‘ENGELSE PERS’ SE STRYD DEUR DRIE BOEKE BELIG

Hierdie drie boeke fokus op die opkoms, bykanse ondergang en heropstanding van Times Media (vandag genoem Arena Holdings), die einde van die maatskappy se vlagskipdagblad, die Rand Daily Mail, en die ontstaan van die Weekly Mail (vandag Mail & Guardian) uit die puin van die Rand Daily Mail.

THE FOURTH ESTATE

Joel Mervis

Jonathan Ball, Johannesburg

1989

Joel Mervis gaan haal die storie by die begin: die ontstaan van die Rand Daily Mail in 1902 en die Sunday Times (waarvan hy self later redakteur was) in 1906. As meesterjoernalis vertel Mervis die storie met grasie, eerlikheid en humor.

Die Engelstalige pers van weleer se rasse- en politieke vooroordele word aan die kaak gestel; die sirkulasiestryd tussen Engelstalige koerante, die groot stories, interessante persoonlikhede en soms swak besluite deur direksies kom alles aan die orde. Ook hoe die maatskappy op die nippertjie gered is.

Wat die boek nie vertel nie is hoe Times Media later op ‘n skinkbord aan ‘n swartbemagtigingsgroep aangebied is en vandag as Arena Holdings voortbestaan — met die Sunday Times steeds die grootste koerant in die land.

Enigeen wat in koerantgeskiedenis belang stel, sal Mervis se boek met groot plesier lees.

FINAL DEADLINE — the last days of the Rand Daily Mail

Rex Gibson

David Philip, Claremont

2007

Die Rand Daily Mail was in die apartheidsjare ‘n klip in die regering se skoen. Dit was ‘n simbool van protes teen rasseskeiding en vernederende wette, en het internasionale erkenning geniet.

Die blad se “gesplete sirkulasie” — ryk en wit aan die een kant, en swart en minder gegoed aan die ander kant — het nie destyds vir goeie advertensie-inkomste gesorg nie.

Die storie oor die ander redes vir die blad se uiteindelike sluiting word hier kaalkop deur die laaste redakteur, Rex Gibson, vertel. Die onsekerheid waardeur talle joernaliste die afgelope dekade moes gaan, is reeds in oormaat deur die Mail se span in die 1980’s beleef.

YOU HAVE BEEN WARNED — The first ten years of the Mail & Guardian

Irwin Manoim

Viking, Londen

1996

Met die sluiting van die Rand Daily Mail het ‘n klompie joernaliste van die koerant die moedigste ding denkbaar gedoen: om ‘n weekblad te begin waarin die gees van die RDM sou voortleef. Vandaar die aanvanklike naam, Weekly Mail.

Later is selfs vir ‘n paar maande lank ‘n Daily Mail uitgegee, maar die boeke het nie geklop nie. Met die hulp van The Guardian in Brittanje is die weekblad as die Mail & Guardian voortgesit — tot vandag toe.

Maar waar die Weekly Mail/Mail & Guardian in die 1980’s ‘n prominente rol as “alternatiewe” koerant gespeel het (saam met VryeWeekblad, South en ander), het die nuwe politieke bedeling almal (behalwe die Mail) se sluiting meegebring.

Die koerant het vandag ‘n ander rol, maar hier word met nostalgie, ondersteun deur treffende foto’s, voorblaaie en spotprente, teruggekyk op ‘n besondere publikasie wat in uiters moeilike omstandighede die joernalistieke vlam hoog gehou het.

Johannes Froneman