Vroeg Maandagoggend 7 Januarie 1985, stap ‘n man in sy 20’s in by Perskor se kantore in Doornfontein, Johannesburg. Netjies geklee op sy eerste werksdag, is die jongman bietjie senuweeagtig. Maar tog ook met tipiese selfvertroue van ‘n jongeling wat kans sien vir die groot en uitdagende wêreld. Min het hy daardie oggend geweet watter opwindende en by tye selfs uitdagende reis wag toe hy sy sitplek by ‘n tikmasjien inneem in Die Vaderland se kantore. Die reis sou hom neem van berigte skryf met ‘n tikmasjien tot die hede waar hy berigte met ‘n selfoon in die hand skryf. EUGENE GUNNING, wat deesdae in George woon, vertel.
Die pos as ‘n verslaggewer by Die Vaderland was my eerste permanente werk. Die koerant was ‘n Afrikaanse middagkoerant en Harald Pakendorf was die redakteur. Toe hy my vra wat ek wou doen, het ek sonder huiwering geantwoord: Parlementêre verslaggewer.
Terugskouend was daar waarskynlik twee redes voor: Toe reeds het ek ‘n sterk belangstelling in politiek gehad en die vooruitsig om ses maande van die jaar in die Kaap te gaan woon, was baie aanloklik. Maar die Kaap sou eers later op my pad kom.
Eugene Gunning woon op George waar hy steeds as vryskut werk.
Hooffoto heel bo:
Eugene (regs) voer ‘n onderhoud met dr. Pieter Groewewald van die Vryheidsfront Plus.
Die Sondag voor ek begin werk het, het sen. Ted Kennedy van Amerika in die land aangekom vir ‘n besoek. In die eerste dae van my werk het ek grootoog geluister hoe die senior joernaliste onder mekaar praat oor die berigte wat hulle oor sy besoek skryf.
In die eerste dae en weke het dit my ook opgeval dat almal Vrydagmiddae “verdwyn”. Hulle het een of ander plek met die naam Vegkop besoek. Ek het nie ‘n idee gehad waar en wat is Vegkop nie. Later is ek toe saam genooi.
Vegkop was ‘n kort stappie net skuins oorkant die straat en daar het ek gesien hoe gekuier kan word. Koerantmense is immers net mense.
In die begindae het die nuusredakteur my darem vertrou met vertalings. Ek onthou hoe trots ek was om my eerste vertalings in die koerant te sien. Natuurlik wou ek sommer ekstra uitgawes daarvan bệre.
Toe my naam die eerste keer by berigte verskyn, sou jy ver soek om ‘n trotser Johannesburger te kry. My joernalistieke reis was in alle erns uit die blokke.
Destyds het ek al geleer dis ‘n beroep waar ondervinding en ervaring tel. Die gemak en spoed waarmee senior joernaliste berigte aangepak en geskryf het, het ‘n baie diep indruk op my gemaak. Ek het by hulle geleer.
In daardie begindae het ek ook iets beleef wat my werklik laat besef het dis die beroep vir my. Ted Koppel en ‘n span van ABC Nightline in Amerika het ‘n reeks TV-progamme in Suid-Afrika kom maak. Ek en ander joernaliste is toegelaat om laat een Donderdagaand een van die opnames by die SAUK BY te woon. Dit is ‘n paar uur later in Amerika uitgesaai.
Die Vrydagaand het Koppel ‘n mediakonferensie gehou en sy indrukke gegee van die situasie in Suid-Afrika. Dit was interessant, maar wat my veral beἲndruk het, was die professionele wyse waarop Koppel en sy span dinge gedoen het. Dit het ‘n onuitwisbare indruk op my as groentjiejoernalis gemaak.
Ek het ook een van die groot waarhede van die beroep toe al begin besef: Ons is almal se vriend en tog ook almal se vyand.
As ‘n junior verslaggewer was ek baie bevoorreg om baie dinge gou te kon beleef. Ek was deel van Die Vaderland-span wat verslag gedoen het oor die Westdene-busramp. Min het ek geweet dat ek baie jare later weer so-iets sou beleef — meer as ‘n 1 000 km van Johannesburg. Dit was toe ‘n bus, ook met kinders, in die water beland het by Rheenendal naby Knysna. Toe was ek hoof van Die Burger in die Suid-Kaap en deel van die koerant se verslagspan. Net soos Westdene was dit tragies met baie hartseer parallelle.
