EUGèNE MARAIS — ONVERSKROKKE KAMPVEGTER VIR WAT REG IS

Eugène Marais word onthou as een van die eerste belangrike Afrikaanse digters en skrywers. Hy was ook ‘n merkwaardige navorser oor ape, miere en ander natuurverskynsels. Maar hy was deur sy volwasse lewe ‘n joernalis en het oor vier dekades heen ‘n wesenlike bydrae tot die Afrikaanse joernalistiek gemaak.

Marais begin op sewentien as leerlingjoernalis by die Transvaal Advertiser werk en leer daar die basiese beginsels van joernalistiek — ook om kontrovers aan te wakker.

So word hy die persbank van die Raadsaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek verbied nadat hy ‘n los opmerking deur die voorsitter gerapporteer het. Marais raak daardeur bekend en sit nou maar in die openbare galery, vanwaar hy steeds verslag doen en sy rubriek skryf, vertel Leon Rousseau in sy Die groot verlange— Die verhaal van Eugène Marais.

Marais bevind hom vierkant in die anti-Kruger-kamp en word op 19-jarige leeftyd redakteur van die eenman-weekblad Land en Volk. Sy entoesiasme en bekwaamheid sorg daarvoor dat hy metterwyl ook assistentredakteur van The Press én van die Advertiser word.

Sy Land en Volk sukkel egter sirkulasiegewys en Marais besluit om Afrikaans in te voer. Toe daar geen noemenswaardige reaksie is nie, skryf hy onder ‘n skuilnaam ‘n brief waarin hy die koerant prys. Weldra het die sirkulasie begin styg. 

Marais en sy vriend Jimmy Roos koop die Land en Volk in 1891, maar hulle sukkel steeds finansieel. Marais se lewenslange verslawing aan morfien begin en dit eis deur die jare sy tol. Nadat Roos Kaap toe verhuis het, verkoop Marais die koerant aan ‘n maatskappy wat die Uitlanders se saak sou bevorder.

Ten minste bly Marais aan as redakteur en sou hy kon skryf sonder inmenging van die eienaars in Johannesburg. Hy spreek hom steeds kras teen die president en sy meelopers uit en loop hom daarmee ‘n lastersaak op die hals — wat hy wen.

Marais was nou behoorlik opgewerk en stel die president in kennis dat hy 10 000 pond van hom gaan eis weens verskillende lasterlike uitsprake teen Land en Volk. Sy vrou laat hom egter bedaar en hy laat vaar die plan. Later volg wel ander lasteraksies, ook teen hom.

Hy studeer in die jare 1896 tot 1902 in Brittanje en Europa word by sy terugkeer advokaat. Marais laat Land en Volk herleef, met Gustav Preller as redakteur. Self skryf hy artikels om sy mense te bemoedig. Hy verkoop die blad egter in 1905.

Marais was ‘n kampvegter vir Afrikaans as koeranttaal. Hieroor skryf Leon Rousseau onder meer:

Marais lewer ook bydraes vir De Volkstem, Die Brandwag, Die Huisgenoot en word heelwat later (1927) deur sy vriend Gustav Preller se toedoen, assitentredakteur by Ons Vaderland. Vir dié koerant, wat later Die Vaderland sou word, skryf hy in die loop van die 1930’s allerlei verhale en artikels, dikwels van populêr-wetenskaplike aard.

Marais bring homself in 1936 om die lewe.

Sy konfronterende styl van joernalistiek het ná die ABO ‘n meer versoenende klank gekry, maar hy sal onthou word vir sy onverbiddellike stryd teen wat hy as onreg beskou het. In daardie opsig was hy ‘n baanbreker in die Hollands-Afrikaanse joernalistiek, wat dalk eers weer in die 1980’s in die gestalte van Max du Preez ‘n volwaardige navolger sou kry.

Bronne:

Die groot verlange deur Leon Rousseau (Human & Rousseau, 1974) is ‘n meesterstuk waaruit heelwat geput is. Die gedetaileerde beskrywing van gebeure is die moeite werd om te lees en te herlees.

Erkenning: Die hooffoto bo is afkomstig van hierdie boekvoorblad.

Lees ook Donker stroom deur Carel van der Merwe (Tafelberg, 2015).

Wikipedia asook die SA Bibliografiese Woordeboek (Deel I) gee ook goeie oorsigte oor sy lewe.