FLITSE UIT ‘N MEDIABAAS SE LOOPBAAN

Salie de Swardt was as redakteur en uitvoerende hoof by Media24, een van die invloedrykste mediamense van die afgelope dekades. Hier is ‘n paar uittreksels uit ‘n omvattende onderhoud met ons. Die volledige onderhoud via e-pos is is by die afdeling Verbatim te vinde.

Van die toesprake (by ‘n afskeidsete) onthou ek nog, soos die een in Johannesburg van Deon du Plessis, stigter-redakteur van die Daily Sun. Deon het vertel dat terwyl ek en Jan Malherbe, ‘n uitmuntende hoof van ons koerante, gewik en geweeg het oor die stigting van die Daily Sun, het hy my dopgehou. Hy het geweet as ek instem, is sy kop deur.

Ek sou nooit sonder Jan se goedkeuring die koerant begin het nie, maar dit was ‘n groot kompliment om my rol as deurslaggewend vir die skepping van die latere grootste koerant in Afrika uit te sonder.

Ek en Jan het diep gedelf  voor ons besluit het om voort te gaan met die duur en riskante projek waarvoor die destydse Independent-koerantgroep nie kans gesien het nie.

En belangrik: Koos Bekker het ons gesteun.

Redakteur van Beeld

In daardie tyd (ná 1990) het my gesin dreigoproepe by ons huis ontvang, wagte het ons snags bewaak en veiligheidsvelle is oor ons huis se vensters geplak om bomme te keer.

Twee terreurbomme het een Sondagnag om Beeld se kantore ontplof terwyl ek op kantoor was en hoofsub Willem Pretorius se motor  is vernietig. “Ons sal ons nie laat intimideer nie,” het ek namens die koerant gesê.

Saam met PW in motor

Terwyl ek (as jong joernalis) algemene verslaggewing by Die Burger gedoen het, het ek wel ‘n bietjie politieke blootstelling gekry. Een van die onvergeetlikste daarvan was ‘n dag in 1968 saam met mnr. P. W. Botha, destyds Minister van Verdediging en leier van die NP in Kaapland, op Riversdal. Hoe die nuusredakteur, Piet van Niekerk, dit reggekry het, weet ek nie, maar ek kry toe ‘n geleentheid saam met die minister in sy motor tot op Riversdal en die aand weer terug.

Vroegoggend was ek by die Mt. Nelson Hotel en vandaar ure lank saam met die hom in die motor tot op Riversdal. Nog groter was my verstomming toe ons daar deur ‘n skare mense ontvang word met wapperende vlaggies en ek is die passasier agter in die motor langs die belangrike man! Ek was baie verleë, want ‘n joernalis moet darem ‘n stewige afstand van die politici hou, maar moes maar in die lang swart motor bly sit.

Die aand op pad terug nadat ek o.m. foto’s van mnr. Botha geneem het by wat veronderstel was om ‘n olieboor te wees omdat daar glo tekens van olie in die omgewing gevind was, het hy nogal moeite gedoen om my in te lig wat hy dink belangrik in sy toespraak was. Ek het sowaar die moed gehad om my eie kop te volg.

PW swaai sy vinger

Toe ek (as redakteur van Finansies & Tegniek) deelgeneem het aan ‘n sakeberaad by PW Botha, toe president, se tuiste in Pretoria, het hy die gaste in ‘n lang ry een vir een gegroet met oud-kollega Jack Viviers, sy mediaman, aan sy sy. Vir my ook, maar toe hy so ‘n end verby is, kliek die naam Salie de Swardt. (Hy het my pa van George geken.)

Hy het omgedraai, op my afgestap, sy vinger onder my neus geswaai en gesê ek moet ophou om die “nonsens” te skryf wat ek skryf.

Werkverliese

Wat met ons publikasies (in die jongste jare) gebeur het, was vir my verskriklik en veroorsaak steeds groot pyn in my gemoed. Redakteurs en senior redaksielede, tradisioneel die uitverkorenes van Naspers (Piet Cillié het van redakteur van Die Burger tot voorsitter van Naspers gewip) wat van hul gesag en selfs waardigheid gestroop is met die skepping van Netwerk24 as primêre nuusinsamelaar,  goeie, lojale mense wat hul werk verloor en  die verlies van joernalistieke en sake-kundigheid, is aaklig.

In ‘n sin was dit onvermydelik, maar heftige debatte is in Media24 se direksie gevoer oor die hantering van die omwenteling.

Oor een ding was ek baie dankbaar en dit is dat die grootste pyn hoofsaaklik gebeur het ná my uittrede as uitvoerende hoof in 2005.

Baie dae wonder ek hoe dit kon gebeur dat ‘n winsgewende maatskappy met ‘n omset van R7 000 miljoen (R7 miljard) per jaar so kon krimp? Maar dit is die lewe, niks is seker nie, veral as nuwe tegnologie jou bedryf betree.

Voorbeeld

Ek het nie op charisma as ‘n leier staat gemaak nie, maar wel op my voorbeeld. Soggens sewenuur was ek in Kaapstad op kantoor al het ek op my plasie naby Stellenbosch gewoon en ek is baie selde voor sewenuur saans huis toe.

My kollegas het dit geweet en my dikwels vroegoggend of laat middag/saans sonder afspraak besoek. My kantoordeur was vir almal oop en uit hul geskrifte oor my, lei ek af hulle het dit geweet en dikwels benut.

Foute?

My loopbaan was alles behalwe volmaak en boonop in hedendaagse terme nie politiek-korrek nie. Anders sou ek dalk ook al ‘n eredoktorsgraad vir my poginkies gekry het!

Wat oordeelsfoute betref: ek is skaam om dit te erken, maar in Beeld se hoofartikel-kommentaar die Saterdag na 2 Februarie 1990 het ek geskryf die Nasionale Party het so volledig die beleid van die amptelike opposisie, die Demokratiese Party,  oorgeneem dat die DP waarskynlik sal verdwyn. Die teenoorgestelde het gebeur: Die NP het verdwyn en die DP het in die vorm van die DA oorleef en is nou die amptelike opposisie van die ANC.

Kliek hier vir volledige onderhoud: https://mediamense.com/salie-die-swardt-die-gentleman-mediaman-van-media24/