent”, in die fotoformaat geplaas.

Die gebruik van fotoverhale het later in onbruik geval, waarskynlik omdat TV sedert 1976 lesers se tyd toenemend begin opeis het of genoegsaam voldoen het aan die behoefte vir vermaak. Deeglike navorsing oor die fotoboekie-verskynsel is egter nog nie gedoen nie.
Lees ook:
Amanda Botha se artikel oor fotoboekies byhttp://perskor.blogspot.com/2012/08/gewilde-fotoverhale-nou-gesogte-africana.html
asook