ELIZE PARKER: JOERNALIS, SKRYWER EN TROOSTANTE VIR DIE VOLK

Elize Parker vertel op haar eiesoortige wyse hoe sy in die joernalistiek beland het, boeke begin skryf het en haar werk as Huisgenoot se troostante. Die gesprek is per epos deur Johannes Froneman gevoer. 

Vertel ons iets van jou agtergrond, skool, opleiding en hoe jy in die joernalistiek beland het.

Ek was op Oranje Meisieskool in Bloemfontein waar ek my skryfloopbaan op ‘n erg kriminele manier begin het. Ek het egter op soete sestien geleer mens kan geld uit skryf maak. Ek het opstelle vir geld geskryf. Dis deur my klasmaats onder hulle name ingegee. Kom ons noem dit: hulle het my konsulteer teen betaling van 30 sent per opstel in standard agt. Ek het ‘n redelike besigheid aan die gang gehad (Afrikaans en Engels) en is nooit deur ‘n onderwyseres uitgevang nie. Skoolbankkorrupsie. Hello, regter Zondo…

Maar toe kom die jaarlikse groot Coke-opstelwedstryd en een van my opstelle, wat onder ‘n ander naam ingeskryf is, wen! En daai meisie wou nie eers vir my een botteltjie Coke gee uit al die kratte soetstropies wat sy gewen het nie. Ek besluit toe misdaad betaal nie en verskuif my fokus.

Dié jaar was ek in Elizabeth Leroux-meisieskoshuis. Soveel opgeklitste hormone per vierkante meter kry jy geen ander plek op aarde nie. Daar was ‘n aansienlike aanvraag vir iemand wat liefdesbriewe en sentimentele snot kon skryf om die seuns van die nabygeleë seunskool, Grey Kollege, te bekoor. Ek het teen 50 sent per liefdesbrief suikerwoordjies en soetniksies neergepen en selfs ‘n liefdesgedig of twee. My beste purple prose ooit. Ek herinner my tot ‘n liedjie se lirieke wat op spesiale versoek geskryf is: Bêre jou oë vir my. Eat your heart out Laurika Rauch.

Mettertyd het ek my skryfkoninkryk uitgebrei, natuurlik met totale vertroulikhied geborg; ook die seunskool se skamer seuns het af en toe ‘n brief versoek. Selfs ‘n krieketkaptein en rugbyspeler wat later veel roem bereik het. My lippe natuurlik is steeds geseël.Testosteroonbulle swymel nie. Dit het die basis gevorm om later die aanstelling te kry as troostante vir Huisgenoot. Ek was vas onder die indruk die liefde het meesal ‘n middelganger nodig. ‘n Stedelike Cupido.

Ek het in my eerste jaar op Kovsies in 1978 probeer regte studeer, maar was ‘n klaaglike mislukking. My studievermoë-IK laer as my borsmaat. Ek is werklik geen student of breinreus nie.

Toe begin werk ek as die toespraakskrywer van die burgemeester van Bloemfontein. Dit was voor Zondo, anders was ek nou van nepotisme aangekla. Ek het daarna my hand aan so paar ander sekretariële werkies probeer waag, maar moes die aftog blaas na ‘n opeenvolgende vlaag van flaters en base wat vir verkeerde vergaderings opdaag.

In 1981 het ek my eerste geld met skryf ná skool verdien toe my eerste verhaal sonder korreksies in Sarie geplaas is. Ek het dit langs die swembad in Sunnyside in Pretoria geskryf en die idee gekry skryf is pret en nie eintlik ‘n werk nie.

Ek het nog nooit iets beter geskryf as die verhaal Seisoen in die son nie.

Op sterkte daarvan het ek wyd begin publiseer. Die Transvaler het my genader om hul Wes-Transvaalse verslaggewer te wees … Dit was die dae toe die AWB, die noodtoestand en tuislande hoogty gevier het. Ramptoestand-skryfomstandighede met dik rooi penne oral oor jou pienk skryfpapier met woorde XXXX uitgetik deur jou as selfsensuur. Jy is erg verbaas as jou oorspronklike kopie in die koerant kom.