‘n Jong Eugene in gesprek met die destydse rebelleleier in Angola Jonas Savimbi
Iets wat my ook van Die Vaderland-dae bybly, is toe ek en kollega Gerhard van Niekerk in Botswana aangekeer is. Die uiteinde was ‘n nag en dag in ‘n baie vuil tronksel in bitter onaangame omstandighede. Ons is afsonderlik aangehou en ondervra. Ons wou verslag doen oor die destydse SAW se aanvalle op ANC-teikens in die buitewyke van Gaberone.
Nuuskierig was ek maar altyd en wou dinge beleef. Ek het André Bester van die sportredaksie gevra of ek per geleentheid kon saamgaan na ‘n bokstoernooi. André het baie moeite gedoen en vir my ‘n kaartjie gereël vir die toernooi in die Randse Stadion. En dit was nie sommer net ‘n kaartjie nie. Dit was heel voor by die kryt.
Toe die manne mekaar begin timmer en ek sien hoe spat die bloed, het ek besef ek sal moet mooi koes. Ek probeer toe my kaartjie ruil met iemand wat meer agtertoe sit. Dit het groot oortuigingswerk gekos, want niemand kon verstaan hoekom ek wou ruil nie. Ek het dan een van die beste sitplekke!
Toe begin ek by Naspers
Later het ek by Beeld gaan werk. Die kultuur by Naspers was baie anders as Perskor. Meer professioneel en ook meer formeel. Daar het ons ‘n rekenaarstelsel gebruik. Ek was baie gelukkig by Beeld, maar het soms terug verlang na die meer informele atmosfeer by Perskor. By Beeld het ek wonderlike geleenthede gehad en het ek gesien hoe ‘n span effektief kan saamwerk om groot te gaan met berigte soos dié oor die Helderberg-vliegramp.
Net soos by Die Vaderland kon ek my politieke belangstelling uitleef. In daardie jare het ek letterlik honderde politieke vergaderings bygewoon — baie van hulle op dorpe in die ou Transvaalse platteland. Dit was die dae van die AWB, die KP en die HNP. Die “linkse/liberale pers” was nie altyd baie welkom nie.
Ná die vergaderings het ek in die halfdonkerte van die koerantmotor die berigte met die hand geskryf. Daarna die soektog na ‘n openbare telefoon wat werk om die berigte deur te bel. Dan die lang terugtog kantoor toe alleen op eensame donker paaie.
Tydens my tyd by Beeld het ek Angola meer as een keer besoek. Tydens een van die besoeke het ek Jonas Savimbi, leier van Unita, persoonlik by sy hoofkwartier in Jamba ontmoet en met hom gesels.
Ek het ook al die drama beleef toe Riaan Eksteen, die destydse SAUK-baas, die deur gewys is. My belewenis was dat hy vasgevang was in ‘n politieke spel. Toe hy die pad moes vat, het ek met sy opvolger, Wynand Harmse, gaan gesels. Wynand was vriendelik en het my in ligte trant daarop gewys dat ek feitlik korrek verslag moes doen, want “ek en julle redakteur (Salie de Swardt) speel Saterdae saam tennis”.
Ons het hoog op in die SAUK se toringgebou in Aucklandpark gesels en toe sommer in Riaan Eksteen se ou kantoor gaan sit. Daar het ‘n doodse atmosfeer geheers. Terwyl Wynand met my gesels, het my oog ‘n beeldjie (dit kon ‘n afdruk gewees het) gevang met die titel Slegte nuus. As ek reg onthou, was dit ‘n beeldjie wat deur Anton van Wouw gemaak is.
In 1990 was ek deel van Naspers se parlementệre span en op 11 Februarie kon ek (soos baie ander mense) die eerste keer sien hoe lyk Nelson Mandela toe hy ‘n paar uur na sy vrylating sy eerste openbare toespraak as ‘n vry man op die Kaapse Parade gelewer het.
Nuwe terrein – die sakejoernalistiek
In Januarie 1991 het ek by die destydse Finansies & Tegniek (wat later Finweek sou word) begin as eiendomsredakteur. Interessant was die stylverandering van politieke na sake-joernalistiek.
Ofskoon die twee terreine baie verskillend is, is daar ook raakpunte. Om as ‘n joernalis ‘n onderhoud met ‘n politikus te voer, was dikwels baie anders as met ‘n sakeleier. My indruk van die sakewệreld was dat dit uit en uit gaan oor rand en sent – lees wins. Vir emosionele sentimente was daar minder ruimte.
