FLIEKTEATERS: PLEKKE VAN VERMAAK, DROOM EN ROOK

Voor televisie (1976) het flooiflieke ‘n belangrike plek in die wêreld van vermaak ingeneem. Daar kon jy heeldag sit en fliek vir minder as 20c. By die ingang het jy boonop ‘n bekertjie koeldrank persent gekry.

In Durban het ons die Roxy en Oxford gehad. Daar was dikwels ‘n double feature, dus twee rolprente wat al om die beurt dwarsdeur die dag gespeel het.

Die teaters (as mens dit so kon noem) was donker en rokerig, want rook is toe nog in sulke plekke toegelaat. Wat beteken dat skoolkinders daar skelm gaan rook het. Agter elke stoel was ‘n asbakkie. Die rook het vir talle hoofpyne gesorg.

Hierdie plekke het meestal ou Cowboyflieks vertoon; die nuwe flieks is by die string stylvolle teaters elders in die middestad vertoon. By die Cinerama (met sy indrukwekkende gekurfde doek), die Playhouse (met sy sterretjies teen die hoë dak; later Naruk se teater), die Embassy en Metro.

By hierdie ordentlike flieks is ook die mooiste advertensies vertoon: ek herinner my aan die Mainstay-, Peter Stuyvesant- en Dunhill-advertensies. Indrukwekkend, professioneel en oorredend. Drink die cane (die Afrikaans, rietsnaps, is net deur taalpuiste gebruik, maar hulle het dit nie gedrink nie) of rook die sigarette en jy word verplaas na ‘n ander wêreld. Die wêreld van beeldskone mense wat sorgloos ski of kerjakker op stralers en seiljagte …

Dié tipe advertensies, wat ook so deel was van koerante en tydskrifte (veral die agterblad), is geskiedenis. (Maar op televisie leef drankadvertensies voort. Wie kan dit verklaar?)

Advertensies was deel van die fliekpakket. So ook die talle lokprente (dis nou die promosies van komende flieks). En dan was daar nuusopsommings. Ek meen dit is SA Mirror genoem met André Walters se stem. Voor 1976 was dit al waar jy ‘n klein stukkie van ‘n onlangse rugby- of kriekertoets in swart-wit kon sien.

Plekaanwysers met ‘n flits het jou na jou sitplek vergesel. Hulle moes die alfabet agterstevoor ken, want A was die heel voorste ry. Die plekaanwysers het ook altoos Stage & Cinema probeer verkoop. Ek het nooit gesien iemand koop dié tydskrif nie. Maar dit was voordat Huisgenoot en ander tydskrifte behep geraak het met glansmense uit die fliekwêreld.

In die aand — veral ‘n Vrydag- of Saterdagaand, wanneer die teaters volgepak was met honderde fliekgangers — moes mans ‘n baadjie dra. Ek praat nou van die 1960’s. Wanneer dit verander het, weet ek nie.

Mense wat in ander stede of dorpe grootgeword het, sal hul eie herinneringe hê. Die fliek was in daardie jare die enigste venster op die wêreld daarbuite. Seker nie ‘n akkurate beeld nie, meer een wat drome wakker gemaak het.

Met die koms van televisie in 1976 het alles natuurlik verander. Teaters in die middestede is gesluit en heelwat kleiner flieks is in winkelsentrums geopen. Die inryteaters, ook eg-Afrikaans veldflieke genoem, het verdwyn en plek gemaak vir nog ‘n winkelsentrum of woonplekke. Gras het metterwyl deur die teer gestoot het waar die inryteaters verwaarloos gewag het op nuwe ontwikkeling.

Die Saterdagaandbederf om inry toe te gaan, was daarmee heen. Daar moes jy ook maar vroeg in die tou gaan val, anders kry jy nie plek nie of ‘n staanplek agter of so skuins dat jy skeel moes kyk.

Die luidspreker wat jy by die motorvenster moes inhaak, was soms krakerig; later kon jy die klankbaan op jou radio opvang.

Inryteaters herleef op enkele plekke en teaters is gelukkig nie almal deur die pandemie verwoes nie.

Maar mediavermaak het ‘n string ander vorme aangeneem — van ‘n magdom TV-kanale tot Netflix, van sosiale media tot YouTube. Plus die internetspeletjies — “games” — wat veral jonkmense vir baie ure besig hou. — Johannes Froneman