DROOM OOR MUSEUM VIR GEMEENSKAPSPERS WORD WAAR

’n Voorstel in 1982 van die sakemagnaat dr. Anton Rupert dat ’n museum vir die gemeenskapspers op Middelburg (Tvl.) gevestig word, het 40 jaar later, in 2022, waar geword. (Foto bo: ‘n Blik op die museum.)

Die museum is moontlik gemaak deur ’n skenking van R40 000 deur die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste (FGJ) en die gemeenskap van Middelburg. Die volgehoue entoesiasme van Tobie van den Bergh, lank redakteur van die Middelburg Observer, moet sekerlik ook genoem word.

Links onder: Die 1900 Arab- drukmasjien het drie jaar geneem om volledig te restoreer en is in volle werking met 100% oorspronklike onderdele. Die drukpers kan per hand of per elektriese motor aangedryf word en was van die eerste drukperse wat elektries aangedryf kon word.

Bo: Die 1856 Albion-drukpers is ook in ‘n puik werkende toestand. Drukwerk kan nou op van die ou drukperse vir besoekers gedoen word.

Foto’s: Dries Venter

“Die geskiedkundige O.H. Frewin-geboutjie in Kerkstraat op Middelburg, waar ‘n vader van die gemeenskapspers, Oscar Henry Frewin, gewerk het, sou afgebreek word om ’n supermark te vestig. Dr. Rupert het voorgestel dat die geboutjie as museum vir die gemeenskapspers bewaar word,” vertel Tobie.

Helaas is die gebou afgebreek en dr. Rupert se droom is nooit bewaarheid nie. Maar die droom het nie gesterf nie.

In September 1991 het Tobie weer gepoog om dr. Rupert se droom te bewaarheid en is ’n voorlegging aan die Middelburgse munisipaliteit gedoen om die ou boekdrukkery by die Botshabelo-terreinmuseum  as museum in te rig.

Die totale koste sou R98 000 beloop en planne was reeds opgetrek vir die restourasie. Kort daarna het ’n grondeis teen Botshabelo geslaag en het die droom andermaal gesneuwel.

Tikmasjiene wat in die museum te siene is.

Maar in April 2022 is die museum vir die druk- en gemeenskapspers in die O.H. Frewin Drukkery gevestig, die gebou waarheen personeel van die Middelburg Observer vanaf Kerkstraat getrek het.

Toe Caxton die Middelburg Observer en Witbank Nuus oorneem, is die drukkery en koerante geskei en het die O.H. Frewin Drukkers voortbestaan met die Middelburg Observer reg langsaan in ’n ander gebou.

Dit is vandag die enigste museum in die land waar die drukkerswese en redaksionele geskiedenis van gemeenskapskoerante saamgevoeg is. 

Van die drukkersmasjiene is die Albion-drukpers (1856),  gerestoureer tot oorspronklike en in ‘n werkende toestand. Dan is daar die Arab- drukmasjien uit 1900 wat drie jaar geneem het om ten volle te restoureer. Dit is in volle werkende toestand met 100% oorspronklike onderdele. Die drukpers kan per hand of per elektriese motor aangedryf word en was van die eerste drukperse wat elektries aangedryf kon word.

Nog ‘n pragstuk is die Antique Foot Pedal C.M.C. Letterpress,  vervaardig deur Hunter-Penrose van London & Wellingborough. Die pers is gerestoureer tot skoustatus, maar is nie in ’n werkende toestand nie. Studente van die Noordwes-Universiteit was verstom toe hulle die museum in Augutus 2024 besoek het en die drukkersmasjiene in aksie kon sien, vertel Tobie.

Daar is ook ’n fotografiedonkerkamer (foto links) waar swart en wit foto’s afgedruk kan word — iets wat min mense nog uit die dae voor digitale fotografie kan onthou.

Houtletters wat vroeër in die drukproses gebruik is.

Die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste, wat in 1990 gestig is, se geskiedenis word ook in die museum vertel asook ’n Covid-kamer met voorblaaie uit daardie donker tyd in die geskiedenis, foto’s van vorige wenners in die FGJ-kompetisie, ‘n MDT (‘n mini-dataterminaal), voorloper van die rekenaar wat nog in werkende toestand is, talle tikmasjiene en kameras.

Om die museum te besoek, skakel Tobie van den Bergh by 072 220 1568.