Terug parlement toe
Ná F&T het Rapport gevolg en in 1994 het die redakteur, Izak de Villiers, my die geleentheid gegee om terug te gaan parlement toe. Een van die aangenaamste tye in my lewe het gewag. My pad het met dié van Freek Swart gekruis, wat as politieke redakteur oorgeneem het.
Aanvanklik was ek bietjie bekommerd, want ek het hom nie goed geken nie. Maar ons het gou gekliek. Hy het ‘n mentor geword en my baie gehelp. Sy benadering was om te help en nie af te breek nie.
Eugene het verslag gedoen oor die ramp op George toe ‘n gebou in aanbou ineengestort het.
In my tyd by Rapport het ‘n groep joernaliste en ek Rusland saam met adj.-pres. Thabo Mbeki besoek. Tydens die besoek het ek een van die aangrypendste dinge ooit beleef. Mbeki het ‘n krans gelệ by die graf van die Onbekende Soldaat by die Kremlin in Moskou.
Terwyl hy dit gedoen het, het dit gesneeureën. Suid-Afrika se volkslied, waarvan Die Stem deel is, is gespeel. My oë was nat en dit was nie net van die sneeureën nie. Het ek, wat nog diensplig in die vorige politieke bedeling gedoen het (om onder meer die Rooi Gevaar weg te hou) ooit gedink ek sal Die Stem by die Kremlin hoor…
My tyd terug by die parlement was opwindend. In ‘n stadium het lede van die VF Plus en ek bietjie swaarde gekruis. Op ‘n dag loop ek dr. Pieter Mulder in die wandelgang van die Nasionale Vergadering raak. Pieter en ek verskil toe so bietjie op ‘n vriendelike wyse. Hy kon nie anders as om te glimlag toe ek vir hom sệ jy/julle het dan vir ons sekere goed oor die joernalistiek op universiteit geleer. Hy was ‘n dosent van my by Pukke in 1982.
Die Suid-Kaap en ander dinge
Ná Rapport het ek onder meer by Die Wệreld, Die Burger en George Herald gewerk en ook vryskutwerk gedoen.
Met die onlangse afsterwe van kol. Jan Breytenbach het ek teruggedink aan ‘n onderhoud wat ek met hom in sy huis op Sedgefield gevoer het kort nadat ek in 2008 hier in die Suid-Kaap vir Die Burger begin werk het.
Ek onthou sy stewige handdruk, sy sterk kyk en die heerlike melktert wat sy eggenoot, Rosalind, vir ons aangedra het saam met koffie.
Dit was ‘n aangename gesprek/onderhoud. Hier teen die einde is ek toe baie versigtig en ek skimp ek wil ‘n ongemaklike vraag vra. Hy glimlag en verstaan onmiddellik. Hy sệ hy weet presies waaroor ek wil vra. Dit blyk toe dat sy broer Breyten Breytenbach al daar kom kuier het. En eindelik het hulle ‘n goeie verhouding as broers.
En nou is ek hier
Onlangs het ek sogenaamd “afgetree”. In dié beroep tree mens egter nie af nie.
Na al die jare besef ek al hoe meer hoe bevoorreg ek was om baie bekendes te ontmoet, besonderse plekke te sien en dinge te beleef. Sommige gebeure is letterlik geskiedenis.
En tog is dit nie wat die grootste indruk op my gemaak het nie. Dis die “gewone” dinge, mense, plekke en situasies wat my veral bybly. Joernaliste het baie mag (baie meer as wat hulle soms besef) en het/kan ‘n baie groot positiewe impak op mense se lewens hệ. As ek dink hoe ‘n eenvoudige berig al iemand gehelp het, dan glimlag ek.
Natuurlik is ek hartseer oor die woelinge in die media-wệreld. Ek het immers by twee van daardie publikasies (Beeld en Rapport) voltyds gewerk. Trouens om dit nog ‘n entjie verder terug te neem. As skoolleerling en student het ek graag briewe vir Beeld en Rapport geskryf wat gepubliseer is.
Ek het geen twyfel dat die media (ook in Afrikaans) sal voortleef. Weliswaar dalk in ‘n ander formaat. Die einde van tikmasjiene het nie die einde van die pad beteken nie. Die reis het voortgegaan. En dit sal steeds voortgaan, al is dit dalk ander reise en bestemmings.