Maar ek was skaamteloos onstopbaar.Ek is ‘n sekere soort verslaggewer. ‘n Storyspotter,oftewel storiespeurder. Ek het soveel stories gelig dat ek spoedig my eie kolom bykans elke dag gehad het, Rondom Rustenburg. Yashica-kamera in die hand het ek van die beste Simmentalerbees in die land tot oor die aborsies by Sun City geskryf.

Dit was nou als sonder ‘n enkele dag se opleiding in die joernalistiek. Ek kan skryf omdat ek ‘n goeie taaljuffrou en uitmuntende subs in my verlede gehad het én ‘n onversadigde lus vir nuus. En iesegrimmige redakteurs wat my aan die ore gelei het en snotklappe uitgedeel het.

Jy noem dat jy vir ‘n Christelike tydskrif gewerk het. Vertel asb daarvan.

In ‘n stadium, skuins na die draai van die eeu, was die mededinging van die vrouetydskrifte fel en het die kompetisie om veral skoonheidshuis-adverteerders se aandag te trek, so erg geword dat ‘n strategie saamgestel is om ‘n tydskrif te posisioneer wat aan vrouelesers ‘n nuwe tuiste kon bied.  Lééf met hart en siel is toe deur Media24 in die lewe geroep.

Ek was betrokke by die samestelling en die uitgangspunte van die tydskrif voor dit nog in die lewe geroep is. Die reis om iets nuuts en oorspronkliks op die rakke te bring, het in 2006 begin. Ek was sewe jaar daarby betrokke as redaksielid.

Die opdrag van die direksie was duidelik ons moes ‘n gaping in die mark vul wat daar was — sonder om lesers van die mediagroep se ander tydskrifte te vervreem.

Ons kon met verloop van tyd hierdie lesers vind en met ‘n spesifieke formule van waardes gemeng met die sterk profielstories van lesersverhale en getuienisse oor hul geloofslewe die mark se behoefte daaraan vervul. 

Die resep was tipies vrouetydskrif met mode en skoonheid, maar met ‘n verdieping in die teksaanbieding en die hoek waarteen stories aangebied is. Dit het dan ook meer gegaan oor die keuse van inhoud en die persone met wie onderhoude gevoer is, eerder as om bloot ‘n sekere etos op die tydskrif af te druk.

Dit was positiewe sonskynjoernalistiek met ‘n boodskap van hoop. As jy uitgaan op ‘n storie is dit die hoek waarna jy gesoek het, die hoek om die hoop aan te gee.

Ons was ‘n klein, maar soepel redaksie met ‘n klem op die visuele. Die tydskrif het die toets van tyd oorleef en al het die mediagroep besluit om dit toe te maak, kon van die spanlede die uithouvermoë aan die dag lê om ‘n manier te vind om dit steeds vier keer ‘n jaar uit te gee.

Hoe het die teëspoed van die afgelope jare die tydskrif (en jou loopbaan) geraak?

Ek het so vyf jaar gelede besluit dat spesialisberiggewing en gemeenskapsjoernalistiek moontlik ‘n manier is om die digitale revolusie te oorleef en het in die gelukkige posisie beland om ‘n omgewingsverslaggewer te word sowel as om die troostante van Huisgenoot te wees.

Omgewingsverslaggewing het unieke uitdagings veral as jy oor wildlewemisdaad skryf, aangesien jy oor sake soos renosterstropery and wildlewediefstal skryf en voortdurend oor jou skouer moet kyk as jy oor hofsake en ander stories berig. Ek was voortdurend in die moeilikheid by beide mediabestuur en wildlewe-misdadigers. Is uit dorpe weggejaag en deur parlementariërs en motorfietsklubs gedreig. Het foute met beriggewing gemaak, maar veel aan die kaak gestel. We soldier on.

Moontlik oor my sin vir balans en jare as sonkynjoernalis het ek ook begin na die positiewe kant van wildlewemisdaad-verslaggewing uitwyk. Ek het begin skryf oor die veldwagters en sake soos die honde wat vir anti-stroping gebruik is. En oor eko-ridders, eerder as om verslag te doen oor die negatiewe. Ek kon gou bronne opbou om ook oor talle sagte stories oor diereredding te skryf.

