EBBE DOMMISSE — ‘N SKERP REDAKTEUR WAT ONAFHANKLIK GEDINK HET

Dr. Ebbe Dommisse was hoofredakteur van Die Burger van 1990-2000, waar hy sy loopbaan in 1961 as verslaggewer begin het. Hy dien ook as Die Burger se parlementêre verslaggewer, hoofsubredakteur, nuusredakteur en senior assistent-redakteur. Van 1974-1979 onderbreek hy sy loopbaan by Die Burger in Kaapstad om in Johannesburg Beeld op die been te help kry. (Hy was een van Beeld se assistent-redakteurs.)

Regs: Dr. Ebbe Dommisse soos hy vandag daar uitsien.

Hooffoto bo: Dommisse was redakteur in hierdie jare toe die ideologie van ‘n reënboognasie hoogty gevier het.

Dommisse het eers op Carnarvon skoolgegaan en aan die Hoër Jongenskool in die Paarl gematrikuleer. Hy studeer hierna aan die Universiteit Stellenbosch en verwerf ook ʼn meestersgraad in die joernalistiek aan die Colombia-Universiteit in New York, ʼn hoogs uitsonderlike kwalifikasie vir joernaliste van sy geslag. Na aftrede behaal hy ‘n PhD.

Onder Dommisse se leiding het Die Burger sy voorkoms vir die nuwe millennium aangepas,

Dommisse was ʼn lewenslange Nasperser, maar neem die belangrike besluit om in 1990 die formele band tussen Die Burger en die Nasionale Party te verbreek. Leopold Scholtz skryf dat Dommisse dalk gemeen het “dit plaas die koerant se onafhanklikheid en geloofwaardigheid onder verdenking”. Tony Leon noem dit ʼn “extraordinary decision”, gegewe die feit dat dr. D.F. Malan in 1915 Die Burger se eerste redakteur was en daar ʼn noue verbintenis van 85 jaar tussen die koerant en party was.

In die 1990’s het hy ‘n heel kritiese houding jeens die onderhandelingsproses en uitkoms ingeneem en is daarvoor verwyt. (Hy was in hierdie opsig in dieselfde kamp as Izak de Villiers by Rapport.)

Dommisse het saam met sy kollega Alf Ries verskeie boeke oor die politieke geskiedenis geskryf. In 2005 verskyn sy belangrike biografie (saam met Willie Esterhuyse) oor Anton Rupert. Hy skryf ook ‘n biografie oor sir David Graaff en die besonder leesbare Fortuine, waarin hy ook aandag gee aan Koos Bekker.

Geplaas op 19 Maart 2023