Ek is twee keer in my loopbaan as verslaggewer bykans uit werk gestel deur wetlike prosedures, oftwel retrench. Maar ek het in beide gevalle saam met kollegas deur die proses gewerk om met die regte riglyne en raad kop te hou om met nuwe voorstelle na vore te kom. Redelik onlangs is ek ook weer ge-retrench, maar kon ek ook voorstelle skryf om ‘n nuuskantoor op ‘n nuwe baan te plaas en op sterkte daarvan kon ons voortgaan op ‘n ander manier.

Die kuns is om nie moed te verloor nie en met fyn voetwerk en raad uit die regswêreld alle opsies te ondersoek. Bestuur moet uitgedaag word om nie net maar die ooglopende opsies te volg nie.

Ek het nie werklik ‘n selfgeldende persoonlikheid nie, maar ek haat onreg en die soektog na die winslyn moet uitgedaag word wanneer mense se oorlewing op die spel is. My gesonde haat vir kapitaliste en rykgatte is my grootste Achilleshiel, maar ook ‘n dryfkrag ten goede.

Nou is jy reeds ‘n paar jaar by ‘n digitale nuusdiens waar jy nuus skryf

Ek is drie jaar gelede aangestel as hoof van Radio Tygerberg se nuusdiens, ‘n Christelike radiostasie in Kaapstad wat landswyd die Goeie Nuus uitdra met nege nuusbulletins ‘n dag. Ek het ook elke dag ‘n Goeie Nuus Bulletin net na sewe-uur gedra waar ek iemand aktueel uitgesonder het wat die wêreld op ‘n goeie manier verander het.

Ons nuusdiens het saamgesmelt met ‘n radio-nuusagentskap en ons het met die insig van ‘n medialegende soos Sarel du Plessis ‘n nuusportaal gevestig gekry waarby meer as dertig radiostasies ingeskryf is. Ons het twee produkte, naamlik opgestelde nuusbulletins wat in die portaal beskikbaar is, sewe dae van die week, sowel as ‘n nuuswinkel waar radiostasies voorbereide nuusartikels plus klankgrepe kan aflaai en danksy ‘n program in die portaal blitsvinnig ‘n eie bulletin (gerig op die area waarin hulle uitsaai), kan saamstel.

Die uitdaging is om so ‘n tweetalige produk betyds en in die kol vir provinsie van provinsie saam te stel sowel as om die vloei van nasionale en kraanvarsnuus reg te kry.

Ek is deel van die die voetvolk, dit wil sê die een wat stories en klankgrepe vind. Die basis en sukses van die nuusportaal hang af van die hoe die nuusvloei bestuur word. Dit is in die bekwame hande van gesoute redakteurs, soos Peet Bothma en Andries Cornelissen.

Radionuus is onmiddellik, maar daar is ook ‘n behoefte aan nuus wat inlig, gemeenskapsgerig én positief is. Die kuns vir ‘n nuusbestuurder is om die balans reg te kry.

Ek het die voorreg om elke dag ‘n drieberig-ekonuusbulletin saam te stel waarin ek my kan uitleef oor omgewingsake wat wildlewemisdaad, klimaatverandering en die sake wat aktiviste wil aanspreek, soos kernkrag. Dit is enig in sy soort in Suid-Afrika. Ek pas dit soos groen goud op.

Intussen het jy al ‘n stuk of veertig boeke geskryf. Romans en inspirasieboeke. Vertel asseblief hoe dit ontwikkel het, hoe jy skryf, wat jou prikkel en inspireer…

Ek het sopas my 41ste boek die lig laat sien. My portefeulje boeke bestaan uit veral Christelike fiksie, liefdesverhale, familiesages, gebedeboeke sowel as dagstukkieboeke. Ek skryf meesal oor identiteit en hoe dit gevorm word, sowel as hoe gesinne se dinamiek werk. Ek hou daarvan om aktuele temas soomloos in te werk, soos wildlewemisdaad en mensehandel, en weet dikwels nie wat eerste gekom het nie: Die storie of die feite?

Vir my as skrywer is die kuns om die joernalis in my net genoeg ruimte te gee om waarheid oor te dra en die agtergrond te skep. Gelukkig kry stories en fiksie ‘n lewe van hul eie sodat daar meesal veel meer storie as feite is, soos wat ‘n goeie verhaal betaam.

My eerste verhaal is in Sarie in November 1981 gepubliseer en daarna het ek brood en botter op die tafel gesit met verhale in tydskrifte en artikels tot 1994, toe ek genader is om Afrikaans se eerste sogenaamde smeulroman te skryf, ‘n vuurwarm storie oor uitgestelde begeerte, Vlam van verrukking. Ek het dit opgevolg met Afrikaans se eerste mega-slapbandboek, Amulet. 

En nee, dit is nie sagte pornografie of leesstof wat begeertes sal ontluister, laag op laag nie. Dit is juis die uitgestelde begeerte daarin wat die leser laat aanhou die bladsye omblaai. Ek het aanbeweeg na familiesages en metteryd ook inspi-lit, oftewel inspirasieliteratuur, begin skryf met die Christen-temas, ‘n genre op sy eie.

Belangrik is jou ander werk by Huisgenoot waar jy die agony aunt of raadgee-tannie is. Hoe het dit gekom? Wat behels die werk alles?

Henriëtte Anderson-Loubser, nou grootbaas van Netwerk24 en in 2013 die redakteur van Huisgenoot, was saam met my op Sarie se redaksie en het my die pos aangebied. Ek het in daardie stadium vir Sarie en ander tydskrifte artikels oor verhoudings geskryf.

Dit is egter ook belangrik dat Tannie Troos kan skryf en by sperdatums kan hou. Daarvoor is ek bekend. Sy het ook geweet ek is ‘n erg empatiese mens.

Bo en behalwe die hart vir ander en bronne om oplossings te vind, het  lewenservaring aan my moontlik ‘n afgerondheid gegee wat nodig is.

Ek is twee keer geskei, moes as enkelma oorleef en het ‘n emosioneel wrede verhouding agter die rug. Daar was flings en affairs en als wat mens nie in verhoudings moet aanvang nie. Ek dra daai t-hemp. Ek het hom verdien. Sy spreuk lees: Flippin stukkend maar aan die genees. Ek het nie al die antwoorde nie, maar weet dikwels waar ‘n leser vandaan kom wat hom of haar vasgeloop in ‘n doolhof sonder oplossings.

Die briewe, eposse, sms’s en internetnavrae van die Liewe Elize-kolom kyk ek self na. Daar is elke dag ‘n vraag en antwoord op Huisgenoot se webwerf asook dikwels op Netwerk24. Om lesers te beskerm, word die vrae so versorg dat hulle nie onmiddellik herkenbaar is nie, maar daar word ook gesorg dat dit nie generies klink nie.

Huisgenoot se lesers is uniek, kosbaar en het eiesoortige verhoudingsprobleme het ek oor die jare gevind. Veral skoonma- en skoondogterprobleme stroom in. Die ander gereelde probleme het veel met alleenheid te make sowel as met mense wat in een huis moet saamwoon. Weduwees en wewenaars skryf graag, sowel as tieners wat sms. Tegnologie het vandag ‘n reuse-invloed op verhoudings en vrae draai dikwels daarom.

Die uitdaging is om nie oplossings aan te bied nie, maar om lesers te lei na wat ‘n oplossing in hul lewens kan bewerkstellig. Dit moet nog steeds in die huisstyl van die tydskrif benader word en soos ‘n joernalis aangepak word. As ek nie raad of inligting het nie, is dit my selfaangestelde plig om ‘n bron te kry wat wel kan help.


As troostante moet jy sterk kan standpunt inneem oor vele sake, maar jy kan nie veroordelend skryf nie. Tog wil jy soms aan die hand doen dat mense hul lewens verander en dan moet jy dit op ‘n selfgeldende manier kan doen. Ek het soms al my humeur ietwat verloor, veral oor huisgeweld en boelies. Maar mens kan nie vir ewig mooi broodjies bak nie. Dit laat niemand sy lewenskoers aanpas nie.

Sleutel tot veel van jou joernalistieke werk is jou vaste geloof as Christen. Vertel ons iets van jou reis as Christen en hoe dit jou werk as joernalis onderlê.

Ek is geen engeltjie nie. Maar die waardes in my hart is die waardes wat my joernalistiek rig. Ek is ‘n groen Christen. Ek glo dat my omgewingskryfwerk veral ‘n verskil kan maak om bewussyn van soveel omgewingsonregte aan die lig te bring.

Skryf is ‘n eindelose alleen werk. As jy nie daarmee ‘n verskil kan maak nie, kan jy maar netsowel die skootrekenaar toeknip. Die kuns is om dit wat jy in jou hart het na lesers of luisteraars sonder veroordeling of vooropset te bring. Die toetsteen bly die objektiwiteit waarmee jy ‘n storie benader.

My groen stories is emosioneel en ek het al telkens in ‘n gevoelstrik getrap waar ek aktiviste my laat meevoer het en moontlik nie my werk gedoen as joernalis wat die waarheid meer as die storie soek nie. Dit het my ook voor die persombud laat beland, wat my gelukkig vrygespreek het. Dit was ‘n dure les om jou hart in jou kamerasak te bêre as jy luister na mense wat hul saak eensydig wil bevorder.

Ek het ‘n nou pad met die Here begin stap op ‘n grondpaadjie onder ‘n bidboom op ‘n kamp naby Fouriesburg onder ‘n Vrystaatse hemel swaar met beloftewolke.

En al soveel afdraaipaaie gestap, maar telkens die genade beleef van ‘n doodloopstraat wat ‘n lewenshoofweg word. Hierdie genade en dankbaarheid is die tussenteks van my skryfwerk. Dat die lewe intrinsiek goed is en dat hierdie goedheid sal oorwin.

Geld dit ook in jou werk by die nuusdiens, waar jy met “gewone” nuus werk? Waar pas jou belangstelling in omgewingsnuus in?

Ek het in 2016 die prys as derde beste gemeenskapjoernalis verwerf vir my skryfwerk vir Caxton se Laevelder onder die bekwame leiding van De Wet Potgieter. Ook by Radio Tygerberg het ek die voorreg gehad om dikwels uit die gemeenskap vanaf ‘n storie soos ‘n moord of aanval regstreeks op die lug te kan rapporteer.

Die onmiddellikheid van gemeenskapsnuus, waar jy iemand kan help met inligting oor taxi-oorloë, busaanvalle of oorstromings, gee ‘n dringendheid aan my verslagwerk. Ek is heimlik bang ek kon iemand gehelp het en het my plig versuim. ‘n Ingeligte gemeenskap is ‘n voorbereide gemeenskap.

Met radionuus het ons die voordeel om die een scoop na die ander te kan kry, want dit is ‘n onmiddellike medium. Dit bly die asem in my longe om eerste by die wenpaal daarmee te kom, met die nuus wat kan bemagtig; iemand vorentoe in sy dag te kan neem op ‘n veilige manier wat bekostigbaar is. As ek tussen twee stories moet kies, kies ek die een wat ‘n luisteraar vandag kan help. En dis bes moontlik waar die waardes inskop, om te weet hoekom jy is waar jy is met ‘n roeping; om meer as net ‘n nuushond te wees.

Watter media lees of kyk of luister jy?

Ek vind televisie ‘n medium wat my nie aanstaan nie en het deur die jare al die pratende koppe probeer vermy. Ek besit nie ‘n televisie nie. Sien geen nodigheid daarvoor nie.

Aanlynjoernalistiek is my dryfkrag. My Liewe Elize-kolom aanlyn kan mense help, nommers deurgee en die raad van ander deel. En dis vir my die gehoor wat ek wil bereik. Diegene wat bakhand staan vir raad.

Vir omgewingsjoernalistiek maak ek staat op geslote sosialemediagroepe van omgewingsaktiviste waar die bronne dikwels meld wat haper en ek dit dan kan ondersoek. Met instemming natuurlik. Ek is ook ingeskryf op nuusbriewe soos Bloomberg se groen nuusbrief — dis om tred te kan hou met veral klimaatsveranderingsonderwerpe.

Ek bly ‘n tydskrifslaaf en sal veral Nederlandse opinietydskrifte lees (want min mense kan so debatteer en redeneer soos die altyd-reg-om-te stry-nasie). Ook hul uitsonderlike mooi tydskrifte met inhoud oor ‘n stadiger lewe, soos Flow, koop ek as ek geld het. Die Economist bly ‘n deurblaaitydskrif wat ek seker eers aan die einde van my lewe sal verstaan. Maar die hoop beskaam nie.

Eliza het einde Oktober 2021 uitgetree by Huisgenoot en gaan nou voltyds boeke skryf.

Geplaas Julie 2021; opgedateer Oktober 2021